Mense van faam. Helene de Kock
se kloon. Die genetiese duplikaatjie. Dit het sy mos al vantevore gehoor. Sy wil haar hand verwoed wegpluk, maar hy hou en sy klem haar kake. “Luister, meneer Mynhard, ek weet nie wat jy probeer doen nie, maar …”
“Ek probeer die lug suiwer, dis al.”
“Jy val my aanhoudend in die rede en …”
“Dis bloot om te keer dat jy verkeerde afleidings maak, Debora. Ek besef jy’s … dalk bang jy kry seer, dat jy skiet nog voordat jy groet. En ek moet sê, ek koes vir die vale! Kan ons nie maar net beskaafd groet en dan aan ’n verhouding begin bou nie?”
“Wát?” Sy draai haar amper dwars op die sitplek.
Hy leun skielik skuins vorentoe en soen haar skrams op haar oop lippe. “Dis beter. Geluk met jou suster se huwelik. Ek hoop sy word ’n goeie Mynhard sodat jy jou nie hoef te skaam nie. Dalk beny jy haar nog …”
Debora wil-wil haar opnuut vervies, maar toe sien sy die stout vonkel in sy grys oë. Hy spot met haar. Maar tog op so ’n manier dat sy weet sy bedoeling is om te speel. Hy jag wel, maar met ’n kamera. Die besef is ’n yslike verligting en sy loer deur haar wimpers na hom. Haar bedoeling is nog om te pootjie, wat …
“Ek hoef haar nie te beny nie. Hier sit dan ’n Mynhard langs my. ’n Man van faam, sou ek sê.”
“Met ’n v, mooi Debora, met ’n v. Daar’s dieptes hier waarvan jy maar net kan droom.”
Toe die motor agter die bruidskar langs die groot markiestent stilhou, is Debora skoon moeg. Die man weet van pootjie, daarom maak by sulke netjiese systappies. En sy besluit om eerlik te wees. “Dit was een van die mees uitputtende ritte van my lewe,” sê sy, maar glimlag met hom.
“Dit was ’n verkenningstog – en dis altyd vermoeiend,” sê hy doodernstig.
’n Verkenningstog. En dit het ’n avontuur ingelui, dink Debora en sak salig terug in die warm skuimbad. Eintlik was Diana se troudag vol opwindende hoogtepunte. Selfs vir ’n strooimeisie. Dit was ook ’n gepaste inleiding vir Debora se nuwe lewe in die Kaap. Sy is maar ’n maand of wat hier en het pas in ’n groendakhuisie met ’n soldervenster en snoesige stoep in Stellenbosch se oudorp ingetrek. Sy voel nog maar haar weg na al die jare bo in die noorde. Maar na vandag, toe sy so aan die diep kant ingegooi is, sal dit beslis beter gaan. ’n Mynhard-troue het vir haar die ys gebreek.
Na al die heildronke onder die spits geplooide koepels van die markiestent ingestel is, het die groot kuier begin. Meulenhof se towerwyne het vryelik gevloei en die woorde los gemaak. Almal wou opsluit by Debora weet: wanneer kom jou beurt dan? Is dit dalk die rede waarom jy weer terug is op Stellenbosch? Dink jy dan die Kaapse howe is stiller as dié daar bo in Gauteng?
Sy was dié stortvloed te wagte, maar dit het tog ’n bietjie tongknopend gegaan om mooi diplomaties te antwoord. Wel … nee, ek is nou regsadviseur vir ’n versekeringsmaatskappy. Die hof se dinge word vir my te veel … Dit was Theron wat haar tegemoetgekom het, nogal met ’n arm nonchalant om haar middel: “Ja-nee, al die laste en luste van die samelewing kan seker vir ’n mooi advokaat te veel word. En van trou is daar wel sprake – so oor twee jaar, nie waar nie, Deb?”
Onhebbelike man. “Oor twintig jaar,” het sy gekeer en netjies uit sy omarming gedraai, weggestap na waar Diana tussen ’n klompie bewonderaars aan die pronk was. Sy het om en om getol sodat almal kon sien hoe verruklik klok die lae ragfyn chiffon om haar lyf.
Debora het met vertedering bly kyk hoedat haar sus opgaan in die euforie van die oomblik. Frederik het langs haar kom staan en spontaan hande geklap. “O, maar ek het ’n mooi vrou!” het hy gesug, en onverwags ’n broederlike arm om Debora gesit. “Ek sal haar mooi oppas, Debora. Belowe dat jy baie sal kom kuier.”
“Ek belowe.”
“Jy weet dat jy steeds welkom is om in die gastehuis in te trek, nè? Meulenhof is tog na genoeg aan die dorp om …”
Sy was tog geraak: “Báie dankie, Frederik, maar ek was so lank selfstandig dat ek verkies om op my eie te wees.”
