Die ding in die riete. Jean Lombard
“Kyk, dié slang – dis nou die een met die lig of vuursteen voor sy kop – hy is mos vreeslik agter die vroumense aan,” sit en vertel oom Klaas Willemse in sy riethuisie op Onseepkans. Hy sit met sy bene oorkruis op ’n ou staalraamstoel, die boonste been se waai op die ander een se kniekop. Met sy voet karring-karring hy die stilwarm lug ’n bietjie om. Links van ons, in die kookskerm, werskaf tant Mieta, sy vrou. Met ’n geblomde lapkappie laag oor die oë getrek, is sy besig om ’n vuurtjie onder die swart ketel aan die gang te kry.
“Hier by Kambreek, daar bly mos ene wat so vreeslik stout is,” vertel oom Klaas en skop-skop weer met die voet. “Daar loop die voetpad so al oppie wal langs. Dan, as die meisies daarlangs loop, loop raak hy mos skoon speuls. Dan ruk hy hulle daar af, mos hier by hom in die waters in.
“As jy daar wil loop, dan moet jy eintlik, dan moet jy eintlik ’n soort medisyne daarvoor hê … Ek weet nou nie of dit boegoe is of waffer medisyne nie. Seker rivierboegoe.
“Nou hierdie goetertjies, hierdie swartetjies,” hy wys na die swart vlekkies op sy arms, “ek het mos ook vir hulle … As ’n vroumens vir hulle het, da’ raak hy malverlief op haar. Ja, dan kom hy, dan trek hy daai vrou af … af in die waters in.
“As jy by Kamberg kom en julle woel daar rond, en julle swem en duik en werskaf, dan steek hy jou voor die kop en suig hy jou bloed uit. Dan steek hy jou net hier voor die kop.” Hy wys met sy vinger na ’n roesbruin kolletjie presies tussen sy oë. “Dan maak hy jou tot niet. Kyk, hy wil jou mos nou vat vir ’n vrou vir hom.
“Hy bly ónner die klippe. Die slang. In die binnekant van die rivier. Hulle sê sy huis is droog, daar onner die water. Sy huis is soos ’n glaskamer – ’n glaskamer onner die water. En dan hou hy die vroumense met hulle se moesies dáár.
“En as jy jou vrou weer wil t’rughê, dan is daar net één raad, dan is daar net één ding wat jy kan doen: jy moet ’n wit bok gaan soek. ’n Spierwit ooibok. Dan moet jy daai bok vir hom gaan los, in ruil vir jou vrou. As jy haar nog wil hê. Daar, op ’n klip, in die rivier. Dan, as hy daarna voel, gee hy almiskie jou vrou vir jou t’rug.
“Partykeer wil jou eie vrou dan niks meer met jou te doen hê nie. Dit is so, ja. Sy het mos nou slim geloop raak daar onner die water. Ek en jy kan tog nie met haar gedoen kry wat die slang met haar gedoen het nie. Die slang gee haar ’n anner soort lekkerte.
“Kyk, duusman, ek weet nou nie hoe jou mense se dinge werk nie,” sluit oom Klaas sy vertelling af, sit al twee sy voete langs mekaar neer, leun vorentoe met sy handpalms op sy kniekoppe en kyk my vas in die oë. “Maar hierlangs kan ons mansmense maar gaan slaap as dit by daai soort lekkerte kom!”
7. Daai pers-blou !nibboetjie
“Hier is mos nog ’n slangetjie, hulle roep hom die !nibboe. Hy kom eintlik hierbo uit die Richtersveld uit.” Dit is weer oom Willem Waterboer van Pella aan die woord.
“Daar is enetjie wat een been het. Dan is daar een wat twee bene het. Dan is daar een wat drie bene het. En dan is daar enetjie wat vier bene het,” vertel hy. “Nou daai een met die vier beentjies, hy is ’n blou-persetjie. Hy’t nog sulke drie geel strepies oppie rug ôk.
“Hy’s omtrent hier van my handgewrig tot omtrent hier by my middelste vinger. So, met sy stertjie en al,” beduie oom Willem.
“Daai klein !nibboetjie slaan daai groot slang om. As jy met hom ingesny is, dan maak die groot slang jou niks. Hy kannie daar verby kom nie.
“Jy maak hom heel droog – die kop, die voete, die stert, die derms, als! Dan maal jy hom fyn. Dan sit jy mos nou jou kruie by, jy wat slim is. Dan kap jy die mense daarmee. Dan gee jy hulle kappe.
“Die groot slang kom nie daar verby nie.
“Oor die slang so erg gewees het oor my, net waar ek by die rivier kom, daar is hy. Toe het ek vir my ook nog boonop met daai pers-blou !nibboetjie gelaat inkap. Dat hy so ’n bietjie moet stadig, dat hy nie so vinnig moet wees met my saam nie.
“As ek daar by die rivier werk, op die seil onder die trekker, met my een voet in die water, dan kom hy uit die diep water, hier na die vlak watertjies toe. Dan kom staan hy so regop voor my, só.” Oom Willem lig sy gesonde arm regop in die lug langs hom, sy vingers gepunt en na sy mond gedraai. “Ja,” sê hy, “met ’n kop so groot soos ’n jong bok s’n.
“Dan kom staan hy hier. Dan bekyk hy my so. As hy nog sy kop kom opskud hier na my toe, dit lyk asof hy my wil soen, dan vat ek daar van die klei, van die riviermodder, dan sit ek dit op sy kop.
“As hy sy kop wegpluk, as hy die modder afskud, dan sê ek: ‘Loop, jou ou wetter, loop haal die water. Jy kan nie hier kom staan en soenerig raak nie!’
“Dan loop hy. Vanaand kan ek nie weer daar onder gaan lê nie. Vanaand kan ek maar my goed vat en bo-op die wal gaan lê. Want da’ het hy die water geloop haal.
“Môre vroeg, daai klippe, daai growwe klippe waarop ek met my kastrol kos gemaak het, hy kom vat hulle ammal. Ook daai houte wat daar langs die vuur gelê het, hy vat als wat hy kan kry!
“Da’ is die rivier kant en wal opgestoot. Ek het mos vir hom gesê hy moet die water loop haal!”
Die bostaande fragmente kom uit die reeks vertellings “Op die spoor van die waterslang” in Tussen kokerboom en kaiingklip (2006).
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.