Die seewind se lied. Elza Rademeyer

Die seewind se lied - Elza Rademeyer


Скачать книгу

      “Met jou ma getroud?” sê die vrou verras. Haar gesig verhelder. “Ek het gewonder of hy ooit getroud is. Is jy sy …”

      “Nee,” onderbreek Elmien haar vinnig. “Ek is nie u seun se kind nie. Hy was net veertien dae met my ma getroud. Ek het eintlik slegte nuus vir u, mevrou.”

      “Slegte nuus? Wat is die slegte nuus?”

      Die skielike onrus in die vrou se oë laat Elmien ongemaklik sluk. Sy skraap haar keel en dwing haarself om Schalk se ma in die oë te kyk. “U seun leef nie meer nie, mevrou.”

      Die vrou staar haar net aan. Dan gee sy ’n suggie. “Ek het al so baie gewonder wat van hom geword het. Wanneer … is hy oorlede?”

      “’n Maand gelede. Ons het nie geweet van u nie. Ek bedoel, hy het nooit vir ons gesê hy het naasbestaandes nie. Hy het ons eintlik laat verstaan sy ouers is lankal oorlede.” Toe sy sien die ouer vrou reik na ’n stoel, stap sy vinnig nader. “Wag, laat ek u help.”

      “Dankie. Noem my sommer tant Mienie.” Sy diep ’n sakdoekie uit haar voorskoot se sak en snuif daarin toe sy gaan sit. “Schalk was altyd ’n anderste kind,” vertel sy sonder aanmoediging. “Hy was slimmer as sy broer, maar hy wou nie leer nie. Toe hy sewentien was, het hy van die huis af weggeloop. Hy’t ’n paar keer gebel wanneer hy geld wou gehad het, maar ons had dit nie breed nie. En toe ek eendag geweier het om hom te help, het hy kwaad geraak. Ek het nooit weer van hom gehoor nie. Net altyd bly wonder … Jy sê hy’s dood?”

      “Ja, dis ongelukkig so, tante.”

      “Waar is hy begrawe?”

      “In Brakpan.”

      “Wie het hom begrawe?”

      “My ma se leraar.”

      “Jy sê julle het nie geweet van my, dat ek nog leef nie. Hoe het jy dan van my uitgevind, om vir my te kom sê dat hy dood is?”

      “Hy’t eendag teenoor ons genoem dat hy ’n vakansiehuis hier op Hartenbos besit. Eintlik het ek hierheen gekom om te kom vasstel wat daarvan geword het, want hy en my ma was binne gemeenskap van goedere getroud en …” Sy swyg en wonder of dit nodig is om te vertel hoe kwistig Schalk haar ma se geld vermors het. Dit sal net ’n verdere skok wees vir die tante.

      “Hy was so ’n mooi baba,” praat tant Mienie eensklaps, asof onbewus van Elmien se teenwoordigheid. “’n Soet kind gewees. Maar in sy hoërskooldae het hy ontaard. Rebels geraak. En lui om te leer. Sy onderwyseres het baie met ons kom praat oor sy stokkiesdraaiery. As sy pa my net nie altoos gekeer het as ek hom wou tugtig nie … Sy broer was nie soos hy nie. Johan was die dom een. Maar hy was gehoorsaam. Hy’t ons geen hoofbrekens besôre nie. Op vyftienjarige ouderdom het hy verdrink. En Schalk … hy was nie eens op sy broer se begrafnis nie.”

      Elmien kyk verslae na die ineengedoke figuur van die vrou op die stoel. Sy voel verward. Sy het geweet Schalk Schoeman kon verskriklik leuens vertel, maar dat hy darem oor sy eie ma sou lieg!

      “Waaraan is Schalk oorlede?” wil tant Mienie weet.

      “Hy het in ’n motorongeluk omgekom.”

      “Hoe het dit gebeur?”

      “Ons weet nie wat gebeur het nie. Hy was alleen in die motor toe dit teen ’n versperring gebots het.”

      “Ja, so baie mense verloor deesdae hul lewens op die paaie,” sê tant Mienie. “’n Motor is nie ’n speelding nie. Jy sê hy is op Brakpan begrawe?”

      Elmien knik haar kop en stuur ’n skietgebedjie na bo dat sy tog liewer nie moet vra na die omstandighede van Schalk se dood nie. Dis nie ’n mooi storie nie.

      “Jy sê hy en jou ma was net veertien dae getroud. Foei tog, en hoe voel jou ma oor sy skielike heengaan?”

      Elmien ontwyk die ouer vrou se blik. “Die dood is maar altyd tragies.”

