Eiland van drome. Malene Breytenbach
deur.
Voor hulle lê witgekalkte geboue met helderblou dakke en koepeltjies. Dit lyk eerder soos ’n vakansieoord as ’n kliniek. So mooi soos die prentjies in toeristebrosjures van Griekse eilande soos Santorini. Dis opvallend dat die tuine pas aangelê is. Op plekke is die plante nog klein, maar daar is ook blomme en struike en groot skadubome wat behoue gebly het toe die kliniek gebou is.
“Mooi, nè?” vra Nicholas, wat uit sy sitplek opgestaan het en vir hulle kyk.
Daar is ’n koor van beïndrukte stemme.
Hulle hou by ’n ingangsportaal stil, klim uit en stap binne. Irene kyk belangstellend rond. Binne lyk dit soos ’n hospitaal en nie ’n hotel nie – baie wit, met blink blou-en-grys vloere. Silwerskoon en klinies. Daar is ’n ontvangstoonbank waaragter twee mans en twee vroue staan. Hulle kom uit om Nicholas Barton te groet en aan die nuwe personeellede voorgestel te word. Irene luister mooi na hul name.
“Konstantina sal julle drie dames na julle woonstelle neem,” sê Nicholas Barton. “Maak julle tuis, ons stuur julle bagasie onmiddellik agterna. Kom asseblief binne ’n uur hierheen sodat ek julle op ’n toer deur die kliniek kan neem. Julle moet dit goed genoeg ken om nie te verdwaal nie.”
Die kort, vriendelike meisie in ’n blou-en-grys uniform beduie dat Irene, Suzette en Nancy haar moet volg. Hulle gaan by ’n sydeur uit en al met ’n paadjie langs tot by geboue ’n ent van die hoofgebou af.
“Dis mos soos ’n hotel op Mykonos, net met meer bome,” sê Suzette. “Ek kan my oë nie glo nie.”
“Ek het vooraf foto’s van die plek gesien,” sê Nancy Dewar. “Ek het geweet wat om te verwag.” Nicholas Barton en Nancy is dan blykbaar op meer intiem vriendskaplike voet as wat hy met die ander personeellede is, dink Irene.
Irene se woonstel is die eerste een in die ry. Konstantina sluit ’n helderblou deur oop en hulle betree ’n koel, wit ruimte. Die meubels is van blonde hout en die stoffering van die stoele is blou-en-wit. Die eet- en sitkamer is aaneen en van die kombuisie geskei deur ’n toonbank met hoë stoele. Irene ondersoek alles. Die plek lyk vars en nuut, die kombuis goed toegerus. Die sitkamer loop uit op ’n stoepie met wit houtmeubels. Konstantina maak die skuifdeur oop. Irene hoor die see en sien dat daar slegs ’n grasperk en bome tussen haar stoep en die blouste blou see is.
“Wow,” sê sy met ontsag.
Konstantina lag. “Dokter se slaapkamer, badkamer en kantoor met rekenaar en al die nodige toerusting is bo.”
Sy lei Irene by ’n trap op. Daar is nuwe beddegoed op ’n groot bed in die slaapkamer, ’n pragtig ingerigte badkamer en ultramoderne toerusting in die kantoor.
“Dit is werklik meer as wat ek my ooit kon voorgestel het,” sê sy. “Te luuks vir woorde.”
“Ek hoop dokter bly lekker,” sê Konstantina. “E … u is baie mooi … sulke mooi blou oë, sulke blink goue hare … u lyk amper nie vir my soos … ”
Sy bly verleë stil.
“Soos ’n psigiater nie,” voltooi Irene haar sin.
“Ekskuus … ”
“Toemaar, ek word gereeld onderskat.” Irene lag.
“Gaan my huis ook soos dié een lyk?” hoor sy Suzette agter haar sê. “Ekskuus, ek is so nuuskierig! Ek kan nie wag om te sien hoe dit binne lyk nie.”
“Nie al die suites is binne dieselfde nie,” sê Konstantina. “Dié een is een van die grotes.”
Nadat die ander weg is, kyk Irene haar woonstel goed deur. Verlustig haar in alles. Iemand klop aan die deur en toe sy oopmaak, staan ’n man met ’n trollie bagasie daar. Hy laai hare af en dra dit vir haar op na haar slaapkamer.
Sy pak uit en bêre alles in die nuwe kaste. Hier, glo sy, gaan sy lekker bly.
• • •
Irene loop by die voorportaal van die hoofgebou in. Nancy Dewar is reeds daar. Sy staan en gesels met Maritsa Papas. Nicholas Barton is diep in gesprek met die ontvangspersoneel. Net daarna kom Suzette saam met die twee sielkundiges in.
