.
dinge. Eintlik het sy haar daarop ingestel dat sy Richard by die dam sou raak loop. Wat sy vir hom sou sê as dit wel gebeur het, weet sy nie.
Sy sug. Toe sy Richard ontmoet het, was sy baie onervare. Sy’t net geweet hy is heeltemal anders as die jongmanne van die kontrei. Hy het daardie onbepaalbare iets gehad wat die boerseuns nie het nie. Selfvertroue, sjarme en ’n sportmotor wat by sy persoonlikheid pas. Baie van haar vriendinne het haar beny. Hy het haar oorlaai met juwele en blomme en haar soos ’n begeerlike vrou laat voel. Sy het gevoel sy sweef iewers tussen die hemel en aarde. Sy het nie geweet van al sy skuld en dat die spoggerige motor ’n week ná hul troue teruggevat sou word omdat hy nooit die paaiemente betaal het nie!
Toe sy by die T-aansluiting stilhou, jaag ’n motor in ’n stofwolk voor haar verby. Sy draai onmiddellik haar motor se ruit op, maar proe nogtans die stof op haar lippe.
“Ongeskikte vent!” uiter sy haar misnoeë hardop. Wie dit ook al is, hy kan beslis nie van dié kontrei wees nie. Die plaasmense ry almal ordentlik.
Toe sy by die huis kom, sit hul buurman by haar oupa op die stoep. Hulle is besig om oor die Mossgas-projek te gesels toe sy by hulle aansluit nadat sy haar kerkklere gaan uittrek het.
“Moet my niks vertel van Mossgas nie,” hoor sy haar oupa sê. “Dis ’n onding wat die regering hier kom skep het. Kyk net die dubbelpad wat hulle hier tussen Mosselbaai en George gemaak het, asof daar nie klaar genoeg mense op die enkelpad verongeluk het nie! En die lughawe wat hulle hier gekom bou het. Dis nie net oor P.W. Botha hier van George af in die parlement moes kom nie! Nee, my ou vriend, dis om ’n handige afklimplek te maak vir alles en almal wat boos is. Het die petrolprys altemits al met een enkele sent afgekom? Dit gaan net op en op!”
Hul buurman se blik val op Esbeth waar sy stil in die deur vasgesteek het. “Môre, Esbeth. En hoe gaat dit met jou rokmakery daar in die Baai?” begroet hy haar.
“Môre, oom Frik. Nee, ek kan darem nie kla nie. Ek het Vrydag en Saterdagoggend baie goed gedoen.”
“Ek vertel nou net hier vir jou oupa van die man wat vaneffe daar by my was om die pad Baai toe te vra. Hy het my tog alte veel aan Richard herinner. Net sulke swart hare.”
“Wie was hy?” vra Esbeth vinnig, oortuig dat dit dieselfde persoon is wat sy voor die kafee gesien het.
“Opperman. Ek kan nie nou sy naam onthou nie. So ’n fênsierige naam. Werk glo by Mossgas.”
“Met watse motor het hy gery, oom?”
“Met ’n Mercedes. So ’n roomkleur.”
“Wat wou hy gehad het?” vra sy amper angstig toe sy onthou van die motor by die T-aansluiting.
“Was glo verdwaal. O ja, en hy wou weet of ek nie sy vriend geken het wat met die dam se bouery hier gewerk het nie. Ek het hom geseg om vir jou oupa te kom vra. Maar hy was toe glo nie hier aan nie.”
Esbeth voel hoe daar ’n skokgolf deur haar lyf gaan. Frans Bruwer … Die naam klink bekend. Sy sal haar kop op ’n blok sit Richard het daardie naam genoem.
“Waar is die man … dié Opperman nou?” vra sy so oorstelp dat oupa Janus skerp na haar kyk.
“Watse belangstelling het jy in dié Opperman?” wil hy vies weet.
“Ek verbeel my Richard het van ’n Frans Bruwer gepraat destyds. As ek reg onthou, het hy vir my gesê hulle lyk baie na mekaar. As Opperman dié Frans ken, sal hy dalk vir Richard ook … ken. Of geken het.”
“Kind,” sê oom Frik, “jy moet liewerster aanvaar Richard is dood. Los die dinge van die verlede uit.”
“Ja, sê tog vir haar,” por oupa Janus sy buurman aan. “Laat die dooies met rus.”
“Julle wil darem verskriklik graag hê Richard móét dood wees, nè!” vererg Esbeth haar. “Ek wonder wat Oupa gaan maak as dit nié so is nie. As hy dalk net geheueverlies opgedoen het en op ’n dag hier uitslaan!”
“Behoede my dit!” mompel oupa Janus binnensmonds, maar nie so sag dat Esbeth hom nie hoor nie. Voordat sy daarop kan reageer, kom roep Siena hulle etenstafel toe, dus sluk sy die katterige opmerking wat sy wou maak maar terug.
