Die wit ringmuur. Tryna du Toit
eenmaal jonk. Laat haar gerus die lewe ’n rukkie langer geniet.”
Dis of Ouma se gesig effens versag. Pieter is die een wat die meeste na haar oorlede man aard en hoewel sy dit nooit sal erken nie, is hy ook die een wat die naaste aan haar hart is. Hy kan haar gewoonlik rede laat verstaan. Sy kyk nou na haar kleindogter wat wit en ontsteld eenkant sit, en skud net haar kop.
“Jou pa is seker reg, Catherina. As jy nie met die man wil trou nie, is dit jou saak. Maar om te wag tot al die reëlings getref is, die kaartjies gedruk, jou trourok gemaak – nee, my kind, ons Jouberts maak nie so nie.”
Die ergste storm is egter verby, en teen die tyd dat Mieta vir hulle tee en beskuit bring, is die atmosfeer heelwat ligter. Ouma Joubert het die situasie aanvaar – wat kon sy anders doen? Maar sy was teleurgesteld en dit sou seker geruime tyd duur voor Cathy ten volle vergewe en in haar guns herstel is.
“Terloops,” sê Ouma onverwags terwyl sy die tee by Cathy neem. “Wie is die man saam met wie jy nou die aand by die simfoniekonsert was?”
“Was Ouma ook daar?” skerm Cathy vinnig.
“Nee, ek het ingeluister, maar ek het verneem dat jy saam met ’n vreemde jong man daar was.”
“Jos de Lange is nie ’n vreemde jong man nie, Ouma. Ek ken hom al ’n hele ruk en ek het al vantevore saam met hom uitgegaan. Andries was besig en kon my nie neem nie, en hy het nie omgegee dat ek saam met Jos gaan nie.”
“Hmm,” is al wat Ouma sê. “As hy so ’n ou bekende is, waarom het ek hom nog nie ontmoet nie? Wat doen sy pa?”
Cathy verduidelik dat Jos se ouers dood is en dat hy by ’n oom grootgeword het. Meer weet sy nie. Sy is bewus van haar ouma se donker oë wat skerp op haar rus en weet sommer sy sal dit nie daar laat nie. Ongelukkig ken Ouma die hele wêreld en sy sal nie skroom om alles oor Jos uit te vis nie. Nie dat sy omgee nie – sy is nie skaam oor haar vriendskap met Jos de Lange nie – maar dis net so verkleinerend om nog altyd soos ’n kind behandel te word.
Toe sy en haar pa opstaan om te gaan, sê sy bedeesd: “Ek is jammer as Ouma ontsteld en teleurgesteld is. Maar liewer nou as later.” Sy aarsel, dan vra sy onseker: “Wat van die tafeldoek? Sal ek dit terugbring?”
“Bring dit maar terug,” sê haar ouma. “Miskien gee ek dit weer eendag vir jou, of miskien gee ek dit vir June of Sophie – ek sal nog sien.”
June en Sophie is Cathy se twee niggies, tannie Blanche se dogters. Cathy dink sy sal dit haat om die kosbare tafeldoek vir een van hulle te gee, maar as dit die prys is wat sy vir haar vryheid moet betaal, is dit seker nie te hoog nie. Dit was egter nie al nie.
“Sê vir Andries hy moet my kom sien, Catherina. Ek wil ’n bietjie met hom gesels.”
“Andries?” Cathy is ’n bietjie uit die veld geslaan. “Dit help nie om met hom rusie te maak nie, Ouma. Dis nie sy skuld nie.”
“Ek het gesê ek wil met hom praat, Catherina! Doen jy maar wat ek vir jou sê.”
Cathy het nie verder teëgepraat nie en sy en haar pa is daar weg, albei verlig dat die onderhoud agter die rug is. Cathy se kop was seer en sy was moeg en uitgeput, die gevolg van haar slapelose nag en die veelvuldige emosies van die dag wat verby is. En die besoek aan die Louws lê nog voor!
Gelukkig het haar ouers nie aangedring dat sy saamgaan nie.
“As jy nie wil nie, hoef jy seker nie te gaan nie, Cathy,” het haar ma gesê toe sy vra. “Maar hoe langer jy dit uitstel, hoe swaarder sal dit wees.”
Haar ma was seker reg, maar sy het nie vandag vir Andries se ouers ook kans gesien nie, en ’n rukkie later is haar ouers alleen daar weg. Hulle was gou weer terug, baie gouer as wat Cathy verwag het. ’n Bietjie verontrus kyk sy na hulle en sy sien dat haar ma ontsteld lyk.
“Wat sê tannie Magda-hulle? Is hulle baie kwaad?” vra sy onseker vir haar ma.
