Kamee. Roela Hattingh

Kamee - Roela Hattingh


Скачать книгу
p>

      Kamee

      kortverhale

      Roela Hattingh

      Human & Rousseau

      Vir Flip

      “Al het voortreffelijke is even moeilijk als zeldzaam.”

      – Baruch Spinoza, Ethica (vertaal deur H.L. Spiegel)

      “You were, you know, you are, the nearest thing to a real story to happen in my life …”

      – Renata Adler, Pitch Dark

      *

      “When we get out of the glass bottles of our ego,

      and when we escape like squirrels turning in the

      cages of our personality

      and get into the forests again,

      we shall shiver with cold and fright

      but things will happen to us

      so that we don’t know ourselves.

      Cool, unlying life will rush in,

      and passion will make our bodies taut with power,

      we shall stamp our feet with new power

      and old things will fall down,

      we shall laugh, and institutions will curl up like

      burnt paper.”

      – D.H. Lawrence

      Alibi

      AN HET GEWÉÉT, TOE HY SO AANGAAN oor die mengelslaai.

      “Moet asseblief nie die blare so met jou hande skeur en dan alles deurmekaar gooi nie. Hou dit heel, asseblief, en pak die slaaigoed op hierdie nuwe bord uit, tog net nie in daai bak van jou ou tannie Margaret nie. Dan kan almal opskep wat hulle wil eet en ons mors nie kos nie.”

      Uitpakslaai, soos die Waterkloof-madams sou sê, het sy gedink. Uithaal-en-wys-tyd.

      Haar hande het oor die kristalslaaibak gestol. Die bamboes buite die venster het heen en weer beweeg toe ’n vink ’n blaartjie met sy snawel afgetrek het. Hadidas het geskree. ’n Kraan het in die opwasplek gedrup. Die kinders was besig om ’n Leon Schuster-fliek op TV te kyk. Die geur van die bure se Sondagmiddagbraaivleis het in die lug gehang. Sy het die kristalbak opgetel, dit omgedraai en die inhoud in ’n groot plastiekskottel uitgetiep. Sy het tannie Margaret se bak gewas en afgedroog met die gedrukte linnevadoek van Skye. Die een met die Serenity-gebed op – the wisdom to know the difference – is al lankal uitgebleik. Toe het sy die bak in die glaskas gaan bêre.

      “ ’n Uitpakslaai. Sekerlik, my dier. Soos jou vriende daarvan hou.”

      Sy het nie geweifel voor die woord “vriende” nie. Sy het dit nie vervang met “girlfriend”, “baas”, “gymmaats”, “fietsrypelle” of “jou nuutste bewonderaars” nie. Sy het die mengelslaai stukkie vir stukkie verander in ’n uitpakslaai. ’n Hopie tamatietjies in die middel, ’n halfmaantjie avokadokwarte, ingelegde uie en agurkies. ’n Rytjie swart olywe, afgewissel met groen olywe – die rooi pimento telkens na bo. Sy het die peppadews, wat sy self gekweek en ingelê het, gevul met peperfetakaas en ’n spatseltjie pesto op elk gesmeer. Dit as ’n kartelrandjie op die bord gepak. Die blaarslaai het sy weggegooi. Bronslaai is beter. Dis bitter.

      Sy het hom nie herinner aan hulle eerste mengelslaai op universiteit nie. Aan die skreeugeel kombuishoekie waar daar eintlik net plek vir een mens was nie. Die eerste keer toe hy by haar kom kuier het. Hoe hy opsluit wou help toe sy vir hulle ’n slaai maak. Hulle boude het aan mekaar geraak. Sy het die blare een vir een afgespoel in sout-en-asynwater en dit goed in die vergiettes laat droogdrup. Sy moes mooi dink.

      Agter haar het hy die agurkies, grasuie en kappertjiesaad fyn gekap, komkommer met ’n vurk gekrap en toe in skyfies gesny. Sy kon elke beweging van sy hande voel aan die trilling teen haar boude. Toe sy die blare bak toe bring, moes hulle soos ’n rondomtaliedeur draai – hy by die opwasbak, sy by die slaaibak. Sy het die blaarslaai geskeur en liggies in haar tannie Margaret-kristalbak laat val. Tamaties in sirkels, calamataolywe, Deense feta en nog avokado, het sy gedink om haar aandag van hom af te lei. Die drukking van sy boude teen hare het verdwyn. Hy het omgedraai, styf agter haar kom staan en oor haar skouer geloer. Hulle lywe het soos twee slaaiblare in mekaar gevou.

