Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon

Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon


Скачать книгу
n>

      

      Marzanne Leroux-Van der Boon

      Shomer Yisra’el. Beskermer van Israel

      Lux Verbi

      Vir Mirelle, vir haar waardevolle beriggewing uit Jerusalem

      Vir George, my wonderlike, geduldige en skerp redakteur

      Vir my man, wat te alle tye sy sin vir humor behou het

      En veral vir HaShem, die Ewige, wat sy hand oor alles gehou het

      Een

      Jerusalem

      Donderdag 29 Junie 2006

      Die dag beloof om versengend warm te word. Nou, skuins voor nege, roer ’n effense luggie nog in die digte groen van die bome op die Hurvah-plein. Marc sit op een van die bankies en ruik die nag se dou in die blare. By sy voete staan sy skildertas en langs hom op die bank dut Shmu’el, styf teen sy baas aangekruip, in die son.

      Marc se oë volg die bewegings van die kleintjie voor hom op die kweek. Yhoshi het dae tevore, op tien en ’n half maande, sy eerste wankelrige treetjies gegee en ploeter nou kordaat oor die grasperk. Inderdaad kruip hy meer as wat hy loop, maar hy gee nie op nie. Onder sy een armpie knyp hy sy gehawende bruin beer vas. Dáársonder gaan jy nie sommer nie.

      Marc trek die sketsboek uit sy immerteenwoordige tas. Blitsig kras houtskool oor die wit papier. Met sy duim skakeer hy die nodige skadu’s in. Hy vang die son se lig in die donker krulhaartjies vas. Die gebreide kippah. Sagte rondings van ’n babagesiggie. Die donkerblou van Rivkah se oë. Die vingertjies fyn soos sy eie. Stewige kuitjies onder ’n broekie dik van doeke. Week van liefde en verwondering teken en teken hy.

      Eenkeer toe hy opkyk, sien hy die kleintjie mik in die rigting van een van die plein se katte wat in die son sitlê en slaap. Maar dié het hom lank reeds gewaar. Voordat die klein handjies aan sy gemmer stert kan gryp, spring die kat rats opsy, gaap, rek hom grasieus uit en skiet teen ’n boom op.

      Die kind gaan sit plat in die gras, ruk gefrustreerd die baksteenrooi kippah van sy kop af en smyt dit op die gras neer. Die hondjie spring van die bank af en is dadelik by. In sy geesdrif hardloop hy Yhoshi, wat net probeer opstaan, onderstebo sodat dié luidkeels aan die skree gaan, en sy beer vir lewe en dood vasklou.

      Marc staan op om sy seun en sy kippah te gaan red. Toe hy by Yhoshi kom, lig dié dadelik sy armpies om opgetel te word.

      “Abba!” kreet hy huilend, rooi van frustrasie.

      Marc tel hom op, druk die gesiggie teen sy bors vas. Die gebrul staak dadelik. Gou worstel hy hom weer uit die omhelsing los sodat sy pa hom neersit. Die voetjies raak skaars grond, of hy’s weer op pad met die hondjie op sy hakke. Marc bly met die kippah in die hand staan.

      “Hy’t beslis van sy ma se energie geërf.”

      Marc draai om na Moshe, wat agter hom kom staan het. Hy is die eienaar van Shorashim, die Bybelse boekwinkel aan die bopunt van die Hurvah-plein in die Ou Stad, op Tiferet Yisra’el, die deurloop na die Klaagmuur. Tydens Marc se eerste jare in Jerusalem, nog rou in sy nuutgevonde Joodsheid, was Moshe, ’n gelowige Ortodokse Jood, of soos hy homself noem, ’n godsdienstige Sionis, een van sy grootste mentors. Dikwels wanneer Marc nie aan die universiteit klas gee nie en op die Hurvah met sy sketsboek sit, kom Moshe uit sy winkel en gesels hulle kopstukke. Nou staan hy daar in sy veelkleurige kippah, sy kenbaardjie effens aan ’t vergrys, sy vriendelike oë op die spelende kleintjie.

      “Môre,” lag Marc. “Hy het vir seker haar energie geërf, om maar één ding te noem. Gelukkig slaap hy snags deur, maar soggens sesuur is hy aan die gang.”

      “Het jy nie vandag klas nie?”

      “Eers elfuur. Ek hou hom en Shmu’el net ’n bietjie onder Rivkah se voete uit sodat sy gestort en aangetrek kan kom. Winkel al oop?”

