Die geheim van Rust der Vrede. Annelize Morgan
glimlag effens. Hulle het De Savoye nog maar skaars ontmoet, en daar word al van trou gepraat. Is dit dan nou die laaste wanhopige poging om Rust der Vrede te behou? Waarom laat hulle die hele saak nie met rus nie? Dit sal die klomp se verdiende loon wees as Armand de Savoye met ’n wildvreemde meisie trou en so die huis finaal onder die Van Wyngaardts se neuse wegraap. Hulle het nog altyd situasies beheer met doelgerigte gewetenloosheid, maar hierdie keer is hulle magteloos. Armand de Savoye sal nie toelaat dat hulle op sy gevoel speel of aan hom voorskryf nie. Hy het meer mag as hulle almal saam en is ’n gedugte teenstander. As hy net kon vermoed watse planne hulle in die skild voer, sou hy sy rug finaal op hulle draai.
“Jy is baie stil, Engela,” sê tant Sophia.
Engela glimlag.
“Ek dink sommer net aan al die planne wat al klaar gesmee word, Tante. Suzanne en ek word al klaar as bruide uitgeveil vir De Savoye, maar op so ’n blatante manier sal nie ek óf hy vir ons laat voorskryf nie. Dit sal nie veel praat kos om Suzanne te oortuig van haar rol nie, maar moet julle net nie met Armand de Savoye misreken nie.”
Sophia glimlag stadig, maar antwoord nie. Net soos haar ouma Engela, dink sy tevrede. Ek het my nog nooit met haar misgis nie. Sy hou by haar oortuigings en sal nie ’n duim daarvan afwyk nie. Dit sal ’n man soos oupa Lodewyk kos om haar verdediging te laat verkrummel … En oupa Lodewyk was ’n sjarmante jong man, vasberade en effens koppig, maar ook regverdig, en hy het ’n goeie sin vir humor gehad. Hy was soos Armand de Savoye.
Sy lag sag en steur haar nie aan Engela se vraende blik nie. Dit gaan die laaste groot drama op Rust der Vrede wees en miskien, wie weet, sal daar weer ’n oupa Lodewyk en ouma Engela wees om die leisels vas te vat …
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.