Abel se dogters. Helene de Kock
nie …” En toe kom die woorde sommer: “Ek weet nie wat dit met my is nie, maar ek dink selde aan sulke praktiese dinge. Dis verkeerd, ek weet, en ek sal moet verbeter wat dit aan betref en …”
Sarah raak sag met haar vingers aan Adelien se skouer. “Eet eers nog ’n stukkie koek en dan gesels ons weer daaroor. So ’n saak het buitendien twee koppe nodig!”
Haar rustige stem en speelse woorde kalmeer Adelien en toe sy haar kom kry, smul sy aan ’n tweede yslike porsie en drink ’n paar koppies rooibostee ná mekaar. Sy voel effens ongemaklik daarna, maar ignoreer die gevoel. Henk sit haar met ’n stil glimlaggie en betrag. Dis toe hulle die teegoed agtertoe gedra het en weer kom sit, dat Sarah haar verras met ’n groterige pakkie toegedraai in blomryke geskenkpapier met ’n fraai goue strik.
“En nou? Ek verjaar mos nie!” lag Adelien.
“Nee, maar dit lyk asof jy ’n verjaardag nodig het. Maak oop!”
Adelien se asem slaan weg toe sy die papier oopvou en ’n donssagte, papawerrooi trui daaruit haal. Sy ma het dit self gebrei, vertel Henk trots, klop Sarah saggies op die skouer.
“Hou jy daarvan?” wil die vrou gretig weet.
“Ek … is gek daarna …” fluister Adelien en voel bewoë. Wanneer laas het enigiemand, behalwe Anna, ooit vir haar iets gegee met soveel moederlike besorgdheid as hierdie vrou met haar sprekende blou oë nes haar seun s’n? Haar tong wil knoop toe sy weer praat. “Dis … dis ongelooflik mooi … en ek het juis ’n tekort aan so iets in my kas. Hoe kan ek u ooit bedank?”
“Trek dit aan wanneer jy lus kry, dan is ek tevrede!” glimlag Sarah.
“Ek sal vir seker!” sê Adelien en staan op om Sarah ’n soen te gee, die trui vasgeklem teen haar bors.
“Wat van my?” vra Henk onnutsig. “Ek het geduldig die hele, moeisame breiproses aanskou!”
Adelien gee hom onverwags ’n klapsoen. “En tjoepstil gebly daaroor! Jy is ’n man van vele geheime, lyk dit my!”
Henk maak plegtig keel skoon. “Dis meer ’n kwessie van talente as geheime. My ma is een van daardie mense wat ’n stuk lap en ’n mooi lyf bymekaar kan bring op ’n wonderbaarlike manier!”
“Hoe nou …?”
“Ag, hy bedoel maar net dat ek af en toe ook klere maak,” sê Sarah. “En ek het daaraan gedink om vir jou iets te maak vir julle departementsdinee. Dis nou as jy my sal toelaat … Ek weet dis nog lank voor die tyd maar …” Die vrou kyk so smekend na haar dat sy vermurwe. Al voel dit nou asof dinge so ’n bietjie onder haar uitglip. Asof die beheer van sake uit haar hande geneem word.
“Ek … hét eintlik al ’n rok,” begin sy maar die teleurstelling lê so vlak in die ouer vrou se oë dat sy haar besin. “Maar ek sal nooit nee dankie sê vir ’n nuwe ding nie!”
“Wonderlik!” Daar is eintlik kleur op Sarah se wange, so ingenome is sy. “Wag, ek bring sommer gou ’n paar patroonboeke en dan kyk jy of daar iets is waarvan jy hou!”
Adelien bêre die mooi trui en sit saam met Henk en wag dat Sarah die boeke kry. Hy sug ligweg en sê sag: “My ma kan soms ’n bietjie oorweldigend wees, ek weet.”
“Miskien,” gee Adelien eerlik toe. “En ek moet sê, dis vir my vreemd om iemand te hê wat so meelewend in my doen en late belangstel.”
“Verdra dit maar, asseblief,” smeek hy opeens liggeraak en steek ’n hand na haar uit. En Adelien vat dadelik sy vingers vas.
“Natuurlik. Dis nie onwelkom nie, ek is net ongewoond daaraan.”
Toe Sarah kom, haar arms vol patroonboeke, staan Henk op en gaan sit voor die televisie. Die vroue blaai en kyk en gesels en op die ou einde geniet Adelien dit baie. Dis laataand toe Adelien eindelik besluit op ’n nousluitende nommertjie met bandjies oor die skouers en ’n kort baadjie daarby. In swart? vra Sarah. Dit sal jou ligte gelaatskleur vlei. Dankie, sê Adelien.
