Die glasappel. Christine le Roux

Die glasappel - Christine le Roux


Скачать книгу
oggend douvoordag kilometers gehardloop en ongesiens het sy liggaam meer definisie gekry. Die knopknieë het verdwyn, sy arms, bene en borskas het spiere ontwikkel en teen die tyd dat hy universiteit toe is, het sy vriende hom verseker hy is aansienlik en hoef nie meer weg te kruip nie. Ongelukkig het dit langer geduur om van sy skaamheid ontslae te raak. Hy het nog steeds gestamel en in ’n figuurlike sin oor sy voete geval as hy met ’n meisie moes praat.

      Die keerpunt het gekom toe ’n meisie hom in sy tweede jaar opbel en uitnooi na een of ander geselligheid. Toe hy haar beter leer ken het, het sy gebieg dat sy dit vir ’n weddenskap gedoen het omdat die ander meisies gesê het sy sal nie die moed hê om die aantreklikste man op die kampus te vra nie.

      Dit was vir hom ’n openbaring. Die aantreklikste man op die kampus? Hy kon dit skaars glo, maar teen die tyd dat hy sy graad gekry het, het genoeg meisies hom hiervan oortuig.

      Theo sug, te lui om nou op te staan en in sy bed te klim. Waarom hy nou skielik introspektief word, sal hy nie weet nie. Hy is net ’n normale man en eendag sal hy gevestig raak en trou en huis opsit en . . . Hy sug swaarder, want hy weet nie of dit moontlik is nie. Sy ma beskuldig hom dat hy sinies geword het en dis waar. Daar was al te veel Jennys en Elaines en Sandras.

      “Onsin,” sê hy hardop en staan op. Hy sal gaan stort en in die bed klim. Môre voel hy wel weer beter.

      Hoofstuk 4

      Twee weke later stap Theo by sy geliefkoosde eetplek in vir middagete. Hy was die hele oggend op die perseel en hy is heeltemal verkluim. Die normale Hoëveldse winterson het nooit verskyn nie, dis al heeldag swaar bewolk, met ’n wind wat deur murg en been sny.

      Gewoonlik is daar vir hom niks lekkerder as om so tussen die bakstene en sement van een van sy geboue te wees nie. Hy wil die konkrete bewys van die maande van papierwerk en skeppende frustrasie in die vlees sien. Hy wil deel wees van elke projek. Kerneels dink hy is laf, maar hy wat Theo is, het al dikwels sy moue opgerol en saam met steenlêers en loodgieters gewerk. Hy vind die fisieke arbeid diep bevredigend, maar nie op so ’n koue dag soos vandag nie, dink hy toe hy sy gewone kelner nader wink en hom vra vir ’n bier en sy gewone middagete van pasta met ’n vars tamatiesous.

      Hy het net die eerste teug van sy bier gedrink en sy hand uitgesteek na die warm broodrolletjie wat langs hom neergesit is, toe iemand met hom praat.

      “Ek het gedink ek sal jou hier kry,” sê ’n vriendelike stem.

      Vir ’n sekonde is hy nie eers lus om op te kyk nie. Sedert sy onbevredigende laaste afspraak met Jenny het iets gebeur. Hy het sy entoesiasme vir meisies verloor.

      “Dit moes een of ander tyd gebeur,” is Kerneels se filosofiese uitspraak. “Dis soos klein Neelsie. Drie weke lank wou hy net piesangs eet. Niks anders nie. Geen pap of vleis of groente nie. Nie eers koekies nie. Net piesangs. Janie het ingegee en piesangs gekoop dat die groenteman ons skeef aangekyk het. En wat het nou gebeur? Die kind word omtrent naar as hy net ’n prent van ’n piesang sien. Oordaad is die woord. As jy enigiets oordoen, raak jy teë daarvoor.”

      “Dankie vir jou wysheid,” het Theo vir hom gesê. “Ek is seker dis net ’n tydelike toestand.”

      “Ek hoop so. Sonder Lindie se weeklikse uitbetaling as ék wen en sy verloor, kan ’n man verarm.”

      Maar onbeskof kan hy ook nie wees nie en hy kyk op.

      Dis die meisie in die donkerblou rok. Haar hare is gekam in ’n styl wat niemand sedert die Anglo-Boereoorlog tot sy reg laat kom het nie. ’n Streng middelpaadjie en die hare aan beide kante opgerol oor die ore. Haar kleredrag dateer egter nie uit dieselfde periode nie. Sy dra ’n swart wyepyplangbroek en ’n dik wit kabeltrui.

