Dokter met die X-faktor. Susan Pienaar
hy ’n dooie hou slaap.
Toe direkteur Arendse hom gister bel met die voorstel dat hy vandag begin werk en nié soos afgespreek eers Maandag nie, het hy stilgebly om eers daaroor na te dink. Sy ma en suster-hulle was juis so opgewonde oor die naweek se kuier, om van sy vlugvoosheid nie eers te praat nie. Dis toe dat dokter Van Niekerk skielik op die lyn was. “Dit sal goed wees as jy kan begin terwyl ek nog hier is, dan kan jy die teater deurkyk en kan ek jou aan die span voorstel,” het die dokter gesê ná hulle gegroet het en toe bygevoeg: “En as jy nie omgee nie, kan jy sommer ’n operasie of twee doen, dan assisteer ek.”
Dit was ’n goeie voorstel, want hy neem dokter Van Niekerk se spreekkamers in die hospitaal oor en aangesien die naweek voorlê, sal hy genoeg tyd hê om dinge daar na sy sin te skik. Hy moet ander blyplek soek, die hotel is net tydelik, maar dit sal eers moet wag.
“Dokter Erlank?” Die ontvangsdame kyk vraend na hom, en hy knik. “U kan maar deurgaan. Dokter Van Niekerk is ook daarbinne.”
Leandra is al ’n ruk besig in teater. Oukei, die toerusting werk honderd persent. Nou net die narkose- en ander medisinale middels in spuite optrek en duidelik merk sodat sy nie in ’n krisis die verkeerde ding staan en spuit nie. So ja, alles is gereed. Sy kyk na die muurhorlosie. Sy het genoeg tyd om badkamer toe te gaan en iets te drink, en sal nog voor dokter Van Niekerk terug wees.
Leandra kom die waskamer binne en herken dokter Van Niekerk dadelik aan sy effense geboë skouers onder die groen teaterdrag. Hoekom is hy vanoggend vroeër as gewoonlik? Langs hom staan ’n vreemdeling in teaterklere, ’n mus oor sy hare getrek, ook besig om te skrop. Nou wie sou hy wees? Haar oë gly oor die breë skouers, maar die teatermus verhoed dat sy die man se hare kan sien. Sy profiel en nek wil-wil vir haar bekend voorkom.
Dokter Van Niekerk kyk skuins oor sy skouer, sien haar en glimlag. “Goeiemôre, Leandra. Kom, jong, staan nader dat jy kan beginne skrop.”
“Môre, dokter.” Sy groet hom altyd formeel. Hy is baie ouer as sy, en sy het respek vir hom. Sy gaan val langs die vreemdeling in en stoot die kraan oop, maar haar oë glip na sy hande. Hy het groot kunstenaarshande en onder die skuim op sy sterk voorarms skyn swart haartjies deur.
Dokter Van Niekerk lag. “Leandra? Ek het vir julle ’n verrassing. Langs jou staan julle nuwe ortopediese chirurg, Dieter Erlank.”
Leandra se oë vlieg na die man se gesig en dadelik herken sy hom. Wie kan nou sulke heldergroen kykers vergeet? Sy oë vernou en raak ligter sodat sy pupille nog donkerder uitstaan. Nee wat, dit moet haar verbeelding wees, hy het geen rede om haar te meet nie. Leandra het intussen seep en ’n naelborsel gekry en begin skrop. Langs haar gaan Dieter Erlank in stilte voort.
Leandra kyk agter Dieter se rug verby na dokter Van Niekerk. “Dieter, dis nou Leandra Muller, die beste narkotiseur in die hospitaal. Almal baklei oor haar. Jy sal ver moet gaan soek om ’n meer bekwame narkotiseur te kry.” Dokter knik. “Maak julle twee nou maar kennis met mekaar.”
Leandra glimlag op na Dieter, sien hoe takserend hy na haar kyk. “Môre, dokter, aangename kennis,” knik sy, want uit die aard van die saak kan sy hom nie met die hand groet nie.
Hy kyk ongeërg weg met sy hande steeds onder die lopende water. “Môre, dokter Muller.” Hy het dit gewoonweg gesê, maar dat hy sowaar wegkyk terwyl hy met haar kennis maak? Asof sy maar net nog iemand is wat sy pad vir ’n oomblik kruis!
Dokter Van Niekerk hou sy hande in die lug op om hulle steriel te hou, druk die kraan met ’n elmboog toe en lag. “Mensig, maar julle is darem formeel? A nee a, Leandra, ek ken jou mos nie so nie. Komaan, dit sal nie deug nie.” Hy glimlag goedig vir Dieter. “Ons noem mekaar op die voorname, anders gaan ons nie weet wie praat met wie in teater nie. Kan julle dink hoe deurmekaar dit kan word as ons in ’n noodgeval moet ‘dokter’ hier en ‘dokter’ daar, en daar’s ’n hele spul dokters bymekaar?”