Hy het stilweg geglimlag en haar goedig op die skouer geklop.
Die orkes het op die breë stoep begin speel en Frederik en Diana het die baan geopen op maat van Bryan Adams se meesleurende “Have you ever really loved a woman”. Debora het half bewoë toegekyk hoe Diana haar gesig stralend na haar man lig, die wolkige sluier swewend verweef met die musiek. Theron het Debora nader getrek. “Kom, ek voel begeesterd. Vanaand dans ek jou bene lam!”
En hy sou miskien haar bene lam gemaak het, as dit nie was dat Kieron Mynhard toe uit die swarte digtheid van die laatnag sy verskyning gemaak het nie. Sy lang figuur met die netjiese swart kuif en streng gelaat was net eensklaps daar langs die lampverligte stoeppilare. “Dis nou maar onse Kieron,” het Theron lakoniek opgemerk. “Kom nie vir die kerkdiens nie en woon net die nadraai van die onthaal by.”
Debora het skielik verstok, stram die swaar hare uit haar nek gelig. “Sjoe, dis warm!” het sy benoud gesê. Die orkes het van ’n wals oorgeslaan na Sinead O’Connor se slepende “Nothing compares to you”. Theron het haar skeefkop betrag.
“Hm … dit raak altyd warm as Kieron opdaag, my meisie. Kan ek vir jou ’n yskoue wyntjie bring?” Sy het net geknik en deur die dansendes gedruk om tog net van die stoep af te kom. So ver moontlik onder Kieron se skerp, donkerblou oë uit. Al soek Theron haar wyntjie-in-die-hand tot sonop toe. Sy het ligvoets oor die dounat grasperk gedraf, die halfleë markiestent binnegeglip. Tant Mynie het haar lang figuur uit die groep geselsendes gelig.
“Nou toe! Waar wil jy nou weer wegkruip, Suster Maan? Kom, laat ek hoor …”
“Nee, nie nou nie, ant Mynie, ek en Debora het ’n sakie te prate!” Dit was Alissa, ma Hannie Robyn se dogter en altyd haar kampvegter. Verligting het deur Debora gegolf. Sy het effens geglimlag, haar na die jong vrou met die bruin bokkie-oë gedraai.
“Ja, die nag is jonk en ek wil nie nou al kom sit nie!”
“Altyd anders,” het tant Mynie gesug, maar sy het nie vir Debora laat gaan sonder om die ou-ou sakie aan te roer nie. Sy was mos veral lief om dit in ’n geselskap te doen. “Sien julle nou,” het sy gesê, “sy is Diana se ewebeeld. Werklik beeldskoon – en as sy haar hare ook kort sou sny, sou ’n mens g’n kan onderskei wie’s wie nie.”
“Diana se kloon is ek mos,” het Debora met koue spot geantwoord. Maar Alissa het haar hoë senulaggie gegee.
“Wel, hulle sê daar’s ’n kloon vir elke smaak, nè!”
En toe die ou tannies in tant Mynie se groepie proeslag, het Alissa gemaak vies met haar tong geklik. “Ek’s mos nou ’n skakelbeampte by die wyninstituut hier buite die dorp – en ek hoor die manne praat daar van klone en goed en …”
“Kry jou draai, Alissa!” het tant Mynie ingetjip. “Ons weet wat is klone!”
Alissa het tant Mynie ’n kyk gegee. “Wel, hulle sê ook dat een wyndruifkloon nie áltyd nes ’n ander kloon is nie. In die hande van verskillende wynmakers kry elke kloon sy eie karakter – en dán moet julle sien hoe oorleef hy!”
“Nou maar dan moet ons vir Debora haar eie wynmaker kry!” het tant Mynie gegrap.
Alissa het aan haar arm gerem, maar dit was opeens net te veel vir Debora. Die jare tussenin het verdwyn en sy het haar voet op die klam gras gestamp. “Ek weet van oorleef meer as enigiemand hier, en wat karakter betref …” Maar Alissa het haar by die markiestent se opening aan die arm uitgetrek sodat die laaste woorde in die naglug verdamp het.
“Spaar jou asem, Deb!” het sy gehyg.
Debora het gedwee agter die meisie se wulpse wiegheupies aangeloop en stilweg begin lag. Alissa was immers reg. Hulle het al met die rye hanglanterns langs geloop om by die opstal se agterdeur in te gaan. “Kom, my ma werk mos nie verniet nou hier nie en ek is lus vir brood en moskonfyt.”
“Ek ook!” het Debora gelag en by die breë kombuistafel gaan sit, haar