Die vierde stem. François Bloemhof
die huislikheid is úit.
“Ek kan dit nie meer vat nie. As ek nie goed genoeg is vir jou nie . . .”
“Dis nie dit nie.”
“Nou wat ís dit dan!” Sy wag nie vir ’n antwoord nie. “Laas keer het jy gesê jy sal nie weer nie. Toe ek vir jou gesê het dalk moet ons maar ’n, watseding, oop verhouding hê. Jy wóú nie. En ek weet hoekom jy nie wou nie. Jy sal nie daarvan hou as ék iemand anders sien nie. Maar jy kan doen wat jý wil!”
“Ek het dit regtig bedoel. Dis net . . .”
“Dis net dat jy nie getrou kan wees nie. Jy is nie die tipe nie, dis al. As jy vir my gesê het . . . Die Here weet, ek is nie so konserwatief nie. Maar jy behandel my soos ’n moroon. Soos ’n absolute moroon wat . . .”
“Ek wou nie. Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie.” Hy praat vinniger, want sy mag nie nou huil nie. “Dis net, ek weet nie . . .” Die aanmekaarlasser van woorde haak vas. Wat wou hy tog sê? Dat hy dit nie weer sal doen nie? Soos sy hom herinner het, hét hy dit al gesê, en toe doen hy dit weer. Hy het geen krediete by haar oor nie, net skuld van toe sy hom by vorige geleenthede uitgevang het, eers per ongeluk (daardie slag het sy die huis verlaat) en die ander twee maal danksy speurwerk (waarna hulle elke keer ’n ruk van bed en tafel geskei was).
“Dis vir my die ergste – dat jy my nie deel maak van jou lewe nie.”
“Hoe kan jy só sê?”
“Jy sluit my uit. Ek verstáán. Dis moeilik, maar ek verstaan. Op ’n manier. Jy ís so. Jy het verskillende mense nodig. Ook verskillende sóórte mense. Een mens kan nie vir jou genoeg wees nie, so ek weet dis nie ék nie, dis nie ’n fout in mý nie.”
“Jy’s reg. Dit is nie.” Amper dink hy sy wil weer ’n oop verhouding voorstel, of dat hulle dalk threesomes moet hê, maar dit kan nie wees nie. Hy wens sy wil opstaan en nie bly sit soos ’n regter in die hof nie. Hy wens sy wil op hom begin skree, sodat hy ook kan ontlaai. Hy deure kan toeklap. Padgee.
“Ek wil nie jou oppasser wees nie,” verklaar sy. “Jy vertrou my nie met hoe jy voel nie. Na al die jare kan jy nie jou gevoelens, nee, jousélf met my deel nie. En ek vertrou jou nie meer nie, nie met my hart nie. Verdomp, dit klink so melodramaties! Dit klink beslis nie soos iets wat jý sou skryf nie. Nee, moenie my onderbreek nie. Nou luister jy net. Wat jy hier vir my bied, is nie genoeg nie. Ek het nou hard hieroor gedink. Dis nie wat ek in gedagte gehad het toe ek met jou getrou het nie. Die Vader weet wat het jý gedink. Ek het nie gedink ek sal eendag my man moet dophou soos ’n mens ’n gewoontemisdadiger dophou nie. Dat jy op die internet was . . . Dink jy ek wéét nie waarvoor mense dit gebruik nie? En as jy dit so, ek weet nie wat ek dit moet noem nie, as jy dit so gretig besoek en dan skielik sê jy gaan uit, kan jy dink hoe dit vir my is om te wonder of ek jou moet volg? Hoe ek voel? Vorige kere toe ek gewonder het, het ek nié. Ek het maar hier gebly en wonder of jy iewers is en . . . Vandag . . . Here, sy is nie eens . . . Ek het gedink sy gaan verskriklik mooi wees. Dan sou ek nog kon verstaan. Verdomp, hoekom moes jy haar by óns restaurant kry!”
Sy staan op en verlaat die sitkamer. Hy wil haar volg, maar steek in die deur vas. Hy gaan maar na sy studeerkamer en loop sit voor die rekenaar: sy plek van skepping en van sonde.
Hy skuif sy stoel terug. Hy gaan nie nou geskryf kry nie. Die helderte wat hy gehad het, is verdring deur die wete dat hy weer alles opgefok het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.