Diepsee. E. Kotze
Ma, in die Suidweswaters. Daar is baie kreef.”
“Maar dis mos ver, Frits, sal ’n brood dan genoeg wees? Jy kan mos nie ’n week lank op kale smeerbrood kreef vang nie!” Daar is nie eens ’n rafeltjie wildsvleis of ’n stukkie droëwors om by die brood saam te gee nie.
“Toe maar, Ma, Dampies kook vir ons. Die skipper sorg altyd vir uie en aartappels en die ou maak ’n lekker vissop.”
“Koppe en grate,” sê sy en rig gekwelde oë op hom. “Jy is nie daarop grootgemaak nie. Jy sal verswak.”
Daar gaan nie ’n maaltyd om dat sy ’n stukkie kos in haar mond steek en nie aan haar stomme kind dink nie, wie weet waar in die koue en nat tussen mense met ander maniere van doen, en hy so jonk nog …
As teenmaatreël kook sy die bokafval.
Van vroeg die Sondagoggend af is die afval op die vuur. Etenstyd is dit sag en lymerig gestowe. Hulle eet vaalafval en bruinbrood geweek in sous. Daar is klein stukkies opgesnyde long tussen die pens en pootjies om die kos te rek vir die baie monde wat moet eet. Hulle suig die beentjies af en vee die sous met die brood op.
Sy pak vir hom sy see-sak: growwe brood toegebind in ’n geruite doek, ’n klont plaasbotter in ’n stroopblik, koffie en suiker en ’n blikkie salf – sinksalf en harmansdrup wat sy self gemeng het vir die seerplekke. Sy weet hoe ’n kreef ’n mens kan stukkend steek.
Frits rol sy komberse op, en klere vir die natwordslag. Hy pak alles in die suikersak: bloedlyn, kos en klere.
Dan groet hy.
“Loop jy dan nou al?” vra sy pa.
“Ja, Pa,” sê hy, “ons moet nog die bakkies afdra. En aas vat.”
Hy swaai die sak oor sy rug en vat sy kierie. Dis ’n gewoonte; mens weet nooit wanneer jy ’n slang of ’n ding op die lyf loop nie. Sy pa het hom geleer hoe om ’n slang dood te gooi. Sy pa stuit vir niks, hy het eenmaal in die veld die stiebeuel van die saal afgeruk en ’n slang daarmee doodgeslaan toe hy niks anders byderhand gehad het nie. Hy het by sy pa geleer.
Dis by die agt myl Baai toe. Met die wapad tien myl, maar hy stap met die voetpad tussen die duine deur. Die wit gousblom begin toevou weerskante van die paadjie. As die son eers loop draai het, kom daar ’n klimaat oor die duine wat die blomme laat toetrek. Mens proe dié tyd van die jaar die bittergousblom in die melk, in die botter op die brood.
Op die kruin van die eerste hoë duin gaan hy staan om die see te bekyk. Dit het mooi afgekom. Aan die bamboes wat hoog teen die strand opgespoel lê, kan hy sien waar die branders loop draai het. Met die stormweer kon die skuite nie uitgaan om aas te vang nie. Vrydag sou daar ’n skuit uit die Bo-baai gekom het met masbanker.
So nie, het die skipper gesê, sal hulle self ’n plan moet maak om aas in die hande te kry. Hulle kan nie langer op die wal lê nie, hy wil onderwêreld toe loop.
Dis ver. ’n Goeie vyftig uur se loop. Twee dae en twee nagte. As hulle drie-uur vannag hier wegkom, kan hulle Dinsdagoggend gelyk met ligdag daar wees. Dinsdag vang hulle dan heeldag en die aand kan hulle oppak en draai. Woensdag, Donderdag kom hulle dan …
Hy self was nog nie verder as Jakkalshok teen die kus op nie, maar hulle vertel hom daar is sulke dik kreef in daardie wêreld. Sommer nou het jy ’n skuit vol gevang.
Hul skuit dra sewe-en-sestig kis. Met ses bakkies is dit elf kis vir ’n bakkie, na gelang jy werk. Hy en Dampies is saam in ’n bakkie. Hulle kan maklik hul veertien kis vang. Hy kan almal onder stof werk as hy net eers die slag het. Hy sal kreef vang tot die bloed uit sy hande loop. Vrydagaand sal hy by die huis kom en sy geld in sy pa se hand sit en hy sal sê: Pa, ek wil asseblief vir Pronk hê, Pronk stap en word spekvet in die vleikamp, g’n mens ry hom ampers meer nie (sy pa het te swaar geword vir ’n perd se rug), Pa sal seker nie omgee as ek dorp toe ry vir die Nagmaal nie, Pa … En sy pa sal sy hande sien en weet dat hy daarvoor gewerk het.
