Die dingesfabriek 3: Jannus en Kriek krimp. Elizabeth Wasserman & Astrid Castle

Die dingesfabriek 3: Jannus en Kriek krimp - Elizabeth Wasserman & Astrid Castle


Скачать книгу
>

      Elizabeth Wasserman

      Illustrasies deur Astrid Castle

      Tafelberg

      Vir al die voëltjies, goggas en ander

      gediertes in ons tuin – E.W.

      Ek hoop almal wat hierdie avontuur lees,

      sal só meegevoer word, dat hulle hul verbeel

      hulle het self gekrimp! – A.C.

      Die wêreld van Jannus en Kriek

      Ons helde

      Doopname: Jannewario Frederikus Knoets en Krisantalia Renostrum Knoets, algemeen bekend as Jannus en Kriek. Hulle is min of meer agt jaar oud, en hulle is ’n tweeling.

      Adres: Huis Deurmekruis

      Onder Afrit 7 van die snelweg

      Naby die dokke

      Hulle ouers: Knersius en Soetlief Knoets. Knersius is die speltoetser van ’n groot uitgewe­ry. Soetlief is ’n gevaarlike spioen.

      Hulle troeteldier: ’n meerkat met die naam van Meneer Snoek. Sy is ’n wyfiemeerkat, maar haar voornaam is Meneer en haar van is Snoek.

      Hulle oupa: Hy is ’n avon­turier, ’n uitvinder en ’n baie onvoorspelbare ou man. As hy nie iewers anders is nie, bly hy onder Huis Deurmekruis, waar hy allerhande interessante dinge doen en goeters uitvind in sy kelderlaboratorium. Sy brein is so groot en so besig dat dit vir hom moeilik is om aandag aan gewone dinge te gee. Miskien raak hy net ’n bietjie deurmekaar van ouderdom, want hy noem alles wat hy nie kan onthou nie “dinges”.

      Wie is Zip?

      Is hy een van Oupa se uitvindings? Niemand weet wat hy is of waar hy vandaan kom nie, maar hy het gehelp om hierdie boek te skryf.

      ’n Spinnekop

      “Kinders, maak julle boeke op bladsy sewentien oop,” sê juffrou Frot.

      Dit ritsel in die klas soos die kinders na die regte bladsy blaai. Dit is Vrydag en buite skyn die son. Wie is nou lus vir skoolwerk?

      Juffrou Frot vroetel in haar handsak en haal die kassie uit waarin sy haar leesbril bêre. Sy maak dit oop. Dan, skielik, weergalm ’n oorverdowende gil deur die klaskamer. Juffrou Frot gil so hard dat Jannus haar kleintongetjie agterin haar keelgat kan sien tril. Juffrou Frot gil so skril dat Kriek se oordromme ratel, net soos Huis Deurmekruis se vensters wanneer die donderweer om die Oostelike Toring blits.

      Juffrou Frot gil, want oor haar tafel kruip daar ’n reusagtige, harige spinnekop. Die spinnekop was in haar bril se kassie!

      Dries Doringkop proes van die lag. Kriek draai om en gluur hom aan.

      Die spinnekopgrappie is duidelik Dries Doringkop se handewerk!

      Kriek frons. Hoekom is seuns so simpel? Hulle dink dit is snaaks om mense skrik te maak. Jannus giggel. Hoekom is vroumense so simpel? Dit is maar net ’n onskuldige ou spinnekoppie.

      Dries besluit dit is tyd om tot aksie oor te gaan en die held te wees. Hy trek sy skoen uit en storm op juffrou Frot se lessenaar af.

      Sy gil steeds.

      “Toemaar, Juffrou, ek sal hom doodslaan!” Dries mik met sy skoen.

      “Nee!” skree Kriek en duik voor hom in. “Los hom uit!” Kriek is niks bang vir spinnekoppe nie!

      Dries staan verbaas terug en laat sak sy skoen.

      Hy kyk gedwee hoe Kriek ’n bondel penne en potlode uit ’n beker gooi wat op juffrou Frot se lessenaar staan. Die spinnekop hurk op die bladsy waarop sy die klaspunte van hulle aardrykskundetoets neergeskryf het. Hy is op ’n vreemde plek en hy weet nie waar hy kan wegkruip nie.

      Kriek keer die beker oor die spinnekop om. Sy tel die bladsy op en dra dit versigtig weg, spinnekop en al.

      Die ander kinders hou asem op.

      Kriek dop die spinnekop uit in haar kosblik. Sy hou juffrou Frot se bladsy met die toetspunte eers oor die kosblik terwyl sy behendig ’n paar gaatjies in die deksel steek met ’n skêr. Dan maak sy die kosblik versigtig toe, terwyl sy die vel papier wegtrek.

      Sy gaan sit juffrou Frot se beker weer op haar lessenaar neer en pak die penne terug daarin. Dan gaan sit sy weer op haar plek.

      Die kinders klap hande. Juffrou Frot sug verlig.

      “Wat gaan jy met hom doen?” fluister Jannus vir haar.

      “Ek gaan hom huis toe vat,” sê Kriek. “Sy naam is Albertus.”

      Kriek draai om en steek vir Dries tong uit.

      Huiswerk

      Later daardie dag ry die tweeling met hulle fietse terug huis toe.

      “Dink jy hy gaan ’n goeie troeteldier wees?” vra Jannus vir sy suster terwyl hy koes vir ’n minibus wat skielik voor hom inswaai.

      “Jy bedoel Albertus?”

      “Ja,” hyg Jannus. Hy moet hard trap om sy suster weer in te haal.

      “Albertus is ’n reënspinnekop. Hulle is heeltemal onskadelik.”

      “Behalwe vir die hartaanval wat hy amper vir juffrou Frot gegee het!” lag Jannus. Dan raak hy weer ernstig: “Ma gaan jou kierankies laat braai oor jou kosblik se deksel wat jy vol gate gesteek het!”

      “Ek glo nie,” sê Kriek. “Sy breek dan gedurig goed.”

      “Soos die aartappelskiller wat sy nou die dag gebuig het toe sy dit gebruik het om die magasyn van haar masjiengeweer skoon te maak.”

      “En die versapper wat sy opgeblaas het toe sy klonte uit haar kanonkruit wou haal.”

      “En die gordyne in die woonkamer wat sy per ongeluk afgebrand het toe sy haar vlamgooier wou toets!”

      Nee wat, ’n paar gaatjies in ’n kosblik is sommer niks nie.

      “Is jy nie bang Meneer Snoek vreet vir Albertus op nie?” vra Jannus.

      Daaraan het Kriek nog nie gedink nie! Meneer Snoek is hulle mak meerkat, en meerkatte eet graag allerhande grillerige insekte.

      “Toemaar, Kriek,” sê Jannus. “Ek reken Albertus is heeltemal te lelik, selfs Meneer Snoek sal nie vir hom lus wees nie.”

      Die twee draai in ’n nou straatjie af. ’n Paar rondloperhonde hardloop agter hulle aan en Kriek kyk na ’n kraai wat aan ’n appelstronk op die sypaadjie pik.

      “Ek hou nie van kraaie nie,” sê sy. “Hulle is regte aasvreters.”

      “Ek dink ’n kraai sal jou spinnekop opvreet as hy net ’n kans kry!”

      “Toemaar, Albertussie, ek sal jou loslaat tussen die mees doringrige kaktusse in ons tuin. Daar is oorgenoeg wegkruipplek vir jou.”

      Die straatjie loop teen die bult op en eindig teen


Скачать книгу