Kamee. Roela Hattingh
om toe te maak. Die oop naeltjies. Die vroue se onbedekte, los hare. Sy lag skelm. Voel hoe die lang vlegsel teen haar rug tot onder haar boude hang. Net vir haarself maak sy die vlegsel los. Nie vir haar man nie, nie eens vir God nie.
Haar dogtertjie lag toe ’n golf haar purdah laat opblaas soos ’n ballon. Sy buk en fluister teen die koue, nat ore van haar kind: “Geniet dit, gaan dieper in as jy wil, ek sal jou dophou.”
Toe sien sy die vet vrou met die swart kostuum wat buite die area van die vlaggies die water instap. Haar ronde wit bene soos pilare. Die vrou het twee seuns aan die hand. Spring oor die golwe, val, rol in die water. Soos ’n seekoei, ’n seeolifant. Lomp. Die kinders val oor haar. Sy plons in die vlak water rond. Haar man kom nader. Sy lag toe haar borste amper uit haar kostuum peul. Hy lag saam. Almal kry ’n bietjie skaam. Toe los sy die een seun by hom, sy en die ander seun gaan dieper in.
Naseera kan nie ophou kyk nie. Sy sien hoe die ander mense ook na die vet vrou kyk. Die vrou help haar seun deur die golwe.
“Sterk bene, druk deur, gaan die golwe tegemoet, duik oor, ons is amper daar,” sê die vet vrou.
Hulle swem dieper as die spul jong mans. Hulle dobber oor die groot golwe. Toe die kind moeg is, bring sy hom terug tot by haar man en ander seun. Naseera sien hoe die ouer seun vir haar dogter lag. Hoe haar dogter afkyk, dan terugkyk en glimlag.
“Ek gaan ’n bietjie diep kant toe,” sê die vet vrou vir haar man.
Toe draai sy terug. Duik weer deur die golwe. Dieper as almal. Sy kyk hoe die vrou deur die water sweef, dans. Sy lag die see, die lug, die oë van al die mense op die strand, die lewensredders, die meeue, haaie, selfs die vrou in die purdah uit. Sy word al hoe kleiner. Die see groter.
Naseera kyk af en sien hoe haar purdah aan haar enkels kleef. Sy sien die wit skuim oor die swart lap, voel die sand op haar kuite. Sy soek haar man en seun; hulle is nog by die rotse. Sy sien die horison, sien die skepe, sien die son, sien die vet vrou wat weer terugswem. Toe steek sy haar hand bo by haar purdah in. Sy maak haar dik vlegsel los, sprei die hare om haar skouers onder haar purdah. Dit golf om haar borste, naeltjie, dit raak aan haar bene. Sy maak haar oë toe. Gaan die golwe tegemoet.
Trousseau
“NEE, MAAR JY’S WELKOM, MENEER CLOETE,” sê Bert van Bastion Motors. “Toetsbestuur die hele lot: die Hilux, Navara, selfs die Triton, en as jy klaar gespeel het, kom traai ons Amarok. Onthou net, gee goed vet op die teerpad en gooi sommer ’n paar agts op die duine met elkeen van die outjies.”
Bert voel hoe sy neus begin jeuk. Dis altyd die teken, hier kom ’n koper.
“Dis nes jy daar sê, meneer. Appels met appels, anders sal jy nie weet watter een perform beter nie. Ek is al agt en dertig jaar in die motorhandel en nog nooit het ek ’n voertuig leer ken wat so baie rolle kan vervul soos die Amarok nie. Gaan bevoel die kompetisie. Ek boek die Amarok vir jou vir môreoggend.”
Bert sluit die motorhandel se deur vir die middaguur. Hy gaan rus elke middag in sy woonstelletjie bo-op die werkswinkel. Hy slaap nie, maar dis sy tyd om te dink.
Hy weet voor sy siel dat hy ’n koopkontrak vir meneer Cloete sal skryf mits hy net die Amarok toetsbestuur. Bert het al amper net soveel Amarokkies die afgelope jaar verkoop as wat daar buite-egtelike babas op Humansdorp gebore is. Sedert die Amarok se verskyning by die troue is dit asof hierdie deel van die land maar Amarok se Oos-Kaap gedoop kan word. Plus, hierdie tweede demo is heeltyd in aanvraag, nes die eerste een. Hy swaai sy hand vinnig terwyl hy oor die ruimte in die vertoonkamer loop waar die demomodel veronderstel is om te staan. So asof hy die Amarokkie op haar boud klap. Hulle kry skaars tyd om haar te spit en te polish ná ’n toetsbestuursessie of die volgende meneer staan in die tou. En as die manne hulle hande op haar gelê het, kan hy maar die koopkontrak uithaal.
