Die seewind se lied. Elza Rademeyer
ion>
ELZA RADEMEYER
Die seewind se lied
Jasmyn
1
Die branders is wit-blou soos die skuimperdjies hul draf voor die wind moet ken. By Die Bakke en Die Punt in Mosselbaai staan die vakansiegangers se tentpenne oorkruis ingeryg en spook mans met seergebrande lywe in los T-hemde om hul bollende tente in bedwang te hou. Nie dat dit die kampeerders se vakansiegees blus nie. Dis net een maal in die jaar Desember. Die geklots van branders, die geur van braaivleis, ’n skuimende bier in die hand en die lekker gesels met ou bekendes vergoed vir die bietjie ongerief wat die wind meebring.
’n Bloedrooi sportmotor kom met ’n aardskuddende spoed aangejaag en draai plotseling met skreeuende bande by die kampeerterrein in. Menige man sug afgunstig.
Toe die bestuurder egter uitklim, vergeet die manne net daar van hul afguns op die ingevoerde motor, én van die wind wat hul tente verfoes.
Haar slanke bronsbruin bene kom eerste te voorskyn. Die kleefhemp wat sy by die wit kortbroek dra, steek niks van haar vol kurwes weg nie. Die wind pluk aan haar kort blonde hare en haar hele houding verraai dat sy geen gebrek aan selfvertroue het toe sy tydsaam haar donkerbril afhaal en oor die see tuur nie. Die manne hou haar belangstellend dop terwyl sy ’n klein tentjie uit haar motor haal en dit ietwat onhandig op die gras staanmaak. Eers wanneer sy goed ’n halfuur later in die opgeslaande tentjie verdwyn, onthou die manne met die seer lywe weer waarmee hulle nog laas besig was.
Nie ver weg nie, waarskynlik daar waar Bartholomeus Dias op 3 Februarie 1488 anker gegooi het, lig Tom Prinsloo ’n sak vis van sy skouer af. Sy geoefende oog korrel tussen die motors deur totdat hy ’n bejaarde vrou met ’n skuifelgang van die winkelsentrum se kant af aangestap sien kom. Hy glo sý sal by hom ’n vis koop. Daar is drie soorte mense: dié wat verby jou loop en maak of hulle jou nie sien nie; dié wat jou ’n afjak gee; en dié wat koop. Veral bejaardes kry hom gou jammer – seker maar oor die vodde aan sy lyf. Dis ’n triek wat nog altyd gewerk het, dié stukkende klere.
“Mêrrem, hoe’s dit virre vissie yttie sie vir vanaand as die mister hys toe kom?”
Hy raak bang hy’t hom misgis met haar, want sy klem die swart handsak stywer teen haar lyf vas en lyk of sy verby hom gaan stap.
“Dissie duur nie, mêrrem. Rêrigie duur nie. En ek het ok maar ’n vrou en tjinnerstjies by die hys wat moet iet, mêrrem wiet. En die mister, hy sal mos hou van soe ’n vars stokvissie yttie sie, dink mêrrem nie so nie?”
Sy steek vas en hy dink vaag daaraan dat sy bekend lyk. Maar sy lyk ook siek, en haar blik is soos dié van Katryn toe hy haar die dag by die hospitaal gaan haal het – sonder die baba waarvoor sy so baie truitjies gebrei het. Sy kyk nou nog partykeer met sulke leë oë na hom as daar kinders in die nabyheid is.
“Ek het nie meer ’n mister wat kan huis toe kom nie,” sê die bejaarde met die swart handsak en sy kyk ver verby hom. “My man het my Maartmaand ontval.”
Hy maak sommetjies in sy kop. Maar is al ’n hele tydjie terug, dis dan een van die dae Krismis. Die strate hang al vol van die blink liggies. Sy behoort mos darem al oor die ergste te wees. “Wat van die anner hysmense? Mêrrem bly tog sieker nie stoksielalleen nie?”
“Ek ís alleen. Ek het twee seuns gehad, maar … Die een het verdrink. Jare gelede, hier by Santosstrand. My ander seun … is weg. Ek het hom dertig jaar laas gesien. Ek weet nie of hy nog leef nie.”
Sy lyk vir hom so verwese dat hy haar jammer kry. Hy buk vooroor en vroetel in die sak. Skraap dan sy keel. “Eigentlik het ek vir mêrrem gelieg oor my tjinnertjies by die hys. Onse outjie, my en Katryn s’n, hy’t sommer by geboorte afgesterf. En toe’t daar nooit weer ienetjie gekom nie.” Hy kom orent en hou ’n vis na haar uit. “Mêrrem kin hom maar verniet vat. As mêrrem nie meer ’n sorg het nie, kry mêrrem sieke ôk ma swaar.”
