Skemerspel. Helene de Kock
tion>
Skemerspel
Helene de Kock
Human & Rousseau
1
Strepies sonlig spat weg uit die poeletjies water voor sy fietswiele. Die dae lange herfsreën het opgehou en die son kry ’n kansie. Maar ook net dit. Die lig is skraal en gelerig, sonder veel warmte. Miskien omdat die skadu’s alreeds lank en puntig van eik tot eik oor die lanings strek.
Hy ry luilekker deur die nat strate, so asof hy nie juis iewers heen op pad is nie. Dit is lekker noudat die studente weg is vir die April-vakansie en die dorp weer aan die mense behoort. En mense het storm en drang al ontgroei, dink hy met ’n bietjie hovaardige humor toe hy links afdraai in ’n nou straat waar die eike bokant koepel maak. ’n Jaar of twee gelede sou die plek nou vir hom skoon dood gelyk het. Maar nou is dit vredig. Hy sien uit na ’n stil aandjie saam met Christine, ’n woordjie of twee met haar ou vader, en selfs die onvermydelike skermutseling met haar tienerbroer.
Eben hou stil, klim van sy fiets af en maak dit met ’n ketting om die dik eik reg voor die gerestoureerde huisie vas.
“As jy maar kon weet hoe anachronisties lyk jy op daardie help-my-trappie van jou.”
Eben kyk op en die ou gloed skiet in sy gesig op. Fransie, natuurlik. Ewiglik Fransie. En van anachronismes het hy sweerlik eers vandag in die klas geleer.
Die seun sit langlyf op die stoepbankie, sy arms agter sy kop gekruis, en hy bekyk Eben soos gewoonlik met daardie blou blik van hom, geïntensiveer deur die dik brillense. En waar Christine se blou oë Eben instem op allerlei wonderlikhede, maak Fransie se blou gestaar hom bloot kwaad.
“Ek is eerder ’n anachronisme voordat ek cool is op ’n motorfiets, en dalk môre ’n stuk geskiedenis, ou maat.”
Fransie kom orent, skielik self vies. Dit spreek uit sy uitgestote onderlip. En Eben is dadelik spyt. Kon hy nou nie maar sy mond gehou het nie? Almal sluk mos maar enigiets van Fransie. Sedert sy geboorte al sluk almal ewe gedwee, so skyn dit. Maar die kind se volgende woorde skok hom.
“Jy dink verniet jy’s die baas van die plaas, ou Eben. Jy moet seker maak of dit oor jóú is wat Christine die bibberasie kry, of oor Nick du Bois.” Hy grinnik effens. “Hy was vanmiddag weer hier, en jy moet daaraan dink dat hy ’n wynplaas het. Een van daai plekke wat mens ’n landgoed noem.” Fransie hys hom van die bankie af op en slenter hand in die broeksak die huis binne sonder om weer om te kyk na waar Eben tandeknersend sy emosies onder beheer probeer kry.
As dit my ooit gegun word, dink Eben, en trek sy asem suiend in, om ’n hand in hierdie huis te hê, sal ek ’n hele gesagsverskuiwing teweegbring. Dis nou te sê as daar ooit van gesag hier sprake is . . .
Uit hierdie gedagte vloei daar skielik ’n hele paar los gedagtetjies, en hulle vang sy aandag soos ’n poeletjie water wat eensklaps voortjies straataf maak.
Gesag . . . Daar was nooit gesag nie, dis waar. Christine het vertel dat dominee Delange laat getrou het. Nog later is sy gebore, ’n dogtertjie om twee alleenlopers se lewe vol te maak. Heeltemal vol. Hulle wou nie meer kinders gehad het nie. Maar toe het Fransie gekom. ’n Laat laatlam. Dit was ’n bitter geboorte. Net die kermende baba het bly leef, klein en koliekerig. Christine was toe net nege. Volgens haar het haar pa hom maande en maande in sy studeerkamer toegesluit. Die deur het wel weer oopgegaan, maar die man, toe al in sy vyftigerjare, het tóégebly. Kort daarna het hy afgetree en hier kom woon, en geskryf aan preekbundels en kort teologiese publikasies wat oral goed ontvang is. Die huishouding is waargeneem deur ’n bruin vrou, Abeedah, ’n ware juweel wat nou nog by hulle is. Christine is vir haar baie lief, weet Eben, en selfs Fransie luister af en toe na haar oorredende fluweelstem. Want sy het hom grootgemaak. Sy en Christine.
Eben sug diep, kom agter dat sy hande in vuiste in sy reënjas se sakke gedruk is, en wil homself om te ontspan. Die klein blikskottel het sweerlik lankal vergeet dat hy hom die joos in gemaak het, en hier staan hy wat ’n grootmens is hom en verknies daaroor. Dit moet end kry. Dit sal nooit deug dat hy sy aanstaande swaertjie so vrye teuels gee om hom om te krap nie. Want een ding staan soos ’n paal bo water: as hy Christine gelukkig wil maak, sal die ding tussen hom en Fransie moet regkom.
