Tiendes van silwer. Helene de Kock
is onoortreflik.”
Dwarsdeur die aand in die elegante plek met die egte Poulbot-sketse teen die mure en die geur van eg tradisionele disse, bly Pietman aan die woorde dink. Hy kyk met ’n nuwe oog na oom François, sien opeens die diep kepe langs sy mond.
“Vertel my van oom se studentejare,” sê hy en steur hom nie daaraan dat tante Yvonne en Surita gelyktydig hul oë rol en sug nie. En dis inderdaad ’n swaar verhaal. François Druet moes veg om houvas te kry op elke rang van die leer na sukses. Geld was skaars. Geleenthede nog minder. Maar eindelik het hy ’n voet in die deur gekry by ’n argitekfirma en van heel onder af begin.
“Mais non, François! Hoe vervelig tog!” sê tante Yvonne naderhand, maar sy kry net ’n speelse tikkie op die hand van haar lankmoedige eggenoot.
“Ma chérie, dis net omdat jy dit nie geken het nie. Jou familie het nog altyd geld gehad. Julle sal nie weet wat om te doen as dit van julle af weggeneem word nie.”
Dis genoeg om die vrou stil te maak, sien Pietman. Die blote idee is vir haar so vreemd soos ’n laserskyf vir ’n walvis. Niks kliek in haar brein sonder geld nie, dis seker. En dis presies wat Keppie sou gesê het, dink hy, en glimlag innerlik toe die kelner hul bakkies met veerligte vrugtesorbet voor hulle neersit.
“Hoekom lag jy?” vra Surita half geamuseerd, maar toe hy blitsig iets bedink om te verduidelik, verslap haar mooi gesig eensklaps in stomme verbasing. Sy sit oopmond en staar na ’n hoek agterin die restaurant.
“Wat’s dit?” vra Pietman en kyk om. Maar hy sien net die kersverligte gesigte van gaste wat genotvol oor vol borde buig. “Niks,” antwoord Surita stadig, skud toe haar kop ongelowig. “Maar ek kon sweer ek sien vir Keppie.” En voordat hy van sy verstomming kan herstel, verduidelik sy haastig aan tante Yvonne: “Keppie is ’n . . . ’n vriend van Pietman. Eienaardige ou. Nie aan veel gewoond nie.”
“’n Arm student dus,” sê oom François gelykweg en sy vrou se wenkbroue wip in die lug. Dit gee Pietman kans om sy oombliklike ergernis weg te sluk. Surita is aan te véél gewoond! flits dit deur sy kop. By implikasie is dit seker ook wat monsieur François Druet netnou van sy skoonfamilie wou sê . . .
“Keppie is anders as ander mense,” sê Pietman nadruklik en ignoreer die trekkie om Surita se mond. “Hy het klas. Ten spyte van ’n agterstand in die lewe, is hy ongewoon sensitief, skerpsinnig en intellektueel. Daarby weet hy wanneer om stil te bly.”
“Hoe fassinerend,” antwoord tante Yvonne na ’n kort stiltetjie en toe Pietman vinnig opkyk om te sien of sy dalk sarkasties is, vind hy haar uitdrukking heel peinsend en na binne gekeer. Dis byna asof sy nog nooit van so iets gehoor het nie. Oom François sit weer met sy enigmatiese glimlaggie en knipoog fyntjies vir Pietman.
Surita stamp liggies aan hom en sê speels: “Soms vies ek my vir jou as jy so ’n ophef van ou Keppie maak, maar as jy hom so mooi analiseer, raak ek sommer geïnteresseerd.”
“Solank jy my net nie jaloers maak nie!” spot Pietman saam. Maar hy weet in sy diepste bodem dat sy net praatjies maak. Surita hou van pittigheid en poëtiese mooiklanke in ’n gesprek – nie van woorde wat skielik uit die hart kom of ’n in-diepte-konfrontasie nie. Konflik verwar haar. Daarom skeer sy heen oor onderwerpe waaroor hulle dit nie eens is nie.
Daar is net ’n paar sulke onderwerpe, soos sy vriendskap met Keppie, natuurlik, en ook sy onwilligheid om feitlik elke semesternaweek saam met haar na haar ouerhuis naby Brits te gaan. Hulle stry dikwels daaroor. Soms gaan hy maar saam na die paleisagtige huis op die lemoenplaas Goue Kring. Hy gaan jag selfs saam met haar pa en sy hooggeplaaste vriende en luister met geveinsde aandag na haar ma se boetiekpraatjies wat nooit, maar nooit dieper as die duur klere aan haar lyf gaan nie. Ander kere kry hy Surita weer sover om ’n naweek in te bly en die een of ander kampusaktiwiteit saam met hom te geniet.