Nicholas kom na hulle aangestap. “Goed, mense. Ons toer deur die kliniek kan begin. Ná die tyd kan julle die res van die dag ontspan. Vanaand eet julle om seweuur saam in julle eie eetkamer. Maar daar is ook ’n kafeteria met vier-en-twintig uur diens. Ons personeel werk in skofte. Môre kan julle bietjie van die vlugvoosheid herstel. Julle sal darem nie van die begin af ooreis word nie. Ons eerste pasiënte kom eers oor drie dae hier aan en dan kan ons in alle erns begin werk.”
Hy loop voor en Irene probeer naby hom bly sodat sy niks mis wat hy vertel nie. Hy is langer as hulle almal en sy kop steek bo die groep uit.
“Die hele idee met hierdie afgesonderde kliniek is om die maksimum rustigheid, privaatheid en uitstekende sorg in ’n mooi omgewing te bied,” vertel hy. “Hier het ons private wooneenhede met en suite-badkamers, persoonlike sluitkaste, die nuutste platskermtelevisies en foongeriewe. Die alleenstaande eenhede is die duurste.”
Hy neem hulle na een van die wooneenhede, wat so ruim en pragtig ingerig is soos ’n suite in ’n baie duur hotel. Dit is natuurlik vir pasiënte wat net aan die beste gewoond is, dink Irene.
Hy wys hulle die rokers en nierokers se sitkamers, die goed toegeruste biblioteek en leeskamer, die speletjieskamer en ’n gimnasium wat, glo Irene, moeilik oortref sal word. Sy sal soms hierheen kom, hoewel sy gewoonlik eerder gaan draf.
“Die pasiënte mag die gim tydens stil tye gebruik,” sê Nicholas Barton. “Vroegoggend of in die aande is die beste. Ons het nie buitepasiënte nie. Mense bespreek om hierheen te kom en bly dan so lank as wat nodig blyk te wees. Ons sal dit verwelkom as julle artikels oor julle werk en bevindings publiseer. Dit sal terselfdertyd as advertensie vir ons kliniek en dienste dien.” Hy kyk na Irene. “Jy het ’n goeie publikasierekord, dokter Basson.”
Irene knik. “Ja, dankie. Ek dink altyd ’n mens behoort enigiets nuuts bekend te maak. Tot voordeel van ander navorsers.”
Hy wys hulle die groot eetsaal en twee kleiner eetsale, waarvan een slegs vir personeel is, die kombuis waar personeel in wit werskaf, die groot stoepe met tafels, gemak- en lêstoele. Daar is ’n helderblou, Olimpiese grootte swembad.
“Ons het ’n swembad vir dié wat nie in die see wil swem nie,” sê Nicholas. “Maar daar is natuurlik ’n lekker strand ook hier naby.”
Irene loop langs hom. Sy probeer om nie te wonder hoe hy in ’n baaibroek sal lyk nie.
Dit help nie sy probeer dit ontken nie. Die wete dat hy hopelik meestal hier sal wees, dat sy hom gedurig te sien gaan kry, is nie onaangenaam nie.
“Ons personeel wat skoonmaak, wasgoed doen en die kombuis en terrein beman, woon ’n halfkilometer suid hiervandaan,” sê Nicholas. “Die geneeskundige span is nader, vir noodgevalle. Julle moet byderhand en eintlik altyd op roep wees. Oormôre hou ons personeelvergadering. Ons personeel bestaan uit psigiaters, kliniese sielkundiges, arbeidsterapeute, psigiatriese verpleegsters en dieetkundiges. Ons volg sowel gevestigde as meer eksperimentele metodes en ek wil hê ons moet so ’n goeie, geïntegreerde span wees soos by die Southeaster Clinic in Kaapstad. Al die personeellede is noulettend gekeur en het die beste moontlike kwalifikasies. Julle is dus uitgesoekte, hoogs professionele mense en ons het volle vertroue in jul vermoëns.”
Hy loop in ’n gang af en wys aan elkeen sy of haar goed toegeruste spreekkamer.
“Aansoeke en verwysings word direk aan my of die superintendent, dokter Spiridon Kamanlis, gerig. Ons ken dan die pasiënte toe aan wie hulle ook al moet behandel. Dokter Kamanlis sal môre hier wees. Hy moes eers sake by ons kantoor in Corfu afhandel.”
Nadat hulle deur die hele sentrale fasiliteit gestap het, is hulle weer terug in die voorportaal by ontvangs.
“Ons verwelkomingsete is eers môreaand, wanneer die personeel voltallig is,” sê Nicholas