Oos na die son. Ena Murray
dit jou saak, maar dan kry jy nie ’n egskeiding van my nie. Ek bedoel dit.”
Sy spring op. Net sy weet hoe pynlik die afgelope paar minute vir haar was en hoe sy moes uithaal om kalm en bedaard te bly. Maar nou … Soos hy hulle al so dikwels gesien het, flits die blou oë weer kwaai.
“Ek wonder wie is nou kinderagtig? Natuurlik sal ek beslis nie saamgaan nie …”
“In daardie geval is daar niks om verder te bespreek nie. As jy my nou sal verskoon … Ek het nog geweldig baie om in orde te kry.”
Sy neem parmantig stelling voor die lessenaar in.
“Louw Hattingh, ek weet nie of dit jou idee van ’n grap is nie …”
“Geensins. ’n Egskeiding het ek nog nooit as ’n grap beskou nie. Jy het vier dae om na te dink oor my voorwaarde.”
“Daar is niks om oor na te dink nie. Dis belaglik! Wat moet ek daar op die uithoek van die aardbol gaan soek? As dit geselskap is wat jy soek … Jou bekwame en interessante doktor Meyer gaan mos saam!”
Hy kyk op van waar hy weer begin skryf het, sy stem en oë yskoud.
“Ja, jy het gelyk. Dit sal my beslis nie aan aangename en volwasse geselskap ontbreek nie.”
“Presies! Waarom moet ek dan …?”
“Dis jy wat ’n egskeiding wil hê – en dis my voorreg om die voorwaardes te stel. Die saak is afgehandel, Pauli.”
Hierdie keer is sy stem so beslis, sy oë so waarskuwend dat sy nie anders kan as om stil te bly nie. Hy begin weer skryf, maar dis of hy haar gedagtes kan lees en die begeerte in haar aanvoel om een van die dik, geleerde boeke te gryp wat op die lessenaar rondlê en hom daarmee te gooi, want hy laat kalm hoor: “Gaan pak liewer in, Pauli. Jy sal tog saamgaan.”
“Jy klink baie seker van jou saak, professor Hattingh!”
“Ja, ek is … want ek weet hoe bitter graag jy van my ontslae wil wees. Daarom sal jy saamgaan, want dis die enigste manier waarop jy ’n egskeiding sal kry.”
Pauli storm by die deur uit en klap dit met min ontsag agter haar toe. In haar slaapkamer gooi sy haar huilend op die bed neer. Wat gaan met Louw aan? Hy was altyd so inskiklik, altyd so begrypend, die een wat alles vir haar gedoen het, altyd so geduldig was. Sy kan nie glo dat ’n man so kan verander nie!
In die studeerkamer kyk Louw Hattingh ’n rukkie roerloos na die toe deur en strek dan sy hand na die telefoon uit.
“Dis professor Hattingh wat praat. Ek wil asseblief nog ’n plek bespreek op die vlug na Panama op die vyftiende …”
Dis ’n stil groepie van drie wat vier dae later die vliegtuig bestyg wat hulle regstreeks na Suid-Amerika sal neem en van daar na Panama waar professor Islinger en die res van die geselskap by hulle sal aansluit.
Tot op die bitter end het Pauli haar probeer losmaak van hierdie onverwagte en onwelkome wending, maar dit het niks gehelp nie. Louw was so onbeweeglik soos die Rots van Gibraltar. Toe sy haar voet op die eerste treetjie sit om die vliegtuig te bestyg, het sy haar weer, bykans desperaat, na hom gekeer.
“Louw …”
“Die keuse is steeds joune, Pauli. Ek keer jou nie. Jy kan omdraai as jy wil, maar …”
Hy het ongeërg die treetjies agter Zelia begin opklim en nie eens omgekyk of sy volg nie. Hy en Zelia het reeds gesit toe sy eindelik onder die laastes haar verskyning in die ruim maak en net een blik met die paadjie af het haar na die lugwaardin laat keer.
“Kan ek en daardie dame nie plekke ruil nie, asseblief?”
“Ja, seker, as sy wil,” antwoord die lugwaardin vriendelik, en Pauli se glimlag verbreed.
“O, ek is seker sy sal met my ruil.” Sy kom langs Zelia tot stilstand en laat kortaf hoor: “Jy sit op my plek. Jou plek is daar langs Louw. Ek is seker julle twee het baie om oor te gesels.”
Zelia lyk verbaas en aangenaam verras en laat haar nie twee keer nooi nie.
