Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 39 - Ena Murray


Скачать книгу
te kry. ’n Mens is so geneig om selfsugtig te wees wanneer jy binne-in ’n gelukkige gesinskring staan.

      Dis eers wanneer hierdie kring verbreek is dat jy die ander om jou raaksien wat jou ook nodig het, wat ook warmte en liefde en begrip soek. Lara besef in hierdie stil, nagtelike ure op Jagershoek dat ’n hart nooit só vol kan word dat daar nie meer plek is vir nog ander nie. ’n Hart is soos die hemel – dit kan nooit ’n punt van versadiging bereik nie. Ook kan dit nooit net met smart, hoe diep ook al, gevul word nie. Daar is altyd nog plek vir lewensblyheid en dankbaarheid.

      En, wonderlik, vanaand in hierdie vreemde huis, ervaar sy vir die eerste keer nie daardie gevoel van alleenheid nie. Dis met ’n dankbare hart dat sy eindelik omdraai en rustig aan die slaap raak.

      Toe sy die volgende oggend haar oë oopmaak, kyk sy vas in twee paar blou oë wat aan weerskante van haar bed sit. Sy glimlag lui vir hulle en met kort gilletjies spring hulle aan weerskante van haar in. Dis nie lank nie, of tant An is verplig om te kom kyk wat die oorsaak van die rumoer is. Dis ’n gegil en gelag en gekielie van die ander wêreld toe sy met die koppie koffie in die deur verskyn, en weer word haar hart warm. Hoe gelukkig lyk die kinders tog! Dis of daar sedert gister ’n lig binne-in hulle aangesteek is.

      Die res van die oggend word bestee aan hare knip en was en ook tant An moet haar tevredenheid en ingenomenheid hardop laat hoor.

      “Maar julle lyk dan nou gans anders, kinders! Soos regte dametjies!”

      Terwyl die woord dametjies in die verlede hul nekhare laat rys het, glimlag die twee nou van oor tot oor, baie duidelik hoogs ingenome met die gedaanteverwisseling wat hulle ondergaan het. Hulle is dan glad mooi!

      “Oe, ek wens Pa kan ons nou sien! Hy sal ons g’n herken nie!”

      “En daardie ou ... e ...” Tokkie glimlag soet na Lara op. “En ons klasonderwyseres! Sy sal nooit glo dis ons hierdie nie!”

      “O ja, ek het amper vergeet. Mevrou Van Wyk het gebel om te verneem of jy al aangekom het en gesê ons moet vanmiddag by haar kom tee drink. Maar julle drie moet maar gaan. Ek wil tog nie my storie vanmiddag oor die radio mis nie. Dit staan nou end se kant toe.”

      “Dis die tannie wat die mooi asters het,” lig Bokkie in, en Lara glimlag.

      “O ja! Dié een wat ook die lekkerste koeksisters hier bak!”

      “Ja! Ons gaan, tannie, nè, tannie?”

      “Ek sal moet gaan dankie sê vir die pragtige asters. Ja, ons gaan. Kom ons gaan kyk wat ons gaan aantrek.”

      Al huppelende langs Lara gaan hulle die gang af en tant An skud haar kop. Ai, dis sommer of die huis skielik heeltemal anders is, voller en lewendiger. Sy klik haar tong. Henk moes ook nou net hier gewees het. Maar toe maar ... Oor ’n paar dae kom hy terug.

      Babes van Wyk kyk verras na die aantreklike en smaakvol geklede dame voor haar toe sy haar voordeur oopmaak. Dan gaan haar blik na die twee gesigte wat skouerhoogte aan weerskante van die vreemde jong vrou staan, en sy moet nog ’n slag kyk voordat sy die tweeling herken. Haar verbasing en bewondering is openlik en eg.

      “Maar ek het julle byna nie herken nie, julle twee japsnoete! Kyk hoe pragtig lyk julle! En waar kom julle aan daardie pragtige stelle langbroeke en hemde? Dis beslis nie hier gekoop nie.”

      Die tweeling glimlag weer van oor tot oor. “Dis tannie Lara wat dit vir ons met ons verjaardag gestuur het, tannie. En dis sy wat ons hare geknip en só gemaak het.”

      Babes van Wyk se blik keer terug na haar gas en hulle glimlag teenoor mekaar. “Dis wonderlik wat die een mens so maklik kan regkry terwyl die ander vergeefs probeer. Estelle Huizeman probeer nou al vir maande van hierdie twee iets maak, en hier kom jy en kry dit in een dag reg. En dit nogal met hul volle samewerking! Gee jy om as ek vir jou sommer Lara sê?”

      “Nee, glad nie. Maar ... hoe bedoel ...?” Die waarskuwing in die tweeling se oë weerhou haar om verder op die saak in te gaan. Sy draai haar woorde vinnig om. “Ek wou nog baie dankie sê vir die pragtige asters in my kamer.”

