Keerkring van die hart. Ena Murray
“Jy vat dit mos nie. Ek géé dit vir jou. Om die waarheid te sê, sal dit die eerste keer wees dat ek werklik iets vir jou gee. Ek het nog nooit iets vir jou gegee nie, nè? Van kleintyd af het jy nie so iets geken nie. Toe ander seuns fietse, later motorkarre en sulke dinge by hulle pa’s gekry het, het jy niks gekry nie …”
“Asseblief, Pa! Ons … omstandighede was anders …”
“Ja.” Hy sug. “Selfgeskepte omstandighede. Nou toe dan maar, Kassie. Nes jy goeddink. Pa het maar net gemeen … En ek wag lankal op ’n geleentheid om iets vir jou te gee wat vir jou van waarde sal wees. Ek meen, ek sit lankal daardie geldjies weg, bietjie-bietjie elke maand … eintlik gedink ek sal dit vir jou gee wanneer jy jou laaste eksamen skryf. Dan kan jy daarmee doen wat jy wil. Maar toe hoor ek van die opskop en toe het ek maar gedink …”
Daardie nag om eenuur toe die koppie leeg is en oom Joop dit weer neem om terug te vat kombuis toe, kom hy in sy sukkelende spoor tot stilstand toe sy seun se stem opklink.
“Pa …”
“Ja?”
“Ek het gedink … as Pa dit werklik sou kon spaar, sal ek … sal ek graag daardie aandpak-aanbod aanvaar.”
Die ou man glimlag, knik.
“Pa kan dit spaar.” Dan sagter, heelwat sagter: “Dankie, Kasman.”
Kas en oom Faan het nie weer die saak van die partytjie opgehaal nie, maar oom Faan wys openlik sy blydskap daardie aand toe hy meteens die lang, skraal gestalte in sy voordeur sien verskyn. Vir ’n oomblik herken hy hom amper nie. Dan stap hy vinnig nader.
“Kas! Kom binne, kêrel.”
“Naand, oom Faan.”
Dan sak sy blik af na die gesiggie wat meteens hier langs oom Faan se skouer verskyn. Hy buig effens.
“Goeienaand, juffrou Dempers. Welkom terug.”
Sy het hom onmiddellik gewaar toe hy in die voordeur verskyn het en haar eerste gedagte was om te wonder wie dit is. Toe het herkenning gekom en sy het teen haar sin nader beweeg, maar sy ietwat koel verwelkoming, die wyse waarop die grys oë haar krities en opsommend beskou, bring die laaste keer toe hulle mekaar gesien het, helder na haar terug. Haar gesig verstrak en ook haar oë verkoel merkbaar. Sy wend nie ’n poging aan om haar hand uit te steek nie, maar kyk hom met haar óú hooghartigheid aan, hoewel dit vir haar voel asof sy met groter hooghartigheid aangekyk word, byna ’n meerderwaardigheid waarvoor sy haar op die plek bloedig vererg.
“Goeienaand, meneer Burger,” beantwoord sy sy groet met fyn sarkasme. Sy draai dadelik na haar pa. “Paps, gaan ons twee nie die baan open nie? Die jongklomp is al lus vir dans.”
Oom Faan skud sy kop.
“Nee wat, kleinding. My ou litte is al te stram. Laat Kas liewer.”
Sy frons ontevrede en die frons verdiep toe sy opkyk in oë wat meteens uitdagend in hare rus. Dan maak hy weer die buiginkie en antwoord beleef voordat sy nog iets kan sê.
“Dankie vir die eer, juffrou, maar … ek is nie juis ’n danser nie.”
Sy swaai met ’n verergde, hooghartige beweging van die kop om, stap direk op Rob Rabe af waar hy met ’n onbekende meisie staan en gesels. Kas kyk stilswyend, met ’n uitdrukkinglose gesig toe terwyl hulle wegdans. Ander pare begin ook dans en dan hoor hy oom Faan se stem.
“Marlise, kom hier, kind. Ek wil jou voorstel aan Kas, my regterhand en toekomstige vennoot. Kas, dis nou Marlise, ’n ou vriend van my se dogter. Sy het saam met Liesel van die Kaap af gekom.”
Dis ’n mooi donkerkop wat voor Kas staan en oor Rob Rabe se skouer sien Liesel hoe hy Marlise se hand neem. Sy gesig verander meteens en ontspan in ’n glimlag. Hy maak weer ’n buiginkie en Marlise se laggende gesig terwyl hulle begin wegdans, voltooi die prentjie. Net vlugtig, baie vlugtig ontmoet haar oë die grys blik en sy kyk vinnig weg, probeer konsentreer op wat Rob in haar oor fluister.
