Die skuilplek. Corrie ten Boom
skud hande, neem jasse, dra stoele aan, sodat ek nie iets hoef te doen of te sê nie. Mamma verbeter selfs haar koffiemaakrekord. Tannie Anna dra die koekies aan. Betsie praat met die jong meisie oor wintermodes. Pappa keer vir Karel in ’n hoek vas en peper hom met internasionale en persoonlike vrae. Wat dink hy van die nuus dat president Wilson Amerikaanse troepe na Frankryk stuur?
Op ’n manier sleep die halfuur tog verby. Wonder bo wonder kry ek dit reg om die meisie se hand te skud, om Karel se hand te skud en hulle ’n wonderlike toekoms toe te wens. Betsie sien hulle by deur af. Nog voordat die deur behoorlik agter hulle toe is, vlug ek met die trap op na my kamer toe. En die trane begin vloei.
Hoe lank ek op my bed gelê en huil het oor die enigste liefde van my lewe, weet ek nie. Later hoor ek Pappa se voetstappe met die trappe op kom. ’n Oomblik is ek weer ’n dogtertjie wat lê en wag dat hy my moet kom toemaak. Maar die seerkry wat ek nou ervaar, kan geen kombers van my af weghou nie. Skielik is ek bang oor wat Pappa vir my gaan sê. So bang hy sal sê: “Een van die dae sal daar weer iemand wees.” So bang dat die onwaarheid tussen ons sal bly lê. Want iewers diep, diep binne-in my weet ek reeds daar sal nie iemand anders wees nie, nie een van die dae nie, nooit nie.
Die soet sigaarreuk kom saam met Pappa by my kamer in. Natuurlik sê hy nie vals of vroom woorde nie.
“Corrie,” begin hy, “weet jy wat maak so seer? Dis liefde. Liefde is die sterkste krag in die wêreld. En wanneer dit nie beantwoord word nie, maak dit seer. Dit bring pyn. Daar is twee dinge wat ons kan doen wanneer dit gebeur. Ons kan die liefde doodmaak sodat dit nie meer seermaak nie, maar dan sterf daar natuurlik ook ’n deel van ons. Of ons kan vir God vra om ’n nuwe pad vir ons oop te maak waarlangs die liefde kan vloei, Corrie. God het vir Karel lief – selfs nog meer as jy. En as jy Hom vra, sal Hy vir jou sy liefde vir hierdie man gee. En dit is ’n liefde wat deur niks gekeer of vernietig kan word nie. Wanneer ons nie kan liefhê op ons menslike manier nie, Corrie, kan God vir ons sy volmaakte liefde gee.”
Terwyl ek luister hoe Pappa se voetstappe op die wenteltrap wegsterf, besef ek nie dat hy vir my meer as die sleutel tot hierdie bitter oomblik gegee het nie. Ek weet nie dat hy in my hande die geheim geplaas het wat veel donkerder kamers as hierdie oomblik sou oopsluit nie – plekke waar daar op menslike vlak niks, absoluut niks is om lief te hê nie.
Ek is nog maar in die kleuterskool wat die liefde betref. My taak nou is om my gevoel vir Karel te laat gaan sonder om die vreugde en die wonder wat daarmee saamgegroei het, te verloor. Terwyl ek op my bed lê, fluister ek ’n groot gebed.
“Here, ek gee aan U wat ek vir Karel voel, al my gedagtes oor ons toekoms. U weet. U weet alles. Gee vir my u manier om vir Karel te sien. Help my om hom lief te hê soos U hom liefhet. Ja, so baie.”
Terwyl ek nog bid, raak ek aan die slaap.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.