      “Ja,” sê tant Mienie. “Die dood is tragies. Maar dis nog erger om iemand aan die wêreld af te staan. Om nooit te weet wat van jou kind geword het nie. Ek kon my berus in Johan se dood, maar Schalk … Is sy graf darem opgemaak?”

      “My ma het gereël dat daar ’n steen op sy graf gesit moet word.”

      “Watse werk het Schalk gedoen?”

      Elmien kyk weer anderpad toe sy antwoord: “Hy het nie gewerk nie. Ek bedoel, toe hy met my ma getrou het.”

      “Weet jy wat hy gedoen het voordat hy met jou ma getroud is?”

      “Nee, ek weet nie. Ons het eintlik nie veel van hom geweet nie. As ons hom wou uitvra, het hy net altyd gesê hy kyk nooit terug op sy verlede nie, want ’n mens moet vir die toekoms leef.”

      “Ek wonder of hy voorheen getroud was? Of hy dalk kinders gehad het?”

      “Hy was glo voorheen getroud, ja. My ma was sy derde vrou.”

      “Sy derde vrou! Sies tog, moes hy twee vrouens aan die dood afgee?”

      “Hulle is nie dood nie, tante. Hy was van hulle … geskei.”

      “Geskei! En die arme kinders?”

      “Hy het vir ons gesê daar was nie kinders nie.”

      “Was hy darem goed vir jou ma?” wil die ouer vrou tot Elmien se konsternasie weet. Maar gelukkig is daar op daardie oomblik ’n klop aan die kombuisdeur.

      Die man in ’n vodderige blou oorpak wat saam met tant Mienie in die deur van die sitkamer verskyn, wek nie Elmien se belangstelling nie. Miskien omdat sy moeg en gefrustreerd voel. En dalk ook omdat sy haar voorgeneem het om van geen man weer notisie te neem ná die stel wat sy met Jurg Botha afgetrap het nie.

      Elmien wil eers kapsie maak toe tant Mienie haar as Schalk se stiefdogter aan die vreemdeling voorstel, maar dan los sy dit maar. Wat maak dit in elk geval saak? Schalk Schoeman is dood. Sy lê haar hand in dié van die man met die blou oorpak en kom nie agter dat hy besonder aandagtig na haar staar terwyl hulle die gewone formaliteite aframmel nie.

      “Sy’t vir my kom sê Schalk leef nie meer nie,” verduidelik tant Mienie aan Wynand Bresler. “Sy sê hy het ’n maand gelede in ’n motorongeluk omgekom.”

      Schalk se stiefdogter? flits dit deur Wynand se gedagtes terwyl hy Elmien weer ongemerk in oënskou neem. Dis ongetwyfeld dieselfde Elmien Maritz saam met wie hy jare gelede in Brakpan op skool was. Daar verskyn ’n siniese uitdrukking op sy gesig. Tog snaaks hoe tant Mienie se drumpel skielik deurgetrap word deur sogenaamde vriende en familie sedert sy so onverwags ’n ongelooflike som geld geërf het. Tant Mienie het hom laat verstaan sy weet nie wat van haar seun Schalk geword het nie. Dog, noudat tant Mienie ’n ryk vrou is, peul Schalk se familie ook skielik oral uit!

      “Is jy met vakansie?” vra hy toe Elmien in sy rigting kyk.

      Sy knik haar kop en dis vinnig ’n noodleuentjie op. “Ja. Ek was as kind laas op Mosselbaai. Ek het besluit om te kom kyk hoe dit deesdae hier lyk.”

      “Waar gaan jy tuis?” vra hy. “Hier op Hartenbos?”

      Sy skud haar kop. “Ek het pas hier aangekom van Brakpan af en weet nog nie waar ek sal tuisgaan nie. Ek moet nog verblyf soek.”

      “As jy nie bespreek het nie, kan jy vergeet om hierdie tyd van die jaar hier reg te kom. Alles is vol.”

      “Dis waar wat hy sê,” beaam tant Mienie. “Jy sal nou nêrens meer plek kry nie. Maar jy kan hier by my bly,” sê sy dan tot Wynand se ontsteltenis. “My huis is groot en ek is stoksielalleen.”

      “Dankie, maar ek sal darem seker iewers geholpe raak,” sê Elmien vinnig. Hoe minder sy met Schalk Schoeman se ma te doen kry, hoe beter.

      Toe tant Mienie se buurman met ’n tang in die hand die badkamer binnegaan, besluit Elmien om van die naaste telefoonhokkie te gaan bel. Ná vele oproepe is sy genoodsaak om moed op te gee. Nie eens in ’n hotel is daar ’n


Скачать книгу