Donkerpoort. Tryna du Toit
tion>
Tryna du Toit
Omnibus 8
DONKERPOORT
Human & Rousseau
Hoofstuk 1
Dit het alles begin met John Stevens se uitstalling in Johannesburg. Dit het Ansie later besef.
Die tragiese gebeure op Donkerpoort daardie Paasnaweek, maande later, al die omwentelinge in die familie – sou dit anders gewees het as John Stevens nie Johannesburg toe gekom het nie? Of was dit maar van die begin af so bestem?
Dit was laat een middag aan die begin van Januarie toe Ansie saam met haar stiefpa, Jacob Lessing, en Mercia na ’n voorvertoning van John Stevens se skilderye in Johannesburg gaan kyk het. Die kunstenaar was ’n Rhodesiër van geboorte en het ’n paar jaar in Engeland en Europa gewerk en gestudeer. Hy was taamlik onbekend in Suid-Afrika, maar volgens die kunskritici het hy reeds bekendheid oorsee verwerf en hang van sy skilderye in kunssale in Londen en Parys.
Jacob Lessing was ’n bekende kunsversamelaar en Ansie het deur die jare baie van hom geleer. Sy smaak was taamlik konserwatief en Ansie het grootgeword in die tradisie van Maud Sumner, Pierneef, Anton van Wouw en hulle tydgenote, vir wie sy ’n groot waardering gehad het. Van moderne kuns het sy in daardie stadium nie juis gehou nie, maar John Stevens se reputasie het hom vooruitgeloop en sy het uitgesien na die uitstalling.
Sy was nie teleurgesteld nie. John Stevens was ’n opwindende kunstenaar, modern en realisties, sonder ’n sweempie sentimentaliteit. Sy Afrika-tonele en -landskappe was groots, fel en aangrypend, en het veral belangstelling uitgelok. Ansie het nie van dié doeke gehou nie. Die simboliek was vir haar onverstaanbaar; dit was te hard en te primitief, maar die skilderye het almal die stempel van ’n buitengewone talent gedra. Sy portretskilderye was vir haar puik – sonder genade, maar soms met ’n tikkie humor of onverwagte deernis, het hy blootgelê wat sy kunstenaarsoog waarneem. Daar was ook ’n halfdosyn doeke wat hy tydens ’n verblyf in Griekeland geskilder het – kleurryk, sprankelend, vol poësie en ritme – wat louter genot was.
Oom Jacob het twee van die Afrika-skilderye gekoop. Was hy van plan om hulle by sy Pierneefs te hang? het Ansie gewonder.
Oom Jacob en Mercia het later staan en gesels met ’n jong man met ’n welige rooi baard en krulhare wat tot op sy skouers hang – seker die kunstenaar self, het Ansie met teleurstelling en ’n tikkie afkeer gedink. Geen gewone sterfling sal dit in dié uitgelese geselskap in so ’n pienk hemp en bont das waag nie. Sy het alleen in die galery rondgedwaal en later vir die soveelste keer huiwerend voor een van Jacob Lessing se jongste aankope gestaan toe ’n man, onberispelik geklee in ’n aandpak, langs haar kom staan. Hy was so dertig jaar oud, taamlik lank en skralerig gebou. Hy was bruingebrand, sy oë opvallend blou. Hy het ’n aantekeningboek en ’n pen in sy hand gehad en sy het geraai dat hy ’n resensent van een van die koerante is.
“Wel, juffrou?” vra hy op Afrikaans. “Het jy al besluit of jy van die skildery hou of nie?”
“Ek … ek weet nie,” stamel sy, ’n oomblik van stryk gebring deur die vreemdeling se reguit vraag. Dan ruk sy haarself reg en sê ferm: “Nee, ek hou nie daarvan nie.”
“Mag ek vra waarom nie?”
“Moontlik omdat ek dit nie verstaan nie,” antwoord sy koel, dadelik op die verdediging.
“’n Mens hou tog soms van ’n gedig, of ’n stuk musiek, of ’n skildery, al verstaan jy dit nie altyd nie.”
“My smaak is seker te konserwatief – ek hou nie van hedendaagse kuns nie.”
Hy kyk haar ondersoekend aan.
“Het jy al ooit probeer om dit te verstaan?”
Ansie kyk effens verbaas op. Gesels hy sommer? Of is hy besig om ’n onderhoud met haar te voer?
