Die man met die geel oë. Ena Murray
on>
Die man met die geel oë
Jasmyn
1
Die vyf mans verval in ’n somber swye, kommervol bewus van hoe uiters delikaat en allesomvattend die verantwoordelikhede is wat op hul skouers rus. Voorwaar is dit vandag geen maklike taak om die leiers van ’n land te wees nie.
Die vier mans aan die voorkant van die groot lessenaar is hierheen ontbied vir indringende samesprekings. Die bespreking het nie gelei tot gemoedsrus nie. Inteendeel. Soos elkeen oor sy eie afdeling verslag gedoen het, het dit al meer na ’n onmoontlike taak gelyk om orde en vrede te handhaaf in ’n wêreld wat mal geword het – ’n wêreld wat lankal opgehou het om rasioneel te besin voordat dit te laat is. ’n Magshonger wêreld wat soos ’n verwoestende orkaan alles in sy pad wegvee en plat trap.
Daar is geen uithoek meer op hierdie aardbol waar daar nie onrus en haat gesaai word nie; waar dit nie soos ’n pot kookwater besig is om angswekkend naby aan oorkook te borrel nie – op baie plekke reeds begin oorkook het. Ook hier . . . ook hiér moet met die grootste vernuf gekeer word dat die vlamme wat die pot dalk sal laat oorkook, nie te hoog aangeblaas word nie. Dis een van die belangrikste take wat op die vyf paar skouers rus wat hier agter ’n toe deur vergader. ’n Bomenslike taak vir mense van vlees en bloed wat ook maar feilbaar is. Maar dit moet gedoen word.
“Enige voorstelle?”
Dis lank stil. Watter ander voorstel as die gewone kan daar wees? Om maar weer met diplomasie en takt en bomenslike geduld en vasberadenheid te probeer om die vure dood te slaan, om opgesweepte gemoedere met nugter rede te kalmeer, om te hoop en te bid dat daar begrip sal kom sodat die hand van vrede uitgereik kan word. Maar intussen is daar groeiende onrus en onskuldige mense wat ’n duur prys moet betaal. Maar wat anders?
“Ék het ’n voorstel.”
Vier paar oë lig omhoog.
“Ek soek ’n man . . . ’n baie besonderse man. Een man. ’n Man wat alleen kan werk – manalleen.”
Daar is nou ligte fronse tussen vier paar oë. Die spreker se oë flits van die een gesig na die ander.
“Hy moet briljant wees. Hy sal spesiaal opgelei word – intensief. Ongetroud, sonder bande. ’n Perfeksionis in alles wat hy doen. Staalhard. Soek hom en bring hom hierheen.”
Die vier se oë sak, terwyl die gedagtes soek. Een kyk op.
“Ek het so ’n man. Agt en twintig. Ongetroud. Met die rang van majoor. ’n Uitsoek-soldaat. Sy naam is Brand Böhm.”
Die man agter die lessenaar knik. “Bring Brand Böhm môremiddag om halfvier hierheen. Ek wil julle ook weer hier hê. Dankie, menere.”
Hy is onbewus van die oë wat hom met buitengewone aandag beskou terwyl hy op die wipmat besig is. Elke gewone mens sou al lankal opgehou het in dié versengende hitte, maar nie Brand Böhm nie. Sy hare hang in sweetslierte oor sy gesig en die spiere speel onder die sonbruin vel.
“Majoor Böhm!”
Ligvoets land hy op die punte van sy tone langs die mat, staan ’n oomblik soos ’n Michelangelo-beeld in volmaakte manlikheid voor die twee mans, strek dan. “Kolonel!”
Niks in die geelbleek kykers verraai dat hy bewus is van die man langs die kolonel nie, en die ander man weet nie dat selfs die rafeltjie op sy regterskouer opgemerk word nie.
“Rapporteer binne tien minute by my, asseblief.”
Die man in die snyerspak het reeds die lêer in sy hande toe majoor Böhm stiptelik aanmeld. Eersgenoemde het nog nie die lêer bestudeer nie. Hy weet reeds genoeg van majoor Böhm, genoeg om te weet hy is die man na wie gesoek word . . . en hy wil hom amper jammer kry.
