Die baron van Rauenshof. Sarah du Pisanie

Die baron van Rauenshof - Sarah du Pisanie


Скачать книгу

      

      Die baron van Rauenshof

      Sarah

      du Pisanie

      Jasmyn

      1

      Maria von Rauenstein se houding raak afwagtend toe sy die voetstappe in die gang hoor. Sy het beswaarlik al iets meer gevrees as hierdie oomblik van waarheid wat nou aangebreek het.

      Met ’n maer hand vee sy die kreukels uit die spierwit deken en druk haar donker vlegsel plat. Dit steek skerp af teen die wit van haar vel. Sy is die afgelope twee jaar kort-kort siek en dit is altyd haar longe wat die probleem gee. Die afgelope ses maande is sy egter meer in die bed as daaruit.

      Die bruin oë raak waaksamer en meer gespanne toe die voetstappe voor haar deur tot stilstand kom.

      Haar suster, tien jaar jonger as sy, se ondeunde gesig loer om die deur. Heidi Kessler se bruin hare is vandag in ’n dik vlegsel agter haar rug vasgemaak. Om haar gesig wil-wil dit donsig krul. Sy stoot die deur oop en kom vinnig nader.

      “Môre, sus, hoe gaan dit vanoggend hier?” Heidi probeer haar stem vrolik hou, maar Maria sien die bekommernis in die bruin oë wat so baie na haar eie lyk.

      “Ek wil net huis toe gaan,” kla Maria. “Ek is moeg vir die hospitaal.” Die angstigheid slaan in haar stem deur, al probeer sy om dit nie in woorde uit te spreek nie.

      Heidi se wit verpleegsteruniform maak ’n ligte skuurgeluid toe sy langs die bed kom staan. Haar houding is dadelik professioneel, al vee sy sag die haartjies van Maria se voorkop af weg.

      Dokter Winkler, hul huisdokter, verskyn in die kamerdeur en staan effens opsy sodat die kort, stewige dokter Stolze, wat Maria gister so deeglik ondersoek het, kan verbykom.

      Maria se oë stel die vraag sonder dat haar lippe dit uitspreek. Dokter Stolze kom staan aan die ander kant van die bed en Maria sluk aan die droogheid in haar keel.

      “Mevrou Von Rauenstein . . .” Hy kug ongemaklik, steek sy hand na haar uit en vou dan haar maer hand in syne toe.“Die nuus is nie goed nie, maar darem ook nie hopeloos nie. Ek . . . ek gaan jou nie vermoei met onnodige mediese terme nie. Suster Kessler kan dit later aan jou verduidelik. Jy het ’n ernstige en baie seldsame longkwaal. Ons sal dit ongelukkig nie hier kan behandel nie. In Switser­land is daar egter ’n kliniek wat in hierdie soort kwale spesialiseer en hulle sal jou moontlik kan help.”

      Maria kyk hom met groot, geskokte oë aan. “Switserland! Maar . . . maar dit is onmoontlik . . . Ons het nie die geld om daarheen te gaan nie.”

      Dokter Stolze lyk ongemaklik. “Ja, mevrou. Ongelukkig sal dit heelwat kos. U sal nog die bootkaartjie ook moet betaal en ek sal verkies dat suster Kessler saamgaan, want sy sal weet hoe om u op die lang reis te behandel.”

      Trane dam in Maria se oë op toe die hopeloosheid van die hele situasie tot haar deurdring. Die dokter kon hom maar al die moeite gespaar het en net die doodsvonnis oor haar uitgespreek het.

      Dokter Stolze kyk hulpsoekend na dokter Winkler, maar dié haal sy skouers moedeloos op. Hy kug ongemaklik. “Ek . . . weet ongelukkig van geen onderneming wat julle sal kan help nie. Julle is tog van Duitse afkoms . . . julle het nie dalk nog familie in Duitsland nie?” vra hy hoopvol.

      Maria skud haar kop ontkennend. “Nee. My vader was Duits, maar my moeder was ’n Suid-Afrikaner. Hulle het baie jare gelede hier na Duitswes-Afrika gekom. Ek . . . ek het geen kontak met die familie gehad nie. My vader het ’n sakeonderneming hier gehad, maar toe hy begin siek word, het dit al meer agteruitgegaan. Ons het dit ná sy dood verkoop en dit was beswaarlik genoeg om die skuld te dek.”

      “Wel . . .” Dokter Stolze raak sommer haastig toe hy besef dat hy niks meer vir haar kan doen nie. “Suster Kessler weet waar om my in die hande te kry indien julle wel geld bymekaar kan kry. Ek kan ook vir julle al die reëlings tref, indien nodig . . . Dit sal nie moeite wees nie.” Hy draai kortom en stap by die deur uit.

      Dokter Winkler aarsel ’n paar oomblikke. “Bly jy maar eers nog ’n rukkie hier by haar, Heidi. Ek sal vir dokter Stolze gaan wegsien.”

