BUYS. Willem Anker
Dink jy sy het met hom ook dinge gedoen? Hoe ver mag ’n Kaffermeidjie aangaan met ’n man as sy nog ongeskonde wil trou? Was sy stang in haar mond? Het sy hom toegelaat in haar agterent? Sy oogbank het gebloei. Het sy gesien wat gebeur het, die hou gehoor? Ek weet sy het gesien toe ek op hom afstap, wydsbeen oor hom gaan staan, hom optrek en hom teen die grond slaan. Die ander Kaffers het stilgestaan. Ek het die Kaffer laat los, gespoeg op hom en weer die kring binnegeloop. Ek is nie trots daarop nie, maar wat weet sy van beeste ruil en gesteelde beeste terugvat? Jy moet jouself laat geld in die eerste minute. Wat weet sy? Ek het iets vir Langa gesê en hom gestamp. Waar was sy toe? Het sy gesien en wat sien sy in die rooi kraletjie wat al woedender sirkels maak onder in die kommetjie?
Doch Abraham gaf aan Izak al wat hij had.
Kon die klimmeid sien hoe haar Kaffers terugbaklei, hoe die vuishoue val en die swepe klap en ’n assegaailem flits? Hoe ons Kristene ook verdomp houe vat en bloedlaat, tot iemand ’n geweer lig? Weet die skepseltjie hier aan tafel dit was óns beeste, Kristenbeeste, wat ons daar uit die kraal uitgejaag het? Wel, meeste van hulle. ’n Heel paar het bekend gelyk. Ieder geval, ek het weer met haar man gaan praat en toe lag die ou donder nie meer nie. Het hy, daar by my, vir haar ouer gelyk as daardie oggend in die kooi?
Maar aan de zonen der bijwijven, die Abraham had, gaf Abraham geschenken; en zond hen weg van zijn zoon Izak, terwijl hij nog leefde, oostwaarts naar het land van het Oosten.
Ek het gewys na haar. Sy het afgekyk. Ek sien weer hoe ek en twee Hottentotte na haar toe loop. Sy word al mooier soos ek nader kom. ’n Paar van haar man se jong manne loop agter ons aan, hande geklem om assegaaie. Een van die Kaffers hardloop vooruit en gaan staan tussen haar en my, ek die bose blonde reus. Die Hottentot links van my skiet die Kaffer in die bors en hy bly lê en sy bloed pomp uit hom weg. Vir ’n oomblik lyk dit of dit ’n slagting gaan wees. Een kryger gooi ’n assegaai, maar dit land tussen twee boere. ’n Hottentot vuur mis. ’n Kristen slaan ’n kryger met ’n sambok. Langa skree vir sy krygers om terug te staan.
Dit was nie net hulle wat bang was nie. Ons het nie doodslag loop soek nie, verdomp. Kon die meid sien, daar waar sy gestaan het, hoe hierdie groot Kristen se hande langs sy sye bewe?
Dit nu zijn de dagen der jaren des levens van Abraham, welke hij geleefd heeft, honderd vijf en zeventig jaren.
Die boere en hulle hanshottentotte het verward rondgekyk. Ek het weggespring, my hande nou vuiste, afgepyl op die naaste Kaffer tussen my en haar. Die skepsel was skaars man, seker so oud soos sy. Ek begin hom foeter. Hy is plat en hou sy kroeskop vas. Ek hou nie op nie. Iewers skree iemand iets en dan is daar hande wat my van hom probeer aftrek. Ek los die Kaffer en slaan na die Hottentotte wat my wil bedwing. Al drie van die goed. Het sy saamgelag? Ek het hulle hoor lag, die Kaffers wat skater vir die mal wit man wat sy eie Hottentotte te lyf gaan. Het sy toe weggekyk? Jy gaan ook wil wegkyk. Probeer gerus. Probeer jou kop draai wanneer ek orent kom met bloed om my mond. Probeer wegkyk wanneer die Hottentot regop struikel, sy hande voor sy gevreet wegtrek asof hulle vasgeplak is. Sy hét gesien. Kyk net hoe betrag sy my. Die stomme meid het alles gadegeslaan en niks verstaan nie. Ek is nie skaam nie. Vir wat? Sy weet niks. Die Hottentot wat opkyk met die wit been waar sy wang was.
En Abraham gaf den geest en stierf, in goeden ouderdom, oud en des levens zat, en hij werd tot zijn volken verzameld.
Ek het my hande aan my broek afgevee. Aangestap na haar toe. Sy het my aangekyk en nie geroer nie. Sy moenie hier kom slagoffer speel nie. Het sy nie, toe ek oor haar buk, daardie hand, die een wat nou so danig is met die donderse kraletjie, natgelek nie? En het sy nie my bebloede baard en lippe skoongevee met daardie einste handjie nie? Ja, meid, wat kyk jy? Jy weet jy het net daar in die stof, tussen jou Kaffers, met daardie sagte, stadige veeg oor my mond, jouself vir my gegee. Jy wou die vrou wees van die wildste onder die wildes. Jy was bang, maar jy kon daardie koedoeooi-ogies nie van my afhou nie. Nou kyk jy steeds. Maar jy kyk anders.
