Kopskoot. Rudie van Rensburg
tien op ’n dag rook nie. Dit gaan nie vandag realiseer nie. Hy sal môre maar weer probeer. Hy druk die sigaret haastig dood in ’n piering. Ná al die jare vergeet hy steeds hy mag nie rook in die kantoor nie.
Hy trek die dossier nader. Behalwe vir die .45-patroondoppies wat by albei moordtonele gekry is, het die ondersoek niks anders van belang opgelewer nie. Hy wag nog buitendien vir die ballistiese toetse om te bevestig dat die patrone deur dieselfde wapen afgevuur is. Die koeëlpunte en doppies is na Somerset-Wes gestuur, en dit kan tot drie maande neem om die uitslag te kry. Daar is geen ander deurslaggewende forensiese leidrade nie. Geen vreemde vingerafdrukke, skoen- of bloedspore, DNS of vreemde voorwerpe nie. Die feit dat die moordenaar nie met sy slagoffers gestoei of handgemeen geraak het nie, sluit die moontlikheid van hare ook grootliks uit.
In albei gevalle het die moordenaar die skote van tussen ’n halfmeter en ’n meter afgevuur. Albei kopskote, buiten die bladskoot wat Giel Lourens se suster opgedoen het. Maar sy was nie veronderstel om op die toneel te gewees het nie, soos ’n mens kan aflei uit haar verklaring aan die Kraaifontein-polisie.
Die beskrywing van die moordenaar is beperk tot sy kleredrag. Nie Lourens se suster of die sekretaresse by die prokureursfirma kon enige gelaatstrekke beskryf nie. Die sekretaresse het ’n donkergroen bakkie as moontlike voertuig van die moordenaar geïdentifiseer. In Kraaifontein het navrae van die polisie by bure en mense in die omgewing niks opgelewer nie. Niemand het ’n bakkie of verdagte persoon gewaar nie.
Met Kassie en Els se besoek gister aan die prokureursfirma was daar geen dreigende e-posboodskappe op Mostert se rekenaar nie. Ook sy selfoonrekords toon hy het nie vreemde oproepe ontvang nie. ’n Deeglike ondersoek van sy kantoor het ook niks van belang opgelewer nie. Die personeel by die firma was stomgeslaan. Mostert het nie vyande gehad nie. Trouens, hy was ’n geliefde kollega met ’n innemende persoonlikheid. ’n Goeie gesins- en kerkman.
Volgens die Kraaifontein-verslag kon al Giel Lourens se selfoonoproepe teruggespoor word na kliënte van sy tuindienste-onderneming. Hy het nie ’n rekenaar gehad nie.
In dié stadium is die enigste ooglopende afleidings dat Mostert en Lourens deur dieselfde persoon met dieselfde wapen om die lewe gebring is en dat daardie persoon hulle besoek het met die uitsluitlike doel om hulle van die aardbol te verwyder. Diefstal was nooit ’n motief nie.
Die wekker op Kassie se lessenaar lui skril. Hy sukkel om die knoppie vinnig af te druk. ’n Paar van sy kollegas gluur hom vies aan en Da Silva mompel onderlangs.
Kassie vat sy sleutels en selfoon. Sy afspraak met Giel Lourens se gewese vrou is oor twintig minute in Paardeneiland. Kolonel Daniels was verbaas omdat hy vir Rooi Els gestuur het om met Lourens se suster te gaan praat. Kassie het nie die moeite gedoen om te verduidelik die Kraaifontein-verslag dui daarop dat sy met geen nuwe inligting vorendag gaan kom nie. Sy en haar broer het deur die jare maar min kontak gehad. Lourens se gewese vrou, van wie hy vier jaar gelede geskei is, sal Kassie baie meer kan vertel oor die man. En hy het later vanmiddag ook ’n afspraak met Mostert se weduwee in Rondebosch.
Terwyl hy agter ’n vragmotor in die verkeer ingewurm sit en nommer agt vir die dag aansteek, dink hy weer oor sy besluit van vanoggend. Hy het vasgeskop die media moenie nou al daaroor ingelig word dat dieselfde man moontlik by die moorde betrokke was nie. Hy wou ook nie hê hulle moes ’n beskrywing van die moordenaar se kleredrag aan die pers vrystel nie. Daniels het wel sy wenkbroue ’n paar keer daaroor gelig, maar hy steur hom nie meer daaraan nie.
“Dit kan jou in jou ondersoek help, Kassie,” het Daniels gesê.
Maar hy het by sy punt gestaan. Hoewel berigte in die media hulle dalk vinniger op ’n warm spoor kan sit, is die teenoorgestelde ook waar.
“Moordenaars lees koerante,” was sy verweer. “Dit kan die moordenaar bedag maak, hom dalk uit die Kaap laat verdwyn.”
