Takelwerk. Daniel Hugo
paaie en sy pyn”
vir Tom Gouws
Tom die Rymer het ’n hemelse Tom-Tom:
hy ontwyk al die breë weë brom-brom
en as hy – sowaar – met ompaaie aankom
is die Hekke toe en die Interkom stom.
’n Kwessie van klem
die gesél wat my lewenslank gésel
wat my so genadeloos en verbete
kon kasty vir die gefuif met ’n pel:
my Calvinistiese gewete
Hervormer Calvyn was eng, suur en streng –
hy het sy volgelinge strykdeur gestrem
met sy dogma, hulle geleer om bang
te wees vir die kleinste verskuiwing van klem
van Calvinisme vry, het ek oplaas
geleer om my eie aksent te plaas:
’n appel is lankal net ’n appel
g’n niks appèl meer op my vrye wil –
maar dan onthou ek onwillekeurig
wat Eva met haar appel wou aanrig
Om te gis
die appel was glo ’n sfeer van kennis
maar die paradyspaar het hul misgis –
diepdrinker Noag het ons geleer:
slegs die wyn weet, want dit het klaar gegis
Memento mori
ek’s ’n deurwinterde appel
met ’n skil wat kort voor lank
verrimpel in die lente-
son op die vensterbank
die vleis is min of meer sappig
en my gedagtes het nog pit
maar onstuitbaar word ek
melerig, smaakloos, sonder fut
dan kom draai die muggies
geluidloos op soek na buit
om die karkas wat verkrimp:
wolk van vergetelheid
Kosmies
vir Omar Khajjam
altyd slagoffers van ons neurone
verwar ons oomblikke met eone
in die brein is alles relatief:
dartel of droef, eensaam of verlief
my dier, vergeet van die groot en die klein:
geniet die hier en nou, voor ons verdwyn
Roebai
Die dood sal hom uiteindelik op elkeen wreek –
ook op die sjah wat hom in ’n paleis versteek.
Een nag word hy met ’n rykversierde dolk deur
die altydteenwoordige kamerling gesteek.
Stellenbosch, 1976
Psigopaat
elke dag drink hy ’n hand vol pille:
so hou hy die kamer in sy kop
geslote waaruit gedempte gille
opklink – Bloubaard speel daar pop
Die rymwoord pyn
sy kwaste staan in terpentyn
sy organe week in wyn
met sy inspirasie aan die kwyn
word bestaan vir hom venyn
al sy sinne rou geskryn
drink hy die terpentyn
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.