Fluisterliefde. Ettie Bierman
en sy kontrak nie hernu word nie, is hy in die moeilikheid.
Daar sal ’n goeie rede wees hoekom hy nie by die stadion opgedaag het nie. Daar sál. Daar móét wees.
Sy bel weer, twee keer, drie keer. Dan gooi sy die selfoon neer en begin die sementpaadjie tussen die hokke afspuit. Dis beter as sy besig bly, as haar gedagtes nie in ’n maalkolk om en om karring en haar gek maak nie. Sê nou maar ...? Wat as ...? Krisjan sou nie. Of sou hy? Sy wens sy kon wegvlug en wanneer sy terugkom, is alles weer reg, normaal: Krisjan by die huis, op die bank voor die TV, rugbybroekie aan, voete op die koffietafel, selfs met ’n bier in elke hand. Sy sal nooit weer kla hy sit heeldag agteroor en bring nie sy kant nie. Solank hy net terugkom en niks oorgekom het nie.
Stian kom staan voor Beamari en wys met sy vinger na die stroom water wat teen die skuinste opdam. “Moe mors.”
“Ja.”
“Moe maak modder.”
“Ja ... Ja, ek weet. ’Skies, my liefie. Moe se gedagtes was annerplek.” Sy draai die kraan toe en tik ’n SMS vir Zac: Kris antwoord steeds nie. Bel my as jy iets uitvind. Sy wil Zac se vrou bel. Sy en Keira is goeie vriende en dit sal ontlading wees om haar kommer met iemand te deel. Of haar ma. Maar sy is bang Krisjan probeer deurkom en dan is die foon beset.
Coach het dalk al iets van Krisjan gehoor, maar sy wil hom nie midde-in die wedstryd onderbreek nie, veral as hy in ’n verkeerde bui is. Sy is versigtig vir die Haaie se afrigter. Coach Cloete ken sy rugby en weet hoe om die beste uit elke speler te haal, maar hy is ’n harde, ontoegeeflike mens. Ook Krisjan is skrikkerig vir hom. Coach is seker die naaste wat hy ooit aan ’n pa sal hê, sy held en ’n rolmodel in wie se voetspore hy sou wou volg as hy dieselfde hoë standaarde kon handhaaf. Hulle is vriende, maar nooit familiêr nie. Sy wil Coach nie pla nie en die Haaie se vermiste slot is seker nie tans sy gunstelingpersoon nie.
Moet sy aanhou om na Krisjan se selfoon te bel? Dit voel so futiel. Moet sy die polisie of hospitaal bel? In haar bakkie klim en hom gaan soek?
Beamari hou aan uitstel. Dis kwart voor vyf en die wedstryd is seker nog aan die gang. Hy het dalk intussen opgedaag, is miskien selfs op die veld. Of dalk kom hy nou enige oomblik in ’n stofwolk hier aangejaag, met ’n logiese verduideliking wat sy nie voorsien het nie, dan was sy verniet op hol. Sy kan nie ry en weg wees as hy hier aankom nie.
Sy gaan in en roep Stian om op haar skoot te kom sit voor die TV. Dalk sien hulle sy pa in ’n skrum of lynstaan, dan kan sy ontspan. Dalk selfs die sjampoe in die stort gaan regsit ... Sy skuld haar man dit. Hy is lief vir haar en hy probeer sy bes, maar die afgelope paar maande was sy afsydig – altyd moeg, altyd met ’n verskoning dat sy nie tyd het nie, haastig is of te veel ander dinge het om te doen. Geen wonder hy was die afgelope tyd selde tuis nie. By die gim, die biokinetikus of sy vriende is daar seker beter geselskap as sy vrou se suur gesig.
“Huil Moe?” Stian se stemmetjie onderbreek haar gedagtes en Beamari voel hoe sy taai handjie oor haar wang vee. “Het Moe ’n eina?”
“Nee, dis niks. Sommer hooikoors.” Sy is hartseer en vol selfverwyt en het nie besef die trane loop nie. Huil is nie goed vir haar moreel nie en dit ontstel vir Stian. Beamari vryf oor haar oë sodat sy behoorlik kan sien wat op die TV-skerm aangaan.
Daar’s ses minute speeltyd oor en Billy Daniels en JP is die twee slotte. Krisjan is nie daar nie. In ’n agtergrondskoot kan sy sien hy sit ook nie op die reserwebank nie.
Beamari roem haar daarop dat sy selfstandig en onafhanklik is, met ’n eie loopbaan wat sy aan die opbou is. Maar op hierdie oomblik voel sy hulpeloos en alleen en verlang sy na haar man, na haar ouers.