      Hierdie keer draai die tweeling hul volle blik weer na die gasvrou, en terwyl die monde besig bly met die koeksisters, pleit die oë openlik. Die bankbestuurder se vrou glimlag gerusstellend. “Die tweeling wou so graag blomme vir jou kamer gehad het. Hier is nog baie. Ek sal môre of so weer vir jou ’n klomp stuur.”

      Die tweeling kyk mekaar verlig aan, en Lara maak asof sy niks agtergekom het nie.

      “Gaan jy nog ’n hele rukkie hier kuier, Lara?”

      “Dis nog nie seker hoe lank nie. Dit hang alles af ...”

      Babes van Wyk glimlag en knik. Natuurlik. Sy verstaan. Henk Beukes moet eers terugkom en dan sal hulle natuurlik die finale reëlings vir die troue begin tref.

      “Jy moet in elk geval weer kom kuier voordat jy teruggaan. Ons is almal so bly om jou hier te hê.” Weer voel sy die volle gloed van die tweeling se blou oë op haar en weer glimlag sy begrypend. Nee. Sy sal nie verraai dat die tweeling hul monde verbygepraat het nie! “ ’n Nuwe gesig is altyd baie welkom op Jagershoek. Ons is maar ’n klein klompie hier.”

      “U is baie vriendelik, mevrou. Baie dankie. Ek sal sekerlik weer kom. Nou sal ons moet gaan voordat daardie bak koeksisters regtig alles op is!”

      Babes van Wyk lag goedig. “Ag, laat hulle maar eet. Die arme goedjies het nie ’n ma gehad wat vir hulle sulke lekkernye kon bak nie. Wag so ’n oomblikkie. Ek gaan kry net ’n bakkie, dan sit ek die res vir julle daarin om saam te neem.”

      Toe hulle weg is, glip Babes gou agterom na die bank. “Sy het toe gekom!” kondig sy aan en haar man en die res van die bankpersoneel luister met belangstelling. “Estelle Huizeman kan gaan slaap teen haar! En julle moet daardie tweeling sien!”

      Onbewus daarvan dat sy die onderwerp van bespreking op die dorp geraak het, stap Lara en die tweeling terug huis toe. Die tweeling is twee tevrede mensies met mae knuppeldik van die heerlikste koeksisters en harte vol van die wete dat tannie Babes, en so sal ook die res van die dorp, ook van hul tannie Lara hou. Nee wat, hulle gaan sommer almal van nou af lekker hier saambly. Daar is net geen probleme meer nie.

      Tant An het ook intussen haar stories oor die radio klaar geluister en sy en tant Sofie, haar buurvrou, staan sommer oor die draad tussen die twee erwe en gesels.

      “Nee, mens, ek sê jou, ek weet self nie van wanneer af dié vryery aan die gang is nie. Sy is net so geheimsinnig. Laat niks blyk nie. En Henk het natuurlik die tweeling die dood voor oë gesweer as hulle hieroor uit hul beurt praat. Maar dat sy darem ’n agtermekaar vrou is, is seker. Henk is self ’n agtermekaar man, maar hy kan sy ou skoene agternagooi om haar te kry. En so ’n liewe mens! Nee, vrou, ek weet glad nie wanneer die trouery sal plaasvind nie, maar seker darem nie meer oor lank nie. Hy praat al ’n hele rukkie in daardie rigting, maar ek wis mos niks van hierdie vrou af nie. Dog hy praat van juffrou Huizeman.”

      “Maar, An, vir wat sal die man dan nooit eens haar naam vir jou genoem het nie? As sy dan so ’n pragtige mens is, hoekom wou hy haar half wegsteek, soos dit lyk?”

      “Ag, Sofie, moet nou nie weer stertjies aansit nie! Hoekom sou hy haar wou wegsteek? Jy is laf. Elke man sal trots wees om Lara as nooi te hê. Nee, man, dis maar nes Henk is. So ken ek hom al die jare wat ek hier by hulle bly. Praat mos nie. Hy is mos nie ’n man wat met sy hart op sy mou rondloop nie. Nee. Hou maar alles diep binne homself.”

      “Ja, dis waar. Ek onthou nog soos die dag van gister hoe hy daar langs sy oorle vrou se ope graf gestaan het. Doodstil en wasbleek. Foei tog, ek is bly hy het nou weer ’n lewensmaat gekry. Die twee arme wesies sal nou ook weer ’n ma hê.”

      So gaan die gesels die hele dorp deur en almal stem heelhartig met tant Sofie saam: dis goed dat Henk Beukes weer ’n lewensmaat gaan kry, en die twee wesies ’n ma.

      Toe hulle tuis kom, keer Lara die tweeling in hul slaapkamer vas. Daar is ’n ligte fronsie tussen haar wenkbroue.

      “Ek wil net graag duidelikheid oor ’n sekere puntjie


Скачать книгу