Duwweltjiepad. Elza Rademeyer
toe sy Worcester nader, haal sy meer verlig asem. Nou moet sy net vir Anton op die plaas by sy peetouers gaan oplaai, dan sal sy nog beter voel.
Sy wil nie aan haar verlede dink nie, maar dit doem onwillekeurig in haar gedagtes op. Sy was in haar matriekjaar toe haar weduweemoeder onverwags aan ’n hartaanval oorlede is. Skielik was sy wees, en daar was nie geld om verder te studeer nie. Die skoolhoof het vir haar ’n uitweg gebied deur haar in kontak te bring met die skatryk Mulder-familie van Kaapstad. Dié goeie kennisse van hom het nie ’n dogter gehad nie en sou vir haar studie betaal as hulle haar soos ’n eie dogter in die huis kon neem.
Aanvanklik was sy baie ingenome met die toedrag van sake, onthou suster Jo. Dit was lekker om skielik so ’n weeldelewe te kon lei. Sy het haar bes gedoen met haar skoolwerk uit dankbaarheid vir hul bystand. Die Mulders se seun het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Daar was ook ’n foto van hom in die huis. En natuurlik kon sy sien dat hy aantreklik was, maar dit het haar nie geraak nie. Tot hy een Saterdagmiddag onverwags sy opwagting by die huis kom maak het terwyl sy alleen daar was.
Sy en ’n skoolmaat het pas ’n stel tennis agter die rug gehad. Van moegheid het sy op die bed gaan lê en aan die slaap geraak. ’n Vreemde geluid het haar laat wakker skrik. Toe sy haar oë oopmaak, het hy in haar kamerdeur gestaan, ongetwyfeld die aantreklikste man wat haar oë nog aanskou het! Sy het vervaard regop gebeur en haar kort tennisrokkie probeer langer rek.
Hy het gelag en nader gekom. “Gits, as ek geweet het my aanstaande stiefsussie is so mooi, het ek lankal kom kuier!”
Sy het skaam en verleë geglimlag. “Jy is Rudolf?”
“Dis reg, en jy, neem ek aan, is Jolene Jordaan?”
Hy het ewe vrypostig by haar op die bed kom plaasneem toe sy haar kop knik, en skielik het haar kop wolke toe gesweef.
Die aand, toe sy ouers tuiskom, was die atmosfeer gespanne. Sy het gou agtergekom waarom dit so was. Rudolf se ouers was bekommerd omdat hy soveel aandag aan haar gegee het.
“Sy is benede ons stand,” het sy sy ma hoor sê toe hulle gedink het sy kan hulle nie hoor nie. “Jy moet onthou haar pa het maar op die paaie gewerk. En na sy dood moes hulle van haar ma se ou pensioengeldjie leef.”
Sy het stil omgedraai en teruggeloop kamer toe. O, sy het teen daardie tyd geweet Rudolf se ouers is erg snobisties, maar sy’t nie gedink dit is só erg nie!
Van daardie oomblik af het sy Rudolf probeer vermy. Maar dit was asof haar afsydigheid hom net aangespoor het om haar al meer op te soek. Hy het tydig en ontydig huis toe gekom. En toe die Desembervakansie aanbreek, het hy moedswillig volgehou om haar met aandag te oorlaai. Aan sy ouers se afkeurende houding het hy hom min gesteur.
Op ’n dag het hy haar in die skemering van die trap vasgedruk en gesoen! Sy onthou nou nog daardie soen. Dit was die eerste keer dat ’n man haar só gesoen het. Dit het gevoel asof die hemelruim se sterre om haar neergetuimel het. Vir daardie aand het sy ouers ’n partytjie gereël gehad en alles moes net vlot verloop. Eers later het sy vasgestel dit was omdat daar ’n ministersdogter onder die genooide gaste was . . . spesiaal na die partytjie genooi sodat Rudolf met haar kon kennis maak.
Sy was verskriklik jaloers, maar sy het nie haar gevoelens getoon nie. Ondanks haar afsydigheid het hy onophoudelik met haar bly dans – totdat sy ’n hoofpyn geveins en kamer toe gevlug het omdat sy sy ma se kil blik en die misnoegde keep van haar mondhoeke nie langer kon verduur nie.
Die volgende aand is hulle na die minister se huis vir ’n partytjie genooi. Maar sy het gevra om verskoon te word en het die verligting op sy ouers se gesigte gesien. Daardie aand van die ministerspartytjie, terwyl sy haar hart gelê en uitsnik het in die kamer, het Rudolf onverwags teruggekom.
“ ’n Mens sal sweer ek is nie oud genoeg om te besluit met wie ek mag uitgaan nie,” het hy bars gesê en by haar op die bed kom sit.