Maar daar is tye dat dit broekskeur gaan om nie heftig aan ’t stry te gaan nie. Al rede, dink hy, waarom hy en Surita nog nie werklik vasgesit het nie, is dat hulle albei wil keer dat die bom bars. Dalk is dit goed so. Is dit dan nie wat twee mense in ’n verhouding moet probeer doen nie? Hier keer en daar keer sodat alles mooi glad kan verloop.
“’n Hele sak vol silwer vir jou gedagtes,” fluister Surita skielik by sy skouer en hy sien met verbasing dat hy sowaar al sy vrugtesorbet opgeëet het, die dessertlepel slap tussen sy vingers.
Hy lag verleë, dink vinnig en sê toe: “Wel, ek wonder sommer oor wat die nuwe jaar vir my gaan inhou, en . . . “
“Ag, dis maklik,” flikflooi sy en vee die hare langs sy slaap met haar vingertoppe plat. “Jy gaan soet swot en graad vang en baie, baie by my kuier! “
“C’est la vie,” haak oom François gelate af. “Laat ’n vrou jou maar voorsê, seun.”
Die woorde krap Pietman onmiddellik om sodat hy bitter bly is toe oom François opstaan en tante Yvonne aan die hand saam optrek. “Kom, dit word laat en ek moet môre werk.”
In die deur van La Pomponnette kyk Surita ’n slag oor haar skouer terug. “Ek kon sweer dit was Keppie,” sê sy.
Tuis in die Rue Saint Honoré kry Pietman en Surita kans om ’n uur of wat voor die gloeiende kaggel te sit en koffie drink. Die grootmense het gaan slaap en selfs Jeanne se skamper geskuifel is stil.
Tot Pietman se innige verligting, praat Surita oor niks wat enigsins kan opstootjies maak nie. Hulle sit op die dik mat teenaan die rusbank en sy nestel teen sy bors aan. Hy kyk af na die spel van vuurlig op haar gladde vel; die rosige gloed van haar hals bo die trui wat rond oor haar kurwes span. Sy asem stol in sy bors en hy draai haar met een haal om in sy arms; soen haar asof hy nooit weer hoef asem te skep nie. En hy is roekeloos bly toe sy haar aan hom oorgee. As ek so by haar is, dink hy vlietend, vergeet ek al die ander dingetjies wat soms soos droë grassaad oor my nerf skuur.
Haar mond is soet en warm en sy hart donder in sy ore toe sy met ’n fyn vlindergebaartjie haar trui se hals oor een skouer afstoot. Dis toe dat hy weet ’n man moet liewer asemhaal. Hy teug aan die lug van die verhitte vertrek en glimlag skewerig, vat haar hand opeens stewig vas sodat sy vraend opkyk.
“Wil . . . wil jy dan nie?” vra sy sag en hy sien die donker blos in haar nek opslaan.
Vertedering swiep deur hom. Sy is so weerloos, so geheel en al meisiemens. Hy sal versigtig moet wees. Sy dink emosie werk soos die vlam van ’n aansteker: Knik-knak. Aan en af.
Hy sug diep, maak sy oë toe en buk vinnig af, druk ’n skrams soen op haar roomwit skouer. Die vet weet, as sy oog nou daardie rondings vang, is dit verby met hom. En dis nie wat hy beoog nie. Nie nou al nie.
“Pietman?” Hy hoor die trane in haar stem.
“Ek wil,” sê hy en sug weer, sit terug en kyk haar vas aan. “Maar eers wanneer die tyd reg is.”
Toe trek hy haar aan albei skouers nader en soen haar weer. Soen haar totdat die twyfel en die effense gekrenktheid weg is. “Surita, ek is outyds. Of nee, eintlik is ek baie modern. Ek neem my eie besluite. Niemand sê my voor nie. Net die Woord. En ek wil nie egbreuk pleeg nie.”
“Maar . . . ons is nog nie eens getroud nie! Daar is geen sprake van egbreuk nie!”
“Daar is, ja,” sê hy ferm. “Ek wil juis nie by die huwelik inbreek nie!” Daar’s hy! Dis gesê. Hierdie ding wat nou al maande lank in ons nek blaas en ons albei verwar, het tot ’n punt gekom.
Hy sien hoe die óú kommerfronsie as diep dinge ter sprake is, tussen haar oë saamtrek. En hy gee haar kans om haar antwoord agtermekaar te kry. Miskien begin ek haar nou verstaan, dink hy en leun terug teen die bank, sy vingers agter sy kop ineengestrengel. Sy het tyd nodig om my soort sêgoed te verwerk. Later sal dit makliker gaan. Yster slyp mos yster – so staan dit geskryf.
Surita skud haar hare terug, trek skugter aan die rand van die trui sodat dit weer op haar skouer sit. Toe sê sy met stugge nadenke: “Jy is tóg lief vir my, nie waar nie?”
“Ek . . . voel ernstig oor jou,” antwoord hy effens stram. Dink: