Die baron van Rauenshof. Sarah du Pisanie
stap oorweeg. Hy het in 1889 as luitenant saam met die Schutztruppe na Duitswes-Afrika gekom om hierdie wilde en ongetemde land te kom help mak maak en beskerm.
“Hulle het my nooit geantwoord nie . . .” Heidi kan die vernedering in Maria se stem hoor.
“Hulle is tog ryk mense, sus. As hulle weet dat jy siek is en finansieel swaar kry . . . Ek is seker daarvan dat hulle dan al hul ou griewe sal vergeet,” probeer Heidi weer.
“Hulle weet dat ons swaarkry. Die baron het dan vir Adolf onterf toe hy gehoor het ons gaan trou. Arme Dolf! Hy wou nooit daaroor praat nie, maar dit het hom so seergemaak. Hy was ’n wonderlike mens; altyd so sag en goed. Hy het so na hulle verlang . . . sy vader en sy broers. Ek weet dat hy vir sy oudste broer geskryf het, maar dié het ook nie geantwoord nie. Hulle is natuurlik verbied om ooit met hom kontak te hê,” sê Maria bitter.
Heidi sug. Sy het vier jaar by hulle gebly voordat Adolf dood is. Sy was toe ook al groot genoeg om te besef dat hulle noustrop getrek het. Vir hom moes dit dubbel so swaar gewees het: ’n rykmanskind wat net aan die beste en oorvloed gewoond was, maar wat toe skielik op sy soldatesoldy aangewese was. Hy en Maria was maar sewe jaar getroud toe hy in ’n oorlog teen die inboorlinge van hierdie land gesneuwel het.
“Kom ons skryf vir baron Von Rauenstein. Of dalk is die ou man al oorlede, en het sy seun, die baronet, hom al as baron opgevolg. Hy sal verstaan . . . Aarde, sus, ons sal nou ons trots in ons sak moet steek. Ek sal skryf!”
“Nee! Verstaan jy dan nie, Didi? Hulle het my nooit as Adolf se vrou aanvaar nie. Ek was benede hul stand en sal dit altyd wees. Ons is nou armer as wat ek en Adolf ooit was. Ek sien nie kans dat ons daar moet aankom as die onwelkome, arm, bedelende aanhangsels nie! Om . . . om darem voor hulle bakhand te gaan staan . . . ek sien nie daarvoor kans nie. Ek het darem ook my trots!”
Heidi knik. In haar binneste kom lê die besluit egter vas en stewig. Sý sal voor hulle kruip as dit moet, maar sy kan nie Maria sonder ’n geveg aan die dood afgee nie.
“Ek moet gaan. Ons kan vanaand lekker gesels. Ek kom kry jou so vyfuur se kant en ek wag nie vir jou nie,” terg Heidi toe sy oorbuk en ’n soen op haar suster se wang druk.
“Ai, Didi, wat sou ek tog sonder jou gedoen het?” vra Maria sag.
“ ’n Rustige lewe gehad het,” sê Heidi en Maria lag sag. “Eerder vaal en oninteressant. Saam met jou is die lewe altyd vol onverwagte verrassings. Jy is die wonderlikste sussie wat ’n mens kan hê.”
“Leuenaar! Ek onthou nog baie goed hoeveel keer jy my pak gegee het toe ek klein was.”
Maria glimlag en Heidi knipoog ondeund van die deur af voordat sy uitgaan.
Heidi doen saaldiens deur die hospitaal, maar haar gedagtes bly kring om Maria en die enigste oplossing vir hul probleem. Sy sal die Von Rauensteins se adres moet gaan soek voordat Maria huis toe mag gaan.
Maria se goedjies is so pynlik netjies dat dit geen probleem is om die adres te kry nie: Baron Oscar Carl von Rauenstein, Schloss Rauenshof, Freiburg.
Daar woed egter ’n tweestryd in Heidi. As sy wil skryf, sal sy dit gou moet doen sodat daar ’n antwoord kan kom. Die bootreis gaan ook lank en vermoeiend wees en Maria word elke dag sieker. Maar dan kom hang Maria se woorde weer spottend in die lug: die arm, bedelende aanhangsels!
Die kinders is heeltemal uitgelate toe hulle hoor dat Maria binnekort huis toe kom. Annie, die oudste, is al sewe jaar oud en ’n regte dametjie. Sy is effens plomp en haar lang, blonde hare laat haar soos ’n poppie lyk. Haar ogies is helderblou soos haar pa s’n en lyk groot en koeëlrond agter die ronde brilletjie. Chrissie, die baba, is maar drie jaar oud en ook blond soos Annie, met dieselfde helderblou ogies. Sy is nog klein. Sy kan mos nie nou al sonder ’n ma wees nie, ween Heidi se hart toe sy haar optel en styf teen haar vasdruk.
