Elza Rademeyer Omnibus 7. Elza Rademeyer
skraap hy sy moed bymekaar en loop op haar af voordat hy hom weer ’n keer kan bedink.
Esbeth skrik toe hy so onverwags voor haar kom staan en haar deurdringend aankyk. “Wat is verkeerd?” vra sy ietwat verdwaas.
“Ek wonder of jy weet wat jy aan my doen.”
“Hoe bedoel jy?” vra sy onthuts. “Wat het ek verkeerd gedoen?”
“Niks nie. Jy doen niks verkeerds nie. Dis wat dit vervlaks soveel erger maak!”
“De Wet, wat gaan aan? Waarvan praat jy?”
“Kom, dan wys ek jou.”
Toe Esbeth haar weer kom kry, het hy haar in ’n vurige omhelsing. Eers staan sy asof versteen, maar toe sy lippe warm oor haar mond sluit, ruk sy haar met een vinnige beweging los van hom. “Is jy gek? Wat dink jy doen jy!”
“Ek het maar net gedoen wat ek lankal lus was om te doen. En ek moet sê, dit was baie lekker. Net teleurstellend kortstondig. Geniet jou nagrus. En onthou, dis môre Saterdag. Jy hoef my nie te kom oplaai nie.”
Hy is seker al by sy huis, toe staan Esbeth nog net daar op dieselfde plek waar sy gestaan het toe hy haar so doodluiters ingelig het hoekom hy haar gesoen het. Toe haar kop ophou duisel, raak sy versigtig aan haar mond. Dit was die laaste ding wat sy verwag het … dat De Wet haar sou soen.
’n Ruk later klim sy steeds half verdwaas in die bed. Min mense het haar nog in die lewe gesoen. Voor sy Richard ontmoet het, het sy so af en toe saam met van die jong boere in die kontrei uitgegaan, maar sy het nooit ’n begeerte gehad om sommer behoorlik deur enigeen van hulle gesoen te word nie. Hulle was ook te lugtig vir oupa Janus om kanse te waag. Richard was die eerste man wat haar regtig gesoen het, soos ’n man ’n vrou soen van wie hy meer as platoniese vriendskap verwag. En nou, vanaand, De Wet! Soos hy tereg gesê het, dit was kortstondig … Maar dit was nie só kortstondig dat sy nie kon agterkom hy soen ook soos ’n man nie!
Gelukkig slaap sy vas en droomloos.
Maar die volgende oggend is dit die eerste ding waaraan sy dink toe sy wakker skrik: die soen van die vorige aand. Tot haar ontnugtering voel sy hoe haar wange warm raak. Hoe gaan sy hom weer in die oë kyk? Dankie tog dis Saterdag, en sy hoef hom nie te gaan oplaai nie.
Teen teetyd is sy heeltemal onseker van wat haar te doen staan. Vat sy vir De Wet tee, kan hy dalk dink sy loop agter hom aan. Vat sy nie vir hom tee nie, dink hy dalk sy is kwaad vir hom. Sy voel verlig toe daar klandisie vir haar opdaag. Nou het sy immers ’n verskoning om nie vir hom tee te vat nie.
Sy is nie daarop voorbereid dat hy na háár toe gaan kom nie.
“Haai, hoekom het ek nie vandag tee gekry nie?” vra hy beskuldigend toe hy by haar winkel inloop.
“Omdat ek kopers in my winkel gehad het en nie hier kon wegkom nie.”
“O, ek het net gedag jy’s dalk vies vir my oor die ou halwe soentjie wat ek gesteel het. Volgende keer sal ek jou eers voorberei daarop, miskien kry ek dan ’n hele.”
Esbeth kan nie anders as om te lag nie. Sy voel ook sommer verlig. De Wet wys mos nou vir haar dit was sommer net ’n ligte flirtasie. Dis sý wat so simpel was om te veel waarde aan sy optrede te wou heg. Dankie tog, dit was maar net ’n speletjie. De Wet is ’n lekker maat en sy hou van hom, maar … hy is darem goed drie jaar jonger as sy. Al lyk hy dit nie. En al soen hy soos … wel, soos iemand wat wéét hoe om te soen.
De Wet sien hoe sy skielik bloos. Hy het die hele nag amper nie ’n oog toegemaak oor sy onbesonne daad nie, maar die feit dat sy bloos, wys vir hom sy staan nie heeltemal onverskillig teenoor hom nie. Dalk staan hy tog ’n kans om … Om te wat? vra hy homself af.
“Gaan ek glad nie vandag tee kry nie?” vra hy vinnig om sy eie gedagtes kort te knip.
“Goed, man, ek skakel die ketel aan.”
