Die vampiere van Londen. François Bloemhof
sy sal na die venster toe kom nie.
Tog is sy bly dat sy op die tweede verdieping is. Die balkon is te hoog vir iemand om van die straat af op te klim.
Sy trek net haar skoene uit. Toe sy met nog al haar klere aan in die vreemde bed klim, besluit sy dat sy die badkamerliggie gaan aanhou.
3
Koue vingers
Rohan dink nie veel van die roosterbrood nie – die snytjies is baie dun en kliphard. Is dít nou waarvoor hy so vroeg opgestaan het?
Al vyf van hulle lyk vanoggend maar oes. Hulle sit en knaag met lang tande aan die roosterbrood.
Die vrou wat dit gebring het, marsjeer nader en kom staan langs die tafel. “Do you want more toast?”
Haar naam is Miss Sharp – wat nogal snaaks is, want sy hét ’n skerp gesig. Haar neus lyk asof jy ’n koevert daarmee sal kan oopmaak en haar lippe is baie dun. Haar vaal haartjies is styf met knippies van haar gesig af weggetrek.
“No, thank you,” sê hulle pa. “You can bring the rest now.”
Miss Sharp se gesig raak nog skerper. “What rest?”
“Well … What do you have?”
“What do you mean?”
“Bacon and eggs, maybe?”
Miss Sharp is kort, maar troon nou bo hulle uit. “We don’t serve bacon and eggs. You only get toast.” Sy wys na die konfytpakkies op die tafel. “And jam. If you want coffee, I can bring some.”
“Please.”
Sy draai weg en gaan na die kombuisie toe.
Rohan smeer van die konfyt op sy roosterbrood; dalk proe dit dan beter. Hy was gister net te moeg om goed na die plek te kyk. Hy was omtrent in ’n koma toe hy saam met Ken en Eljo in die park gestap het. Gisteraand het hy net in die bed geval en geslaap. Nou is dit ’n ander saak – na ontbyt gaan hulle stad toe!
“Ek verstaan dit nie,” kla hulle ma. “Johannes, jy het dan na die hotel se webruimte op die internet gekyk. Jy het gesê hulle bedien ’n volle ontbyt.”
“Dis wat hulle gesê het.”
“Wel, ek gaan nie vól raak van hulle vólle ontbyt nie.”
“Ronel, ons bly verniet hier …”
Rohan kry lag. “Dalk moet Ma van Ma se inkopiegeld gebruik om vir ons ’n goeie ontbyt te koop!”
“Rohan, dit is nie ’n grap nie.”
Hy bly stil. Hy kon geraai het sy sal nie dink dis snaaks nie.
Miss Sharp kom sit die silwer ketel hard op die tafel neer. Donker druppels koffie spat op die wit tafeldoek.
“Will that be all?” vra sy. Dit klink eerder na ’n bevel dat hulle moet klaarmaak.
“Thank you,” sê hulle pa.
Rohan sug. Hy het al dikwels gewens sy pa het meer moed.
Wat de joos sou Mr Ratcliff laat dink het hy is dalk die regte een vir die werk? Dis ’n wonder hy het selfs kans gesien om te kom probeer.
Rohan kyk na Ken. Dáár is nou iemand vir wie jy werk kan gee. Soms wens hy hy was eerder Ken se tweeling. Eljo kan partykeer so ’n regte simpel meisiekind wees.
Hulle drink hulle koffie klaar en gaan dan na hulle kamers om reg te maak om uit te gaan. Rohan kan sien sy pa is kwaai op sy senuwees. Hulle gaan Mr Ratcliff vanoggend ontmoet.
“Rohan, Eljo, onthou julle baadjies,” sê hulle ma. “En moenie julle handskoene vergeet nie, nè?”
Rohan sug. “Ai, Ma, daai aaklige rooi goed …”
“Kom, kom, ons moet weg wees,” sê hulle pa.
Hulle gaan uit by die hotel se voordeur en begin in die rigting van die stasie loop. Dit is omtrent vier blokke. Die sonnetjie sukkel om deur te breek, maar dis nie so koud soos die vorige nag nie.
Dan onthou Rohan iets. “My bril!” Hy kyk terug na die hotel; dis darem net een blok.
“Is dit nou so belangrik?” sug sy pa. “Hier’s buitendien omtrent nie ’n stukkie son te sien nie.”
“Kan ek dit gou gaan haal?” ignoreer Rohan sy pa se opmerking. “Ek’s nou terug!”
Hy het darem nie die nuwe sonbril gekry sodat dit in die hotelkamer moet bly lê nie. En of hier nou son is of nié, baie jongmense dra sonbrille. Dis cool. Hy’t gesien, selfs toe hulle in die moltrein gery het.
“Ons kan ’n minuut of twee wag,” sê Ken. “Ons is vroeg.” Hy haal hulle kamersleutel uit sy sak. “Hierso. Maak net gou, dit lyk of dit gaan begin reën.”
Rohan hardloop by die hotel se voordeur in. Hy wonder waar Mrs Burton is, hy het haar nog nie vanoggend gesien nie. Hy draf by die trappe op.
Toe hy amper by sy en Ken se kamerdeur is, sien hy dit staan effens oop. Hy kan sweer Ken het dit gesluit.
Hy stoot die deur oop. Dis donker in die kamer.
“Hallo?”
Daar is geen antwoord nie.
Hy voel met sy hand vir die ligskakelaar … en gil!
Hy het aan koue vingers gevat.
Die volgende oomblik gaan die lig aan en Miss Sharp staan reg voor hom. Dis sy wat die lig aangeskakel het.
“Wat maak jy hier?” vra Rohan. Toe sy net frons, probeer hy weer: “What are you doing here?”
“I’m cleaning the room. What did you think I was doing here?”
“I thought you only work in the kitchen?”
Sy maak ’n snorkgeluid. “I do everything around here. Why are you here? I thought you’d left.”
“I forgot something.”
Miss Sharp staan en wag. Rohan kan voel sy hou hom dop terwyl hy sy bril soek. Hy kry dit bo-op die ou spieëlkas.
“Cheers,” sê hy en wag vir ’n sekonde vir haar reaksie.
Sy sê niks en staan hom net en aangluur. Haar hare is so styf teruggetrek dat dit haar ogies nog nouer laat lyk.
Sonder om iets verder te sê, hardloop Rohan die gang af en uit by die hotel se voordeur. Hy drafstap na waar sy pa-hulle vir hom wag. Dit het Rohan opgeval hoe stil dié deel van die woonbuurt is. Hierdie tyd van die oggend in enige stad behoort dit mos al ’n gemaal van mense op pad werk toe te wees.
Dis egter ’n ander storie toe hulle by die stasie kom. Daar is baie mense en almal is iewers heen op pad en wil in die kortste moontlike tyd daar kom.
Hulle pa kyk op die groot rooster hoe laat kom die volgende trein wat by Piccadilly Circus verby loop – die naaste stasie aan die kantoorgebou. Die stelsel lyk maar nog altyd ingewikkeld vir Rohan.
“So ons kan net op seker treinlyne met dié kaartjies ry?” vra Ken.
“Dis reg,” sê sy pa. “Ons trein kom oor drie minute.”
Hulle kan hulle kaartjies twee weke lank gebruik en hoef nie aanmekaar nuwes te koop nie. Rohan voel of syne nog in die sakkie om sy middel is.
Hulle klim saam met ’n klomp mense in die hysbak wat hulle sal afneem na die platform. “Stand clear of the door,” sê die elektroniese stem. “Stand clear of the door.”
Die trein trek met ’n ruk weg en dit is eers tóé