Sy vat die vis by hom, maar bly dan half afwesig daarmee staan. Haar oë dwaal oor die see voordat sy terugkyk na hom. “Hoe vars is die vis?”
“Hy’t nou net mit die laaste skyt saam ingekom. Ek liegie vir mêrrem nie. Mêrrem kin mos self sien hy’s vars.”
Sy knip haar handsak oop. “Ek kry nie swaar nie. Wat moet ek jou betaal vir die vis?”
“Ek mind nie as mêrrem my ’n ietsie wil gee nie, maar mêrrem hoef rêrig nie moeite te doen nie.”
Sy druk ’n noot in sy hand en toe sy wegstap, rek sy oë.
“Mêrrem, wag, ek moet vir mêrrem tjyns gie!”
Maar sy kyk net om en glimlag ietwat weemoedig in sy rigting voordat sy by ’n jong man in ’n afgeleefde blou motortjie klim en wegry.
Dis eers toe die motor al uit sy gesigsveld verdwyn het, dat dit hom plotseling te binne skiet wie die vrou is wat die vis by hom gekoop het. “My mastag! Dis mos niemand annerste as mister Schalk Schoeman se ma gewies daai nie!” Hy skud sy kop en dink: Maar het sy vir jou oud geworre! Sieke ma oor sy nie gesond issie! En wat sou van mister Schalk geworre het?
’n Meisie met ’n welige bos donker hare en opvallende blou oë hou laatmiddag stil voor ’n netjiese huisie in Hartenbos. Sy kyk na die huis wat so toe lyk en wonder of daar iemand tuis is. Twyfel oor die wysheid van haar besluit om meer inligting te kom kry. Dan klim sy tog vinnig uit om aan die deur te gaan klop.
’n Bejaarde vrou met mooi grys hare kom maak die voordeur oop. Sy hou haar hande wat na vis ruik voor haar in die lug. Daar is ’n vraende uitdrukking op haar gesig en haar ooglede is rooi en opgehewe soos iemand wat baie gehuil het.
“Mevrou, ek het gewonder of u my kan help,” sê die donkerkopmeisie. “My naam is Elmien Maritz.” Sy wag dat die ouer vrou moet sê wie sý is, maar sy bly haar net vraend aanstaar. “Ek het gewonder … of u dalk iemand met die naam Schalk Schoeman geken het?”
Iets soos skok spring in die ouer vrou se oë. “Schalk!”
“Ja. Schalk Schoeman,” sê Elmien met ’n gevoel van verligting omdat sy nou seker is dat die tante voor haar wel vir Schalk geken het. Hoekom anders haar skok?
“Schalk is my seun!” sê die vrou oorstelp. “Waar is hy? Ken jy hom?”
Haar bekentenis neem die wind uit Elmien se seile. Dis die laaste ding wat sy verwag het, dat sy Schalk se má op die lyf sal loop. Hy’t hulle dan laat verstaan hy het geen bloedfamilie meer nie!
“Waar is Schalk? Wat weet jy van hom af?” wil die vrou nou angstig weet.
“Mag ek binnekom?” vra Elmien. “Ek sal graag ’n rukkie met u wil gesels.”
“Ja, seker.” Sy staan opsy om Elmien deur te laat. “Maar wie is jy? Is daar fout?”
Elmien besluit om eers haar vrae te ignoreer. “Het u dalk foto’s van u seun, Schalk?”
“Ek het, ja. Maar hy is nog baie jonk op die foto’s.”
“Gee u om om dit vir my te wys?”
“Ek sal die album vir jou bring. Ek gaan was net eers my hande.”
Toe die ouer vrou die voordeur toemaak en by ’n binnedeur inloop, gaan staan Elmien voor die sitkamervenster. Sy voel moeg en stowwerig. Daar is nie veel buite te sien nie. Net nog ’n ry eenderse huisies aan die oorkant van die nou straatjie. Sy kyk hoe die takke van die doringboom voor die venster die aanslag van die wind trotseer en sy sug. Om Schalk se ma hier aan te tref! As sy dit vooraf geweet het, sou sy nie nodig gehad het om al die pad van Brakpan af hierheen te ry nie. Sy kon haar gebel en …
Sy skrik toe Schalk se ma skielik agter haar praat.
“Hier is die album. Die foto’s is al vergeel van ouderdom. Schalk was maar sewentien op hierdie laaste foto wat my oorlede man nog van hom geneem het.”
Elmien kyk aandagtig na die foto’s wat die vrou vir haar wys. Die Schalk wat sy geken het, is net ’n ouer weergawe van die seun op die foto’s. Dis ongetwyfeld dieselfde mens.
“Kort ná hierdie foto geneem is, het hy die huis verlaat,”