Slagyster. Rudie van Rensburg
faktor wat dinge laat skeefloop. Dit is een van die eerste lesse wat hy as polisieman geleer het.
Hy tuur lank na die twee lyke. Sy gedagtes is in ’n warboel. Hy oorweeg dit vir ’n oomblik om in die bakkie te klim, die geld te gaan haal en sy diefstal ongedaan te maak.
Maar toe die twee uniformmanne van Worcester ’n halfuur later opdaag, sit hy steeds op die krat.
2
1 Junie 2009
Die sweet brand Ryan Deetlefs se oë. Hy vee sy voorkop sorgvuldig droog met ’n sakdoek. Na ’n jaar in hierdie tropiese helnes is hy nog nie gewoond aan die hitte nie. Hy stap na sy tent en gaan sit op ’n kampstoeltjie. Wanneer hy ’n diep trek aan die Camel Light neem, brand die rook sy droë keel. Hy neem eers ’n sluk van die louwarm water in die bottel voor hy weer ’n trek vat. Hy gaan ’n tydjie lank hier in die moeras vasgevang wees. Die pypleiding is erg beskadig. Hulle gaan minstens ’n week nodig hê om dit te herstel.
Hy glimlag. Dan gaan hy huis toe vir ’n week. Hy het Lea en die kinders ses maande laas gesien. Daarna nog net ses maande hier. Hy wag nog om te hoor waarheen hy dan verplaas gaan word. 2010 sal nuwe uitdagings in ’n ander Afrika-land inhou.
Almal het hom gewaarsku dat ingenieurswerk vir die Star Petro Development Company of USA-Africa nie ’n plesierrit gaan wees nie, maar die geld is goed. Hy het die verband op sy dubbelverdieping in Sandton afbetaal, hy kon sy twee dogters na die beste privaatskool stuur en sy vrou kan voltyds op haar skilderwerk konsentreer.
Hy grawe in sy sak, haal sy beursie uit en slaan dit oop. Op die foto glimlag Lea en die tweeling vir hom. Meteens brand sy oë. Hy skud sy kop en droog die trane met sy voorarm af. Hy raak bossies; dis hoe sy kollegas altyd verwys na manne wie se verlange hul gedrag begin aantas. Ryan glimlag. Lea sou hom nou vreemd aangekyk het. Hy wys nie graag sy gevoelens nie. Hy het grootgeword in ’n huis waar hy geleer is net swakkelinge vertoon hul kwesbaarheid.
“Jy’t eintlik ’n baie sagte hart, Ryan, jy steek dit net weg agter ’n manhaftige fasade,” het sy meer as een keer vir hom gepreek. “Trane by ’n man is nie ’n teken van swakheid nie. Dit is juis vreeslose mans wat huil omdat hulle nie bang is om hul emosies te wys nie.”
Sy gedagtes word onderbreek deur luitenant Oga Osako van die Nigeriese weermag, in bevel van die dosynstuks soldate wat Ryan en sy werkers moet oppas gedurende hul hersteloperasie hier in die Niger-rivierdelta.
“Lyk of jy warm kry,” sê die luitenant laggend. “Ek het iets wat help teen die hitte.” Hy bring ’n bottel whiskey te voorskyn. “Net die regte medisyne.”
Ryan glimlag. Dit is die derde keer wat Osako hom vergesel op só ’n sending. Hy is selde nugter, maar is darem gesteld daarop dat sy soldate nie alkohol aan diens gebruik nie. Star Petro verkies dit om die Nigeriese weermag vir sekerheidswerk te huur. Dis kostedoeltreffender, sê hulle. Ander maatskappye het hul eie sekerheidspersoneel, gewoonlik huursoldate, wat skynbaar baie beter resultate lewer.
Ryan trek sy gesig op ’n plooi. “Te vroeg vir my, Oga.” Hy staan op, gee vir hom ’n glas aan. “Maar kry gerus vir jou.”
Die offisier gooi die glas vol. Sy eerste sluk laat die inhoud met ’n kwart sak. Hy skommel die whiskey eers in sy mond terwyl hy sy vlesige lippe op ’n tuit trek. Sy groot adamsappel spring ritmies op en af toe hy die vloeistof luid afsluk. “Jou lekker ding!” sê hy en vertoon ’n stel skitterwit tande. Sy Engels is nou nog verstaanbaar, maar raak na ’n paar doppe gewoonlik moeiliker om te volg as sy moedertaal tussendeur insluip.
“Hoe lyk dit?” vra Ryan. “Kan ons dié week probleme verwag?”
Osako skud sy kop. “Nee wat, hulle sou al die boodskap deur die bostelegraaf gekry het dat hier soldate is. Hulle het nie die wapens om ons aan te vat nie.” Hy glimlag. “Jy en jou mense kan rustig slaap.”