Oom Frik groet en Esbeth-hulle gaan deur eetkamer toe.
Oupa Janus is uitgeslape. Hy praat oor alles behalwe dinge wat Richard se naam dalk te berde kan bring aan die etenstafel. En ná die ete skuif hy sy stoel terug en strek hom behaaglik uit. “Nou vir ’n lekker middagslapie … Wat hoor ek dan nou?”
Esbeth hoor ’n dreuning. Daar plooi ’n glimlaggie om haar mond toe sy deur die venster kyk. “Dis tant Stien.”
“Og, nee!” kreun oupa Janus. “Sê vir die klaende skinderbek ek slaap.”
“Nee, wag,” keer Esbeth vinnig toe hy kamer toe wil skarrel, “dis sonde om te jok. En ek is doodseker dis nie vir mý wat sy kom kuier nie.”
“Bedoelende?” vra haar oupa kwaai. Maar Esbeth lag net en begin ywerig die tafel afdek.
Toe sy vieruur terugry dorp toe, kuier tant Stien steeds by haar oupa. Eintlik kry sy haar oupa jammer, want die vrou kan omtrent niks anders doen as om te kla en te skinder nie. Maar as oupa Janus ook maar nuuskierig is en nie op sy reguit manier vir haar wil sê haar gekuier is onwelkom nie, is dit sy saak.
Maandagoggend, toe sy weer vir De Wet ’n koppie tee neem, vertel sy vir hom van die man wat sy by die kafee gesien het, en ook van die man van wie oom Frik gepraat het. “Ek is seker dis dieselfde mens,” sê sy vir hom. “Ek wens ek kan hom weer raak loop, want as hy Frans Bruwer ken … Ek is oortuig daarvan dat Richard eendag vir my gesê het hy het ’n vriend met die naam van Frans Bruwer … Ek dink amper hy het gesê hy bly in Natal … Dalk het hy gedink om by hom te gaan hoor van werk …” Esbeth kyk De Wet vas aan. “Ek sal baie graag met dié Opperman wil gesels.”
“Dit was nie dalk Frans Bruwer wat saam met jou man in die vliegtuig was nie?”
“Nee, die vliegtuig het aan Jack Benade behoort. Hy was van die Transvaal. Jack het nog by ons oorgeslaap die nag voor hulle weg is Natal toe.”
“Haai, daar’s mense by jou winkel,” sê De Wet. En toe sy vinnig by die deur uitskarrel: “Ek hoop hulle koop hom leeg!”
Die twee vroue koop toe nie haar winkel leeg nie, maar Esbeth voel baie tevrede toe hulle die winkel verlaat. Sy weet hulle gaan weer kom. Mense moet net eers weet van haar boetiek.
Die aand toe sy en De Wet huis toe ry, nooi hy haar om by sy huis te kom kaartspeel.
“Kom jy liewer na my toe. Ek wil nie graag vir Eben laat in die aand uitvat nie. Dis winter en as hy siek word, sit ek met ’n probleem. Ek wil tant Ralie nie met ’n siek kind opsaal nie, en ek ken niemand hier wat my winkel sal kan behartig nie.”
Hy maak dan ook so, en dit word ’n genoeglike aand. Esbeth hou van De Wet. Hy is aangename geselskap; ’n mens sonder pretensie. Daarby is hy nog deksels aantreklik ook. Maar sy sal haar nooit weer aan ’n man bind nie. Haar teleurstelling in Richard … Sy stop haar gedagtes vinnig. Dis nie mooi om nou net sleg te dink van hom nie. Hy het baie goeie eienskappe ook gehad. Dalk was dit juis sý wat die minder goeie eienskappe in hom ontlok het. Dis dalk haar eie skuld dat hul kortstondige huwelik so stormagtig verloop het.
Die volgende paar aande kom De Wet gereeld na haar woonstel toe. Soms speel hulle kaart, en ander kere luister hulle musiek. Sy geniet dit saam met hom, maar dit kan nie so aanhou nie. Sy het, toe sy nog op die plaas was, baie klere gemaak en opgegaar. Maar dit verminder nou vinnig. Sy sal saans moet begin naaldwerk doen.
“Ek gaan ons kuiertjie saans mis,” sê De Wet toe sy een aand aan hom verduidelik waarom hy nie meer elke aand na haar toe sal kan kom nie. “Ek het al begin gewoond raak daaraan.”
“Toe maar, ek ook,” troos Esbeth hom. “Maar werk kom voor plesier, soos oupa Janus so lief is om te sê. En as ek nie gaan begin klere maak nie, kan my winkel nie bestaan nie.”
De