Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Lang pad na liefde - Amelia Strydom


Скачать книгу
naby die strand, lag en gesels mense. Hulle speel musiek, die lewe gaan aan. Sy haal diep, kalmerend asem en praat ernstig met haarself. Hierdie pity paartie het lank genoeg aangehou. Sy gaan haar nou aan haar stewelveters optrek en ’n glimlag op haar gesig plak. Dan gaan sy haar kind haal. Skyla is die beste ding wat nog met haar gebeur het en sy sal haar nie verruil vir al die smooth sailing in die wêreld nie.

      Alles gebeur met ’n rede. Rossouw het vandag met sy spieëlblink skoene in haar en Skyla se lewens teruggestap en dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sy kan daaroor sit en tjank, of sy kan dit hanteer. Hy is heel waarskynlik hier om te bly. ’n Mens kan van hom sê wat jy wil – hy beskerm wat syne is. En as sy dit nie mis het nie, beskou hy Skyla nou as syne. Die manier waarop hy aan die kind se hare gevat het toe sy verbyloop … Haar hart wil-wil te groot vir haar bors word. Sy gesig het presies soos hare gelyk op die foto’s wat Ma ná Skyla se geboorte geneem het. Verwonderd. Betower. Uitgeboul deur ’n oerinstink.

      Sy dwing haar voete tot voor Mollie se karavaan. Voor sy kan klop, maak Skyla die deur oop. “Ek wag en wag vir jou, Mamma.” Sy slaan haar armpies styf om Anouk se bene.

      “Ek weet, my liefie. ’Skuus dat Mamma so lank was. Ek en die oom … Ek en jou pappa moes gesels.”

      Skyla druk by haar verby om na hul karavaan te loer. “Is dit regtig my pappa? Het hy vir my kom kuier?”

      Skuldgevoel slaan haar soos ’n voorhamer tussen die oë. As sy kop gehou het, was dit nie nou nodig om haar kind teleur te stel nie.

      “Hy het gery, Skyla.”

      Die gevoelvolle “agge nee!” sny soos lemmetjiesdraad deur haar.

      “Hy sal weer kom,” troos sy gou. “Ek belowe. Kom, ons gaan huis toe. Jy’t nog nie eens geëet nie.”

      Mollie kom staan in die deur, ’n groen velsorgmasker aan haar gesig. “Jy oukei?”

      “Ja wat,” jok Anouk. “Dankie dat jy na haar gekyk het.”

      “Enige tyd, maar moenie dink jy’s off the hook nie. Vanaand gesels jy en Sky, môre wil ek als hoor.”

      “Busybody.” Anouk gee Mollie ’n vinnige drukkie, versigtig om nie aan haar gesig te raak nie.

      “Kom, Skyla.” Sy vat haar kind se hand, maar dié bly staan of sy geplant is en druk die voorvingers van haar ander hand in haar mond. Anouk kners op haar tande. Sy gaan nie raas nie. Nie vanaand nie. Die vingersuigery was van kleins af Skyla se manier om haarself te troos.

      “Mamma?” mompel sy tussen haar vingers deur.

      “Hm?”

      “Het my pappa gery omdat hy nie van my hou nie?”

      “My liefieding!” Sy kniel sodat hulle op ooghoogte is. Los klippies kneus haar kniekoppe, en sy versit haar gewig effens. “Hy het gery omdat ek en hy gestry het. Jy weet mos grootmense word partykeer kwaad vir mekaar, nes jy en jou maatjies.”

      “Het julle oor my gestry?”

      Liewe vader, wat moet sy sê? Hoe verduidelik sy sonder om haar kind seer te maak?

      “Ons het gestry omdat ek nie vir jou pappa vertel het jy’s gebore nie.”

      Skyla skop na ’n graspol. “Hoekom het jy nie?”

      “Ek het jou mos al gesê. Ons was nog baie jonk en Mamma wou hê hy moet klaar leer.”

      “Is hy nou klaar?”

      “Ja, hy is.”

      “Toe sê jy hom van my?” Selfs in die flou ligte van die karavaanpark kan sy sien hoe Skyla haar voorkoppie plooi.

      Dis seker maar die beste om doodeerlik te wees. “Nee, liefie, hy’t nie geweet voor jy die deur oopgemaak het nie. Dis hoekom hy so, um, verras was om jou te sien.”

      “Verras is bly, nè?” Sy haal haar hand uit haar mond.

      “Ja, dit is.”