Leandra smyt die naelborsel neer en sien hoe Dieter die kraan ferm toestoot. Oe, sy háát dit, verpes dit wanneer sy onregverdig beskuldig word. Dis mos nie sý nie. Sy het so ewe vir die vent geglimlag. Hy het seker grootkop gekry, of wie weet, dalk is hy ’n vrouehater. Sy lig haar hande hoog op onder die lopende water en hou haar elmboë laag om die skuim af te spoel. Sy ignoreer Dieter Erlank, kyk verby hom en glimlag stram vir dokter Van Niekerk. “As dokter Erlank niks daarteen het –”
“Geen probleem nie, noem my gerus Dieter,” val hy haar kortaf in die rede. “En ek noem jou Leandra.”
Dokter Van Niekerk is skielik haastig. “Dis beter, julle. Nou maar kom, Leandra, ek sien jy’s amper klaar. Ek en Dieter gaan solank binnetoe. Ek moet hom nog aan die ander voorstel en die tyd loop aan.”
Leandra spoel haar hande deeglik, lig hulle op, maak die kraan toe en stoot een van die swaaideure met ’n heup oop. Emmie, die ongeskropte suster, gee vir haar ’n steriele handdoek aan, hou dan oopgemaakte, steriele handskoene na haar uit en toe sy gehandskoen is, druk sy hulle deur die oorjurk wat Emmie vir haar oophou. Leandra het intussen gehoor hoe gemaklik en gou Dieter Erlank met die ander lede van die span kennis maak. Hulle dra nou almal oorjurke, musse en chirurgiese maskers, maar sy kan hulle eien.
“Bring die pasiënt vir ons in,” sê dokter Van Niekerk en gaan staan langs Dieter by die ligkas om na die X-strale te kyk. Leandra hoor hoe dokter Van Niekerk vir Dieter sê: “Sestigjarige vrou … kniegewrigvervanging. Sy’t kwaai gewig verloor voor ek ingestem het om die operasie te doen.”
Dieter beduie met ’n vinger na ’n X-straalfoto. Leandra merk op hoe groot hy teen dokter Van Niekerk en sy kliniese assistent, dokter Izak du Preez, lyk. Onder daardie oorjurk is daar geen beduidenis van ’n maag nie. Sy weet. Sy het dit in die hysbak al opgemerk. “Artritis in die kniegewrig, degenerasie van die kraakbeen …” sê Dieter.
Die verpleegster het die pasiënt ingestoot, en sy word op die operasietafel getel. Dieter en dokter Van Niekerk kom staan langs die pasiënt, groet haar en Dieter stel hom voor as die chirurg wat vir dokter Van Niekerk gaan help opereer.
Daar is nou vir Leandra geen gedagte aan iets anders nie, haar pasiënt moet narkose kry en die vrou se veiligheid is al waaraan sy dink.
“Ai, kind, ek het nie ’n oog toegemaak nie, ek’s so bang vir die operasie,” praat mevrou Fourie sleeptong en met ’n droë mond. “Ek het gehoor dis gevaarlik en verskriklik seer. Jy onthou nog ek’s bang vir narkose, nè?”
Leandra glimlag vir haar. Die premedikasie wat sy haar vroeër ingejaag het, doen sy werk. Sy praat gerusstellend en sag, maar duidelik. “Mevrou moenie bekommerd wees nie. Dis ’n algemene operasie wat daagliks in dié hospitaal én elders in die wêreld gedoen word. Ek gaan baie mooi na u kyk, soos ek reeds vroeër beloof het.”
Die pasiënt het twee dae gelede haar bloeddrukpille gelos, toe spring haar lesing hemelhoog, maar vanoggend is dit darem honderd en dertig oor negentig. “En raai net, hier is vandag nou sommer twee hoogs gekwalifiseerde ortopediese chirurge wat gaan opereer.” Sy dep die bokant van die ouderdombevlekte hand met alkohol, kry die aar. “Net ’n seer stekie … A, sien, daar’s hy klaar in.” Dis al gewoonte by haar om rustig te verduidelik, dit kalmeer die pasiënte. “Die drup is net sodat ek al die middels hierin kan herlei. Dis mos darem beter as om elke keer ’n naald in mevrou se vel in te steek, of hoe?” Toe haar pasiënt droog sluk en knik, sit sy die oksimeter aan ’n duim vas. “Nou gaan ek mevrou aan die slaap maak en as u weer sien, maak ek u wakker.” Sy spuit die narkosemiddels in die druplyn en sit die suurstofmasker oor haar neus. “Mevrou moet vir my diep inasem. Dis vars berglug, lekker diep asemhaal, mevrou Fourie,” herhaal sy rustig tot haar pasiënt onder narkose is.
Leandra koppel die monitors en maak seker die lewensfunksies is reg voor sy na die twee chirurge kyk. “Sy slaap,” sê sy en koppel haar aan die ventilator. Sy het nou tyd vir rondkyk, maar monitor haar pasiënt se fisiologie natuurlik deurentyd.
Katleen en Suné, twee van die drie teatersusters in hulle span, het die pasiënt met steriele groen lakens bedek. Net haar knieë steek uit. Suné is besig om die tweede knie ook met Betadine te verf, maar sy kyk vinnig na Leandra, knipper haar bruin oë en glimlag