Piekfyn Afrikaans Leesboek Graad 8 Eerste Addisionele Taal. Riens Vosloo
dit op, sy laat dit heen en weer in haar hand rol en hardloop huis toe om haar skat vir haar mense te gaan wys.
“Dis die watermense s’n, my kind. Hulle soek jou,” waarsku die oudste ouma, en die hoofman stamp sy kierie op die grond en sê: “Jy bly weg van die water. Kyk, dis byna volmaan!”
Maar die volgende aand teen skemer sluip Siphokazi weer weg en gaan wag by die rotsmuur, met haar voete in die vlak water. Sy rol die glinstergroen krale in haar hand rond en skiet dit ver oor die branders uit. Waar dit die water tref, glip die glimmende bolyf van ’n skraal jong waterman met lang hare en hande soos robvinne bokant die seevlak uit, en hy sing so mooi, so hartemooi in die soutwind, en hy lok haar, hy smeek haar om by hom te kom woon in sy grot van rooi koraal.
Siphokazi kyk in sy watergroen oë … en sy weet sy is verlore.
Maar “Siphokazi! Siphokazi!” roep haar mense waar die aandvure al brand.
En sy skeur haar weg en hardloop huis toe.
Daardie nag steek ’n geweldige storm op oor die see, die wind huil deur die vallei, en om die vure trek die mense hul komberse stywer om die skouers. En toe hoor hulle die dowwe knalle soos iets ysliks en swaars teen die kransmuur begin stamp.
Die dapperste manne gaan kyk en kom bibberend terug uit die stormnag. “Dis die watermense,” sê hulle. “Hulle het ’n reusevis gebring, so groot soos ’n boomstomp, wat met sy kop ’n gat dwarsdeur die kransmuur stamp!”
En die oudste ouma sê: “Dis oor Siphokazi.”
En hulle weet nie wat om te doen nie.
Voor die mense nog kan vlug, is die gat in die kransmuur so groot dat die seewater sissend en bruisend deurbars. En saam met die water stroom die watermense laggend en juigend deur land toe. Vooraan is die jong waterman. Hy kom raap Siphokazi in sy arms op en sy lag hoog en helder en hy swem met haar terug deur die gat na die dieptes van die see. Siphokazi is gelukkiger as ooit, want sy wou mos altyd soos ’n vis deur die water glip en gly.
Nou nog bars die see daar met hoogwater bruisend deur die groot gat in die rotsmuur, by die Plek van Geraas – eSikhaleni. Maar die watermense het nooit weer land toe gekom nie en die hoofman se dogter is nooit weer gesien nie. En Ulwandle – die see – bewaar die geheim.
Woordverklarings
hartemooi (so beautiful, it touches your heart) – so mooi, dit roer jou hart (let wel, dit is ’n nuutskepping van die oorverteller, nie ’n woord wat jy in ’n woordeboek sal vind nie)
hoogwater (high tide) – hoogste vlak wat die see bereik wanneer die gety inkom
koraal (coral) – rooi kalk van seepoliepe
rob (seal) – waterdier wat ook op land leef, het vinne en kan loop
sluip (steal away) – sag en ongemerk iewers heen gaan
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Beskryf die watermense se voorkoms. |
2. | Wat is die see se naam in hierdie verhaal? |
3. | Wat is die hoofman se dogter se naam? |
4. | Hoe voel die hoofman wanneer hy sy kierie stamp? |
5. | Wat beteken “eSikhaleni” in Afrikaans? |
6. | Wanneer kom sit die watermense teen die krans? |
7. | Wanneer het die hoofman se dogter op die waterman verlief geraak? Skryf die sin neer waarin ons dit lees. |
8. | Noem een saak in hierdie verhaal wat nie in die werklike lewe moontlik is nie. |
9. | Dink jy die hoofman se dogter was vir altyd gelukkig nadat die waterman haar saam met hom na die dieptes van die see toe geneem het (let op die vetgedrukte gedeelte)? Hoekom sê jy so? |
10. | Skryf in twee sinne watse lewensles ons hieruit leer. |
Postaktiwiteit
Meisies: Verbeel jou jy is die hoofman se dogter. Skryf ’n brief aan die hoofman om te sê jy is jammer/nie jammer nie dat jy ongehoorsaam was.
