Boomkastele. Schalk Schoombie
Boomkastele
Schalk Schoombie
Human & Rousseau
Vir Liza
For, you see, so many out-of-the-way things had happened lately, that Alice had begun to think that very few things indeed were really impossible.
– Lewis Carroll, Alice’s Adventures in Wonderland
The methodical task of writing distracts me from the present state of men. The certitude that everything has been written negates us or turns us into phantoms.
– Jorge Luis Borges, “The Library of Babel”, Labyrinths
Proloog
Uit die lug gesien: ’n buurt met baie bome in ’n dorp in die suide van Johannesburg. Dis wat jou opval, die bome. Kenmerkend van ’n ouer, meer gevestigde buurt.
Jy sien ’n netjiese kaart afgebaken met nederige erwe waarop eenvoudige, reghoekige huise rus, die meeste in die 1940’s en 1950’s gebou, met staandakke, sierstene, sonstoepe, komvensters, baksteenskoorstene, afsonderlike motorhuise, waskamers en bediendekamers. Nie te veel dubbelverdiepings nie. Onderverdeelde erwe, swembaddens in skakerings van blou, ’n dosyn boorgate, visdammetjies, buitestorte. Sommige huise is opgeknap, uitgebrei, versier met torinkies, dakvensters, sonpanele, weerhane, maar meestal is die oorspronklike blokvorm en staandak behou. Die meeste dakke is rooi en spog met televisieskottels, bewys van in-voeling-bly met die wyer wêreld.
Bome in tuine, bome in parke, bome op sypaadjies.
’n Bielie van ’n akkerboom staan op ’n straathoek teen ’n steilte byna ín ’n besige straat. Om sy dik stam loop, jaag, pendel en raas die lewe lustig voort. Bewonderenswaardig!
Van die groter huise is in besighede omskep, met parkeerterreine waar eens tuine was. Hoekhuise het hier en daar plek gemaak vir woonstelblokke met drie tot vier verdiepings, selde meer. Aan wasgoeddrade op draaiende stellasies wapper lappies kleur.
Daar: ’n ou trekkerband gevul met sand, ’n lank vergete speelplek vir kleuters.
Styg jy nog hoër, sien jy meer geografiese kenmerke: ’n treinspoor, kerke, ’n straat of drie met winkels, die grense van die woongebied, repies veld wat nie mooi by die dorpsbeplanners se netjiese kaartpatroon wou inpas nie. ’n Klein vliegveld. ’n Renbaan vir perde. Mynhope wat geleidelik afplat en verdwyn namate elke kriesel goud daaruit herwin word, soos sandkastele wat deur die gety verspoel word. ’n Aftree-oord.
Die onderliggende heuwelagtige aard van die landskap onthul die skouer van ’n groot rots, ’n afgrond. Daar steek ’n radiotoring in die lug, skaars blokke weg van ’n selfoontoring gekamoefleer soos ’n bloekomboom. Die watertoring op ’n ry klipkoppies wat al baie keer deur weerlig getref is, die sypaadjie ’n blok verder waar ’n tuinier doodgeslaan is. ’n Uitkykpos waar ’n plaaslike profeet sononder sy sjofar blaas en die seën afbid oor sy buurt. Daar seil ’n spruit met wilgerbome op sy oewers onder straatbrûe en deur ’n park langs ’n snelweg, ’n waterweg wat in die reëntyd sy walle oorstroom. Kyk hoe is die paaie deur die boggels van die Hoëveld gedwing om plek-plek skeef of dwars te loop, haarnaalddraaie en esse te gooi of stomp in ’n cul-de-sac te eindig.
Uit die lug gesien: ’n rustige buurt. Nie welgesteld nie, ook nie ’n krotbuurt nie. Nie poskaartmooi nie, nie ’n industriële woestyn nie. ’n Ouerige deel van die dorp wat eintlik soebat om anoniem te bly. Die soort plek waar almal brand om pad te gee, onrustige tieners sowel as afgetredenes.