Haar pa was van kleintyd af altyd daar as sy bang was vir ’n eksamen, vir die tandarts of die dag toe sy vir haar rybewys getoets is. Toe haar blindederm uitgehaal is en haar kolliehond doodgery is. Toe sy en Krisjan getrou het en sy ver weg in KwaZulu-Natal moes gaan woon. Hierdie krisis is dalk nog die ergste van almal en sy het haar pa se onderskraging nodig.
Al het haar keuse destyds nie hul goedkeuring weggedra nie, wil sy bewys dat sy nie ’n fout gemaak het deur met Krisjan Naudé te trou nie. Maar in hierdie krisis sal haar pa moet raad gee oor wat haar te doen staan. Dis gerusstellend om te weet sy is nie alleen nie; haar rotsvaste, bekwame pa is net ’n oproep ver.
Sy sal Krisjan nog een laaste keer in die hande probeer kry, besluit sy, daarna haar trots in haar sak steek en op haar pa se skouer huil. Dis nie ’n skande nie, dis waarvoor pa’s daar is.
Die verspotte stemboodskap klink nie weer in haar ore nie. Krisjan se foon lui drie keer, dan antwoord ’n vreemde manstem.
“Goeiemiddag?”
Beamari se hart gee ’n ruk. “Wie’s dit wat praat?”
“My naam is Heinz Dekker, ek’s ’n medic.”
“M ... medic?” Sy kry met moeite die woord uit.
“’n Paramedic, mevrou,” verduidelik hy, “ons is op pad hospitaal toe met ’n pasiënt wat ons in Pinetown opgelaai het, ons is nog besig om hom te stabiliseer.”
Dit maak nie sin nie. Pinetown is heeltemal aan die ander kant van die stad en ver weg van die stadion. Dis ’n misverstand of sy’t die verkeerde nommer geskakel. Dis nie Krisjan se foon nie, dis iemand anders s’n.
“Wie is die pasiënt?”
’n Rukkie se stilte volg, en op die agtergrond is daar toeters en ’n sirene. Dit klink na papier wat ritsel, dan kom die medic se stem weer: “Ons het sy ID gekry. Net ’n oomblik ...” Weer papiergeluide en die sirene, nou duideliker.
“Sy van is Naudé. Christian Gerhardus Naudé.”
Haar binnegoed trek op ’n knop. Beamari se hoop is verpletter.
“Is dit hy wat u soek?” vra die medic.
“Ek is sy ... sy vrou.” Sy moet eers sluk. “Was daar ’n motorongeluk? Is hy beseer?”
“Ja, mevrou, ek is jammer.”
“Hoe ernstig?”
’n Oomblik is daar stilte. “Dit spyt my, ek is nie ’n dokter nie, ek kan nie diagnoses maak nie.”
“Maar hoe lyk hy? Bloei hy? Kopbeserings?”
“In hierdie stadium is dit moeilik om te sê, mevrou.”
“Kan ek met hom praat?”
“Nie op die oomblik nie, nee.”
Standaard-antwoorde wat nooddiensbeamptes geleer word vir wanneer hulle met lede van die publiek te doen kry. Dis al wat hy vir haar sal sê, sy weet dit.
“Na watter hospitaal neem julle hom?”
“Die Nuwehoop-kliniek, op die hoek van Hibiskus-boulevard en –”
“Ek weet waar dit is,” val sy hom in die rede. “Ek kom!”
Sy spring halsoorkop op en gryp haar handsak en sleutels. Dan onthou sy van Stian wat in ’n hoekie van die bank sit – hy het die gesprek gehoor en kyk met groot oë na haar. Sy skakel die TV af, tel hom op haar heup en haas haar kombuis toe terwyl sy na Giftness roep.
“Pappa het ’n eina, ek moet gaan kyk of ek dit beter kan maak,” verduidelik sy tussendeur. “Giftness! Waar’s jy?” Giftness kom verbaas ingestap en Beamari prop Stian in haar arms. “Asseblief, pas vir Stian op, ek moet hospitaal toe, Krisjan was in ’n ongeluk. Ek sal laat weet, ek sal bel. Kyk mooi na hom.”
In die hardloop motorhuis toe glip sy sandale aan wat in die kombuis rondgelê het. Gelukkig is die bakkie se tenk vol. Gelukkig is dit Saterdag en die pad behoort taamlik stil te wees.
Die ongeluk was ernstig, sy voel dit aan. Sy weet dit. Die medic het gepraat van ’n “wrak” en die sirene wat sy gehoor het, beteken hulle jaag volspoed, met flitsende noodligte. Krisjan kry suurstof en hulle probeer hom stabiliseer. Dalk is hy in ’n koma, daarom dat hy nie met haar kon praat nie ... Nee, sy moet kalmeer