Vlerkdans (skooluitgawe). Barry Hough
skree Linda. “Is jy simpel? Jy sal jou seermaak. Dis sement dié. Don’t show off.”
“Okay, okay. Ons is op pad.” Hulle sit hulle valhelms op. “Sien jou Woensdag. So halfvyf,” sê Anton. Linda waai. Die motorfiets dreun weg. In die stilte wat volg, ruik ek nog die effense geur van Linda se hare.
Ná gym die Woensdag gaan drink ons milkshakes by die Milky Lane om die hoek.
“Jy cope goed,” sê Anton vir my. Linda knik instemmend. Daar loop ’n sjokoladestrepie oor haar onderlip tot in die kuiltjie op haar ken. Anton vee dit af. Linda gryp sy hand vas. “Moenie. Ek’s nie ’n baba nie.” Haar kneukels is wit.
Ek kyk by die venster uit. ’n Vrou met verwaaide blonde hare en groot oorbelle se Maltesertjie lig sy been teen ’n boom.
Anton klem sy glas vas en drink die laaste bietjie milkshake. Dit roggel14 in die strooitjie. Hy het lang vingers met amper vierkantige vingerpunte. Hulle vou om die glas.
“Sal jy vir my sit?” vra ek hom.
“Wat?”
“Dat ek jou teken.”
“Jy bedoel soos ’n model? Soos hulle maak in Parys?”
“Nie net in Parys nie. Hier ook,” sê ek.
“Sure. Ek het nie geweet jy’s ’n kunstenaar nie. Jy lyk nie soos een nie. Nie eens ’n oorbel of iets nie.”
“Ek’s nog ’n student. Hier by die kunsskool in Aucklandpark.”
“Hoekom ek?”
“Hou op vis 15,” sê Linda. “Jy weet jy’t ’n stunning lyf.”
Ek knik. “Ek is in graad elf en ons mag by die skool nog nie lewende modelle teken nie. En my ma – sy’s ook ’n kunstenaar – het net sulke ou toppies en tannies wat vir haar sit. Boring. Ek wil my eie model hê.”
“Sit hulle rêrig … jy weet … sonder klere?” wil Linda weet.
“Hoe anders teken jy ’n naakfiguur?” Ek haal my skouers op.
“Kan ek ’n tekening kry as ek vir jou sit?” vra Anton.
“Ja.”
“Is die spieëls by die studio nie genoeg vir jou nie?” terg Linda.
In die weke daarna sit Anton ’n paar keer vir my. Op ’n dag sit ek uit my geheue sketse van sy bolyf en maak in die wiskundeklas. Ek hoor ou Square se stem in die verte dreun, soos agtergrondmusiek in ’n supermark.
Iewers teken ek Anton se een skouer en arm nie reg nie. Weer en weer teken ek sy bolyf.
“Bezuidenhout!” blaf Square skielik bokant my. Voor ek die stuk papier kan wegsteek, raap hy dit op. “Ai, julle kunsmense darem. Dink julle aan niks anders nie? Kunstenaars moet mos ook kan meet en tel en proporsies16 uitwerk.” Hy sug en laat val die vel papier op my lessenaar. “Gee tog aandag. Julle maak my klaar. As party nie monoloë17 in my lesuur leer of skelm musiek memoriseer nie, dan hou julle jul lyf Da Vinci. Wel, Bezuidenhout, ek het nuus vir jou. Da Vinci het sy wiskunde geken. Hoe dink jy kon hy anders die vroegste vliegtuie ontwerp het?”
Die hare wat hy altyd in strepe oor sy bles kam, staan orent. Hy loop na die bord en begin weer verduidelik. Dis die laaste periode. Die klas is bedompig. Square se pak lyk of dit verlep het. Buite dreun die donderweer sag.
Ná skool haal ek die bus stad toe om grafiet en verf te gaan koop. Dit giet toe ek by Ron’s Art Supplies uitkom – ’n laatsomerbui. Soos die ander voetgangers wat nie reënjasse of sambrele het nie, wag ek op die sypaadjie. Tussen die geur van die reën ruik ek nat hare, sweet en asems. Iemand het baie knoffel gehad saam met sy middagete. Een winkel verder lees ek “Ear piercing done here” op die venster. Ek beur deur die mense na die winkel se ingang.
In die bus op pad huis toe loer ’n tante wat skuins voor my sit oor haar skouer na my. My regter-oorlel – met sy ronde goue stud – is seer. Dalk is hy rooi en ’n bietjie opgeswel. Sodat die vrou my oorbel goed kan sien, draai ek my kop. Ek wonder of sy kan sien ek is anders as ander mense: ’n kunstenaar met sy eie model. Sy het ’n skerp neus. Sy lyk kwaai. Maar ek glimlag. Sy draai haar kop weg en kyk voor haar.
