Gesprekke oor die lewe. Izak de Villiers
In hierdie reeks preke is daar ’n goue draad wat getuig van ds Izak se viering van God se teenwoordigheid, maar ook sy voortdurende soeke na die groter wysheid wat lewenspatrone sinvol orden. Hy was wyd belese en het intiem met die Woord omgegaan. Vir hom was die soeke na ’n vollediger begrip van God ’n lewensreis. Hy kon met die Woord worstel en ook kinderlik daarmee omgaan. Hy het verstaan dat menslike denke die grootheid van God nie kon omvou nie. Hy was dus altyd oop vir insig – om weer te dink, maar ook om verras te word.
Met die redigering van die preke is verwysings en spesifiek-gebonde anekdotes en stories weggelaat met die doel om die essensie van sy oordenking aan die leser te bied. Hy was ’n onkonvensionele prediker, vlymskerp kritikus en realistiese denker.
Twee maande na sy laaste preek by die gemeente Aasvoëlkop is hy in 2009 oorlede nadat hy met motorneuronsiekte gediagnoseer is.
Die jaar voor sy dood het hy my as letterkundige eksekuteur aangewys en dit is vir my ’n voorreg om in hierdie hoedanigheid hierdie laaste reeks preke te redigeer. Ek erken ook graag insette van sy vriend, ds Marius Greeff.
Amanda Botha
1
DIE STEM VAN DIE HERE IS SAG SOOS DIE WIND
GEBED
Onse Heer, ons is hier omdat ons U nodig het. Ons is hier omdat ons ’n behoefte het aan U en u teenwoordigheid. Ons het U so nodig. Ons kan in hierdie gevaarlike wêreld nie sonder U lewe nie. Ons het nodig dat u hand ons hand kom vat. Ons het nodig, Here, dat U ons seën in wat ons doen, want as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou. Ons kom om u stem te hoor. Ons kom vir ’n versekering dat U ons Vader is, deur die Seun in die Gees. Ons kom, Here, vir lering, vir ’n boodskap; boweal kom ons vir aanbidding, om te sing tot u eer en te bid in u heilige Naam. Ons bid Here, maak u Woord vir ons oop, beweeg hier tussen ons met u Gees, raak ons hart aan, skenk ons u vrede. Amen.
ONS LEES SAAM UIT PSALM 29:1-11
’n Psalm van Dawid.
1Prys die Here, julle hemelinge! Prys die Here om sy eer en mag! 2Prys die Here om die eer van sy Naam! Buig voor die Here by sy heilige verskyning! 3Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! 4Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit. 5Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop. 6Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf en die Sirjon soos ’n jong bees. 7Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. 8Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die Here laat die Kadeswoestyn bewe. 9Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik; dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit: “Hoe geweldig!” 10Die Here heers oor die watermassas, Hy heers vir altyd as koning. 11Die Here gee krag aan sy volk ...
Die groot skrywer van wetenskapfiksie, HG Wells, het ’n kortverhaal geskrywe oor ’n sekere Anglikaanse biskop wat ’n groot probleem gehad het. Die biskop staan toe in die middel van die nag op om daaroor te bid. Hy trek sy kamerjas aan en is toe na sy private kapel waar hy gaan bid het. Toe hy voor die altaar kom, kniel hy en sê: “Oh God, Oh God, Oh God.” En toe kom daar ’n stem: “I am listening. What can I do for you?” Die volgende oggend het hulle die biskop daar in sy kapel dood gekry. Die les van die storie is, die biskop het hom doodgeskrik toe God hom antwoord. Nou wonder ek net, as jy eendag moet bid en jy sê, “Ag, Here,” en die stem kom na jou en die stem sê, “Praat maar, ek hoor,” wat sal jy doen?
Wanneer ons bid, gee ons die Here kans om te praat? Of praat ons so baie dat ons nie luister wat Hy vir ons sê nie; dat Hy geen kans kry om iets tussen-in te sê nie? Want God is ’n God wat praat – dit sê hierdie psalm. Die stem van die Here weerklink oor die waters. Hy laat die weer dreun. Sy stem is vol majesteit. Hy praat met ’n magtige stem. Hy praat in die natuur – hier staan dit: Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf. Die stem van die Here laat die weerlig uitslaan.
Die stem van die Here is ook sag, soos die wind van Elia daar by die berg Horeb. Na die beroemde of berugte Slag van Somme in die Eerste Wêreldoorlog was daar, nadat die kanonne stil geword het, derduisende soldate aan albei kante dood. In daardie lente op daardie Vlaamse velde het die papawers weer opgekom, bloedrooi papawers. Jy kon nie die merktekens van die oorlog meer sien nie, want die papawers het in die Vlaamse wind gewuif, pragtig rooi!