Van al die honderde, duisende klein dramatjies – huishoudelike intriges, vetes, inbrake en selfmoorde, ’n gesinsmoord of twee, ’n magdom mediese krisisse, sterftes, geboortes, spoelende toilette, kragonderbrekings, al die eensame lewens, versteekte misdade, grafte van troeteldiere, patetiese geheimpies, gloeiende rekenaarskerms, gemorspos en elektroniese pornografie, verkragting, al die rondrol en rits agter toe deure, gedagtestrome en tandekners van families, oumense se mymerings, opgaarders, vullisdromme, rondloperhonde, al die gekruiste lyne en gemeenskaplike projekte, gewoeker en stokperdjies, verstopte pype, kerkdienste, bidure, boekklubs, rugbywedstryde, ringtennis, aquarobics, satanistiese rituele, vriendskappe, afloerdery, gefluisterde haat en naamlose hartseer, onwettige rommelstortings, dronkmanstwiste, saadstortings, kroeggevegte, aanrandings, buurtwagpatrollies, skote in die donker én helder oordag, die brul van motorfietse en getoet van karre by hekke, slaapwandelroetes, wedersydse afkeer tussen bure wat gesigloos agter heinings bly – van al hierdie barensweë en alledaagse nietighede is daar uit die lug absoluut niks sigbaar of hoorbaar nie, dis eenvoudig te ver weg en buite bereik.
’n Verligting!
Want dis die aard van ’n kaart: om afstand te gee. ’n Abstrakte prentjie van ’n samelewing wat saam leef, saam sterf, saam én apart.
Die bome omsoom, verfraai en definieer die landskap op die kaart doer onder, dit gee amper iets sag en vriendelik daaraan. Dit laat jou glimlag, want dit vang jou oog en dis mooi.
Die bome verskaf die nodige grein aan die reguit lyne en blokke, dit verbreek die simmetrie van eenderse lewens, vul die groter spasies in.
’n Kleuterprojek van groen wattewolkies geplak met slymerige gom.
Ja, die bome maak alles mooi.
1
Die navorser blaai stadig deur sy koerant. Vandat hy afgetree het: ’n oggendritueel saam met sy tweede espressobekertjie filterkoffie (te veel koffie gee hom gal). Met geoefende oog spoedlees hy opskrifte en onderskrifte, eerste en laaste paragrawe, hier en daar ’n greep, feit, uitlating of brokkie statistiek om ’n taamlik volledige beeld van belangrike stories saam te flans. Dis ’n gekonsentreerde, onderbewustelike dog luilekker siftingsproses wat sy brein daagliks uitdaag, oefen, wakker skok. Laslappienuus. Hy weet nie waarvoor hy soek nie, dis lukraak, amper ’n speletjie, maar hy weet wanneer hy dit vind.
Dis ironies, dink hy. Dikwels is die onbelangrike nuus wat oor twee dae vergete gaan wees prominent op die voorblad uitgestal, terwyl die nuus wat die wêreld vir altyd verander as simpel stoppertjie iewers op bladsy 8 weggesteek word. Neem byvoorbeeld dié storie met die onbeduidende, onidiomatiese opskriffie:
Einstein se E=mc2 is dalk nie meer waar
Genève. – Een van die fundamentele beginsels van fisika, dat niks vinniger as die spoed van lig kan beweeg nie, is waarskynlik verpletter deur ’n subatomiese partikel.
Wetenskaplikes in die wêreld se grootste fisika-laboratorium in Switserland het gister bekend gemaak hulle het neutrino’s gemeet wat wel vinniger as lig beweeg.
Albert Einstein se bekende spesiale teorie van relatiwiteit, E=mc2, verkondig sedert 1905 dit is onmoontlik.
“Die meeste mense meen dit kan nie reg wees nie,” het mnr. James Gillies, woordvoerder van die Europese Organisasie vir Kernnavorsing (Cern) gesê.
Hul lesings het selfs die navorsers verstom en hulle het ’n beroep op ander wetenskaplikes gedoen om dit onafhanklik te bevestig voordat hulle aanspraak maak op ’n nuwe ontdekking.
“Hulle het die breër wetenskapgemeenskap genooi om hul bevindings van nader te bekyk en hoop iemand anders, elders ter wêreld, sal hul lesings kan dupliseer.”
Wetenskaplikes van Fermilab in Chicago, tradisioneel Cern se grootste mededinger, het gesê hulle gaan dadelik aan die werk spring.
Die span in Chicago het in 2007 soortgelyke resultate gekry, maar daar was te veel beweegruimte in hul berekenings om hul bevindings bo alle twyfel te stel. – AP
Die navorser lees die berig drie keer met aandag. Hy memoriseer dit. Só eenvoudig. ’n Onomkeerbaarheid omgekeer in agt kort paragrawe. Wat in wetenskaplike kringe vir sowat ’n eeu as evangeliese waarheid gehuldig is, word nou grondig bevraagteken. Vir wie is dit ’n oorwinning? Gaan alles verkrummel wat op Einstein se werk gebou was? Al die elegante teorieë tot by kwantumfisika, gaan dit nou alles skouspelagtig in duie stort? Of deur verskuiwings, skommelings en slim herberekenings geskik word om alles weer netjies te laat klop?
Hy sug, sit sy bekertjie op die oop koerant neer.
Tyd