Die dag ná die rowers opgedaag het. Johan Pienaar

Die dag ná die rowers opgedaag het - Johan Pienaar


Скачать книгу

      Watter prentjie(s) leef daar by jou oor die Here? Hoe dink jy regtig oor Hom? Watter waarde het godsdiens vir jou vir vandag se uitdagings? Hoe sal jy die boodskap van die Bybel aan iemand wat dit glad nie ken nie, verduidelik?

      Jy sal weet dat die gesprek oor dié klompie vrae tans vuurwarm en die antwoorde baie uiteenlopend is. Ons moet hierby stilstaan op soek na sin.

      Toe ek met ’n bekende sakeman hieroor praat, kla hy dat daar in hul gemeente net twee boodskappe gehoor word. Die een sê dat God eendag lank, lank gelede met Moses, Dawid of Paulus sus en so gemaak het. Die ander een is dat ons moet moed hou, want in die hemel wag God en sy engele en daar sal ons nie huil, ly of siek wees nie. Hy vertel verder hoe hy op ander plekke gaan kers opsteek het oor hoe hy moet leef en wat nou in sy verhoudings moet gebeur.

      Hy het rede om te kla oor ’n godsdiens wat hoofsaaklik op gister of môre fokus. Dit is nie hoe die Bybel oor die lewe praat nie.

      God is hier en nou

      Gaan kyk gerus. Die woord “gister” kom ses keer in die Bybel voor, “môre” 208 keer en “vandag” 291 keer! Hiermee saam praat die Bybel 1 322 keer oor “nou”! Natuurlik kan iemand redeneer dat van die tekste in so ’n argument buite konteks gebruik word, maar dan staan daar steeds in Hebreërs 3:13: “Maar solank daar nog ’n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor …” Kan iemand nog twyfel wanneer Paulus in 2 Korintiërs 6:2 skryf: “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”

      Reeds in die vroegste geskiedenis vra Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur” (Eks 3:13-14). Natuurlik is Ek die God wat in die verlede saam met Abraham, Isak en Jakob gewerk het en natuurlik sal Ek saam met julle wees wanneer julle later uit Egipte moet wegtrek, maar bowenal is Ek, nóú – by jou! Ek is wat Ek is.

      Dit is een van die groot dinge wat Jesus kom uitleef het. God wat bo en buite die tyd staan, stap binne ons nou-tyd en hier-ruimte in.

      Gaan lees maar self. Die Bybel loop oor van verhale van ’n God wat nóú voor jou op die pad staan. Vir die Here is hier en nou sleutelwoorde.

      Jesus glimlag

      Daar is ’n tweede belangrike prentjie waarna ons moet kyk.

      Iemand skryf in ’n dagblad:

      Ek kon net nie vrede maak met die siening van sommige predikante wat dié aarde as ’n tydelike plek vol smarte en wreedheid sien, en verkondig dat ons maar moet moed hou en uitsien na iets beters wat later vir ons wag nie. Elke druppeltjie van wat ek van hierdie wonderplek geleer en ervaar het, het hierteen in opstand gekom.

      Ek het begin om die Bybel te deursoek vir figure wat dit rondom hulle met soortgelyke bewondering as ek beleef het, en afgekom op mense soos Dawid en Jesus, wat beslis ook uitgesproke verslaafdes aan die lewe was.

      Sommige predikante het ’n skynbaar sadistiese behae daarin om te preek oor die aarde as jammerdal, die dal van doodskaduwee van Psalm 23, en dan sleep hulle die hele gemeente saam die donker dal in. Dan het ek maar probeer klou aan die groenigheid en die waters waarvan Dawid net ’n paar verse verder praat.

      Hy en jy mag (met goeie reg) protesteer teen ’n somber godsdiens.

      Ek woon ’n paar jaar gelede ’n erediens in Ciprus by. Ondanks al die kerse en kandelare wat gebrand het, was dit donker, baie donker. Voor het ’n priester sy liturgieë en formuliere voorgehou en in die banke agter sy rug het ’n paar ou tannies gesit. Terwyl hy daar voor besig was, het ek gewonder of hy enigsins verstaan hoe ons hart smag na ’n warm, positiewe diens oor die lewe.