God het gepraat en gesê: Ek gee julle die vrede van ’n blom. Kyk na my blomme. Jesus het gesê: Kyk na die lelies van die veld; leer van die lelies van die veld. Ek praat. God praat, die Vader praat deur die blomme. Hy praat in die natuur; Hy praat as die son opkom en Hy praat as die son ondergaan; Hy praat tot in alle ewigheid. Hy is die skeppende Gees wat alles nuut maak met dit wat Hy sê. Hy praat in die geskiedenis.
Die psalms vertel gedurig vir jou hoe God in die geskiedenis ingegryp het – ook in jou eie geskiedenis. Dink ’n bietjie na, wanneer en waar het Hy nie orals met jou gepraat nie? Het jy toe geluister? Hy praat vandag ook. Luister jy?
In die tyd van die rigters, voordat Samuel ’n profeet geword het, was Eli die hoëpriester. Die Bybel vertel dat daar in daardie dae min gesigte of drome of profesieë was. Die woord van God was skaars. Tragiese tyd, is dit nie? Ek wonder soms of dit nie ook van toepassing op vandag is nie, dat die woord van God, die ware Woord van God, die evangeliese Woord van God, skaars geword het nie? Maar, God praat ook van hoop. Die profeet kom en sê, gaan troos my volk. Sê vir hulle dat hulle stryd verby is. Droog hulle trane af. Sê dit vir hulle.
Charles Beard, ’n baie invloedryke Amerikaanse geskiedkundige, het geskryf dat hy vier lesse uit die geskiedenis geleer het. Hy sê: “Firstly, whom the gods wish to destroy, they first make mad. Secondly, the mills of God grind slowly, yet they grind exceedingly small. Thirdly (en dit is ’n baie belangrike een) the bee fertilises the flower it robs. Fourthly, when it is dark enough, you see the stars.”
Dit is lesse wat ’n mens uit die geskiedenis en die natuur kan onthou. Dit is soos wat hierdie psalmis sê: Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die stem van die Here stroop die bosse kaal. Somtyds stroop die stem van die Here ons kaal dat ons nakend staan, en dat ons dan sê: Here, wat nou? Wat nou?
Luister ons wat Hy vir ons sê? Hy praat deur sy Woord. As jy die Bybel lees, sal jy God daarin hoor praat, en as jy Hom nie dadelik hoor praat nie, hou maar net aan met lees, Hy sál praat, iewers sal Hy begin praat. Iewers gaan jy ’n teks kry, iewers gaan iets, net iets, aan die brand steek hier in jou hart en gaan God met jou praat, maar dan moet jy stil word voor Hom.
Biskop Bergraf van Noorweë was lank in die tronk – die Nazi’s het hom daar gesit. Hulle het darem vir hom gesê hy kan sy Bybel hou. Om sy eensaamheid te verdryf en te voorkom dat hy nie van sy verstand af raak nie, het hy die Bybel hardop geloop en lees – op en af in sy klein sel. Ja, op en af in sy klein sel, sodat hy die woorde van God kon hoor en hy nie so alleen voel nie. Dit is nogal ’n les. Ons bid somtyds saggies. Ons moet maar somtyds kliphard bid en tot die Here roep en sê: Here, dít is die saak met my. Dit is die saak met my geliefdes; dit is die saak met my kinders; dit is die saak met my ouers; dit is die saak met my kerk; dit is die saak met my mense. Want God praat in ons gemoed.
Hier is ’n ruimte hierbinne en dit is God se ruimte. Ons is elkeen God se heelal en God praat in sy heelal. Dit staan in hierdie psalm. Daar kom tye, en ons het dit al beleef, dat ’n mens die nabyheid van God nogal sterk ervaar. Dan kom daar weer tye wat ’n mens voel, maar nou is ek baie, baie ver weg van Hom. Dan raak dit tyd om weer die Woord van God op te soek en hardop te lees en vir jouself te sê: Maar God praat met my. Luister ek? Luister ek? Wat sê Hy vir my? Wat is sy boodskap vir my? Dit is die tye dat Hy ons ruimte en leë hart vul.
Die laaste groot woord wat God spreek is in Jesus Christus. Jesus Christus is die Woord. Die Woord het gekom as ’n mens en die Woord het geleef as ’n mens; en die Woord het gepraat as ’n mens, en die Woord het gesterf as ’n mens; en die Woord het opgestaan as God.
Jesus het in baie toonlere gepraat. Hy het na die Fariseërs gekyk en Hy het vir hulle gesê: Julle spul adders. ’n Bestraffende woord. Hy het vir ’n lam persoon gesê: Staan op en loop. Hy het vir ’n vrou gesê: Groot is jou geloof.