Eggo's in die skimberge. Kobie Kruger

Eggo's in die skimberge - Kobie Kruger


Скачать книгу
diep tussen die kranse in. Dit lyk soos ’n grotagtige kloof. Rankplante klou aan die rotswande van die kloofingang vas. Twee monsteragtige plante staan aan weerskante van die ingang – dit lyk of hulle die kloof bewaak.

      “Snaakse plante …” sê Mattie.

      Sy steek vas.

      Henk gaan staan ook.

      “Hulle – hulle beweeg nie, nè, Henk?”

      Henk antwoord nie. Hy hou die plante onrustig dop.

      “Hulle beweeg!” sê Mattie geskok. “Dis nie plante nie, Henk! Wat ís dit?”

      “Ek weet nie,” sê Henk bekommerd.

      “Wat moet ons doen? Weghardloop?”

      “Nee. Staan net doodstil.”

      “Hulle kom reguit na ons toe!” sê Mattie paniekerig. Sy knyp haar oë toe om kalm te bly. Toe sy hulle weer oopmaak, kan sy nie glo wat sy sien nie.

      Twee vaalgroen gediertes wat regop loop, kom plonsend deur die water aangewaggel. Hulle het gladde pelse, groot oë en lang snoete; lang bolywe, dik armpies, slanke hande, kort bene en plat eendepote. Hulle sterte sleep in die water.

      Mattie bewe soos ’n riet.

      “Toemaar,” fluister Henk, “ek dink hulle is net nuuskierig. Probeer vriendelik lyk.”

      Die gediertes kom staan reg voor hulle – die een voor Henk, die ander een voor Mattie. Hulle doen niks. Hulle maak nie ’n geluid nie. Hulle staan net en staar in Henk en Mattie se oë.

      “H’m … hallo,” sê Henk versigtig vir die gedierte wat in sy oë staar. Dit lyk nie of die gedierte wil gesels nie. Hy hou net aan om in Henk se oë te staar.

      Mattie glimlag bewerig vir die gedierte voor haar. Sy oë is groot en groen. Hy lyk rustig, dink Mattie. Hy soek nie skoor nie. Hy staar net in haar oë. Sy voel nou kalmer.

      Uiteindelik het die twee gediertes genoeg gestaar. Hulle draai na mekaar en knik hul koppe vir mekaar. Dit lyk of hulle saamstem oor iets.

      “Is – is alles reg?” vra Henk vir hulle. “Kan ons maar gaan?”

      Die gediertes draai na Henk en beduie na die fles in sy hande.

      “Harr-gugh?” vra hulle.

      “O – die fles?” sê Henk. “Dis lekkertjies.” Hy skroef die deksel af en hou die fles na hulle uit. “Kry gerus daarvan.”

      Die gediertes loer in die fles en frons. Dit lyk of hulle nie weet wat hulle moet doen nie. Henk haal ’n handvol flonkers uit en bied dit vir hulle aan. Hulle frons nog steeds.

      “Kyk – mens eet dit,” sê Mattie. Sy neem ’n lekkertjie by Henk en sit dit in haar mond.

      “Oerrgh?” sê die een gedierte.

      “Oerr-gugh?” sê die ander een.

      “H’m – ja,” sê Henk.

      Die gediertes neem elkeen ’n lekkertjie en sit dit in hul monde. Die een wat voor Henk staan, kou fronsend aan die lekkertjie en sluk dit in. Die ander een kou ’n ruk lank, maar sy lang snoet raak skielik vol kreukels – dit lyk of hy wil nies.

      “HUH … HARGH-TSJOE!” nies hy in Mattie se gesig. Haar hare vlieg agtertoe. Die gedierte se oë rek groot. Hy sit sy hande voor sy snoet en loer bekommerd deur sy vingers na Mattie. Die ander gedierte gee hom ’n vies kyk.

      “Toemaar,” giggel Mattie terwyl sy stukkies gekoude flonker uit haar hare probeer kry.

      “Oeggh,” sê die gedierte skaam. Hy hou nog steeds sy hande voor sy snoet. Sy maat gluur hom nog steeds vies aan.

      “Agge nee, moenie so vir hom gluur nie!” sê Mattie vir hom. “Dit was net ’n ongeluk!”

