Somersneeu. Helene de Kock
inherent deel van hom dat hy homself nie meer buite sy erfgrond kan plaas nie. Hy kan vannag sowaar nie ophou om so te dink nie. Sy kop maal al om hom en die plaas. Dis sy wêreld. Sy kosmos, soos wat sy vrou soms met ’n kwalik hoorbare wanklankie in haar stem sê. Maar dis nie dit wat hom pla nie. Dis sy huwelik wat hom in die laaste tyd soms ontstem. Hierdie afwesigheid van haar gees. Die stil tye wanneer sy verswelg word deur daardie vae iets, daardie skimmige emosie wat hy nooit kan peil nie.
Dis nie asof daar werklik iets skort nie, stel hy homself gerus. Hy wens net sy wil meer hier wees. Hy smag na haar hele self. Haar blote aanwesigheid stel hom nie meer tevrede nie. Hy wil haar liggaam, siel en gees in sy hande hou soos aan die begin. Toe sy hier by hom kom bly het, was dit so. Hy het toe gevoel sy is net syne. Dat hy elke gedagte kon waarneem nog voordat sy dit uitspreek. Miskien was hy laf. Verlief soos net ’n pasgetroude man kan wees. Dalk verwag hy te veel. Haar kop is maar net besig met die kleintjie. Jong ma’s, hoor hy, maak maar so. Sukkel om die balans te kry tussen man en kind en huis. Dis hoe die antwoord op die e-pos wat hy in radeloosheid geskryf het, lui: Los haar maar eers. Sy soek nog na haar nuwe self. Sy is nou ’n ma, jy weet. Nie die antwoord waarvoor hy gehoop het nie. Maar een wat hom soos ’n hand aan die skouer gevat en maak sit het toe hy op loop wou gaan.
Hy hoor haar sag in haar slaap steun. Hy lig sy kop en loer na haar. ’n Blouwit skynsel van maanlig lê in die sagte holte van haar nek. Hy wonder of sy regtig slaap. Die baba het netnou geknies en toe het sy opgestaan. Sag op haar kaal voete en sonder om die lig aan te sit. Sy wou hom nie steur nie. Of sy wou hom vermy.
Hy draai op sy ander sy, kyk hoe die skreef in die gordyne al blinker raak soos wat die yl maan probeer om helderder te glim.
’n Ligte wind stoot weer die nagreuke na binne – die ryp geure van somervoos gras, skerper reuke van uitgebrande vure en ’n kil, klam winter wat net agter die berg skuil. Hy teug stadig, genoeglik daaraan. Konsentreer op die mengsel. Hy kon nog altyd geur geniet. Was skerp bewus van reuke ook. Dis sy talent, het die onderwyser verantwoordelik vir die kadette eenkeer op ’n kamp in die berge gesê. Jy het ’n goeie neus. Eers het hy gedink die onderwyser maak ’n grap. Toe beduie die man: Nee, jy kan geure en reuke onderskei. Nie alle mense kan dit doen nie.
Hy kyk weer na die glim van die maanlig deur die gordynskreef. Sou mens die maan kan ruik? wonder hy. Het dit ’n geur of ’n reuk? Koel en hemels of staalkoud en dor? Hy voel sy vrou langs hom roer en hy weet sy is ook nou wakker.
“Hoe ruik die maan?” fluister hy. “Weet jy dalk?”
Sy lag sag en stoot haar handpalm bo-op die laken oor sy bors. ’n Ligte aanraking. Vriendelik, maar ook afstandelik. “Is jy ’n filosoof of ’n boer?” vra sy in haar kalm stem.
“Dalk albei …” fluister hy en rol om na haar toe. Hy wil haar vashou, hierdie vrou wat in sy lewe was lank voordat hy bewustelik begin weet het hy kan nie sonder haar nie. Sy wat hom op ’n gegewe dag oorval het soos wat hy nog nooit oorval is nie. Net een oomblik ná jare vooraf, het hy haar herken as die allerenigste wat hy wou hê. Niemand het hom ooit vroeër so geroer nie, so geheel oorrompel nie. Met haar spesifieke sagtheid, haar warm vroulikheid en veral haar misterie, het sy hom verower. Hy het voor haar soos ’n impulsiewe kind geword. Haar suiwer, vroulike aard met sy dringende manlikheid, sy stuwende, gedetermineerde wilskrag oorrompel. Daar was sterk dominansie aan sy kant, dit weet hy met ligte berou. Hy het haar onverhoeds oorval. Maar sy was tog op ’n manier gereed daarvoor.
