Die soete dwaling. Helene de Kock
om alles ru oop te vlek nie. Dis eintlik ’n lelike ding as die man die afsêwerk doen, maar nou is daar geen ander genade nie!
Voor hul huis het hy stilgehou en verwag dat sy sonder meer sou uitspring en die deur toeklap. Sy het nie. Sy het bly sit, voor haar uitgekyk sodat hy geen keuse gehad het nie en dieselfde gedoen het.
“Dai . . .?”
“Ja?”
“Sal jy . . . sal jy soms aan my dink?”
Hy het sy tande opmekaar geklem. Hoe kan Martine en sy ma tog nie hul eie wense parallel weef met ’n ander se wrange versugtinge nie! Dis nie dat hulle reg in sy pad staan nie – hulle hardloop saam met hom. As hy swenk, swenk hulle ook. Sy wéét dat hy wil wegkom van haar, en nou dring sy aan op ’n plek in sy gedagtes. En sorg dat sy só by hom bly . . .
Sy het haar gesig na hom gekeer, en in die lig van die straatlamp kon hy sien dat haar wange blinknat is. Toe het hy geweet waarom sy ma en hierdie meisie mekaar so goed vind – hulle is van dieselfde stoffasie. Hulle gee nooit op nie. Hulle wil-en-sal voortdurend. Tog het haar hartseer hom week, amper skuldig, laat voel. Hy het haar gesig versigtig in sy hande geneem, maar sy het haar met groot dringendheid teen hom aangedruk en sodoende alle bekoring uit haar nabyheid gewis. Hy het haar ferm aan die skouers gevat, op die voorkop gesoen en die deur agter haar oopgemaak, haar sag uitgehelp. Op die mooi gesig by hom kon hy die ingehoue woede sien, maar sy het net sag gesê:
“Nag, Dai . . . En tot siens!”
Dit het hom amper meer ontstel as haar aanvanklike verset. Dié skielike inskiklikheid was gemotiveerd, dit kon hy voel . . .
Dai kom tot homself toe die vliegtuig se wiele met ’n effense stampie die aanloopbaan raak. Die ou tantetjie langs hom leun gretig oor om haar eerste glimps van dié Engeland te kry, waar haar dogter nou woon. Haar ou rimpelgesiggie val en sy draai na Dai.
“Lyk dit dan altyd so trietsig hier?” wil sy weet.
“Nee wat, tannie, moenie jou blind staar teen die wolkies nie. Die gras is hier feitlik altyd groen. En die somer is sommer om die draai . . .” Hy maak sy gordel los en help haar ook. Sy is ’n tannie Van Zyl van die Vrystaat. Dai besluit terstond om hom oor die verlore ou mensie te ontferm. Hy help haar deur die doeane en kry lag vir haar doodverskrikte uitdrukking.
“Ek was die bangste dat hulle dalk my medisyne sal vat,” beken sy bewerig aan Dai. Met die verwarrende mensemassa om haar het sy egter vrede. Spoedig weet Dai dat sy aan haar rug ly en baie las van pyn het, en o, wat gaan sy doen as sy in die ses maande van haar kuier ’n dokter nodig kry? Dai stel haar dadelik gerus, gee haar die adres van Charles-Henry se spreekkamer, en sê sy moenie huiwer om hom te kom sien nie. Dit maak die ou tantetjie se dag, en Dai kyk met iets soos deernis hoe haar dogter haar in haar arms toevou. Dan kry hy sy eie bagasie en gaan sit in die ruim ontvangslokaal, waar Charles-Henry beloof het om hom te kom ontmoet.
Hy sit skaars of iemand sê sy naam.
“Dokter Deetlefs . . .?”
Hy swaai om op die draaistoel. Sy staan skuins agter hom. ’n Lang meisie met pikswart hare wat sy van haar hoë voorkop af terugkam en in ’n groot chignon in haar nek saamvat. Sy is in ’n heldergeel tweestukpakkie gekleed, met ’n geelbont syserpie om haar nek. Oor haar skouers hang ’n deftige donkerblou leerjas. ’n Huiwerige glimlag raak aan haar vol mond toe sy merk dat hy haar herken.
“Sylvia . . .!” roep hy verras uit en kom na haar toe. Dis sý wat saam met Charles-Henry by Hugo en Sanet gaan kuier het om Dai se hospitaaladres by hulle te kry. Hugo wou juis in sy brief weet of Dai haar nog onthou.
“Hallo, dokter . . .” Haar stem is laag en rond soos hy dit onthou.
“Hoekom so formeel?” vra hy toe hy haar met die hand groet, en sy glimlag haar stadige glimlag, wat eerste in haar donker oë begin. Hy het vergeet dat Sylvia só lyk, ontdek hy met verbasing. Miskien omdat sy nie werklik mooi is nie. Tog wek sy die indruk dat sy pragtig is. Miskien het dit iets daarmee te doen dat ’n mens feitlik dadelik ’n tweede keer na haar kyk. Dai besef met ’n ligte skokkie dat haar oë nie donker is nie; hulle is ’n diep pers. Sy het regte viooltjie-oë, en haar sensitiewe mond het ’n kuiltjie in die linkerhoek.