“Dis baie gaaf van jou, Pauli. Ek kan jou seker maar so noem, nè? As Louw nie liewer …”
“Louw sal jou beslis langs hom wil hê eerder as vir my.” Sy plak haar in die sitplek neer en ’n oomblik lank ontmoet man en vrou se oë. Dan skuif Zelia langs hom in aan die oorkant van die paadjie en Pauli draai haar kop weg. ’n Ruk later, toe hulle reeds in die lug is, loer sy weer vlugtig na daardie kant toe. Soos sy verwag het, is hulle diep in gesprek en sy hoor net van “rongo-rongo” en ander vreemde woorde wat sy ook die afgelope twee weke telkens in haar eie huis gehoor het en waarvan sy tot nou toe nie kop of stert verstaan nie.
Sy keer haar blik weer vinnig weg en wonder wat in hemelsnaam sy die volgende paar maande met haarself gaan aanvang. Sy is wel ’n opgeleide onderwyseres, maar tussen al die geleerdheid van Louw en Zelia en die res, sal sy voel soos ’n analfabeet tussen gegradueerdes. As sy nie gaan beswyk aan ’n minderwaardigheidskompleks voordat hulle terugkeer nie, sal dit ’n wonderwerk wees. Waarom moes Louw haar tog saamsleep!
Oorkant die paadjie is doktor Meyer se aandag nie heeltemal so ten volle by die geleerde gesprek, soos Pauli daaraan dink nie. Sy het geensins ingenome gevoel toe sy verneem dat Pauli hierdie keer saamgaan nie. Die vriendskap tussen haar en Louw dateer ’n hele paar jaar terug en dit was vir haar ’n groot skok toe Louw destyds met Pauli getroud is. Dit het haar nie lank geneem om te besef dat daar nie veel van ’n huwelik tussen dié twee is nie en haar hoop het weer opgevlam. Louw het hom maar soos alle mansmense laat vang deur ’n mooi gesiggie en patetiese blou ogies. Maar hy is te intelligent om lank met net ’n mooi gesiggie en lyfie tevrede te wees en sy weet dat die tuig begin skawe.
Dat die tuig die afgelope tyd sommer lelik geskawe het, is waar, want Pauli veral het geen geheim meer daarvan gemaak dat sy en Louw bitter min gemeen het nie. Veral sedert hulle van die laaste ekspedisie teruggekeer het, kon jy maar net ’n paar minute in hul geselskap wees om agter te kom dat man en vrou nie juis kontak het nie.
Zelia het groot drome oor die toekoms begin droom, en al haar hoop was op die komende ekspedisie gevestig. Sy weet dat sy Louw Hattingh se respek en bewondering as wetenskaplike het. Daar is ook ’n mooi vriendskap tussen hulle. Maar op hierdie ekspedisie sou sy sorg dat hy haar nie net as wetenskaplike nie maar ook as vrou opmerk. Dit het tyd geword dat Louw ook die vrou in haar begin raaksien … en waardeer.
Niemand sou kon droom dat daar onder die bekwame, besadigde uiterlike voorkoms van doktor Zelia Meyer ’n warm, polsende vrou lê en wag nie. Louw Hattingh veral sou uiters verbaas gewees het as hy moes weet watter gedagtes soms deur haar suiwer wetenskaplike verstand gegaan het wanneer haar blik op hom rus.
Sy was nie baie vroulik nie. Nie dat sy lelik is nie, maar sy het haar nog altyd streng soos ’n wetenskaplike gedra en gesorg dat haar uiterlike voorkoms by haar status pas. Die hare word glad agteroor gekam en netjies agter in die nek saamgevat. ’n Dikraambril sorg vir ’n verdere vertoon van geleerdheid en die kleurskakerings in haar kleredrag is altyd besadig, nooit uitspattig nie. Sy gebruik ook baie selde grimering. Indien Zelia Meyer wou, kon sy met behulp van slim grimeerkunsies sekerlik tot ’n baie aantreklike vrou ontluik het. Maar Zelia het nog altyd weggeskram van daardie dinge, ten eerste omdat dit nie in haar geaardheid is nie, en ten tweede omdat sy dink Louw Hattingh is nie ’n man wat van sulke dinge hou nie. Nee, sy sal eers sy aandag en respek wen met haar bekwaamheid en intelligensie en dán sal dit kinderspeletjies wees om hom van haar as vrou bewus te maak, het sy gedink.
Sy was baie teleurgesteld toe sy hoor dat Pauli saamgaan, maar haar teleurstelling het gou verdwyn toe sy besef dat hierdie twee beslis nie op goeie voet is nie. Miskien, dink sy by haarself terwyl sy met die een oor na Louw luister, is dit beter dat Pauli hierdie keer saamkom. As hy hulle elke dag saam sien en vergelykings kan tref, des te beter. En as Pauli voortgaan om haar plek as Louw se vrou so gewillig aan ’n ander af te staan soos so pas met die sitplekke … Pauli is ’n kinderagtige jong dwaas – maar sy gaan haar dit nie sê nie. Beslis nie!
Twee dae later staan Pauli en die res