Dis lekker, dink sy toe sy oplaas in die bed lê. Sarah Verwey gaan dalk nog ’n groot rol in my lewe speel en dis dalk goed dat ons nou al dinge saam doen. Sy raak aan die slaap met ’n gevoel van welsaligheid en skrik haar vroegoggend boeglam toe Keiser en Mietsie in die vroeë oggenduur ’n keel opsit. Sy kom stram orent en neem hulle by die agterdeur uit na die klein agterplasie waarop haar woonstel uitloop, wag bibberend terwyl die hondjies vieserig pote optel op die stukkie gras en uiteindelik doen wat hulle moet doen. Dit voel of sy skaars weer gelê het, toe die telefoon skril lui.
Dis Anna en sy klink skoon uitasem, praat asof ’n trein haar jaag. “Adie, jy moet kom! Christelle se rok vir die matriekafskeid is iets vreesliks!”
“Wat … Hoe dan so?”
“Sy’t vir haar ’n rok laat maak by daai nuwe vrou wat anderkant ou Sieberhage se winkel bly. Ek hoor sy maak al die grênd mense se klere.”
“Nou maar dan kan dit mos nie te erg wees nie!”
Anna snuif ergerlik. “Auk! Die toppie is baie klein. Jou pa se sakdoeke is groter. En hy moes baie geld betaal vir amper niks! Ek weet nie hoe gaan ek maak om Chrissie se kop reg te kry nie. Jy moet my kom help!”
“Wat sê Pa Abel?” vra Adelien, opeens kilnugter.
“Aag, jy weet hoe praat hy. Net so piep-piep soos ’n kuiken. Chrissie luister nie vir hom nie!” En toe Adelien magteloos swyg: “Jy moet huis toe kom, Adie! Chrissie kan nie met daardie rok matriekafskeid toe gaan nie! Die hele wêreld gaan praat … En jy weet, as die praat eers aan ’n meisiekind vassit, dan was dit nie weer af nie!”
“Wag,” keer Adelien opeens benoud, “ek moet dink.”
“Daar’s nie tyd vir nonsies nie,” brom Anna, altyd vies oor ’n getob. “Jy moet kom!”
Dis Donderdag, dink Adelien. As sy môre ry en Sondagaand terugkom … Anna is reg. Sy sal moet gaan. Buitendien kan sy dan van die hondjies ontslae raak. “Goed,” sug sy en Anna druk haar dit eers weer op die hart dat die kom góú moet wees, voordat sy neersit.
Dis kompleet of die vier mure van die kamer al nader skuiwe en Adelien spring vervaard uit die bed. Dis of dit sommer op die krop van haar maag begin pyn. Ek sien nie kans nie! skree haar binneste. Hoe op aarde gaan ek in die bestek van ’n naweek vir Christelle oortuig dat die rok wat sy laat maak het ’n totale ramp is? Want Anna sal nie oordryf nie. Daardie vrou se kop is reg.
Sy kyk op haar horlosie. Sesuur. Nog tyd om tot verhaal te kom voordat sy moet gaan klasgee. Maar ’n oomblik se respyt is haar nie beskore nie. Sy is kwalik klaar gestort toe daar aan die voordeur gehamer word. En toe sy oopmaak, staan Bernadette daar met bewende lippe en rooigehuilde oë.
“Hallo, vreemdeling,” sug Adelien en trek haar na binne, vou haar ’n oomblik vertroostend teen haar vas, voel hoe die ontstemde meisie haar kop met die rooibruin hare in haar nek druk. “Wat makeer?” vra sy sommer self ook ontstig. “Of liewer … waarom sien ek jou amper nooit?”
Bernadette se slanke lyf ruk van die snikke. “Ag, hou op verwyt! Ek is besig … soos … soos wat jy goed weet! Die koshuis hou my heeldag op my tone en om in die regte te studeer, is ook geen grap nie!”
“Huil jy omdat jy primaria is of omdat jy die reg as loopbaan gekies het?” vra Adelien lakoniek, maar haak ’n arm om die dun middeltjie toe sy kombuis toe loop.
Haar suster gaan sit by die tafel en vee haar oë af, maar Adelien merk dat daar terstond weer nuwe trane opwel. “Nee, dis natúúrlik nie waarom ek huil nie!” kap Bernadette ergerlik terug.
“Dirk Joubert?!” skiet Adelien ’n skoot in die donker en sien die onmiddellike kramp van hartseer op die mooi gesig. Skrik gryp aan haar hart en sy kom sit dig by haar. “Bernatjie, wat is dit?”
Die liefdevolle stemtoon laat haar suster met snakkende oorgawe huil. Adelien staan solank op, sit die ketel aan en maak roosterbrood, dis eers toe hulle met die eetgoed en koffie