Hy staan daar in die fleur van sy jeug, die sterk liggaam onder ’n netjiese uniform verberg, die skouers breed, heupe smal, die nek styf, die gesig effens skraal en die vreemde geelbleek oë stip en vas voor hom. Die ouer man sug. Wat sou hy wou gee om hierdie jong man se pragtige liggaamsbou te hê. Maar dan, as hy dink aan die uitdaging waarvoor Brand Böhm binne enkele ure te staan gaan kom, is hy bly hy is nie Brand Böhm nie.
Eers toe die kolonel hom formeel aan die besoeker voorstel, kyk die oë na hom, en daar gaan ’n krieweling deur die ouer man. Die vreemde geel oë, soos dié van ’n luiperd, verraai niks nie. Hoekom ’n minister hom skielik ontbied en ’n afspraak vir môremiddag drie-uur met hom maak, vra die geel oë. Hulle kyk net, en die ander man kyk eerste weg.
Ook die volgende dag toe ’n motor – doodgewoon, om geen aandag te trek nie – Brand Böhm by sy kamp kom oplaai, stel hy geen vrae aan die man wat agter in die motor op hom wag nie. Sy stilswye wek bewondering en respek, en gee die man langs hom die absolute sekerheid dat sy keuse die regte een is.
Brand Böhm is beslis ’n buitengewone man. Die feit dat hy nie eens probeer gesels nie, of enige teken van nuuskierigheid toon deur vrae te stel nie, bewys aan die ouer man dat hy te doen het met iemand wat bevele onberispelik sal uitvoer – dié soort man waarna hulle soek. Hy is beveel om om drie-uur vanmiddag gereed te wees. Waarvoor weet hy nie. Maar hy was gereed – stiptelik.
Hoewel hy heel ontspanne en amper verspot op sy gemak voorkom – die geselskap waarin hy hom skielik bevind in ag geneem – is daar ’n afwagting in sy houding, ’n verskuilde spanning wat verraai dat hy heel goed besef dat hy beslis nie vir ’n plesierrit geneem word nie.
Steeds stom klim hy die trap saam met sy gasheer, wag beleef dat die ander man hom moet voorgaan toe deure voor hulle oopgemaak word en hulle eindelik ’n vertrek bereik waar ’n man agter ’n glimmende lessenaar sit. Die geel oë kyk vas in die vorsende blik wat hom vaspen. Dan, soos dit ’n goed opgeleide soldaat betaam, salueer hy op die bekendstelling.
Die drie here wat reeds gesit het, kom orent om Brand Böhm se hand te skud. Dis ’n hand wat nie huiwer om vas te vat nie, en onwillekeurig kom by elkeen dié gedagte op: Ek sou nie graag met hierdie man handgemeen wou raak nie.
Die oop lêer word toegeslaan. Die feite was baie bevredigend. Maar of die man met die eienaardige geel oë die uitdaging gaan aanvaar, sal hulle nou uitvind.
“Sit, majoor.”
Hy lyk soos ’n ontspanne luiperd terwyl hy luister en die vrae sonder omhaal van woorde beantwoord.
“Wie is Weza de Groote?”
“ ’n Finalejaarstudent in die regte.”
“Hoe het jy haar leer ken?”
Daar is by hom geen teken van verbasing omdat sy persoonlike lewe op ministersvlak bespreek word nie. Bedaard antwoord hy: “Haar broer is kaptein De Groote, ’n kollega.”
“Watter verhouding is daar tussen jou en juffrou De Groote?”
“Vriendskap.”
“Net dit?”
“Voorlopig, ja.”
“Wat bedoel jy met voorlopig?”
“Ek ag dit nie wys om ’n vaste verhouding met ’n vrou aan te knoop solank ek die werk doen wat ek doen nie.”
“Baie verstandig. Hoe voel sý daaromtrent?”
“Geen idee nie.”
“Het sy nog nie laat deurskemer dat sy in ’n vaste verhouding sou belangstel nie?”
“Sy het, ja.”
“En?”
“Tot dusver het ek nie daarop gereageer nie.”
Die man agter die lessenaar sit terug en kyk stip. “Met ander woorde, majoor Böhm, as jy skielik van die toneel sou verdwyn, is daar niemand wat ernstig navraag gaan doen nie? Jou ouers is dood. Ander familie?”
“ ’n Oom in Duitsland. Geen kontak in jare met hom nie.”
“Jy kom van die ou Suidwes. Enige vriendskappe of verbintenisse daar?”