      “Was hy baie kwaad vir jou, Mamma?” Die vingers glip weer by die haasbekkie in. Anouk dwing haar om haar hande tuis te hou. As die kind later draadjies moet kry, is dit nou maar so. Hulle hospitaalplan dek nie ortodontiese werk nie, maar hulle sal daardie bobbejaan maar agter die bult los. Vanaand is sy Sky geduld verskuldig.

      “Hy het gedink hy’s kwaad, pops, maar hy’s eintlik hartseer omdat hy wens hy ken jou lankal.”

      Hoe het hy dit gestel? “Ek het haar eerste tree gemis. Haar eerste Krismis … Jammer is boggherôl werd, dit kan daai jare nie terugbring nie.”

      Haar maag gee ’n siek draai. Waddehel het sy gedink? Dis ’n verskriklike ding wat sy Rossouw aangedoen het. Onvergeeflik. Omdat sy trots was, sy pa nie die bevrediging van “I told you so” wou gee nie. Omdat sy nie dieselfde fout as haar ma wou maak nie.

      “Wanneer sal hy kom kuier?”

      “Kom, jy kan hom môre bel.” Anouk kom orent en hys Skyla op haar heup. Eintlik is sy al te groot om te dra, maar vanaand is die gewig van haar lyfie gerusstellend. Myne, dink Anouk. ’n Reusevuis sluit om haar hart. Jy is myne en ek sal jou oor my dooie liggaam weggee. Die hemel help vir Rossouw van der Linde as hy haar kind probeer vat. Sy sal hom met haar kaal hande vermorsel.

      “Ja-a-a!” Skyla klou soos ’n apie, haar arms so styf om Anouk se nek dat sy haar byna verwurg. “Kan ek hom bel voor ek na Mia toe gaan?”

      Liewer nie. Die Rossouw wat sy geken het, is nie ’n oggendmens nie. Hy kon heelnag kuier tot haar oë wou toeval, maar dan was hy soos ’n beer met tandpyn tot elf-, twaalfuur se kant.

      “Wanneer jy terug by die huis is,” belowe sy. “Ek sal hom vra hoe laat hy tyd het om lekker met jou te gesels. Jy moet onthou, hy’s besig.”

      “Met werk.” Skyla trek ’n pruilmond. “Soos Mamma.”

      “O, hy’s besiger as Mamma.”

      “Werk hy in die nag ook?”

      “Ek glo nie.” Hy jol eerder. Het seker elke aand ’n nuwe meisie aan sy arm, een meer stunning as die ander. “Hy word nie in die nag uitgeroep soos Mamma nie.”

      Voor hul deur gly Skyla van haar heup af. “Dan kan ek by hom gaan bly wanneer jy werk. Het hy ’n bed in sy huis?”

      ’n King-size een, sou sy raai, met flippen Egiptiese katoenlakens en ’n streep gewillige meisies om dit warm te hou. ’n Sesjarige sal nie inpas by sy sosiale lewe nie. Dié gedagte laat haar ietwat beter voel.

      “Ek kan in ’n slaapsak ook slaap,” maak Skyla planne. “Op sy bank.”

      “Ons sal sien,” antwoord Anouk vaag. “Wat sê jy, gooi ons vanaand pienk kleursel in ons pannekoekdeeg?”

      Skyla slaap lankal, toe rol Anouk nog rond. Sy staar na die dak terwyl haar gedagtes soos wasgoed in ’n tuimeldroër draai. Om en om en om.

      “Ons sal sien of die hof met jou saamstem.”

      Waddehel beteken dit? Tog sekerlik nie dat hy volle toesig wil hê nie? Sy sal moet verduidelik dat sy Skyla nie van hom sal weghou nie, dat hy haar gereeld kan sien. Die vraag is net: sal hy haar glo? Haar vertrou om haar woord te hou nadat sy hom soveel jaar om die bos gelei het? Dêmmit, sy wás spectacularly stupid, selfs vir sewentien. Sy besef dit nou eers.

      Sy draai om en gooi nog ’n paar druppels Rescue Remedy onder haar tong. Gewoonlik is die goed wonderlik. Dit werk soos ’n bom wanneer ’n ma angstig tydens kraam raak, of ná die geboorte baby blues kry. Sy gee dit van kleins af vir Skyla wanneer sy oormoeg of huilerig is, drink dit self wanneer sy nie kan slaap nie. Vanaand doen dit boggherôl om haar te kalmeer.

      Dink logies, praat sy haar moed in. Rossouw het dalk finansieel meer om ’n kind te bied, maar emosioneel? Enige regter sal mos besef so ’n klein dogtertjie is beter af by haar ma, selfs al trek dié in ’n huis op wiele rond. Buitendien, wat sal Rossouw met ’n kind aanvang? Het hy enige idee wat dit


Скачать книгу