Die snip van Sesdorings. Ettie Bierman

Die snip van Sesdorings - Ettie Bierman


Скачать книгу

      Hennie vererg haar vir die vraag en die ongeskikte stemtoon. Die man dink blykbaar hy is onweerstaanbaar aantreklik, die gode se geskenk aan dames. Hy voel seker gesteurd omdat sy nie dadelik op haar knieë geval en sy voete gesoen het omdat hy hom verwerdig het om haar te hulp te kom nie. Wat het dit met hom te doen wat sy op Sesdorings wil gaan maak? Vra sy hom uit oor sý besigheid? Steek sy ’n ongevraagde neus in sý privaatsake?

      “Om te gaan bad, te slaap en die biblioteek te behartig,” sê Hennie koel.

      Carl Meiring se kop ruk op asof die warm masjien hom gebrand het.

      “Ekskuus?” vra hy, maar selfs in sy eie ore klink sy stem onnatuurlik hol, asof dit van ver af deur ’n tonnel kom.

      “Om van môre af my nuwe eiendom te bestuur,” herhaal Hennie. Die man het blykbaar net aan die verrinneweerde Volkswagen geoordeel en seker besluit sy is ’n armblanke wat met ’n stukkende motor sit en op sy nek gaan lê, afhanklik van sy goedheid om haar weer mobiel te kry. Sy stoot haar skouers agteroor en haar stem is uitdagend. “Ek is die nuwe eienaar van die plaas Sesdorings.”

      Carl Meiring vee sy hande stadig aan sy sakdoek af. Hy knip die masjienkap toe en gee ’n versigtige tree agteruit. Dan draai hy sy kop om na die meisie te kyk. Maar dis werktuiglik en hy doen alles baie stadig. Dit voel nie asof dit werklikheid is nie. Hy voel afgestomp, asof hy droom. Soos daardie Vrydagmiddag in standerd vyf toe hy van die skool af gekom en tant Nellie by die huis gewag het om vir hom te sê dat sy ma hom en Donnie en sy pa net so gelos het om met ’n ander man weg te loop.

      “Het … jý Sesdorings van ou oom Drik geërf?”

      “Korrek. Ek was my oupa se enigste erfgenaam.”

      “Maar – Hendrikus …” Carl kan nog steeds nie hierdie onwelkome toedrag van sake inneem nie.

      “Nog steeds ek. My oupa het gevrees daar sal nie nog ’n kleinkind wees om die familiename voort te dra nie.” Hennie weet nie hoekom sy haar privaatsake aan die vreemdeling uitlê nie, maar hy lyk so half vreemd – asof hy ’n spook gesien het – en sy voel verplig om verder te verduidelik. “Toe ek gebore is, was oupa Drik teleurgesteld omdat dit ’n dogter was. Al wat hom kon troos, was dat sy kleindogter Hendrikus Bernardus Jakobus Vermaak sou heet. Toe my boetie twee jaar later gebore is, was my ma en pa ongelukkig nie jammerhartig genoeg om my doopname te laat verander nie en ek sit nog my hele lewe lank opgesaal met daardie Hendrikus.” Hennie glimlag effens, dog daar is geen reaksie van die vreemdeling nie. Sy is nie eers seker of hy na die lang relaas geluister het nie.

      “Ek het aanvaar dis … dis ’n manspersoon. Jou pa of jou broer of ’n oom of iets.”

      “Daar was nie ooms nie. My pa was ’n enigste kind.” Hennie kyk nuuskierig na die aantreklike vreemdeling. Wat maak dit aan hom saak wie Sesdorings geërf het? Hy is blykbaar ’n boer van hierdie omgewing, maar wat maak dit aan hom saak of Sesdoringsbiblioteek deur ’n ou man of ’n jong meisie bestuur word?

      Carl het tyd gehad om hom effens reg te ruk en hierdie ontstellende nuus in te neem. Daardie ellendige Wynand Bothma kon hom darem gewaarsku het. Net verlede Saterdag nog het hulle saam gholf gespeel, maar Wynand het geen enkele woord gerep dat dit ’n meisiekind sal wees met wie hy in die toekoms opgeskeep sal moet sit nie. Seker bang vir sy hewige reaksie …

      “Ek het ’n aanbod gemaak om Sesdorings te koop,” sê Carl kortaf. “Het jou prokureur dit aan jou voorgelê?”

      ’n Skok trek deur Hennie se liggaam. Sy kyk weer na die breë skouers en na die donker, krullerige hare en die vorm van die gesig. Dit lyk vir haar glad nie bekend nie – nie soos sy die aaklige klein seuntjie van elf jaar gelede onthou het nie. Carl en Donnie Meiring het dan ligte hare en blou oë gehad en hulle was albei skraal seuntjies. Hierdie donker ou met die breë voorspelerskouers kan tog nie Carl wees nie, kan dit?