“Ek het al probeer, maar – dis seker ’n kwessie van smaak – ek het geen aanvoeling daarvoor nie. Ek hou ook nie van moderne musiek of duistere poësie nie.”
Hy glimlag effens.
“Is hier enige doek waarvan jy hou?”
“Ek dink die portrette is briljant, maar ek sal nooit toelaat dat John Stevens my skilder nie.”
“Waarom nie?” vra hy geamuseerd.
“Hy sien dinge raak wat hy nie veronderstel is om raak te sien nie.”
“Is dit as ’n kompliment bedoel?”
“Ek dink so. Maar ek hou die meeste van sy tonele van die Griekse eilande.”
Sy blik is effens spottend.
“Die meeste vroue hou daarvan. Dit verg nie veel inspanning – of kennis – om hulle te verstaan nie.”
Ansie bloos vererg. Wat ’n vermetele, onaangename man!
“Ek is seker John Stevens het dit geniet om hulle te skilder – baie meer as hierdie ingewikkelde, simboliese komposisies wat niemand verstaan nie en elkeen interpreteer net soos hy wil.”
Hy glimlag effens.
“Jy is reg, juffrou Lessing. Dit was lekker afleiding. Ek was moeg, ek is na die eilande toe om te rus – ek was in daardie stadium nie lus vir ingewikkelde komposisies nie.”
Sy staar na hom met groeiende verleentheid.
“Ek verstaan nie,” stamel sy. “Is jy …?”
“Ek is John Stevens. Het jy nie geweet nie?”
“Nee,” sê sy, opreg verleë. “Ek het gedink daardie man met die rooi baard …” Sy blik volg hare na die flambojante jong man met die welige rooi baard en pienk hemp en dis of hy effens sidder. “Ek is jammer,” vervolg sy haastig, verskonend, terwyl sy ’n giggel onderdruk. “Maar hoe moes ek weet? Jy praat Afrikaans …”
“My ma was Afrikaans. Haar familie woon in die Paarl. Ek was ’n ruk daar op skool.” Hy glimlag en sê: “Ek moet nou gaan. Ek sien hulle soek na my. Kom kuier weer. Soggens is daar gewoonlik nie baie mense nie, dan kan ons verder gesels.”
Sy glimlag beleef. “Ek gaan oor ’n dag of twee terug Pretoria toe. Ek woon daar. Ek glo nie daar sal tyd wees nie.”
Hy knik kortaf.
“Ek begryp. Tot siens dan, juffrou Lessing. Dit was ’n interessante ontmoeting.”
Ansie glimlag koel.
“My van is Durand – ek is Anna Durand. Jacob Lessing is my stiefpa. Tot siens, meneer Stevens. Alle voorspoed met die uitstalling.”
Ansie was glad nie van plan om weer na die uitstalling toe te gaan nie. John Stevens het haar baie klein en ongemaklik laat voel. Maar die vleiende resensies in die koerante en die belangstelling wat sy uitstalling by die publiek uitgelok het, het haar nuuskierigheid opnuut geprikkel. Die dag voor sy sou teruggaan Pretoria toe, het sy die oggend half teen haar sin weer by die galery ingestap.
Daar was heelwat mense. John Stevens was besig om met ’n groepie kunsstudente voor een van sy skilderye te gesels, maar hy het haar dadelik raakgesien en later na haar toe gekom. Hy was weer netjies in ’n mooi grys pak met ’n ligte blou hemp en stemmige blougrys das, en sy het gedink dat hy eerder na ’n dokter of ’n sakeman as na ’n kunstenaar lyk. Sy groet was vriendelik.
“Ek het gewonder of ek jou weer sou sien,” sê hy kalm. “Ek het ongelukkig ’n paar afsprake vanoggend – daar sal nie veel kans vir gesels wees nie. Kom eet vanmiddag saam met my. Van die studente kan hier toesig hou terwyl ek weg is.”
Hy noem die naam van een van die beste eetplekke in die stad. Ansie huiwer ’n oomblik, verras en ook ’n bietjie gevlei deur die onverwagte uitnodiging. Toe knik sy haar instemming.
Toe sy hom op die afgespreekte tyd voor die restaurant ontmoet, sê sy: “Ek twyfel of hier plek vir ons sal wees.”
Maar John Stevens glimlag ongeërg toe hy die deur oopstoot. “Ek het vooraf bespreek,” sê hy.
Was jy dan so seker ek sou saamkom?