      Terug by die huis wys ek in ’n erediens skilderye wat deur die eeue oor Jesus gemaak is en ek hou die gesigte van die mense voor my dop. Die eerste was ’n baie realistiese afbeelding van Jesus aan die kruis en ek sien hoe mense wegkyk. Daarna volg die oorweldigende Christ the Redeemer-standbeeld (in Rio de Janeiro) met sy koue oë. Almal kyk uitdrukkingloos na die skerm. Die volgende een is ’n Kinderbybelprentjie van die goeie Herder en dit is duidelik hoe ieder en elk ver paaie terugloop. Hierna flits ’n skildery van ’n laggende Jesus – Jesus wat uitbundig en met oorgawe lag.

      Skielik sit almal regop en begin ook glimlag.

      Kan dit wees dat ons tog met ’n veronderstelling loop dat godsdiens swaar en donker moet wees? Kan dit wees dat die prentjie wat ons van God het een is van ’n ou man met ’n diep frons en opgehewe vinger wat net wag om ons te straf vir al ons foute? Is jy bang om Hom met jou hier en nou te vertrou omdat Hy die God is wat klein kindertjies laat knyp wanneer hulle rondskuif in die erediens?

      Weer eens is dit nie hoe die Bybel oor Hom praat nie.

      In die eerste bladsye van die geskiedenis staan God, roep triomfantelik en alles word mooi: Laat daar lig wees … blomme wees … voëls wees … lewe wees! Jesus kom by ’n bruilof en maak die beste wyn, en dít in oorvloed. Hy druk kinders teen Hom vas en seën hulle. Hy knyp sy oë toe en sit terwyl ’n vrou ’n hele fles olie oor Hom uitgooi. Hy nooi mense om hul laste by Hom af te pak en vry weg te stap. Hy vermeerder die brood en vissies dermate dat mense hulle trommeldik eet.

      Is dit nie wat Hy aan die kruis van Golgota kom wys het nie? Kon Hy harder en duideliker wys hoe lief Hy jou werklik het? Kan jy steeds wonder of daar iemand is wat Hy nie wil omhels nie? Hoor die hoofletters van Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

      God wil nie ten eerste weet hoe groot jou sonde en ellende is nie. Sy groot vraag aan jou is of jy weet hoe lief Hy jou vandag het – daar waar jy is.

      God = Lewe

      Die afstand is oorbrug. Jesus het op ’n feesdag tussen mense gaan staan met die uitnodiging: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh 7:37-38). Híér en nóú!

      Om sinvol te kan leef moet jy die bevrydende prentjie in jou lewe ophang van ’n Jesus wat sy hart oopmaak en sê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Die tydvorm van die belofte? Teenwoordige tyd. Ek het gekom sodat jy lewe kan hê – híér en nóú!

      Luister na sy hartklop en bid:

      Ons Vader wat in die hemel is,

      ek wil nie langer bang wees om te misluk

      of uit te brand nie.

      Ek besluit om voluit te leef,

      om my nou oop te maak –

      minder bevrees,

      meer toeganklik,

      om my hart los te maak

      totdat dit ’n vlerk word,

      ’n fakkel, ’n belofte.

      Ek kies om vandag te waag;

      om vandag te leef

      sodat dít wat na my toe kom as saad

      verder gaan as ’n bloeisel

      en dít wat vandag na my toe kom as ’n bloeisel

      verder gaan as vrug.

      Dit alles omdat U my liefhet!

      Hier en nou

      ’n Skrifdeel: “God het immers weer ’n dag bepaal, naamlik ‘vandag’ …” – Hebreërs 4:7

      ’n Gedagte: Om vandag te leef is so opwindend, ek het nie tyd om enigiets anders te doen nie. – Emily Dickinson

      ’n Stilhouplek: Dink ’n bietjie na oor jou siening van God en die lewe. Hoe lyk die prentjies waarmee jy grootgeword het?

      ’n Besluit:


Скачать книгу