“Wat help dit om kwaad te wees? As jy nie met Andries wil trou nie, is dit die einde van die saak. Maar hulle voel natuurlik ’n bietjie afgehaal en die atmosfeer was beslis ’n bietjie koel. Ek het lanklaas so ongemaklik gevoel.”
Cathy het niks gesê nie, maar sy het miserabel gevoel. Sy sal jammer wees as haar ouers en die Louws vervreemd raak omdat sy haar verlowing met Andries verbreek het. Maar as sy en Andries nog vriende kan wees ten spyte van wat gebeur het, waarom moet daar ’n gevoel tussen hulle ouers wees?
Net na ete het die telefoon begin lui. Die nuus het gou versprei! Tannie Blanche het uit die Paarl gebel om met haar ma te simpatiseer, van die bure het gebel, en June het uit die Kaap gebel om vir Cathy self te vra of dit waar is dat sy en Andries nie meer gaan trou nie. Cathy het haar verseker dat dit heeltemal waar is.
“Wel,” sê June, “jy het ’n groot fladdering in die familieduiwehok veroorsaak. So iets het blykbaar laas gebeur toe ons groottante Kitty – ook ’n Catherina! – met oorgrootoupa se koetsier weggeloop het. Maar alle grappies op ’n stokkie – jy het ons almal verras. Wat sê Ouma?”
Cathy vertel haar kortliks en June klik simpatiek met haar tong toe sy hoor dat Ouma Joubert die tafeldoek wil terughê. “Nou ja, daar het jy dit,” sê sy. “Wie sê die lewe is nie interessant nie? Maar ek dink nie ons moet ’n ou soos Andries de Wet uit die familie laat gaan nie. As jy hom nie wil hê nie, moet Sophie of ek maar kyk wat ons kan doen. ’n Mens kan seker slegter doen, veral as jy nog die tafeldoek op die koop toe kry!”
Cathy het ’n bietjie kortaf tot siens gesê en afgelui.
June kan haar opwinding skaars verberg, dink Cathy bitter. Hulle is seker in hulle skik met die verloop van sake. Tannie Blanche het glad nie gehou van die gedagte dat Cathy gaan trou terwyl June, wat ’n hele paar jaar ouer as sy is, nog op die rak sit nie. En hulle het almal baie te sê gehad oor die tafeldoek wat Ouma vir haar gemaak het. Dit kom June as oudste kleindogter toe, het tannie Blanche volgehou, of sy nou eerste trou of nie.
Die opmerking oor Andries was ook nie alles grappies nie. Toe sy op universiteit was, het June ’n tyd lank met hom uitgegaan en Cathy weet dat sy nog van hom hou. Gelukkig het Andries ander vriendinne gehad tussen June en Cathy, anders het tannie Blanche nog gesê dat sy hom by June afgevat het!
Dit herinner haar: sy moet nog vir Andries laat weet dat Ouma hom wil sien. Sy sal dit môreoggend doen. Vanaand het sy genoeg gehad.
Sy het Andries die volgende oggend net na ontbyt gebel. Tannie Magda het geantwoord en Cathy kon hoor hoe haar stem verander toe sy hoor wie dit is. Die naar, hol kol op haar maag waarmee sy gister die hele dag rondgeloop het, was skielik weer terug.
“Sal tannie asseblief vir Andries sê Ouma wil hom sien? Nee, ek weet nie wat sy wil hê nie, Ouma het net gesê sy wil hom sien. Ek is jammer oor wat gebeur het, tannie Magda,” voeg sy saggies, berouvol by. “Ek dink nog Andries is die gaafste man wat ek ken, maar ek twyfel al lankal of ons mekaar regtig liefhet. Ek het net gevoel – as ’n mens so onseker is, is dit beter om liewer te wag.”
“Dit is seker,” sê Magda Louw, maar daar is geen versagting in haar stem nie. “As jy Andries nie liefhet nie, kan jy dit seker nie help nie. Dit is net jammer dat jy dit nie ’n bietjie vroeër besef het nie.”
Haar poging om die vrede te herstel was nie juis suksesvol nie, dink Cathy toe sy die telefoon neersit. ’n Mens sou sê sy het die hele gesin beledig toe sy geweier het om met Andries te trou.
’n Rukkie later het Andries self gebel.
“Wat is dit van jou ouma?” wil hy weet. “Waarom moet ek na haar toe gaan?”
Sy gee hom die boodskap, maar sy is teen dié tyd so siek en sat van die hele besigheid dat sy voel of sy enige oomblik in trane kan uitbars.
“Ek is jammer, Andries – jammer oor alles. Dit sou blykbaar veel eenvoudiger gewees het om maar deur te druk met die troue en later te skei. Dit sou beslis nie soveel oproer veroorsaak het nie.”
“Wat ’n blink gedagte! Jy moes net eerder daaraan gedink het.”