Die vampiere van Londen. François Bloemhof
n>
Die vampiere van
Londen
François Bloemhof
[no image in epub file]
Human & Rousseau
Ek is mal oor Londen.
Minder mal oor vampiere
F. B.
1
Op pad na Londen
“Komaan, ons gaan laat wees!” roep Ken.
Sy pa en ma staan voor die groot elektroniese bord wat wys by watter toonbank hulle moet aanmeld. Die tweeling, Rohan en Eljo, staan met groot oë weerskante van Ken en vergaap hulle aan alles wat rondom hulle aangaan. Hulle was nog nooit op so ’n groot lughawe nie.
Hulle pa kry die nommer van die toonbank op die bord en hulle gaan soontoe om hulle bagasie in te weeg.
Ken voel half bekommerd toe hy sy tas op die band sien weggly. Dit sal die eerste keer wees dat hy op ’n vliegtuig is.
Sy hart klop vinniger. Hy wou nog altyd Londen toe gaan, hoekom weet hy nie. En om boonop sy verjaarsdag daar te kan hê! Is dit nie cool nie?
Die laaste paar dae het Ken vir die soveelste keer na foto’s op die internet gekyk. Hy’t al ’n goeie idee hoe die stad lyk. Ou geboue. Mis in die nag tot laat in die oggend. Baie verkeer. Tog, toe hy na die foto’s gekyk het, het dit half bekend gevoel …
Met hulle handbagasie en instapkaarte moet hulle nog eers deur sekuriteit en dan deur paspoortbeheer gaan.
Toe hulle uiteindelik aan die ander kant is, sê hulle ma: “Daar is nog genoeg tyd, ek is darem nou al so lus vir iets om te drink. Hierdie lang toue en die gemaal van mense het my skoon dors gemaak.”
Toe hulle einde ten laaste deur die malende mense by ’n tafeltjie uitkom, vra hulle ma: “Wat gaan julle drink?”
“Koffie vir my, dankie,” sê hulle pa.
Ken en die tweeling bestel Coke en hulle pa twee koffies vir hom en hulle ma.
Voor hulle bestelling kom, knap hulle ma gou haar grimering op terwyl sy in ’n handspieëltjie kyk.
Ken sit langs haar en vir ’n breukdeel van ’n sekonde vang sy oog, in die kant van die spieëltjie, ’n man agter hulle. Hy lyk vreemd – is baie bleek en baie maer.
Die volgende oomblik sit sy ma die spieëltjie terug in haar handsak.
Ken swaai om. Sy mond gaan oop.
Die man is nie meer daar nie. Het hy hom dit dalk verbeel? Nee, hy het die man tog duidelik gesien, en dit het gelyk asof hy na húlle kyk.
“Wat is fout?” vra sy pa toe hy sien hoe Ken na die pilaar agter hulle bly staar. Dit is presies dáár waar die man moes gestaan het.
“Ek … Niks.”
“Dit lyk of jy ’n spook gesien het.” Sy ma glimlag.
“So iets …” Die man hét nogal na ’n spook gelyk.
Sy pa grinnik. “Drink jou Coke, ons moet nou-nou gaan.”
“Dan sien jy dalk nie meer spoke nie,” fluister Rohan.
“Dan lýk jy ook nie meer soos een nie!” voeg Eljo by.
Die tweeling is die meeste van die tyd verteerbaar, maar daar is tye wanneer hulle Ken se lewe ernstig versuur. Boonop staan hulle die meeste van die tyd saam teen hom. Dis nie aldag maklik om ’n broer en suster te hê wat só eenders is nie!
Soms laat dit hom alleen voel, asof hy in almal se pad is.
Ken sluk vinnig die laaste bietjie Coke.
Hy is aangeneem toe hy baie jonk was – sy ouers het hom vroeg reeds vertel. Dit het al hoe meer gelyk asof hulle nooit eendag self kinders sou kon hê nie. Maar omtrent ’n jaar later was die tweeling daar.