Minute later sit hulle weer saam en tee drink soos dit al ’n gewoonte geraak het, maar die atmosfeer is nie soos voorheen nie. Daar het ’n soort versigtigheid tussen hulle ingesluip. Die een is oorbewus van die ander en hulle lag en skerts nie so ongedwonge soos vroeër nie.
Later verwonder Esbeth haar hieroor. Hoekom is jy skielik sku vir De Wet? Dis tog nie dat hy gevoelens in haar wek nie. Of is dit? Hoekom bloos sy elke keer as sy aan sy soen dink? Sou De Wet weet sy is goed drie jaar ouer as sy?
Toe sy haar boetiek se deure sluit, weet sy nog nie hoekom sy nou skugter teenoor hom voel nie.
Op pad terug huis toe, nadat sy Eben by tant Ralie gaan oplaai het, sien sy weer die man wat so baie na Richard lyk. Hy is besig om die straat oor te steek, en op ’n ingewing hou sy net daar in die middel van die straat stil. En toe sy agterkom hy is van plan om in sy motor te gaan klim aan die oorkant van die straat, druk sy hard en aanhoudend op haar toeter.
Gustav kyk op. Hy sien die vrou wat die lawaai in die straat opskop, sit en wink. Vir wie? wonder hy. Dit lyk kompleet of sy vir hóm wink om nader te kom. Toe herken hy haar. Dis mos dieselfde meisie wat voor my motor ingehardloop het, dink hy. Hy is onmiddellik kwaad. Kan sy nie sien sy ontwrig die verkeer agter haar nie?
Esbeth sien hoe hy aarsel en toe tog nader kom. Maar toe hy by haar motorvenster kom staan en sy in sy onverbiddelike gesig met die kwaai bruin oë vaskyk, skrik sy oor haar ondeurdagte daad. En toe hy boonop met ’n nog kwaaier stem vra: “Wat besiel jou om so te kere te gaan in die straat?” raak haar stem skoon weg.
Gustav sien die skrik op haar gesig. Sy antwoord hom nie, sit net en sluk. Hy kyk half radeloos na die ongeduldige bestuurders agter haar. Toe hy weer na haar kyk, is daar trane in haar oë. Dit laat hom twyfel of sy sal kan wegtrek. En toe hy boonop ’n kind op die agterste sitplek sien sit, maak hy die motordeur oop.
“Skuif op dat ek jou motor uit die pad kry,” beveel hy streng.
Sy gehoorsaam onwillekeurig, en kom eers weer effens tot verhaal nadat hy haar motor behendig in ’n parkeerplek tot stilstand gebring het. Toe hy met ’n vraende uitdrukking na haar kyk, word sy so ontsenu deur sy blik dat sy glad nie weet hoe om te verduidelik nie.
“Ek is jammer,” stotter sy hees. “Ek het my misgis, gedink jy is …” Nee, dink sy onsamehangend, sy moes geweet het hy kan nie Richard wees nie. “Ek het gewonder of u …”
Maar hy gee haar nie kans om te vra of hy dalk vir Frans Bruwer ken nie. “As jy my vra, hét jy geen verduideliking nie,” knip hy haar sin kort. “Ek het gedink jou tipe kry ’n mens net in die groot stede. Nou blyk dit …” Hy swyg toe die kind vanaf die agterste sitplek skielik ’n inkleurprent voor sy gesig indruk.
“Kyk my kameelperd. Ek het hom self ingekleur,” sê hy trots en totaal onbewus van die onderstrominge tussen die twee volwassenes.
Gustav voel hoe sy hart skielik ’n ruk gee. Sy gramskap is plotseling weg. “Ek sien,” sê hy. “Dis baie mooi, hoor. Wie het jou geleer om so mooi in te kleur?”
“Tannie Ralie,” sê die kind opgetoë. “En ek het ’n renoster ook ingekleur. Tannie Ralie sê …”
“Eben, wag nou,” maak Esbeth hom stil toe sy haar asem terugkry. “Die oom kan nie nou na jou prente kyk nie.”
Haar toetrede tot die gesprek maak dat Gustav vinnig na haar kyk. Hy voel hoe iets binne-in hom plons toe hulle vlugtig oogkontak maak. “Is jy … is alles reg?” vra hy ineens ook hakkelrig.
“Ja, alles is reg. Ek is regtig jammer dat ek u gesteur het. Dit was nie my bedoeling nie. U sien, ek …”
“Toe maar, ek verstaan,” knip hy haar verduideliking weer kort. “Jy het jou misgis.” En voordat sy die kans kry om daarop uit te brei, klim hy uit en klap die motordeur toe.
Esbeth staar hom oorbluf agterna toe hy met lang treë oor die straat stap. Eers toe hy wegry, kom sy tot haarself en sug moedeloos. Dat sy haar só deur hom kon laat ontsenu. ’n Mens sal sweer sy het nog nooit in haar lewe ’n aantreklike man gesien nie!
Eers toe sy haar