En Izak en Ismaël, zijn zonen, begroeven hem, in de spelonk van Machpela, in den akker van Efron, den zoon van Zohar, den Hethiet, welke tegenover Mamre is.
Maria stoot haar stoel terug en ek hou op met lees. Sy staan nie op nie. Nombini se kraletjie lê stil in die kom. Sy sit die bakkie neer op die tafel. Die Here alleen weet wat ’n vrou dink as sy so kyk. Onthou sy hoe ek haar op my perd getel het? Hoe haar ou man gespoeg het op die grond en niks verder gedoen het nie? Hoe haar mense haar aangegluur het? Hoe ons nog twee ander meide op die Hottentotte se perde gelaai het. Hoe die ander twee meer terugbaklei het en Van Tondere se gesig gekrap het? Hoe ons die beeste bymekaargejaag het? Hoe een van die jong Kaffers in ons pad gestaan het en met ons geweerkolwe en sambokke verniel is? Hoe ons weggery het en niemand ons agtervolg het nie? Ek is seker die meid onthou dit alles. Nou is ek spyt ek het haar oë toegehou toe ek terugkyk en sien hoe Langa se Kaffers toesak op die wanglose Hottentot wat van sy perd afgeval het en hom met klippe en assegaaie doodgooi.
In den akker, dien Abraham van de zonen Heths gekocht had …
Ek sien hoe Maria kyk vir my; ek verloor my plek.
Daardie nag het ek by haar gaan lê en haar myne gemaak. Ek het vir haar gesê my naam is Coenraad. Maar vir wat sal die meid nou daaraan dink? Daar is mos soveel waaroor sy hierdie Kristenman kan verwyt. Onthou sy hoe sag ek met haar was? O nee, as sy enigsins dink aan ons eerste saamlê, sal sy dink ek was soos ’n godverdomde snuiter toe ek aan haar vat, onseker en huiwerig sonder haar bevestiging. Dat sy my moes gerusstel en aanmoedig voor ek haar ordentlik kon beklim. Dat ek vreeslik trots gelyk het op elke hyg wat ek uit haar kon kry. Vir wat sal die meid dink dat dit vir my ook ’n lang dag was? Vir wat sal sy onthou hoe ek heelnag deur agter haar gelê het? Wil jy glo, die volgende oggend sê die meid vir my dat ek prewel en snik in my slaap. Net wat ’n man wil hoor op sy wittebrood. Moes haar net daar in die veld gelos het vir die wolwe. Mos juis daardie môre die ander twee meide die veld ingejaag met die sambokke. Maar my prinsessie het bly sit by my. Sy kon saam met hulle vort as sy wou. Vir wat sou ek haar stop, ek het mos ’n vrou. Maar sy het bly sit en nou sit sy hier en gluur my aan en wil nie die kraletjie uitlos nie. Ek gryp haar hand en sper dit oop en ruk die ding van haar palm af en druk dit in my mond en kou dit fyn en sluk. Sy bly sit. Ek soek my plek in die vers:
Daar is Abraham begraven, en Sara, zijn huisvrouw. Tot sover die Skriflesing vanaand.
Maria staan op, neem weer die porseleinbakkie uit Nombini se hand, hierdie keer meer beleefd, en sit dit op die stapel borde.
Gaan die hoer my help opwas of is ek nou julle albei se Hotnot?
Maria, moenie jaloers wees nie. Jy is my huisvrouw.
Ek wens ek was, Buys.
Jy is, dit beloof ek, lieve Sara. Het jy nie geluister wat ek lees nie?
Sy stap weg, sug, draai dan om:
Jaloers, Buys. Ek wens ek was jaloers.
Die weerlig slaan en buite skyn die wêreld. In die helder blik van die bliksem bly niks versteek nie en sien ons spul aan tafel mekaar soos ons is en die oppervlak van elkeen se aangesig word vir ’n oomblik verlig en verraai geen diepte nie en is volkome onkenbaar en dan is dit weer donker en die skaduwees trek sagte gemaklike maskers oor ons gesigte.
Op hierdie nag stoom die huis vol asems van mens en dier. Dit is asof die lug self gladde en klam wande word. Die reën is verby maar die gedrup hou aan. Die huis is vol, selfs die vark moet buite slaap en die vark slaap nooit buite nie. Die huis voel leeg. Die huis voel groot en eindeloos bekend, eindeloos herhalend. Asof daar gange en sale is tot in ewigheid, asof elke druppel wat in die kom drup moet weergalm. Maar niks galm in hierdie huis nie.
Ek lê langs Nombini in die voorhuis en luister na die veraf donderweer en Maria se gesnork nog verder weg.
Die volgende oggend is die wolke weg en die lug deurskynend. Ek skel op die Hottentotte. Die jakkalse was onder die skape in. Ek neem vir Nombini na die volk se hutte en sê vir hulle hulle moet vir haar ’n hut bou soos die Kaffers hul hutte bou en sy sal tussen hulle bly en hulle sal na haar luister want sy is my vrou. Die Hottentotte praat onder mekaar en kyk na die jong vrou wat bly staan