Hy wou ook nie hê die media moet nou al op loop raak met die storie nie. Hulle gaan die polisie gek maak met hulle navrae. Én die polisie gaan talle oproepe van die publiek kry wat niks gaan oplewer nie en net kosbare tyd mors.
Daniels het uiteindelik kopgegee, maar op sý voorwaardes.
“Kassie, in die verlede het jy jou gat afgevee aan deeglike verslae in jou dossier. Maar ek wil dit vandag vir jou duidelik stel: ek gee jou nou jou sin, maar ek verwag elke oggend ’n vorderingsverslag op my lessenaar. Elke dag! Brigadier Filander is klaar soos ’n lastige brommer al om my gesig oor dié moorde. Ek moet hom daagliks kan wys ons maak vordering. Verstaan ons twee mekaar mooi?”
Hy het net geknik. Dis nie die eerste keer dat Daniels hom dreig oor onsinnige papierwerk nie. Hy sal maar ’n plan moet maak met die verdomde verslae. In die ou dae was ’n paar vinnige aantekeninge in die dossier goed genoeg. Hy kan darem daarop reken dat Rooi Els daagliks ’n deeglike verslag sal skryf oor sy deel van die ondersoek.
Hy hou voor Magic Tiles stil, die onderneming waar Lettie Lourens ’n ontvangsdame is. Sy het ’n pers uitrusting aan, duidelik Magic Tiles se korporatiewe drag. Sy is besig om haar lippe rooi te maak toe hy by die toonbank gaan staan. Die naambordjie op haar boesem sê Lettie.
Sy kyk vlugtig na hom. “Die teëls is diékant toe,” beduie sy nors.
“Ek is nie hier vir teëls nie,” sê Kassie. “Ek is van die polisie, ek het jou vanoggend …”
“O, is jy die speurder!” Sy giggel. “Ek’t iets soos Magnum PI verwag. Jy’s maar tengerig vir ’n speurder.”
Kassie lag net verleë. “Waar … waar kan ons privaat gesels?”
Sy kom orent, tel die foon op. “Mavis, jy kan my maar kom aflos. Die speurder is hier.”
Hulle wag tot Mavis, in dieselfde onooglike pers uitrusting as Lettie, toonbank toe kom.
Lettie is ’n groot vrou, sy troon bo Kassie uit. Sy stap voor hom uit in ’n nou gangetjie. Haar arms dril soos sy loop, haar bene is formidabele stompe. Hulle gaan sit in ’n kantoortjie met twee stoele en ’n tafeltjie waarop ’n ketel en ’n paar bekers staan. Teen die muur is ’n plakkaat: Ons kliënte kom ALTYD eerste.
Haar bolwange bewe liggies toe sy vra: “Kan ek vir jou tee maak?”
“Nee, dankie.” Hy kyk op sy horlosie. “My tyd is bietjie min. Kan ek maar met die deur in die huis val?”
Sy knik met skrefiesoë terwyl haar kake maal aan ’n stuk kougom. “Vra maar, oor Giel Lourens kan ek ’n novel skryf.”
“Wanneer het julle twee ontmoet?”
“Vyf en twintig jaar gelede, in ’n kroeg in Goodwood. Dit was Giel se dertigste verjaardagpaartie en ek was die kroegmeisie.”
“En wanneer is julle getroud?”
“Drie maande later.” Sy skud haar kop heftig. “Dit was ’n blerrie groot fout.”
“Hoekom … sê u so?”
“Ag, los die ‘u’, noem my sommer Lettie.” Sy vroetel in haar uniform se sak. “Jy’t nie dalk ’n sigaret vir my nie? Ek’t myne nou op die counter staan en vergeet.”
Hy gee vir haar nommer nege en steek nommer tien vir homself aan. Sy haal ’n leë Coke-blikkie onder die tafel uit en beduie hulle moet die as daarin afskud. “Mens mag eintlik nie hier rook nie, maar almal doen dit.” Sy suig met oorgawe aan die sigaret, blaas die rook in kringetjies uit.
“Giel. Ja, laat ek jou van hom vertel. Dit was ’n moeilike man om mee saam te leef. Moeilik. Die bottel was sy doodsteek. ’n Suiplap. Min kere nugter aangekom by die huis. En hy kon nooit ’n werk hou nie. Altyd van een job na ’n ander gehop. Meeste van die tyd gefire, as jy my vra. Ons het swaar gekry, hel, regte armgatte gewees. Ek moes bly werk. Gelukkig was daar nie kinders nie, Giel het probleme gehad met sy tools. Dis van al die gesuip, het ek altyd vir hom gesê.”
Kassie begin vermoed sy gesprek met Lettie gaan nie aan sy verwagtinge voldoen nie, maar hy druk deur. Die hoop beskaam nie. “Het hy enige vyande gehad, mense wat hom kwaad sou wou aandoen?”