“Wel, dokter,” antwoord sy sy vraag, “jy is nie meer ’n student nie en ek is nou jou ontvangsdame, klinieksuster, teemaakster . . .” en sy maak ’n sprekende gebaartjie met haar hand om aan te dui hóé ’n pos van vele kleure sy nou het.
“O, dus is jy Charles-Henry se vonds?” vis hy. Hy kan byna nie glo dat die knap suster Sylvia Saunders haar hospitaalpos sou verruil vir die een wat sy nou beklee nie. Sy het heelwat aansien as operasiesuster in Guy’s Hospital gehad; selfs besoekende chirurge het van haar geweet, en Dai is opreg verbaas dat sy daar weg is. Tensy daar natuurlik ’n geweldige verskil in salaris is. En dit verklaar mos alles, dink hy gemeen, maar hy vra niks verder nie.
“Ja,” sê sy net en tel haar handsak van die stoel af op. “Dokter Mounthallow kon ongelukkig nie self kom om jou te ontmoet nie. Hy is in die operasiesaal. Een van sy pasiënte, wat maar voor verlede week ontslaan is, was in ’n motorfietsongeluk. ’n Bekkenfraktuur en drie gekraakte ribbes . . .”
“Ek begryp. Is jy met jou motor hier?”
“Nee, dokter Mounthallow het gesê ek moet die BMW neem. Hy is met die Mini weg kliniek toe. Jy kan sommer saam met my kom. Ek het met iemand gereël om jou bagasie na die motor te neem.”
“Nog altyd so bekwaam!” kan hy nie help om ’n bietjie te spot nie.
Sy glimlag. “’n Vereiste in my werk, nie waar nie!”
“En wat ék vooropstel,” antwoord hy, en is onmiddellik spyt toe sy liggies verkleur en niks sê nie. Hy kan die onheilige begeerte om met haar skoor te soek, nie verklaar nie.
Hulle stap in stilte na die motor en hy bied aan om te bestuur. Sy oorhandig die motorsleutels sonder ’n woord en hy hou vir haar die deur oop.
Op pad stad toe is sy stil, maar dis nie ’n stilte wat hom hinder nie. Hy voel by haar byna soos by Rieta, dink hy. Rustig, maar ingestel om te kommunikeer, met of sonder woorde. Met klein berou dink hy daaraan dat hy nie ’n enkele maal kan onthou dat hy en Martine werklik gedagtes gewissel het nie. Daar was net gedurige skermutselinge met woorde, wat daarop gemik was om reaksie by hóm uit te lok. As hy maar eerder Martine se doelgerigtheid in haar verhouding met hom gesnap het!
Hy steel ’n blik na die meisie langs hom. Met haar gesig weggedraai, sit sy en kyk na die verbysnellende landskap, en hy kry ’n glimps van ’n slanke wit hals en ’n fyn neus. En die donker bolla in haar nek . . . so ’n kalm kapsel. Hy onthou nou dat hy haar ook een aand tydens sy studiejare na ’n hospitaaldans geneem het. Sy het haar hare toe net so gedra, en hy het ’n aanmerking daaroor gemaak.
“Ek hou daarvan,” het hy gesê, dit lig aangeraak. “Geen fieterjasies nie.”
Sy het niks gesê nie, net met stil oë na hom gekyk sodat hy gewonder het wat sy dink.
“Jy het mos geen fieterjasies nie, nè?” het hy die oomblik lig probeer hou, en gelag.
“Nee,” het sy sag gesê, en omgedraai.
Hy het haar net af en toe uitgeneem, want hy was versigtig om nie te gebonde te raak in daardie jare nie. En by Sylvia was hy op sy gemak; sy was afsydig, soms selfs koud. Min het hy geweet hoe gebonde hy wel was, want Martine en sy ma het fyn-fyn drade om hom gespin, eintlik so lossies dat hy maar onlangs eers van die krag daarvan bewus geraak het . . .
Hy sug, en onwillekeurig trap hy die petrolpedaal dieper in. Die BMW skiet vorentoe. Hy voel die krag van die motor onder hom en hy sien hoe die lentesonnetjie ’n paar wolkies opsy stoot en ’n blink streep op die nat teerpad laat. En hy voel hoe dit los word binne-in hom, hoe die beklemming van die afgelope weke wyk. Ek is ’n vry man! dink hy in roekelose opgewondenheid. En die twee jaar wat voorlê, gaan heerlik wees! Genadiglik is sy ontvangsdame iemand soos Sylvia – kalm en altyd bedaard, betroubaar en bekwaam. En bo alles ’n meisie wat nooit haar vangnet na ’n