In sy hart weet Ken sy ouers is net so lief vir hom soos vir Rohan en Eljo. Maar soms – al wil hy dit nie erken nie – raak hy jaloers. In almal van hulle se are vloei dieselfde bloed, maar nie in syne nie.
Hulle is ook deur hulle name in ’n hegte eenheid verbind. Sy pa en ma se name is Johannes en Ronel. Toe die tweeling gebore is, het sy ouers met die “ro” van Ronel en die “han” van Johannes die naam Rohan gemaak – en met die “el” van sy ma se naam en die “jo” van sy pa s’n die naam Eljo.
“Ons moet nou na die uitgang gaan waarvandaan die vliegtuig gaan vertrek,” sê hulle pa, en toe hulle opstaan, loer Ken vinnig oor sy skouer of hy die vreemde man nie dalk gewaar nie. Maar hy’s weg.
Toe hulle by die vliegtuig instap, probeer Ken kyk of die man dalk op die vliegtuig is. Daar is so baie sitplekke en as die man wel daar is, is die kans maar skraal dat hy hom sal sien.
Nee, hy sien niks.
Vir ’n oomblik vergeet Ken van die vreemde man en geniet hy net die lekker bang gevoel om die eerste keer in ’n vliegtuig te wees.
Hulle kry hulle sitplekke en pak die handbagasie bo in die bagasierakke weg. Die tweeling steur hulle min aan wat hulle kaartjies sê en mik albei vir die venster. Eljo is die ratsste en Rohan moet maar tevrede wees met tweede van die venster af.
“Dit is in elk geval donker en julle sal nie veel meer as die liggies kan sien nie,” sê hulle pa en begin vroetel met hulle sitplekgordels om vir hulle te wys wat hulle moet doen.
Nie lank nie of die deure word toegemaak. Ken is opgewonde, maar ook bekommerd, want hy kan nie die voorgevoel oor die vreemde man afskud nie. Sy pa het gesê hulle gaan omtrent elf uur lank in die lug wees. Hoe gaan hy al daardie tyd op een plek kan stilsit? Miskien kan hy so ’n bietjie rondloop sodra die vliegtuig op koers is – soos passasiers in flieks doen. Dalk sien hy nog die man.
“Ladies and gentlemen, welcome on Global Airways flight 6407 to London,” sê ’n vrouestem oor die interkom.
Sy verduidelik wat gebeur in ’n noodgeval en daar voor demonstreer ’n lugwaardin hoe hulle dan moet optree, maar Ken luister nie juis nie.
Sy pa het in Londen gewoon. Sy ma was van Suid-Afrika en het sy pa in Londen ontmoet. Dit is al wat hy weet van sy regte ouers. Die mense by die plek waar hy aangeneem is, wou niks meer sê nie – behalwe dat sy ma dood is kort na sy geboorte. Hulle het nie gesê hoekom sy uit Londen weg is nie, hoekom sy nie met Ken se pa getrou het nie, of wat sy pa se van is nie.
Die vliegtuig begin beweeg. Ken knip sy oë en vryf sy natgeswete hande aan sy jeans af. Dalk is elf ure nie so lank nie.
Hy wonder of sy pa nog leef. Dalk loop hy hom in Londen raak. Snaakser dinge het al gebeur! Dalk sien hy hom in een van Londen se strate en herken hulle mekaar dadelik.
“Is jy nog met ons, Ken?” vra sy pa.
Hy knik. Hy voel skuldig omdat hy so graag sy regte pa wil sien – iemand wat hom nie wou hê nie. Hy hoort hiér, tussen sy mense.
Ken kyk na Rohan en Eljo. Hulle lyk ook lekker benoud! Nou voel hy nie meer vies vir hulle nie, hy wil geen ander broer en suster hê nie.
Dan tel die vliegtuig skielik spoed op. Dit beweeg al hoe vinniger en gee ’n ruk toe dit die aanloopbaan verlaat.
Hulle het vertrek op hulle lang pad deur die nag, Londen toe.
2
Hotel toe
Toe die vliegtuig die volgende oggend land, sê hulle ma: “Wel,