Sy, wat deesdae so in haarself toevou. Byna asof sy berou het oor hom. Oor húlle. Nie oor die kind nie, weet hy. Sy koer oor die baba, vertroetel die donsige koppie teen haar bors, dra die kleinding oral op die heup saam. Sy is verkleef aan die kind.
Hy begryp dit. Hyself is gek na die kleintjie. Maar voel toenemend uitgestoot. So asof hy nodig was, maar nie meer is nie. Hy wil dit in woorde stel. Uit haar mond hoor waarom sy so ver van hom af voel. Want dis nie iets wat sy doen nie, dis net ’n bewustelike vermoede dat sy iewers swerf waar hy haar nie kan bykom nie. Waar hy nie meer kan hoor wat sy dink en voel nie. Hy begin al wonder of hy ooit kon.
Hy steek sy hand uit na hare, vou die palm sag teen syne vas.
“Lief … Ek wil met jou praat …”
“Nou …?” Sy roer vakerig. “Dis al so laat … en ek is moeg.”
Hy kom op sy elmboog orent. “Ek weet … Maar ek wil nie langer wag nie … Ek wil weet.” Hy tuur die donker in na waar haar kop op die kussing langs syne moet wees, lê effens nader aan haar. Haar asemhaling vee veerlig oor sy skouer. Maar hy voel intuïtief ook hoedat sy innerlik wegskram. Hoe haar liggaam verstyf asof sy besef dat sy nou paraat moet wees.
“Wat … is dit dan?” fluister sy oplaas.
Hy maak sy mond oop om al die twyfel uit te stort, maar dis of sy asem in sy keel stok. Daar is so baie om te sê. Dinge wat van lankal af kom en nou in sy borskas ophoop sodat hy na lug teug.
Toe hoor hy dit.
’n Andersoortige geluid. Een wat nie in hierdie nag hoort nie.
En hy ruik dit.
’n Goor reuk wat nie in hierdie huis met sy soetwarm babareuk en vae kosgeure pas nie.
Nee, dis geen geur nie. Dis ’n stank asof ’n beswete mens hom met nat beesmis gesmeer het.
Waarom blaf die honde nie? wonder hy en ruk orent.
Ook sy is nou angstig. “Wat’s dit?” fluister sy hard.
Hy leun terug en plaas sy hand oor haar mond, sê baie sag by haar oor: “Moenie roer nie.”
Hy kom in een soepel beweging op sy voete. Sluip oor die dik mat deur toe.
’n Voetstap kraak hard in die gang. En hy kry die reuk baie skerp. Weer die mensreuk, en die beesmis. Uit sy kraal, weet hy meteens. Daarby die onmiskenbare, hittige reuk van stuwende, woedende haat.
Skok en angs golf sidderend deur sy lyf.
Sy spiere span soos wat hy sy hande instinktief gevegsgereed in die donker voor hom hou.
Maar dis te laat. Hy hoor en voel die vinnige beweging wat die lug om hom onheilspellend laat pols. En ’n wilde, paniekerige angs om haar en die kind maak hom lam. Hy weet met ’n vreemde voorkennis, en in ’n kwart sekonde, dat hierdie die oomblik is wat mens die meeste vrees.
Hy wil praat, maar weet dit gaan vergeefs wees. Dis geheel en al te laat in hierdie haatdonker gang.
Sy hande keer en klap verwilderd, maar hy voel die vlymskerp glip van die lem net onder sy hart. ’n Pyn so diep en verskriklik soos ’n antieke vlampyl uit ’n boog deurpriem hom. Daar word weer en wéér na hom gesteek. ’n Wanklankige kreet kom uit sy snaarstywe keel. Hy voel hoe die bloed uit hom borrel en die nag se donkerte tasbaar op hom toesak.
’n Oomblik nog voel hy die brandpyn.
Toe is hy weg. Wég. Hy weet dit net.
DEEL I
Sekere vriendskappe word deur die natuur gemaak, ander deur kontrak, nog ander deur belang en sommige deur siele.
– Jeremy Taylor
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной,