Terug na die Ou Testament. Adrio König
dus verstaanbaar waarom die Sabbat skynbaar eenvoudig verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene. Trouens indien die Christene uit die heidene wel nog die Sabbat moes hou, sou dit ’n geweldige probleem geword het, baie erger as die besnydenis. Baie van hulle was slawe wat vir heidense eienaars gewerk het. Hierdie eienaars sou hulle nooit toegelaat het om een dag in die week nie te werk nie. In die meeste gevalle sou hulle lewe op die spel gewees het. Dit sou beteken het dat die apostels in die Briewe baie aandag hieraan sou moes gee. Hulle sou die Christenslawe moes raad gee hoe om hierdie probleem te hanteer. Maar ons kry nie eens ’n spoor daarvan in die Briewe nie.
Selfs ook nie in Handelinge 15 nie. Dáár gaan dit oor die vraag of die heidene wat tot bekering kom, nog die wet moet hou (15:5). Dan is die konkrete voorbeeld uit die wet die besnydenis (Hand 15:1). En die Sabbat kom nie eens ter sprake nie terwyl dit ’n veel dringender probleem sou gewees het. Dit beteken skynbaar dat selfs die Joodse Christene nie van die heiden-Christene verwag het om die Sabbat te hou nie.
Dit lyk dus of die Sabbat uit die lewe van die heiden-Christene verdwyn het, al kan ’n mens aanneem dat baie van die Joodse Christene aanvanklik nog daarmee voortgegaan het, net soos met die besnydenis (Hand 21:20-21). Maar dit was natuurlik in Jerusalem waar dit maklik was omdat die Jode daarmee voorgegaan het. Maar ons weet ook uit die geskiedenis dat sekere gemeentes nog vir ’n paar eeue lank sowel die Sabbat as die Sondag onderhou het. Die feit dat hulle albei, Sabbat én Sondag, onderhou het, kan beteken dat hulle deeglik daarvan bewus was dat dit twee verskillende dae was, en nie dieselfde soort dag nie (2.7).
2.4 KOLOSSENSE 2:16
Tog is daar Christene wat oortuig is dat Kolossense 2:16 ’n ander betekenis het. Hulle meen dit gaan daarin nie om die gewone weeklikse Sabbat nie. Daar word onder andere twee argumente aangebied.
•Hulle meen die Griekse woord wat hier vir “Sabbat” gebruik word, is in die meervoud. Dit sou eintlik met “Sabbatte” vertaal moes word.
•En hierdie “Sabbatte” (feesdae) sou dan nie die gewone weeklikse Sabbat wees nie. Daar sou ook ander feesdae gewees het wat “Sabbat” genoem was.
Kom ons kyk eers na die Griekse woord wat vir “Sabbat” gebruik word. Die Griekse woord het die vorm van ’n meervoud. Maar dit is presies dieselfde woord wat in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) gebruik word vir die weeklikse Sabbat (Eks 20:8). Dit is dus nie werklik ’n meervoud nie, dit lyk net na ’n meervoud. Dit is in werklikheid die Hebreeuse woord wat net in Griekse letters geskryf is, soos ook ander Hebreeuse woorde soos “amen” en “halleluja”. Omdat dit in die Ou Testament die woord vir die weeklikse Sabbat is, gaan dit dus inderdaad om die gewone weeklikse Sabbat wat net ’n skaduwee was van Christus. Daarom hoef die gemeente nie met die Sabbat voort te gaan nie. Die Een wat die skadu vooruitgegooi het, het Self gekom.
Maar daar is nog die bewering dat “Sabbat” hier nie verwys na die weeklikse Sabbat nie, maar na ander feesdae wat ook só genoem is.
Dit is inderdaad moontlik dat daar enkele gevalle is waar ’n ander feesdag as die gewone Sabbat ook “Sabbat” genoem word (Lev 16:31; 23:9,15,32). Dit gaan hier onder andere oor die groot versoendag. Maar dit kan nie wees wat Paulus hier onder “Sabbat” bedoel nie. Hy noem dan klaar hierdie feeste onder “die jaarlikse feeste” (“die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbat” – Kol 2:16).
Wat egter veel belangriker is, is die feit dat hy hier die staande uitdrukking gebruik wat oor en oor in die Ou Testament vir Israel se totale feeskompleks gebruik word: “Die jaarlikse feeste, die nuwemaansfees, en die Sabbat”. Waar hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word, beteken “Sabbat” altyd die weeklikse Sabbatdag. Dit kan dus nie hier skielik na ’n ander feesdag verwys nie. Kyk gerus na hierdie uitdrukking in die Ou Testament (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10. Kyk ook na 2 Kon 4:23; Jes 1:13; Eseg 46:1,3; Amos 8:5; Jes 66:23; Klaagl 2:6). Dit is ook duidelik dat “Sabbat” in hierdie uitdrukking die weeklikse Sabbat bedoel (Jes 66:23; Eseg 45:17; Neh 10:33).