      Heidi knik en sleep ’n regop stoeltjie nader. Sy vou Maria se maer hand in albei hare toe.

      “Didi . . .” Maria se maer vingers krul om hare en die bruin oë is bang en bekommerd. “Wat . . . wat gaan ons doen?” vra sy soos ’n hulpelose meisietjie en Heidi voel soos gewoonlik asof sý, en nie Maria nie, die ouer een is.

      Sy sug liggies. “Ek weet nie, sus. Ons moet dink. Iewers sal daar ’n oplossing wees. Die Here het darem nog altyd vir ons gesorg.” Vir Heidi klink haar eie woorde maar taamlik onoortuigend.

      “Wanneer mag ek huis toe kom?” Maria se onderlip bewe nou soos klein Chrissie s’n.

      “Vanmiddag wanneer ek van diens gaan. Ek sal net gou huis toe ry met die fiets en die perdekar gaan haal,” belowe sy.

      Maria probeer glimlag. “Ek verlang na die kinders. Ek is al vier dae in die hospitaal.”

      Heidi vee Maria se trane met haar hand af. “Toe nou! Een van die dae is jy weer op die been en dan is dit weer soos in die ou dae.”

      “Die ou dae . . .!” Maria sug. “Dit voel so ver, Didi. Soms kan ek nie glo dat dit net twee jaar is sedert Adolf se dood nie. Dit voel soos ’n leeftyd.”

      “Ag, dit is maar net die verlange wat dit so lank laat voel. Weet jy,” probeer Heidi opgewek klink, “ek bly al ses jaar by julle. Ek was maar sestien toe Pappa dood is. Annie was toe nog sommer ’n baba . . . ek wás al by julle toe ons haar eerste verjaardag gevier het.”

      “Haai, Didi, kan dit regtig al so lank wees?” vra Maria. “Jy het jou daardie jaar ingeskryf as verpleegster by hierdie selfde ou hospitaaltjie.”

      “Ja, en dit is net ons wat verander. Hier is alles nog dieselfde . . . dokter Winkler, suster Renate,” sê Heidi en lag, dankbaar dat sy die gesprek in ’n ander rigting kan stuur en wegkry van hierdie yslike probleem wat soos ’n monster voor in die pad lê.

      “Ai, Didi,” sug Maria moedeloos. “As Adolf tog net nog hier was. Hy sou geweet het wat om te doen. Hy sou darem nog daar gewees het om jou te help met die kinders as ek nie meer daar is nie. Ek . . . ek weet net nie hoe gaan jy die kinders ook nog behartig nie. Ons lewe nou al net van jou salaris. Ek voel so gemeen en skuldig daaroor. Adolf se ou pensioentjie is net om die huishuur te betaal. Jy kry nooit kans om vir jou ook iets moois te koop nie. Die lewe gaan by jou verby . . . jy sal mos ook een van die dae wil trou en . . .”

      “As jy eers in daardie luim van jou raak, loop ek liewer,” dreig Heidi, maar haar stem is oneindig teer en vol liefde. “Sus!” Heidi sit skielik penregop. “Wat . . . wat van Adolf se mense, die Von Rauensteins? Kom . . . kom ons vra hulle om ons te help. Ek sal by die kliniek probeer werk kry, of by ’n ander hospitaal en dan kan ek vir ons sorg. Dit is net die kaartjies en die behandeling se geld . . .”

      “Nee!” Maria se stem is dodelik beslis. “Nee, volstrek nie! Ek sterf liewer!”

      “Sus,” sê Heidi baie ernstig, “as jy nie dadelik hulp kry nie, gáán jy sterf, en gou ook! Jy kan nie veel langer as ’n jaar uithou met daardie probleem nie.”

      Maria sluk. Haar oë is groot en lyk soos dié van ’n uiltjie. Sy pers egter haar lippe beslis saam en skud haar kop. “Nee! Nee, so sal ek my nie weer verneder nie. Hulle . . . hulle het nie eens ’n briefie geskryf met Adolf se dood nie.” ’n Sagte snikkie glip uit haar bors.“Die majoor van die Schutztruppe het ’n kabelgram aan hulle gestuur toe Adolf gesneuwel het. Ek het ná die begrafnis ’n briefie aan hulle geskryf en . . . en vir hulle gevra om Adolf te vergewe. Ons twee was so oneindig lief vir mekaar. Ek het vir hulle gesê daar is drie pragtige kinders, hul kleinkinders! Ek het hulle gesmeek om ons te vergewe om die kinders se ontwil.” Maria druk haar gesig in haar hande en snik saggies.

      “En toe . . .?” Heidi sit angstig ’n bietjie vorentoe. Sy ken Maria en Adolf se storie. Adolf was die middelste seun van baron Von Rauenstein. Hy en ’n meisie, ook uit die adelstand, was blykbaar aan mekaar belowe. Hulle was van kinderdae af vriende en die huwelik het hulle heeltemal aangestaan. Adolf,


Скачать книгу