      Oorkant hulle weerkaats Shorashim se ruite die plein se grou stene en die goud van die son in die bome. ’n Vrou in ’n donker gewaad staan nog koulik van die nag se koelte ’n koppie koffie in die son en drink. ’n Rabbi, selfoon teen die oor gedruk, stap vinnig verby. Sy tzitzit wapper agter hom.

      “Nog nie.” Moshe sak op die bank neer. “Ek het vandag nie minder nie as drie Christen-groepe wat vir lesings kom. Daar’s by Christene van oor die wêreld bepaald ’n groeiende belangstelling in hul Hebreeuse wortels. Ek moes vroegmôre ook nog Jerusalem Insights uitgestuur kry.”

      Moshe stuur hierdie joernaal met sienings en stories uit die Ou Stad op ’n gereelde basis uit. In die joernaal is ook die een of ander rabbi se gedagtes oor die week se parashah, ’n bepaalde gedeelte uit die Tora wat elke week deur Jode oor die hele wêreld gelees en in sinagoges bestudeer word.

      “O, ja, dis weer tyd daarvoor.”

      Moshe knik. “Die dae verdwyn soos rook, het die psalmdigter gesê.”

      “Na wie toe stuur jy dit eintlik?”

      “Veral vir mense wat al hier by my vir lesings oor hul Hebreeuse wortels was. Hulle is oor die hele wêreld versprei. Daar is groot belangstelling onder Christene in waar hul geloof vandaan kom. Wat Jesus se agtergrond was.”

      “Dit gaan per internet?”

      Moshe knik. “Vir seker. Ek sal dit nooit met gewone pos kan byhou nie.”

      “Is dit gewoonlik groepe wat hier in Israel kom toer?”

      “Hoofsaaklik.”

      Hulle sit ’n ruk lank stil en kyk na Yhoshi, wat met sy hond op die gras speel, die hele tyd met die beertjie onder die arm.

      Hulle lag toe hy die beer versigtig afstof en soen toe hy hom laat val.

      “Ek het nog nie veel kans gehad vir nuus luister nie. Het jy iets van Gilad of Eliyahu gehoor?”

      “Nie oor die vroeë nuus nie, nee.” Marc skud sy kop. “Sondag is altwee op die een dag ontvoer. Wat is aan die gang?”

      “Verskriklik! My hart is by daardie ouers. Dit moet ondraaglik wees om geen idee te hê wat van jou seun geword het nie. In terroriste se hande. Hier is groot moeilikheid aan die kom.”

      ’n Rilling loop langs Marc se rug af. “Wat is die kanse dat ons hulle sal terugkry?”

      Moshe sug en stryk oor sy kenbaard. “Ek dink in Gilad se geval is daar nog ’n skraal kans dat hy lewend sal terugkom. Ek glo Hamas wil hom gebruik om die vrylating van Palestyne in Israelse tronke af te dwing. Maar Eliyahu is nie ’n soldaat nie. Ek glo nie ’n setlaar het bedingingswaarde by wat ons deesdae vir ’n regering het nie. Vir hóm het ek bitter min hoop.”

      “Wat presies het daar gebeur? Met die soldaat se ontvoering op dieselfde dag het die media nie soveel aandag aan Eliyahu gegee nie.”

      “Ja, vir die pers was hy net ’n ‘setlaar’.” Bitterheid slaan in Moshe se stem deur. “En setlaars is nie belangrike mense nie.”

      “Hy was nie voorheen van Gush Katif nie, was hy?”

      “Nee, hy’s nie ’n Gasa-setlaar nie. Maar hy is van die Itamar-nedersetting, wat hom wel ’n setlaar maak. Hy was ’n gewone yeshiva-student, agtien jaar oud, wat van Jerusalem af terug na sy premilitêre yeshiva in Neve Tzuf wou ryloop. Soos honderde ander skoliere en studente elke dag doen …”

      “Hy is by die French Hill-busstop opgetel, hoor ek.”

      Moshe knik. “HaShem alleen sal weet wat nou van hom geword het. Ek het absoluut geen hoop dat hy nog leef nie, want dis bepaald Palestynse terroriste wat hom opgelaai het. En dit was vier dae gelede. So … ”

      Yhoshi het op Marc se skoot kom klim. Hy lê met sy natgeswete koppie teen sy pa se hemp. Marc vryf sag deur sy hare en dis nie lank voordat die lang wimpers oor die donker ogies toeval nie.

      “Daardie buitepos waar hulle Gilad gevat het, is mos by die Kerem Shalom-kruising. Ek was verlede jaar saam met Rivkah se broer daar en ek kan nie dink hoe húlle so onkant gevang kon gewees het nie. Die plekke word so goed bewaak.”

      “Jong, dit was net so ’n ongelooflik brutale


Скачать книгу