Ena Murray Keur 1. Ena Murray
Dan laat hy haar vinnig gaan en sê op formele toon: “Kom, juffrou. Daar is nie tyd vir ginnegaap nie. Ons gesels later oor hierdie interessante onderwerp.” Laggend stap hulle die wagtende doktor Basson tegemoet.
Nadat Basson hulle geneem het na die plek waar die kranse loodreg afpyl en die skeure uitgewys het waarin die vlermuise bedags skuil, wil Gustaf weet: “Is dit maar ons gewone vlermuise, doktor?”
“Ja, sover ek weet. Dis maar die gewone soort.”
“Dit is nie dié soort wat mense en diere aanval nie, nè?”
“Nee, beslis nie. Die enigste gevaar wat hierdie soort vir die mensdom inhou, is dat hulle die draer van hondsdolheid kan wees. Daardie ander soort waarvan jy praat, die vampiere, tref ’n mens net in Suid-Amerika aan. Dis hulle wat die bloed van hul slagoffers uitsuig. Maar dan sterf so ’n persoon of dier nie juis aan bloedverlies nie, want hulle suig jou nie dolleeg nie, maar meestal aan hondsdolheid, weens die kiem wat die vlermuis oordra.”
“Wat dus gisternag in die toring gebeur het, is heeltemal buite die aard van die gewone vlermuis, volgens jou mening.”
“Ja, beslis. Ek is natuurlik nie ’n kenner op daardie gebied nie, maar sover my wete strek, vlug die gewone vlermuis vir die mens. Hy sal nie eerste na jou toe kom of jou sommer uit die bloute aanval nie. Dis nie sy aard nie.”
“Het jy al ooit van ’n mak vlermuis gehoor?”
Die argeoloog glimlag vir Sandra se vraag en skud sy kop.
“Nee. Nie dat dit onmoontlik is nie. Blykbaar is alles onder die son deesdae moontlik. Maar ék het nog nooit gehoor dat ’n mens ’n vlermuis kan mak maak nie – en beslis nie ’n paar honderd nie!”
Gustaf lag toe hy die ongeloof in die argeoloog se oë sien.
“Nee, daar was darem seker nie ’n paar honderd nie, maar dit het vir my so gevoel. Maar sekerlik so vyftig tot tagtig.”
“Ja, minder was dit nie. Dit was soos ’n wolk . . . ’n swart, dreigende doodswolk,” laat Sandra hoor en sidder openlik. “En Nina Andrews het hulle beheer. Daarvan is ek seker, oortuig. Nina het volle beheer oor daardie afskuwelike goed gehad. Hulle het op elke bevel van haar gereageer. Ek het dit met my eie oë gesien!” eindig sy driftig teenoor die argeoloog wat haar net stil staan en aankyk.
“In watter taal het sy gepraat?” wil hy skepties weet.
Gustaf skud sy kop.
“Ons kon nie uitmaak nie. Dit was vreemde geluide soos . . . soos wat sy geuiter het toe sy in die koma was, onthou jy, Sandra?”
Sandra knik net.
“Nou hoe dit ook al sy, julle moet my nou verskoon. Ek sal moet begin,” laat hoor doktor Basson. Toe die twee jong mense wegloop, kyk hy hulle lank agterna, sy oë peinsend. Dan grim hy effens. Kaptein Lenard, jy gaan nog lank in die donker rondtas, maar as, ás jy ooit eendag by die verklaring kom, gaan daar ’n groot skok op jou wag . . . hóé groot sal jy in jou wildste drome nie kan droom nie. Ek hoop ek is die dag by wanneer dit gebeur. Ek sal graag jou gesig wil sien.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.