      “Het meneer Piet Dykstra dit aan jou voorgelê?” herhaal Carl ergerlik toe sy nie dadelik antwoord nie.

      “Ek het nie meneer Dykstra gesien nie. Ek het met Wynand Bothma gepraat,” sê Hennie werktuiglik. Sy stoot weer haar skouers agteroor en haar ken lig parmantig. “Wie is jy?” vra sy uitdagend.

      Carl ignoreer die vraag. “Ek het jou dubbel die huidige markwaarde vir daardie nuttelose stukkie grond en die seerooggeboutjie aangebied. Jy sal ’n dwaas wees om die aanbod van die hand te wys.”

      “Soos ek meneer Bothma ook in kennis gestel het, is Sesdorings nie te koop nie.” Terwyl haar stem in die prokureurskantoor koel was, is dit nou ysig. “Ek het nie jou geld vir Sesdorings of jou hulp met my motor nodig nie. Jy kan maar ry, meneer Meiring. As jy vanuit jou sitkamer die dreuning kon hoor, neem ek aan dat ek naby my grond is. Ek sal huis toe loop en die motor môre laat insleep.”

      Hennie sien dat Carl Meiring baie lus het om haar voorstel te aanvaar en weg te ry. Hy kyk na sy eie roomkleurige Mercedes en dan weer na die Volkswagen in die middel van die pad. Dit lyk asof hy iets wil sê, dog Hennie spring hom voor.

      “Ek het afgelei dat jy ’n kenner van insleepdienste is,” sê sy sarkasties. “Kan jy moontlik ’n betroubare motorhawe aanbeveel, meneer Meiring?”

      Carl het genoeg skaamgevoel en ordentlikheid om verleë te lyk, maar dis vir Hennie verlore, want in die donker kan sy nie sy gesig sien nie.

      “Moontlik dieselfde garage wat my oupa se motor weggesleep het,” voeg Hennie by.

      Carl vervies hom vir die houding van hierdie parmantige meisiekind wat met intrapslag vir hom moeite op die hals gehaal het. Wat hom nog méér kwaad maak, is dat hy seker vir haar veiligheid verantwoordelik is. Sesdorings is omtrent nege kilometer hiervandaan. Hoe kan hy wegry en ’n vroumens – al is dit Hendrikus Vermaak – alleen in die donker laat aanstap? Wat gebeur as sy vermoor word of weer ’n keer verdwaal? Hierdie een is onnosel genoeg om so iets oor te kom en dan rus dit op sy gewete.

      Carl beduie ergerlik na die oorsaak van die probleem. “Selfs ’n kind weet dat ’n motorenjin olie nodig het. Het jy dit nie geweet nie?”

      “Ek het die motor tien dae gelede gekoop en die verkoopsman het my verseker dis in ’n werkende toestand.”

      Carl kry opnuut ’n renons in die rooikopmeisie. Sy is heel duidelik ’n presiese weergawe van haar oorlede oupa. Niks was mos ooit sy skuld nie. Nee, hy is altyd die ene onskuld en probeer altyd die blaam op ander plaas. Om te dink hy sal die teenwoordigheid van hierdie onaangename meisie so te sê reg op sy drumpel moet verduur en vir haar verantwoordelik voel …

      “En dit het seker nooit by jou opgekom om net die enjinkap op te lig en seker te maak of daar wel olie in die enjin gegooi is nie?”

      Hennie hou nie daarvan om op die verdediging te wees nie, veral nie teenoor ’n Meiring nie. Sy besluit dat aanval die beste verweer is.

      “Ek glo nie dit het iets met jou te doen in watter toestand die motor was toe ek hom in ontvangs geneem het nie.”

      “Jy is verkeerd,” sê Carl. “Dit het baie met my te doene, want dis op my plaas wat die ding gaan staan het en dis in die middel van my pad wat die obstruksie is wat ’n ongeluk kan veroorsaak.”

      “Obstruksie …” mymer Hennie en haar stem is liefies toe sy vra: “Waar het ek daardie woord al tevore gehoor?”

      Carl antwoord nie. Hy het in die Volkswagen geklim en probeer die masjien aan die gang kry. Hy kan sy oë nie glo toe hy merk dat die temperatuurwyser teen die bokant van die rooi gevaarmerk vasgeslaan staan nie.

      “Ek verwag nie dat jy moet kan lees of dat jy die diensboekie sou bestudeer nie, maar enige bobbejaan kan tog seker sien dis ’n skroefsleutel wat aan die bopunt van die temperatuurmeter geteken is. Het jy dit nie herken nie, juffrou Vermaak?”

      “Soos ek gesê het, meneer Meiring, het ek nie jou hulp nodig nie en beslis ook nie jou beledigings nie. Jy mag maar ry. Ek sal alleen regkom.”

      Hoe? wil Carl vra, maar hy bedwing sy humeur. Hy klim uit die Volkswagen, haal ’n tou uit sy motor se kattebak en koppel


Скачать книгу