“Hulle het anderdag in die Bonga-olieveld werkers aangeval. Daar was ook soldate. Twaalf dood en vier buitelanders van ons maatskappy is ontvoer.”
Osako haal sy skouers traak-my-nieagtig op. “Die milisiegroepe is daar beter georganiseer. In dié deel is net ’n paar rondloper-oliediewe. Niks om oor bekommerd te raak nie.”
“Wel, hulle weet hoe om olie te steel. Hulle het ’n helse goeie job op daai pyp gedoen.”
“Ja, dié weet hulle hoe om te doen,” gee Osako met ’n kopknik toe.
“Onthou jy vir Collins, die Brit wat saam met my was toe jy ons groep die eerste keer vergesel het?” vra Ryan.
“Die man met die rooi hare?”
“Einste. Sy sesjarige seuntjie is verlede week in Port Harcourt ontvoer. Hulle eis honderd duisend Amerikaanse dollars. Ek kan my net indink deur watter hel hy nou moet gaan.”
Osako vat nog ’n sluk whiskey, dan volg dieselfde skommelroetine voor hy sluk. “Die Britte is lief om hul gesinne hierheen te bring. Hulle soek moeilikheid. Die rebelle gebruik die afpersgeld om wapens te koop. Ontvoering is ’n maklike manier om geld te verdien. Hulle weet die oliemaatskappye dok op vir hul werkers.” Hy kyk indringend na Ryan. “Jy’s ’n man wat jou onnodig oor ander se probleme bekommer. Kyk eerder na jouself. Dis al manier hoe jy in dié land gaan oorleef.”
Ryan antwoord hom nie, glimlag net. Dalk het Lea ’n punt beet. Selfs Osako het deur sy fasade gesien.
Goddank hy kan bekostig om te keer dat sy gesin aan dié gatkant van Afrika blootgestel word. Van sy Europese kollegas moes hul gesinne saambring. Die lewe in Port Harcourt, die Nigeriese oliehoofstad, is allermins geskik vir vroue en kinders. Dis die rofste stad in Nigerië. Ryan het nie eers vir Lea vertel die polisie ry soggens met ’n bakkie in die strate rond om die lyke op te tel na die aand se mesgevegte en skietery nie. Sy sal nie ’n oog toemaak nie.
Trouens, hy dink nie Lea is ten volle ingelig oor die toestand in dié land nie. Nigerië beleef sy bloedigste dekade nóg in die geweldgeteisterde Delta-state. Talle mense word ontvoer, gevegte woed tussen die Nigeriese weermag en rebelle, en olie word toenemend gesteel. Dit is net ’n seën Lea lees nie koerante nie en kyk selde na die TV-nuus. Haar wêreld draai om die kinders en haar kuns, sy is selde bewus van enigiets anders.
Hy het met sy vorige blitsbesoek aan Johannesburg met Amelia daaroor gepraat, haar gevra om Lea nie op hol te jaag met gruverhale nie. Hy waardeer hoe Amelia sy vrou in sy afwesigheid ondersteun, maar sy is ’n ondersoekende joernalis wat op hoogte van wêreldgebeure is. Amelia het hom verseker sy sal nie bykomende laste op Lea se skouers laai nie.
Hy klem sy kake opmekaar. Hy sal eendag vergoed vir dié moeilike tye waaraan hy sy gesin onderwerp.
Osako ledig die glas met ’n laaste sluk.
Ryan kom orent. “Wag, laat ek gaan kyk hoe my mense vorder.”
“Ek stap saam.”
Hulle vleg ’n pad oop deur die digte plantegroei, stop eers by die boskombuis waar ses vroue al die middagete voorberei. Osako het hulle vanoggend vroeg gewerf by ’n gehuggie ’n entjie van hul kamp af. Hulle vertoef ’n rukkie terwyl Osako met die vroue gesels. Hulle skaterlag.
“Vir hulle gesê as die kos vanmiddag lekker is, kan hulle vanaand almal in my tent kom kuier,” knipoog hy ’n minuut later vir Ryan toe hulle in die smal sandpaadjie tussen die oerwoudplantegroei stap.
“Is jy nie bang vir vigs nie, Oga?” Op vorige sendings was Osako ook bedrywig onder die vroulike bevolking. “Of bring jy jou eie beskerming saam?”
Hy lag. “Ware mans kry nie vigs nie. Kondome is vir die banges.” Hy kyk na Ryan. “Jy kan enige tyd ’n vrou vir die aand by my leen. Jy was mos lank laas by die huis.”
Ryan glimlag net. “Dankie vir die aanbod, maar nee dankie. Ek dink nie ek’s ’n ware man nie.”
Osako lag weer luidrugtig, sy mond wyd. Die koeël versplinter sy een voortand, dring deur sy verhemelte en lig sy baret van sy kop af. ’n Fontein bloed boog uit sy agterkop.