Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
dink. “Is dit oorlede Janmaans, of is dit nie oorlede Janmaans nie?” wil sy weet. “Daai deurskynende bloue oë.”
Toe weet Jonathan hoe groot die fout is wat hy begaan het. Hy het hom as ’t ware self uitgelewer, soos ’n misdadiger. Die halfvergete naam van sy pa slaan hom reg op die maag. “Ek lyk seker na iemand anders,” sê hy vinnig, geoefen. “Ek is eintlik ’n besoeker wat in die nood is, soek ’n paar dae losies. Die juffrou by die winkel het my die pad hierheen beduie.”
Sulke versuikerde stellings het deur die jare makliker en makliker begin kom.
“O, Katrientjie?” sê die vrou. “Katrientjie weet hier’s altyd plek vir nog.” As sy ’n kat was, sou die tantevroutjie nou gespin het. “Werk meneer darem?” Die vermoedens het nog glad nie uit die ronde ogies gewyk nie.
Is dit ’n skimp dat sy pa leeggelê het? wonder hy sensitief. Maar haar vraag plaas ook die grond terug onder sy voete. “Mevrou, my firma het my hiernatoe gestuur om die nuwe stuk dorp te kom uitlê. Dis ’n groot taak, ’n … ’n belangrike taak.”
“Nee, maar dit sal ek glo. Ek sien maar wat dit is om net ’n rokspatroon op materiaal uit te lê, of ’n paar groentebeddings. Dis meet en pas en so al vort. En wat voer meneer die van?”
“E … Berg.” Dan mompel hy verder: “… van Nothnagels.” Dit behoort verwarrend genoeg te wees. Hy het reeds besluit dat hy sy volle naam moet verswyg. Sal Katrien Tosen dit uitlap? Hy moes haar eintlik versoek het om nie … maar sy was die laaste rukkie so onvriendelik. Malie Coetzee moet maar later dink dat sy net verkeerd gehoor het.
Maar bes moontlik is daar nie ’n “later” nie. Nie as dit van my afhang nie, besluit hy met ’n soort drif. Nee, as dit van hom afhang, sal hulle nie uitvind wie hy regtig is nie. Hy het hier beland uit werksnoodsaak en origens uit die koppigheid van sy bloed.
“Nou kom dan maar in.” Die feit dat hy deur Katrien Tosen “gestuur” is, is skynbaar ’n waarborg tot aanvaarding. Hy voel ’n bietjie beskaamd voor hierdie mildheid. Hy kan hom voorstel wat Jeannie van so ’n tipe mens sal sê: “Gully, ons moet van hulle ontslae raak. Ek ken hulle soort. Hulle katrol jou in met vrome goedheid, en op die ou end begin hulle jou melk.”
“Dankie, mevrou. Mens, maar dit was ’n wind en reën.” Gelukkig onthou hy dat ’n mens hier stellig oor die weer moet praat. Nog iets wat Jeannie verafsku, om oor koeitjies en kalfies en die weer te gesels. In die sakewêreld, so glo sy, is dit nie ’n kuns om dit te sê wat ander reeds weet nie. Dis eerder ’n kuns om dit wat ander nie weet nie, te verswyg. Sy is saam met haar broer die erfgename van haar pa se sakeryk en sy moet die dieper sielkunde daarvan leer verstaan. Sy is die Kaapse skakel, haar broer pendel tussen Kaapstad en Johannesburg.
“Ja,” sê die tante en wikkel voor hom uit soos ’n goeie eendjie. “Eintlik moet die noorwestewind die reën bring, bietjie later, in die winter. Maar as die sedoos saam met reën waai, is dit goed vir die oes, dit waai die klammigheid weg wat skimmel en roes veroorsaak.”
Hulle is dwarsdeur die beknopte huis, al met die gang langs, en uit op die toegeboude agterstoep. Al wat Jonathan onthou, is dat die huis redelik wanordelik is. “Koos,” sê die tante, “jy moenie skrik nie, hier het ’n vreemde man geklop, en hy lyk nes my oorlede neef Janmaans, ek skrik my amper morsdood toe ek oopmaak.”
“Watse vreemde man?” blaf die aangesprokene.
As Jonathan dieselfde onvoorwaardelike goedgunstigheid verwag het, slaan hy die bal ver mis. Die man gluur hom aan onder wenkbroue wat ’n eie taal van weerbarstigheid spreek. By hom sal ’n mens nie met nonsens loskom nie, dink hy met ’n mate van angs.
Koos Coetzee sit op ’n verweerde maar gerieflike ou motorkussing terwyl katte, kuikens en klein varkies rondom hom op die agterstoepie wemel. Noudat die gaasdeur oop is, glip ten minste een hoenderkuiken en een varkie binnetoe, vergesel van ’n paar hoopvolle laatsomervlieë.