’n Mens kom dus nie maklik weg van die oortuiging dat die Sabbat nie net skynbaar verdwyn het uit die lewe van die vroeë Christene nie, maar selfs dat Paulus die gelowiges heeltemal vry wou maak daarvan.
Hierdie oortuiging word nog versterk deur sy opmerking in Galasiërs. Onthou die eintlike stryd in Galasiërs gaan oor die wet en die besnydenis. Maar dit raak ook ander gebruike uit die Ou Testament. Die dwaalleraars in Galasië is Fariseërs wat tot bekering gekom het, maar nie van die Ou-Testamentiese reste van hulle geloof wou afsien nie. Hulle eis dat die heidene wat Christene word, die wet moet hou, en dan veral besny moet word. Ons kry meer kere tekens hiervan in die Nuwe Testament, onder andere ook in Handelinge 15:2,5.
Paulus wys hierdie eise skerp af – so skerp dat dit nie eintlik skerper kán nie (Gal 5:2-4). Dis ’n kwessie van alles of niks.
Maar dan kom sommige ander gebruike uit die Ou Testament ook ter sprake. “Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:10-11).
Daar is gelowiges wat meen dit gaan hier ook nie oor die weeklikse Sabbat nie, maar oor hierdie (moontlike) ander “Sabbatte”. Maar dit is om ’n paar redes nie regtig moontlik nie.
Dis duidelik dat Paulus dieselfde bedoel as in Kolossense. Dit is in al sy Briewe net op hierdie twee plekke waar hy die vreemde uitdrukking gebruik: “wettiese godsdienstige reëls” (Gal 4:9; Kol 2:20). En albei kere gaan dit oor dieselfde feeskompleks. In Galasiërs is hy selfs nog baie negatiewer as in Kolossense. Hy noem dit hier: “die minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”. Hy skryf dus die hele feeskomplek radikaal af.
Verder is die reeks woorde wat hy gebruik duidelik ’n aanduiding van die totale feeskompleks van die Ou Testament. Hy voeg eintlik by die lys in Kolossense nog een soort fees by. Naas die dagfees (Sabbat), die maandfees (nuwemaansfees), en die “feesgeleenthede” (die jaarlikse feeste), voeg hy ook die “jare” by, dit is die Sabbatjaar- en die jubeljaarfees, dus letterlik al die feeste.
En sy waarskuwing is baie ernstig. Hy is bang hulle deel nie regtig meer in die genade as hulle met hierdie gebruike voortgaan nie, hulle het dan nie regtig gelowiges geword nie. Dit is presies ook wat hy oor hulle onderhouding van die wet en die besnydenis geskryf het (5:2-4). Dit beteken tog dis net so gevaarlik om met hierdie feeste aan te hou as om besny te word.
Volgens Paulus moet mense kies:
•óf Jesus;
•óf die gebruike van die Ou Testament soos die besnydenis en die Sabbat en die feeste.
Ons sal later sien dat die skrywer aan die Hebreërs verder nog die tempel, die priesters, en die offers byvoeg. Dit gaan dus op die ou end oor die hele Ou-Testamentiese kultus wat nie meer tuishoort in Christene se lewe nie. Hierdie Ou-Testamentiese kultus was ’n eenheid. Daaruit kan ’n mens nie willekeurig ’n paar kies en die ander los nie.
2.5 EN DIE SABBAT AS DEEL VAN DIE TIEN GEBOOIE (HEB 4:9)?
Maar kan die Sabbat sommer net verdwyn? Dis tog deel van die tien gebooie. En Jesus het ’n baie sterk uitpraak oor die wet wat geldig bly (Matt 5:17-19). Dit geld dan tog elke gebod, ook die vierde gebod.
Die wet speel ’n belangrike rol in die Bergrede, veral in Matteus 5. Waarom? Herhaal Jesus maar net die wet? Almal het tog die wet goed geken. Maar onthou die godsdiensleiers het die wet geformaliseer en net letterlik geïnterpreteer. Daarom verklaar Jesus dat Hy aan die wet sy “volle betekenis” gaan gee (Matt 5:17). Hoe doen Hy dit? Jesus radikaliseer die wet, Hy gee dit ’n radikaler en dieper betekenis, dieper as dit wat die godsdiensleiers besef het. Eintlik gee Hy die wet sy oorspronklike betekenis, en verwerp daarmee die wet soos hulle dit geformaliseer het:
•Hy radikaliseer die gebod dat jy nie mag moord pleeg nie: Jy kan selfs net met jou woorde iemand vermoor (Matt 5:21-22).
•Hy radikaliseer die gebod teen egbreuk: Jy kan selfs net met jou oë en in jou hart onrein wees en egbreuk pleeg (Matt 5:27-30).