As hulle net met die aas regkom.
Jy moet aas hê om kreef te vang. Visaas. As die Bo-baaier nie uitgekom het nie, sal hulle eers vis in die hande moet kry.
Maar jy moet ’n kreefstertjie hê om vis mee te vang.
Hulle sal moet sukkel vir ’n krefie.
Kreef byt nie aan enigiets nie. Hy byt aan hotnotsvis en snoek en aan masbanker.
Kreef sal vleis ook vat, sweer Dampies. Hy het al gesien hoe lyk ’n man wat ’n paar dae verdrink was. Die ou het een uit die water gehaal eenkeer. Die lyk was bloedrooi soos die kreef aan hom gehang het. ’n Kreef is die vark van die see. ’n Vark vreet enigiets, sy eie kleintjies ook as dit daarop aankom.
Vleis …
Hy slaan die toppe van die slaaibosse met sy kierie uit sy pad uit. Die sak skawe agter sy blad, duin op en duin af. Hy betrap hom daarop dat hy vinniger stap as wat nodig is; eintlik hoef hy nie voor skemer onder by die afdraplek te wees nie.
Duskant Malkoppan loop die duine dood en sluit die voetpad by die wapad aan. Maar Frits hou strandlangs. Die witstrand word rotsagtig. ’n Gebroke rotsrif loop ’n ent weg die see in en krom dan weer binnetoe. Dit lyk asof ’n groot hand deur die rif gevat het soos ’n mens ’n stuk deeg sal vat en afknyp en eenkant toe stoot. Die afgemaakte stuk is die eiland waaragter die skuite lê, in die holte van die elmboog.
Laatmiddag gier die meeue oor die water en sit die ou swartvoëls sieklik op die klippe. Daar speel ’n rob agter die breek. Met sononder kom die voëls uit alle rigtings eiland toe: malgasse en pikkewyne, swartvoëls en seeduikers, in ’n menigte en lawaaierig. Hulle sirkel ’n paar maal oor die baai en kry dan hul sit tussen die klippe.
Die skuite lê almal voor anker. Daar’s nie ’n mens te sien nie. Behalwe Dampies wat agter ’n bos langs die sinkhuis op die strand sit en vuur maak. Die droë doringbos brand hoog en die koffiewater sing. Frits sit sy pak langs die huis neer.
Dis nie vir hom nodig om te vra of daar aas uit die Bo-baai gekom het nie. As dit so was, sou die plaat bakkies nie nou nog hoog en droog tussen die muisbosse gelê het nie, dan sou almal aan die gang gewees het.
Vier van hul eie bakkies is reeds gelaai. Die orige twee, waarmee hulle later moet deurroei skuit toe, lê agter die sinkhuis.
Hulle wag vir die donkerte. Hulle sal hier om die vuur sit tot hy doodgaan en by die koue as wag dat die maan ondergaan, en hul mense sal een vir een afkom ná twaalf.
Dis so afgespreek, dis Vrydag reeds uitgepraat. As daar nie aas kom nie, sal twee van hulle deurroei eiland toe in die donker en ’n paar voëls in die hande probeer kry – Dampies, wat die eiland ken, en hy, wat knaphandig met ’n kierie kan gooi.
Hulle kan met die voëlvleis vir ’n krefie traai, en as hulle eers ’n kreefstertjie het, vir hotnotsvis, dan het hulle ’n begin.
Hy hurk teen die vuur en eet van die brood wat sy ma vir hom ingepak het. Daar is ook ’n bottel melk waarvan hy drink.
Die donkerte kom geleidelik oor die see aan. Die voëls het tot rus gekom. Dis stil op die eiland.
Dis te betwyfel of ’n kreef aan ’n swartvoël gaan vat, sit en mymer Dampies. Hy sal eerder aan pikkewyn byt. Maar die pikkewyne sit dieper op die eiland, meer na die agterkant toe, en hulle kan so ’n bek opsit. “Ons kan nie bekostig om gevang te word nie.”
Hulle moet versigtig wees. Die eiland is staatseiendom en dis tronksake.
Dampies het een jaar help ghwano raap. Rob geslaan ook. Dit klink wreedaardig as hy vertel hoe die robkalfies se koppe pap geslaan word en van die gebulk – maar ’n mens moet lewe.
Om middernag trek Dampies die rieme dat daar skaars ’n rimpeling op die water wys. Terwyl die res van die bemanning op die skuit wag, beweeg hulle in die rigting van die punt waar daar ’n opklimplek vir die eilandwerkers aangebring is. Daar maak hulle die bakkie vas.
Dampies stap voor met sy kort snoekkierietjie. Trap versigtig, waarsku hy, daar is ’n moeserigheid aan die trappies. Die voëls