Seuns: Verbeel jou jy is die waterman wat die hoofman se dogter na die dieptes van die see toe saamgeneem het. Skryf ’n brief aan die hoofman om te sê hoe dit met jou en sy dogter gaan.
Woorde kan ook wortelskiet
Linda Rode
Prelees – groepbespreking
Noem al die dinge waarvan jy weet wat kan wortelskiet.
Het jy al ’n moderne koning op TV of in ’n fliek gesien?
Dra koninklikes vandag nog altyd ’n kroon?
Die verhaal
Dis moeilik om te glo, maar daar was eenmaal ’n koning met ’n horing op sy kop. Maar omdat outydse konings altyd ’n kroon op hul kop moes dra, en selfs daarmee geslaap het, het niemand ooit geweet van die horing op die koning se kop nie. Niemand behalwe sy haarkapper nie, want vir die haarkapper moes die koning natuurlik sy kroon afhaal.
“Nooit ooit mag jy vir iemand sê van die horing op my kop nie,” het die koning slag om slag gesê wanneer die haarkapper met sy handdoek, sy skêr en sy goue kam die koninklike slaapkamer binnekom.
En slag om slag het die haarkapper geantwoord: “Vir geen mens nie, U Majesteit,” en dan het hy gou-gou die rooi fluweelgordyne diggetrek.
Die haarkapper het woord gehou, hoewel hy gebrand het om net een keer vir iemand te sê: “Weet jy wat, ons koning het ’n horing op sy kop maar jy mag dit vir g’n mens sê nie!”
Op pad paleis toe moes die haarkapper altyd by ’n ou put verbystap. Eendag kan hy dit nie meer hou nie. Hy buig laag in die put af en roep sy geheim uit: “Die koning het ’n horing op sy kop!” Onder in die put rimpel die water van die haarkapper se asem. Die woorde is uit en hy sug van verligting.
Maar toe, een lang, skroeiwarm somer, droog die put se water op en onder in die modderige klamte skiet ’n rietbos wortel en begin groei. Al hoër en hoër, op na die son toe, strek die lang rietstele tot die koppe vry in die wind rondwieg.
’n Eensame skaapwagter kom met sy troppie verby, hy sien die riete en gaan sny vir hom een af. Hy maak daarvan ’n fluit en begin daarop speel. Maar daar sing die rietfluit hoog en helder oor berg en dal: “Hal-lie-hié, hal-lie-há, hallie-hop-hop-hóp, die koning het ’n horing op sy kop-kop-kóp!”
Natuurlik hoor die mense dit wyd en syd en hulle vertel dit van oor tot oor: “Haai, o, ons koning het ’n horing op sy kop!”
Net gou hoor die koning ook wat daar om die hoeke in sy paleis geskinder word. Hy druk sy kroon vaster op sy kop en laat haal heel eerste die haarkapper. “Vir wie het jy dit vertel?” vra die koning kwaai, sommer met die inkomslag.
Die haarkapper bewe. “Vir … vir g’n enkele m-mens nie,” stotter hy. Net een keer, toe ek dit nie meer kon hou nie, het ek dit in die ou put uitgeroep.”
Toe laat die koning die skaapwagter kom wat die fluit uit die riet gesny het wat uit die put gegroei het waarin die haarkapper die geheim uitgeroep het. “Speel dat ek hoor,” sê die koning streng.
Die skaapwagter druk die fluit teen sy lippe en daar sing die fluit hoog en helder sodat almal in die paleis dit hoor: “Hal-lie-hié, hal-lie-há, hallie-hop-hop-hóp, die koning het ’n horing op sy kop-kop-kóp!”
Almal se oë is op die koning. Die hele paleis is doodstil …
Toe sit die koning agteroor op sy troon en hy sê baie rustig en doodtevrede: “Nou ja, dan weet almal dit nou. En dis goed so. Wat ’n verligting!”
Die mense babbel en klap hande, want ag wat, ’n ou horinkie op die koning se kop is mos nou nie die einde van die aarde nie.
Daarna wink die koning die sekretaris van die hof nader en hy sê