Gretchen, oor ’n paar maande ses jaar oud, verskil egter hemelsbreed van haar twee sussies. Sy is skraal, amper seunsagtig, en gedra haar ook baie soos een. Haar hare en oë is bruin soos haar ma s’n, maar die ondeundheid vonkel soos ’n blink liggie daarin.
Deur die nag formuleer Heidi honderde briewe. Dit mag nie pateties en bedelend klink nie – ook nie arrogant en eisend nie. Sy moet net genoeg sê, nie te veel nie en ook nie te min nie . . . sy moet net haar standpunt stel en hulle ruimte laat om te weier, as hulle wil.
Met teetyd die volgende dag sluit Heidi haar kantoortjie se deur agter haar. Die wit skryfpapier gryns vir haar en haar hand bewe liggies toe sy die pen optel.
Sy skryf die hospitaal se adres in die regterkantse hoek. Maria moet nooit van hierdie brief weet as die baron dalk weier nie. Maria het genoeg seergekry.
15 Junie 1901
Geagte baron Von Rauenstein
U ken my nie, maar ek is Heidi Kessler. My suster, Maria, was met u seun, Adolf, getroud.
Maria is nie bewus van hierdie skrywe nie en ek sal dit waardeer as u aan my persoonlik sal skryf. Maria is egter baie, baie siek en dit noodsaak my om vandag hierdie versoek aan u te rig.
Maria het ’n seldsame longkwaal wat haar lewe binne die volgende paar maande sal eis, as sy nie behandeling kry nie.
Ongelukkig kan hulle die behandeling nie in hierdie jong land van ons gee nie. Sy sal na ’n kliniek in Switserland, wat in hierdie siektes spesialiseer, moet gaan.
Ons het egter nie die geld om vir ons reis na Switserland te betaal nie. Adolf was maar net ’n paar jaar in die Schutztruppe toe hy gesneuwel het en die pensioen wat Maria kry, is nie eens genoeg vir ons daaglikse behoeftes nie. Die behandeling self gaan ook baie geld kos en ongelukkig sal ek en die kinders ook moet saamgaan. Ek is ’n opgeleide verpleegsuster en sal haar tydens die bootreis moet verpleeg. Ons het niemand hier by wie ons die kinders sal kan los nie en hulle sal dus ook noodgedwonge moet saamkom.
Ek weet die bedrag geld gaan ’n aansienlike een wees, maar ek wil u nederig vra of u ons nie die geld kan leen nie. Maria moet onmiddellik behandeling kry. Ons kan dit nie uitstel totdat ons genoeg geld het nie. Ek sal by die kliniek ’n werk probeer kry sodat ek ons kan onderhou terwyl ons daar is. Dit is egter die kaartjies en die behandeling se geld wat ek nie sal kan bybring nie. Ek sluit vir u dokter Stolze se verslag oor haar siekte in. U kan met hom kontak maak sodat hy vir u presies kan sê wat die behandeling sal behels en wat dit sal kos.
Ek kan ongelukkig nie begin terugbetaal aan die lening alvorens ons terug is in ons land nie. Wat ek daar oorkant sal verdien, sal net genoeg wees vir ons daaglikse behoeftes.
Ek verneder my voor u en ek smeek u om asseblief hierdie versoek te oorweeg. Die kinders is tog u kleinkinders en ook Von Rauensteins. As u dit nie vir Maria wil doen nie, doen dit dan vir hulle. Die oudste een is maar sewe jaar oud; hulle kan nie nou al sonder ’n moeder wees nie.
Sal u my asseblief antwoord, selfs as u nie kans sien om die lening toe te staan nie? Ek sal dan ander reëlings moet probeer tref.
By voorbaat baie dankie vir u aandag.
Heidi Kessler
Heidi lees die brief oor en oor. Dit klink ellendig – so pateties en dan ook weer so arrogant.
Sy sug en plak die koevert dan beslis toe. Sy sal dit tog nie beter kan stel nie, al skryf sy dit ook met ’n goue pen. Met netjiese, ewe groot letters skryf sy die adres op die koevert en steek dit dan in haar roksak. Die middag, toe sy met haar fiets huis toe ry, hou sy eers by die poskantoor stil. Haar hand huiwer by die opening van die rooi posbussie. Dit voel so finaal toe sy die brief deur die gleufie laat gly.
Sy stap stadig en tel haar fiets op. Die lang wag het begin en die dae sal nou met loodvoete verbykruip.
2
Heidi se hart mis ’n slag toe sy die koevert met die Von Rauensteins se familiewapen in die een hoek op haar lessenaar sien lê.
Sy druk die deur stewig toe en kom dan versigtig nader asof sy bang is die koevert sal enige oomblik grom en sy tande vir haar wys.
Haar