“Jy is pragtiger as ooit. Ek het my doodverlang na jou, meisie.”
Sy glimlag effens, maar haar oë is somber. Is dit waar? wonder sy. Al hierdie maande wat sy weg was, het sy bly wonder of dit wat Kas haar pa vertel het, waar was van Rob. Dan verdwyn die twyfel meteens. Die feit dat Rob vanaand sonder ’n spesifieke meisie na haar partytjie gekom het en baie duidelik in haar afwesigheid nie ’n vaste meisie in haar plek aangeskaf het nie, is bewys genoeg dat dit net ’n swartsmeerdery van Kas was.
Uit die hoek van haar oog herken sy haar vriendin hier langs haar en sy leun vir ’n oomblik met haar kop teen Rob se skouer, kyk na hom op en glimlag.
“Ek het gedink jy sou my vergeet het, Rob.”
Hy glimlag in haar oë af en sy arm span stywer om haar. Vlugtig, met die vernuf van ’n ervare man, miskien gans te ervare vir sy jare, druk Rob sy lippe teen haar voorkop.
“Ons kan weer die drade optel waar ons dit maande gelede moes knip, meisie, kan ons nie?”
Sy weet Marlise en haar dansmaat dans hier dig teen haar, en haar glimlag is onnodig breed en tegemoetkomend toe sy antwoord, ’n bietjie te hard vir die intimiteit van dié soort gesprek.
“Natuurlik, Rob. Ses maande oorsee het niks aan my verander nie. Niks.”
“Gaaf, meisie. Gaaf.” Hy swaai haar meteens in ’n wilde rondomtalie en haar laggie klink oor die ander pare uit. Uit die een hoek, waar hy in geselskap van Rob se ouers sit, kyk Faan Dempers met ’n glimlag op, ’n glimlag wat effens verstrak toe hy sien met wie sy dogter so vrolik is. Byna hulpsoekend gaan sy blik na die paar langsaan, maar Kas is diep geïnteresseerd in wat die mooi meisie in sy arms te sê het en het blykbaar nie eens die verspottigheid van die ander twee agtergekom nie.
Die res van die aand bly oom Faan se oë donker met versluierde kommer. Dis of Liesel met byna koorsagtige uitgelatenheid deelneem aan die plesierigheid, en dis net sy en Rob. Sy dans kwalik met iemand anders. En wat oom Faan op ’n vreemde manier ook kwel, is die feit dat sy aanstaande vennoot, soos hy klaar besluit het, net oë vir Marlise Joubert het en dat dié twee beslis die aand saam geniet en baie vir mekaar te sê het. Daar is ’n magteloosheid in oom Faan toe hy en die twee meisies eindelik ure later alleen in die groot sitkamer van Hartelus agterbly.
“O, dit was ’n wonderlike aand, oom Faan. Baie dankie,” lag Marlise. “As ek geweet het hierdie vaal Karoo het sulke gawe jong mans, het ek lankal kom kuier!”
Oom Faan se glimlaggie is effens stram, maar sy oë goedig. Marlise is ’n dierbare, spontane kind, die dogter van ’n jare lange prokureursvriend in die Kaap.
Liesel kyk haar lig fronsend aan.
“Ag, dit het dan vir my gelyk asof jy die hele aand met ou Kas opgeskeep was. Ek het gewonder of jy ooit die partytjie geniet.”
Marlise kyk haar vriendin grootogig aan. Dan lag sy hartlik.
“Liewe mens, dis juis Kas wat my aand gemaak het! Hy was die oulikste man op die partytjie. Nie eens jou Rob, met alle respek, kom naby hom nie.”
“Jy is verspot! Daar is geen vergelyking nie!” antwoord Liesel skerp, maar Marlise kyk kalm terug.
“Toe maar, ons sal nie daaroor stry nie. Elkeen na sy smaak. Sê my, het hy ’n meisie, ’n vaste meisie, bedoel ek?”
“Nee, natuurlik nie!”
Marlise frons ook nou liggies.
“Wat is so natuurlik aan daardie feit? Dis vir my bra onnatuurlik dat ’n man soos hy nie ’n sleepsel vroumense agter hom sal aanhê nie.”
Oom Faan tree vinnig tussenbeide, en daar is geen glimlag op sy gesig nie.
“Ek dink Kas kan maklik ’n sleepsel vroumense, soos jy dit stel, agter hom aanhê, maar hy is besig met sy finale eksamen en het die afgelope vier jaar baie hard gestudeer. Hy gun homself nie die tyd vir sulke dinge nie. Ek moes hom soebat om vanaand hierheen