“Hierdie man, Koos.” Sy skop werktuiglik met haar een voet sywaarts om die diere af te keer, maar die poging is nie suksesvol nie en sy laat dit vaar. Sy beduie na Jonathan skuins agter haar, trots asof sy hom self geproduseer het. “Lyk hy nie wesenlik soos my oorlede neef Janmaans nie? Die eerlike bloue oë.”
“Eerlik ja, hegge-hegge-heg.” ’n Kekkellaggie diep uit die bors. “’n Ander woord vir ‘skelm’.”
Jonathan voel hoe hy verstyf. Maar ek wou mos hierheen kom, dink hy met selfaanklag, wou my mos na al die jare wysmaak dat ek ’n familiemens wil sien. Het ek moedswillig nie seker gemaak dat my plek by die hotel bespreek is nie? In my kop gesien hoe ek knus en dierbaar by gerekende familiemense kuier, my oortuig dat almal nie soos “oorlede Janmaans” was nie?
Die vermoede dat hy straks ’n vreeslike fout, die fout van sy lewe, begaan het, begin hom ry. Hy behoort eintlik hier pad te gee, uit hierdie huis en sommer uit die dorp ook. ’n Kwaal ontwikkel, voorgee dat hy sy rug beseer het toe hy in die steeks kar se enjin moes krap, en vir Nothnagel so oorhaal om ’n ander ontwikkelaar te stuur. Hoe eerder, hoe beter. Maar Malie Coetzee is klaar besig om hom vas te spin in die web van haar welwillendheid.
“Skaam vir jou, Koos,” verwyt sy kortasem van ergernis. “Wat moet die man van ons dink? Skelm. Hmf. En hy ’n man wat gekom het om die dorp uit te lê? Maar kyk nou reg in sy gesig, Koos. Lyk hy nie soos Janmaans …”
“Ek wil liewer nie sien nie.” Na die eerste vinnige blik kyk Koos strak die agtertuin in. “Janmaans kan vandag in die graf wees met sy eerlike bloue oë, maar daardie skade aan die stookketel het my groot verlies besorg.” Dan kyk hy weer vlugtig terug, die blik onder die wenkbroue priemend: “En ek hét ’n liksens gehad, ingeval jy wonder.”
Jonathan staar die man aan. Mampoer. Katrien Tosen het nie gejok nie, maar sy het dit soos ’n stigma laat klink. As die man ’n lisensie het, dis ’n ou bedryf wat by kultuurmuseums lewend gehou word. Maar hoe veg jy teen persepsies? Die volle implikasie van die middag se gebeure dring nou eers tot hom deur. Hy’t vir Katrien Tosen gesê die mense is sy familie. Wat het hom makeer? Dit was die vreemde middag, die sterk, hoë wind, die swiepende reënslag teen die verskemerde winkelvensters. En sy in die lig van die gaslamp, die hipnotiese roering van haar breinaalde.
Jeannie. Die Nothnagels. Hoe sal hulle dit opneem? Ook as ’n stigma? Het hy wat Jonathan Bergman is, hom na vele jare so veilig gewaan op die bergtoppie wat hy vir hom uitgesoek en moeitevol bestyg het, dat hy nalatig geword het?
’n Koors neem van hom besit. Hy moet Katrien Tosen gou weer sien en haar vra om nie te praat nie. Maar sy het hom weggejaag, onthou hy. Hy kom agter dat die huisheer hom nou voluit aangluur van onder die weerbarstige wenkbroue. Hy was te lank te stil, dit kan vir Koos Coetzee lyk of hy krities is.
Hy glimlag, probeer die mondhoektrekkie optower wat selfs vir Jeannie Nothnagel kan laat wonder en selfs ’n bietjie verlief maak. Maar die eindpoging voel vir hom meer na ’n senuweeplukkie. “Nou ja, meneer Coetzee, ek is jammer dat ek lyk soos die neef wat u skade aangedoen het,” maak hy flouerig verskoning. “Maar u laat my weer dink aan ’n ou wat in ’n film die rol van ’n veelwywer gespeel het.”
Hy wag op ’n uitbarsting, dus verbaas die reaksie hom. “Hegge-hegge-heg,” lag Koos Coetzee met ’n rommeling wat klink of dit diep uit sy maag kom. “Hoeveel?” Hy skop skuinsweg met ’n beskoende, kouslose voet, sodat die lastig skroppende hoenders wegspat. “Ek bedoel, vrouens? Ek het net een, en sy is ’n hele handvol.”
“Skaam vir jou, Koos. Wat moet die man van ons dink? Maar dis goed jy het vir hom gesê dat jy ’n liksens gehad het.”
“Vir meer as een vrou? Hegge-hegge-heg.”
“Vir die mampoer, bedoel ek. Toe jy in die Bosveld was.”
“Ja, die goeie ou Bosveld. Wat hierdie Bolanders … of sê sommer Booslanders, wat hulle van af mampoer weet, is gevaarlik. Kyk, as hy mos reg gemaak is, is hy meer vuur as vog. Jy moet hom …”
“Ja, toe nou maar, Koos. Die meneer is moeg. En die hotel was vol, sê hy, daar is nie plek