Ons bushalte het nie ’n skuiling nie en ek kom nat tot op die vel by die huis aan.
Binne is dit donker en stil. Net die reën druis op die dak. Ma is seker in die ateljee. Op reëndae bak sy gewoonlik pannekoek, maar ek weet sy skilder vir ’n tentoonstelling. Nina is by haar musiekles. Sara was daar, want die huis ruik na meubelpolitoer. En die meeste van die skilderye hang weer effens skeef. Dit maak Ma rasend.
Ek skakel die lig in my kamer aan en trek uit. My wit hemp klou in donker kolle aan my vas. Ek droog my af. In die spieël kyk ek na die oorbel. Dit blink. Toe sien ek die res van myself raak. Donker toutjies hare drup oor my voorkop. Ek staan terug, kyk na die benerige skouers, die dun arms, die ribbes onder die vel wat soos lang vingers op my borskas lê. Die knieë is knopperig en lyk te groot vir die bene.
My pa se blou oë staar terug na my uit die spieël onder wenkbroue wat, nes syne, bokant die neus saamloop. Ma se oë is bruin. Carol, een van my klasmaats, het eenmaal vir my gesê jy kan nooit ’n man vertrou wie se wenkbroue een word nie. “Hulle is wolwe.” Ek wonder of Ma sal saamstem. Carol het dit seker ook vir die ander meisies vertel. Hulle noem my soms Wolfie.
Ek grom vir die ou in die spieël. Hy wys tande en trek sy arm om die boarm-spiere te laat bult. Die oefeninge by die gym het nog nie ’n verskil gemaak nie. “Niemand sal jou ooit vir ’n model wil gebruik nie,” sê ek vir die figuur in die spieël.
My lyf is hoendervel van die koue. Ek skakel die lig af en nog effens klam kruip ek onder my duvet in. Dis sag. Ek krul op en luister na die reën op die dak.
“Hannes!” Dis Ma. My kamerdeur kraak oop. ’n Skrefie lig sny in my kamer in. Ek knyp my oë toe. “Kom eet,” sê sy. Ek ruik rookwarm olie en kaneel. Ek kwyl – dis of ek die pannekoek en suiker al klaar proe. My maag voel hol.
Nina eet reeds toe ek in die kombuis aankom. Sy hou van die pannekoek vars. Die suiker moet nog tussen haar tande kraak. Daar steek ’n halwe pannekoek by haar mond uit.
“Ag, my doggie, die pannekoek gaan nie weghardloop nie,” sê Ma.
Sy draai na my toe, pan in die hand. “Ek bak net gou ’n laaste paar klaar.” Haar oorjas, vol verfstrepe en -kolle, steek onder die blou voorskoot uit. Daar is nog verf aan haar hande en gesig. Haar donker hare woel los uit die knippies waarmee sy dit vroeër probeer bedwing het. Een krul hang kurktrekker oor haar voorkop.
“Kry vir jou ’n bord,” sê sy. “En die pannekoeke onder in die bak hoort al lekker sous te getrek het.” Toe kletter18 die pan skielik op die stoof. “Hannes! Het jy vir jou ’n oorbel laat insit? Kyk na my. Laat ek sien.”
“Ek wil ook sien,” piep Nina tussenin.
Ek draai my oor na Ma toe.
“Jy het wragtig. Weet jy wat gaan jou pa hiervan sê?”
“Asof hy sou omgee! Hy sien in elk geval so min van ons, ek sal seker mondig wees teen die tyd dat hy die oorbel sien.”
“Is darem nie so erg nie. Jy weet hy’s besig. Veral nou met die nuwe pos by die hospitaal.”
“Ma’s ook besig. Feit is, hy gee nie om nie. Hy kon net sowel dood gewees het.”
Ma vee haar hande aan die voorskoot af en kom staan voor my. “Moenie,” sê sy. “Moenie goed sê waaroor jy later gaan spyt kry nie.”
Ek ruik vaagweg terpentyn en verf.
Sy sit haar hande op my skouers en kyk met ’n moeë glimlag in my oë. “Ek weet julle het vir mekaar vreemdelinge geword. Maar die oorbel gaan niks help nie, hoor. Jy weet hoe voel hy oor sulke goed. Ek hou nogal daarvan. Dis ougat, die oorbel. Iets anders. Maar jy ken hom. Hy gaan weer verdowingsmiddels daarin lees. Of satanisme.