      “O,” sê hy en staan op. “Dis jy.”

      Sy wys na die stoel oorkant hom. “Het sy nie opgedaag nie?”

      “Wie?”

      “Hoe moet ek weet wie dit hierdie week is?” vra sy redelik. “Seer sekerlik nie meer Jenny nie.”

      “Niemand nie,” sê hy kortaf. “Ek eet alleen.”

      “Mag ek dan maar sit?”

      Hy haal sy skouers op, wag tot sy sit en gaan dan voort om sy broodrolletjie te breek en botter op te smeer. “Wil jy ook eet?” vra hy.

      “Ja, maar nie saam met jou nie.”

      Hy kyk vinnig op. “Dis ’n beledigende opmerking om te maak.”

      Sy glimlag. “Ek is jammer. Wat ek bedoel, is dat ek wel sal eet, maar nie as jou gas nie.”

      Hy is lus om vir haar te sê dit was ook nie wat hy bedoel het nie, maar sy basiese goeie maniere keer hom en hy sê liewer niks nie.

      Sy kyk op na die kelner wat langs haar verskyn het. “Dit is twee aparte rekenings,” sê sy minsaam, gly haar oë oor die spyskaart en kom tot ’n vinnige besluit.

      “Hoe het jy geweet ek sal hier wees?” vra hy.

      Sy waai een van haar skraal wit hande deur die lug, ’n fyn, byna poëtiese beweging. “Toe ek nou-nou instap by die biblioteek het ek net meteens geweet ek sal jou hier kry, wat ’n goeie ding is omdat ek vir jou ’n geskenk het.”

      “’n Geskenk?”

      Sy knik. “Om dankie te sê vir die ander aand.”

      “Is dit normaalweg hoe jy mense in die hande kry?” vra hy. “Jy kry net ’n gevoel? Ander mense doen sulke banale goed soos kyk in ’n telefoonboek vir ’n adres of telefoonnommer.”

      “Dis onnodig as ’n mens bereid is om staat te maak op jou intuïsie.”

      “Ek sien. Joune is baie sterk ontwikkel.”

      “Ek weet,” sê sy en bedank die kelner vir die broodrolletjie wat hy vir haar gee. “Dat my sesde sintuig jou juis in ’n restaurant geplaas het, is goed, want ek is baie honger.”

      “Ek ook,” erken hy. “Ek was heeloggend buite in die koue en het nou-nou bevrore hier ingeval.”

      “Wat het jy buite gemaak?” vra sy belangstellend.

      “Ek was op ’n bouperseel.”

      Sy knip haar groot oë agter die nog groter brillense. “Is jy ’n messelaar?”

      “Nee, ’n argitek.”

      Sy knik en hy wonder of haar sesde sintuig ook reeds hierdie inligting oorgedra het. “En hoe gaan dit met Jenny?”

      “Dit het niks met jou te maak nie,” antwoord hy koel.

      “Daaruit kan ek dus net aflei dat dit nie goed gaan nie.” Sy kou nadenkend aan ’n mond vol brood. “Jy ontgin nie die potensiaal van daardie kuiltjies nie.”

      Hy hoes om ontslae te raak van ’n krummel wat in sy lugpyp beland het. “Daardie kuiltjies?” vra hy toe hy weer kan praat. “Watse kuiltjies?”

      “Jenny s’n.”

      Hulle kos word voor hulle neergesit en terwyl hulle kaas oorstrooi en die pepermeul uitruil, beteken dit hy hoef nie dadelik iets te sê nie. Hy wil niks sê nie. Hy wil hoegenaamd nie hoor wat hierdie vreemde vroumens te sê het nie.

      “Sjampanje,” sê sy na sy ’n ruk geëet en die kelner vir haar ’n glas rooiwyn gebring het.

      Hy kyk gesteurd op. “Wat van sjampanje?”

      “Jy moet dit gebruik. Gooi vingerhoedjies vol in haar kuiltjies en lek dit op.” Terwyl hy haar sprakeloos aanstaar, sy vurk halfpad na sy mond, dink sy na en skud dan haar kop. “Jy moet net versigtig wees hoe jy haar kop kantel, want jy wil nie hê die sjampanje moet in haar ore loop nie. Oorontsteking is ’n lelike ding. Pynlik.”

      Hy vat na sy bierglas, sien dis leeg en drink ’n diep teug water. “Waar kom jy vandaan?” vra hy verstom, asof hy met homself praat. “’n Ander planeet, ’n ander dimensie? Waar op aarde kom jy


Скачать книгу