“Hulle gaan jou kom soek,” het sy benoud gesê. “En die duiwel gaan los wees as hulle jou hier by my kry.”
Hy’t gegrinnik. “Toe maar, ek is nie so dom nie. Sien, Alta is saam met my daar weg. En sy sal weer saam met my teruggaan partytjie toe gaan . . . later.”
“O, waar is sy dan nou?”
“By die man wat sy liefhet. Iemand benede haar stand.”
Sy het aan die giggel geraak. Hy ook. En toe het dit skielik stil geword tussen hulle. Toe hy sy arms na haar uitsteek, het sy gevoel hoe haar weerstand verkrummel en ’n desperate poging aangewend om hom te keer.
“Moenie, Rudolf. Moenie my soen nie. Ek is bang.”
“Moenie bang wees nie,” het hy skor in haar nek gefluister. “Ek sal jou nooit seermaak nie, daarvoor het ek jou te lief.”
Toe hy dit vir haar sê, kon sy nie meer weerstand bied nie. Sy het haar willoos laat meesleur deur sy hartstog.
Eers nadat alles verby was, wou sy beangs weet: “Wat gaan gebeur as ek swanger raak?”
“Dit gebeur nie so maklik nie,” het hy haar vrees probeer wegpraat. “Nie sommer van een enkele keer nie.”
Sy het hom geglo, want hy was soveel ouer en wyser as sy. Maar na daardie voorval het sy bly keer dat dinge handuit ruk en sy belangstelling in haar het gou begin verflou. Hy het haar nie meer so knaend opgesoek nie. En kort voor lank het hy en Alta saam begin tennis speel, saam gaan skaats, saam gaan fliek . . .
Sy het aanvaar dat sy uitgedien was. Nogtans was die vernedering baie groot. Dit was nie lekker om hom en Alta saam te sien nie. En die volgende jaar op universiteit het sy agtergekom hoe gewild hy regtig onder die meisies op die kampus was. As eerstejaarstudentjie kon sy nog minder op sy belangstelling aanspraak maak as tuis. En toe kom die naarheid, vind sy uit sy is swanger!
Hy wou dit aanvanklik nie glo nie. Later het hy ontken dat dit sy kind kan wees. Uit skone desperaatheid het sy ’n brief aan sy ouers geskryf – met rampspoedige gevolge.
Hulle het haar by die universiteit kom oplaai, al haar besittings reeds in tasse gepak, en toe het hulle haar by ’n derderangse losieshuis in een van die minder gegoede woonbuurte gaan aflaai. Sy pa het haar ’n stewige tjek en die adres van iemand wat aborsies uitvoer in die hand gestop en haar gewaarsku om nooit weer haar voete naby ’n Mulder te sit nie.
Suster Jo gee ’n suggie en verminder snelheid om in te draai by die afdraaipad na die plaas. Dit was weer haar destydse skoolhoof wat tot haar redding gekom het. Hy het ’n kinderlose egpaar geken. Gegoede mense wat bereid was om haar kind se peetouers te wees. En tot vandag toe, dink suster Jo, was sy nog nooit spyt dat sy Darius en Sanet van Zyl leer ken het nie.
Hulle het haar deur alles bygestaan. En na Anton se geboorte was dit vanselfsprekend dat sy die kind by hulle sou laat terwyl sy met ’n verplegingsloopbaan begin het. Hulle is ook die enigste mense wat weet wie die vader van haar seuntjie is. In ’n oomblik van swakheid het sy eendag teenoor Sanet gebieg. Maar hulle respekteer haar wens dat niemand anders dit moet weet nie, allermins Rudolf Mulder self.
Toe die plaasopstal in sig kom, roer ’n opgewondenheid in haar. Dit gaan die eerste keer in ’n lang tyd wees dat sy so lank haar kind by haar gaan hê. Sy kom kuier weliswaar gereeld hier op die plaas wanneer sy haar vry nagte het, maar om hom ’n hele maand net vir haarself te hê gaan wonderlik wees!
Dit is egter asof daar ’n stroefheid tussen haar en die Van Zyl-egpaar is. Sou dit wees omdat hulle ’n hele maand sonder Anton sal moet klaarkom?
Sy kom later agter die rede is iets heeltemal anders. Hulle het oor die radionuus gehoor van Rudolf Mulder se ongeluk . . .
“Ja, ek weet daarvan. Hy is gisteraand opgeneem in die saal waar ek werk.”
“En jy sê dit nou eers vir ons!” laat Darius verwytend hoor.
“Wel, ons het nog nie juis tyd gehad om daaroor te praat nie, het ons? Maar wat maak dit in elk geval saak? Julle weet hoe voel ek teenoor hom. Van my sal hy nooit hoor van Anton se bestaan nie. Sover dit hom aangaan, het ek destyds die aborsie ondergaan en klaar.