      Hy knik en hou op. Die gedierte wat genies het, laat sy hande sak en glimlag verleë. Hy draai na sy maat toe en hulle begin met brom- en steungeluide gesels. Toe hulle klaar gepraat het, draai hulle om, begin stap en beduie vir Henk en Mattie om hulle te volg.

      By die kloof gaan staan die twee aan weerskante van die ingang.

      “Hurg-hum,” sê hulle vriendelik en swaai hulle arms. Dit lyk of hulle sê: “Julle mag maar ons kloof binnekom.”

      “Dankie,” sê Henk beleefd.

      “Baie dankie,” sê Mattie. Hulle gaan binne en stap versigtig met die klipperige stroom langs. ’n Entjie die kloof in draai hulle om en waai vir die gediertes.

      Die gediertes waai terug.

      Nog ’n ent verder die kloof in draai hulle weer om en kyk of die gediertes nog daar is.

      Hulle is weg.

      “Henk!” fluister Mattie dringend. “Wat – watse goed is dit?”

      “Ek … ek weet nie!”

      “Maar jy kén mos diere, Henk! Soos wat lýk hulle vir jou?”

      “Hulle lyk half soos … reuse-otters …”

      “Reuse-otters? Is daar so iets?”

      “Nee … ”

      “Wat ís hulle dan, Henk? Watse diere praat so met mekaar en beduie?”

      “Ek … ek kan nie dink wat nie. Ek weet nie.”

      “En hoekom het hulle so in ons oë gestaar?”

      “Ek weet nie, Mattie! Hou op vrae vra!”

      “Dink jy ons droom dalk?”

      “Is jy ernstig?” vra Henk bekommerd. “Ons kan mos nie al twee dieselfde droom droom nie!”

      “Dalk ly ons aan skok en verbeel ons ons dinge.”

      “Mattie, hou op nonsens praat. Ons verbeel ons nie dinge nie.”

      Hulle stap verder sonder om te praat. Die geruis van die water maak sagte eggoklanke teen die rotsmure. Die kloof word effens nouer en donkerder. Strepies sonlig skyn nog plek-plek deur die rankplante wat ’n dak oor die kloof vorm. Die sonlig maak glinsterende patroontjies op die water.

      “Die gedierte het darem woes genies,” sê Mattie skielik en begin giggel. Sy kan nie ophou nie. Henk bly maar stil en verduur die eggoklanke van die gegiggel. Miskien ly sy nog aan skok, dink hy, en dalk doen dit haar goed om te giggel. Eintlik voel hy self ook lus om te giggel – nie van skok nie, maar oor sy kop so deurmekaar voel van die ontmoeting met die vreemde gediertes.

      Die kloof maak ’n paar draaie en kronkels, en skielik is die uitgang voor hulle.

      Die uitgang is ’n rotslys, omtrent drie meter bokant die aarde. Die water spoel oor die rotslys en tuimel oor rotse ondertoe. Onder vloei dit oor ’n strokie vleiland in die rigting van ’n woud.

      Aan die skaduwees van die kranse agter hulle kan Henk sien dat dit nog vroegmiddag is, en dat wes agter hulle is en oos voor hulle. As hulle die stroom volg, sal hulle oos en steeds verder weg van die huis af beweeg, maar oos is al rigting wat hulle kan gaan. Aan die noorde- en suidekant van die woud steek steil berghange uit, wat beteken dat hulle nog steeds in die ravyn is.

      Henk beduie na ’n plek teen die rotse waar hulle ondertoe kan klim.

      Onder volg hulle die waterstroom na die woud toe.

      Dit is ’n stil, groen wêreld van reusagtige bome begroei met slingerende rankplante. Die woudvloer is ’n tapyt van mos en fyn plantjies. Plek-plek val skerfies goue sonlig deur die blaredak. Hoog in die boomtoppe roep ’n loerie.

      Hulle stap suutjies aan, al langs die waterstroom. Die mostapyt voel sag onder hulle voete. Varings en rivierklokkies staan welig op die stroomwalle. Plek-plek is die plantegroei so dig dat hulle die stroom nie kan sien nie, en dan volg hulle maar die fluisterklanke van die water. Af en toe weerklink die liedjies van papegaaiduiwe en kanaries deur die boomtoppe.


Скачать книгу