      “My ma sny dit altyd in dun repies en probeer dit verdoesel, want niemand in ons huisgesin hou van bokkos nie. Ons vis altyd die kaas en olywe uit en los die res,” het hy gesê.

      Sy het gesluk, moeilik gepraat. Sy moes konsentreer: tamaties in sirkels, calamataolywe, Deense feta en nog avokado.

      “In ons familie eet ons agter die klank en geur aan. Blaarslaai is soos water wat mens kan kou. As ek dit skeur, maak ek watervalle,” het sy gesê.

      Hy het ’n blaar uit die bak gehaal. Sy arm het aan haar bors geraak. Sy wou aanhou slaai maak, maar sy het met die tamatie in die een hand en die skerp messie in die ander gehoor hoe hy kou, sluk. Toe het hy haar omgedraai, haar gesoen. Sy het die tamatie en die messie sommer op die grond laat val. Later het hulle die slaai met hulle vingers uit die bak geëet.

      An het vermóéd, toe hy vroegoggend begin draf het. Hy het ongesweet teruggekom, effense geur van ’n vreemde deodorant in die lug. Die fanatiese gegym in die aand. Werksverpligtinge. ’n Nuwe baas – en sy het ’n alternatiewe aanlynstrategie wat meer laterale denke van hom verg, implementeer. Die byderwetse klere en funky musiek. Hulle koskas is deur proteïenaanvullings, eierskommels en tuna beset. Koringmeel is die huis belet. Sy en die kinders moes brood skelm op Saterdagoggende begin eet wanneer hy die pad vat met sy alienfietsrypakkie en toebehore.

      Eers het sy gedink dis sy midlife crisis. Sy het hom die lyflike fokus beny. ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees, het sy van Maandagoggende se vele skoolsale onthou. Alles wat in die sewentigs en tagtigs aan hulle opgedis is, was tog ’n leuen. Is dié nie dalk ook nie? het sy gewonder.

      Sy het gewoon aangegaan, haar onsamehangende stories oor die ditjies en datjies van haar en die kinders se lewe in stand gehou. Afsprake met ou vriende gemaak waar hy net homself kon wees. Waar niemand skynbaar hoef voor te gee nie. Sy het sy geliefkoosde disse gemaak. Vakansies in Nieu-Bethesda en Nature’s Valley gereël. Hy het nie sy mond aan die Japie-se-gunsteling gesit nie. Hy het vies geraak omdat daar geen selfoonontvangs in die Vallei van Verlatenheid was nie.

      Wanneer sy en die kinders in die see swem, het hy op en af op die strand gedraf. Smiddae Plett toe gery om te gaan gym. Hulle ek-sien-die-see-eerste en stories oor Klippiesbaai, die dolfyne of die Grootboom het hom nie meer vermaak nie.

      “Asseblief tog, An. Kry die kinders om na iets leersamers te kyk, die Discovery-kanaal, of sport. Wat sal mense van ons dink as ons kinders na daai gemors op TV kyk!”

      An dwing haarself terug na die wasbak en die Sondagete vir die fietsrypelle. Die fietsryklub moet die finale reëlings vir die Argus tref en dit was haar voorstel dat hulle hier ontmoet. Dan kan sy en die kinders sy spanmaats leer ken. Sy het nie verwag dat hy sou instem nie.

      Tafel gedek met die wit Arzberg, glase gepoets, mineraalwater op ys, bulgur-sorghum-quinoa-en-mint-disse gereed, alles so ordelik soos dit ons betaam. Nou moet sy nog net haar slonsklere uittrek, haar hare reguit droogblaas, haar en die kinders transformeer na privaatskool-ou-geld-linne-en-ligblou-agtergrondmateriaal. God, waar gaan dit eindig?

      Ou praatsieke potjierol. Nie dat sy ooit die regte ding sê nie, daarvoor gebruik sy te veel woorde. Aandagafleibare gebabbel. Dialoogdiarree. Los en vas praatjies oor die huidige president se kaperjolle, die tekort aan affodilbolle by die kwekerye, die mediese fonds se fooie wat opgaan, die knoppe in haar borste; alles net mooi in die wind in. Dalk kan sy die huwelik red as sy minder praat.

      Sy sal moet leer om te tweet. ’n Praatbeurt te tweak soos ’n status update. Haar opinie te SMS. Die kruks van die saak is blykbaar altyd minder as honderd vyf en sestig karakters of korter as ’n minuut.

      Sy draai vererg om van haar bedonderde gesig in die spieël. Sien die sonstreep wat die onopgemaakte bed met die gehekelde kombers van afvalwol in alle


Скачать книгу