“Eben . . .?”
Dis Christine. Sy staan in die voordeur en kyk na hom. Haar gitswart hare hang los op haar skouers. Dis heeltemal steil en pas soos ’n helm om haar mooi gevormde kop, steek af teen die melkwit van haar vel. Sy het ’n liggeel rok aan en in die gefiltreerde laatlig lyk sy sag en broos en baie vroulik. Eben voel die ou hartstog in hom opkom. Sy is werklik so mooi. Méér as mooi . . . Hy glimlag toe hy opkyk na haar, en herinneringe van hom en haar flits deur sy kop. Dié vermoë het sy ook, dink hy byna oorstelp, om mooi herinneringe te wek . . .
Die eerste maal toe hy haar druipnat gereën op ’n fiets in Dorpstraat sien verbyry het, het sy ’n wilde klopping na sy hart gebring, en ’n soet, toe onbekende verlange.
“Wie is sy?” het hy dadelik gevra.
En ou Lieb het hom geantwoord soos hy geweet het hy sou. Want Lieb was ’n onskadelike kampuswolf wat saam met hom klas geloop het. Lieb was baie bek en baie bang. En baie definitief omtrent die swarthaarnooi.
“Sy’s my hartsbegeerte,” het hy gesug. “Maar haar pa is ’n kwaai predikant en haar kleinboet het my begeerte by die eerste ontmoeting geblus.”
“Hoe so?” het Eben laggend gevra, en naarstiglik in die reënvaal straataf getuur in die hoop om nog ’n laaste glimp van haar rooi reënjas te kry.
“Hy het ’n padda in my jassak geprop en my pront gevra wat ek daar soek, aangesien sy pa nie japsnoetstudentjies by sy suster duld nie – en buitendien gaan sy glo met ’n professor uit.”
Eben het geproes van die lag, want Lieb se paddafobie was sedert hul ontgroeningstyd wyd bekend. Hy had ’n spesmaas dat dit meer die padda as die professor was wat Lieb toe daar by die dominee se dogter verskrik het.
Dit was uiteindelik tog Lieb wat hom teësinnig aan Christine voorgestel het. Op Eben se aandrang het hulle dae lank by ’n straatkafee omgesit en die helfte van hul bates aan koffie uitgedrink in die hoop dat sy haar verskyning sou maak. Sy het ook. Haastig en duidelik nie lus vir ’n geselsie nie.
Haar hare was in ’n parmantige perdestertjie hoog agter op haar kop en die swart stringe het geswiep soos sy haar kop beweeg. Haar oë was groot en blou op hom en Lieb gerig en sy het geamuseerd gelyk. Lieb het paslik begin hum en ha en toe maar erken: “Ons sit al jarre der jarre hier en natreën in die hoop om jou te sien verbyry. As een van ons twee ’n reënjas gehad het wat mooi genoeg was, sou ons dit voor jou fietswiele oopgegooi het sodat jy daaroor kon ry.”
Sy het Lieb fyn beskou, maar dit was op Eben se gloeiende gesig onder die donker kuif dat haar oë bly talm het. Sy het effentjies geglimlag en met ’n kopgebaartjie na die glimmende straat gewys.
“Julle sal meer as twee reënjasse nodig hê om my droog by die huis te kry. ’n Hopelose onderneming, sou ek sê.”
Lieb het gepynig gelyk. “Hoe hopeloos?” het hy bedees gevra. Eben het bly staan met sy mond vol tande.
Sy het uitgebars van die lag. ’n Lekker gladde geluidjie vol warmte. “Ag, nou ja, wat . . . Kom drink julle nou maar by ons koffie.”
Lieb het koppig bly staan. “Wat van die pa . . . en . . . die professor?” het hy gevra.
Sy het ’n oomblik lank uit die veld geslaan gelyk, maar Eben het sy tong gevind.
“Die professor wat volgens jou boetie by jou kuier,” het hy luiters gesê, sy grys oë stip op haar gesig.
Sy het haar ken ’n entjie gelig om terug te kyk. Sy is klein, het hy vlugtig gedink. Haar skouers kom net-net hier by my hart. Haar oë was wyd oop, asof sy onkant gevang is en verbaas was daaroor. En hy het geweet: van hierdie mooi meisie gaan ek hou. Sy het meer as net haar swart hare en wit-wit vel. Sy het kleur. Dit brand in haar helder oë en blom in haar lag.
“Hoe gaan dit met jou boetie se paddaversameling?” het hy gevra en vinnig vir haar geknipoog.
’n