Daar is natuurlik baie tegniese redes hiervoor. Die Amarok het nie die turbotraagheid van die ander bakkies nie en die agterste diff lock gly minder as die Triton s’n. Dis ’n skelm voertuig – ’n kar aan die binnekant, ’n bakkie aan die buitekant en die outjie, of eerder vroutjie, beskik oor elektronika waarvan haar teenstanders net kan droom. In sekere van-die-pad-af-situasies is die elektroniese vastrapbeheer en die agterste ewenaarslot net die ding wat ’n verskil maak vir die manne wat weet van. So byvoorbeeld sal die enjinsagteware die luierspoed aanpas sodat die Amarok nie vrek oor hindernisse nie, nie eens by steil opdraandes nie.
Bert maak die vorige aand se ekstra bord kos – wat sy vrou elke dag getrou vir hom inpak – warm in die mikrogolfoond. H’m. Heerlik. Bobotie, rys, soetpatats, twee tjoppies en groenboontjies. En altyd ook ’n Tupper-bakkie met ietsie soets agterna. As hy meneer Cloete skryf, kan hy haar gerus ’n bietjie treat op ’n uiteet. Of dalk ’n toetsritnaweek weg met die Amarok, hy roep haar hoeka sy Amarokkie. Deesdae is rondrits weer lekker vir hulle tweetjies. Seker omdat hulle gemaklik in die ruim kajuit pas – wat nogal baie sê van hulle twee se … persoonlikhede.
“Die Amarok sal jou nie drop nie,” sê hy hardop. Dit is hoe sy verkoopspitch gewoonlik begin.
Jy kan wel in die dorp ene drop van robot tot robot. Selfs doughnuts gooi Saterdagmiddae in Kerkstraat wanneer die jongklomp kom oud speel en die ou ballies kom lyf uitkyk.
Bert weet mense is baie emosioneel oor hulle bakkies. Dit is verstaanbaar want dit is nie net ’n groot belegging nie, dit kan ook ’n lewensveranderende kopie wees. Soos vir Sweis en sy rugbyspan. En vir Clarese. En as hy wat Bert Bastion is nie self die hele trouegedoente beleef het nie, sou hy dit nie geglo het nie. Dis asof die trouery geturbo-charge was.
Om die waarheid te sê, dis asof die hele dorp en die omgewing se jong mans geturbo-charge was.
Die storie het begin die Saterdagoggend nadat die Amarok-toetsmodel afgelewer is. Sweis was vroeg reeds op Bastion se stoep. Moes voor vyf gewees het. Bert onthou dit goed. Hoeka ’n jaar terug. Dit was die einde van die maand, nadat Clover se melktjekkies inbetaal is. Bert slaap dan die Vrydagaand sommer by Bastion Motors in die agterste woonstelletjie want dis die beste naweek vir besigheid. Dan maak hy Saterdae vrek vroeg oop om die boere te akkommodeer.
Sweis kry die prys vir sy vroegste kliënt ooit.
Ja, voor vyf, want toe Bert Bastion se deur oopmaak om die melk in te bring voor die klonkies dit steel, skrik hy hom amper boeglam. Sweis leun teen die pilaar. Dronk, dag hy.
“Oom Bert, kan ek daai Amarok vanaand toetsbestuur, vanaf sesuur? Ek weet oom-hulle is dan al toe. Maar dis ’n saak van lewe en van dood, en ek sal hom mooi oppas. Ek belowe oom ’n bees en ’n skaap en oom moet net sê, ek kan nog ’n varkie ook kom aflaai. Oom Bert, ek kon die hele nag nie slaap nie. Dis soos ’n gesig wat ek gesien het. Ek moet absoluut net die … ”
“Môre, Sweis.”
“Skuus, oom. Môre, oom. Kan ek asseblief vanaand die Amarok toetsbestuur, oom? Ek kan als verduidelik, oom.”
Daar was ’n helse glans op die jong man se gelaat. Hy was óf begeesterd óf gesuip.
“Hokaai, Sweis. Jinne, boet, klink my jy spreek in tale vanoggend. Ek volg nie mooi nie. Give a chap a chance; ek het nog nie eens water afgeslaan nie en jy praat van opbling. Gee my net daai bottel melk aan dat ek darem vir ons ’n koffie kan maak voor ons besigheid gesels. Kom maar in. Kom sit sommer hier agter by my in die kombuis. Vee net daai moddervoete van jou ordentlik af; dit het goed gereën laas nag. Julle boere is seker lekker bly, net ná planttyd, nogal.”
“Skuus, oom. Ja, oom. Baie bly, dankie, oom. Maar oom, dink net ’n bietjie, oom. Die Amarok. Troukar. Clarese.”
In die middel van die vertoonkamer langs sy lessenaar gaan staan Bert in sy spore toe Sweis die woorde sê. Dis asof hy self ’n profesie beleef. ’n Gesig, soos sy vrou sal sê. In sy geestesoog sien hy Clarese van Biljon agter op die bloedrooi Amarok staan. Haar ronde tieties in die wind, haar hare en sleep na agter toe gewaai, haar vol lyf afgeëts en haar rooi mond net so effens oop. Hy kan dit wragtig sien. Die Amarok. Troukar. Clarese.
“Sjoe, sy’s wragtig mooi, oom!”
Hy draai om