’n Vrou vir Herman. Sarah du Pisanie

’n Vrou vir Herman - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
dan Piet en omtrent ag jaar na Piet het die tweeling gekom. Oom Bennie …” Herman besluit om die hele familiegeskiedenis te vertel en klaar te kry. “Oom Bennie is nie regtig familie van ons nie. Hy het my ouers ontmoet toe hulle op pad was Duitswes toe. Oom Bennie was vroeër verloof en het vir hom en sy aanstaande bruid ’n toekoms probeer skep in Duitswes. Hy het siek geword en teen die tyd dat hy teruggekom het by sy verloofde, wat gedink het dat hy dood is, was sy al getroud. Oom Bennie was op pad terug Duitswes toe en was so verpletter dat my pa gevoel het hy moet maar eers daar op Jakkalswater by hulle bly, tot die seer nie meer so erg was nie. Ook maar gelukkig, want toe my ouers albei dood is, was oom Bennie al wat ons gehad het.”

      Herman kyk glimlaggend na die onskuldige gesig van die meisiekind wat die hele storie ademloos sit en aanluister.

      “Het hy toe ook nooit weer getrou nie?” vra sy sag.

      “Nee … vrouens is skaarser as fyngoud in daardie omgewing. Jy weet, die Duitse soldate bestel vir hulle vrouens in Duitsland en dan kom hulle uit en kom trou met hulle.”

      “Ag, jy jok, man!” Estie glo nie ’n woord wat hy vir haar vertel nie.

      Herman lag skaterend. “Dit is waar! Magriet het gesê ek …” hy bly skielik stil as hy besef dat hy darem nie hierdie stukkie van die geskiedenis moet vertel nie.

      “Wie is Magriet dan? Nie vrouens nie …” lag sy ongelowig.

      “Magriet is Daan se vrou. Hulle is so ’n jaar gelede getroud.” Herman besef dat hy nou van een duiwel tien gemaak het as Estie hard en oorwinnend lag.

      “Aha! Uitgevang! Waar het hy haar gekry?” Sy lyk soos ’n oorwinnaar en Herman lag skaterend en al die styfheid en gespannenheid is skielik uit hom uit en hy korswel met haar soos met die seuns.

      “Jy gaan my tog nie glo nie, daarom gaan ek jou nie vertel nie,” sê hy kastig geheimsinnig.

      “Ooo!” Dawid hou sy kop vas. “Dit is die grootste fout wat jy kan maak. Sy sal dit uit jou uitkry, al moet sy jou ook blinddoek en voor ’n geweerloop sit.”

      Estie kom sit reg voor hom. “Vertel!” beveel sy. “Hier sal jy sit sonder kos en sonder slaap tot ek gehoor het,” dreig sy.

      Herman lag weer skaterend en dit is heerlik om weer sommer net vry en gemaklik te voel. Hierdie kind is so spontaan dat geen mens vir haar sal kan kwaad word nie.

      “Nee, jy glo mos nie grootmense nie.”

      Voordat Herman mooi besef wat aangaan, buk sy oor hom en kielie hom soos wat hulle altyd gemaak het toe hulle kinders was.

      Herman kraai dit uit van die lag en vat haar hande weg. “Goed … maar dan moet jy daar ver gaan sit.”

      Estie gaan sit soet en plegtig weer op die muurtjie maar krom haar vingertjies dreigend as hy nie gou genoeg begin nie.

      “Oom Bennie se verloofde … was getroud met ’n sendeling. Hulle het net een dogter gehad, Magriet …”

      “Jy maak nie die storie op nie …” dreig sy en Herman keer laggend as sy wil nader kom.

      Nee, dit is waar. Haar pa is dood toe sy ’n jong meisie was en intussen het haar ma ook baie siek geword. Die ma het vir oom Bennie geskryf. Sy het hom gevra om na haar kind te kyk aangesien sy net omtrent nog ’n jaar gehad het om te leef. Oom Bennie, wat haar steeds liefgehad het, het gesê dit is goed. Wel, om ’n lang storie kort te maak: Magriet het na haar ma se dood alles verkoop en Walvisbaai toe gekom en vir oom Bennie laat weet dat sy daar is. Oom Bennie, wat besef het dat die mans mekaar sal doodmaak oor ’n enkellopende vrou in die vallei, het vir Daan opgekommandeer om met Magriet te trou voordat hulle haar Jakkalswater toe bring. Niemand sal dit waag om aan iets wat Daan s’n is te vat nie.” Herman konstateer dit soos ’n feit, en die ander twee aanvaar dit so.

      Estie se oë blink oor die romantiese storie. Sy loer onseker na Herman as hy stilbly.

      “En toe?”

      Herman se stem versomber en dít meer as iets anders, vertel vir Estie dat hierdie storie waar is en dat dinge vir Herman nie heeltemal reg uitgewerk het nie.

      “Magriet was vir ons almal soos ’n engel uit die hemel. Sy het die huis skoongemaak, ons laat bad en skeer en ons almal in die holte van haar handjie gehad.”

      “Sy en Daan … is hulle gelukkig? Ek meen, hulle het mekaar nie eers geken nie!” sê-vra Estie sag en met oë wat onnatuurlik blink.

      “Baie. Dit het ’n paar maande gevat, maar hulle twee is wonderlik gelukkig.”

      Daar is ’n vreemde hartseer toon in Herman se stem wat Estie verhinder om verder uit te vra.

      Herman is vir ’n paar oomblikke stil en sy gedagtes spring terug na Magriet. Wonderlike Magriet wat ook sy hart in die holte van haar hand hou. ’n Magriet wat hom gesmeek het om vir hom ’n vrou te gaan soek in die Kaap. “Want,” het sy met haar sagte soet stem en oë wat blink van die trane, gesê, “jy is net so min op my verlief as ek op jou. Jy is verlief op die idee van ’n vrou. Ek is maar die enigste vrou wat julle hier gesien het. As jy eers weg is, sal ek harder kan probeer om Daan se liefde te wen.”

      Dit was glad nie nodig nie, want Daan was so verlief op sy eie vrou en kon enigeen vermoor wat net na haar kant toe gekyk het. Die sakie is sommer daardie selfde aand nog opgelos en dit is darem vir hom ’n salwende ou gedagtetjie op sy, nog steeds, rou gemoed. Magriet se oë het geblink en die liefde vir Daan het soos ’n ligkrans om haar gestraal.

      Estie loer vinnig na Dawid wat stil voor hom sit en uitkyk, met die wysheid van die lewe in sy oë en sy weet dat dit nie net sy is wat nou hierdie gedagte huisves nie, naamlik dat die verlatenheid in Herman alles met hierdie storie te doen het.

      “Dit was die mooiste storie wat ek nog gehoor het en as ek eendag moet uitvind dat jy vir my gejok het, sal ek by jou kom spook,” dreig sy, maar verdwyn vinnig by die deur in.

      2

      “Jy is verniet so vroeg op en aan die gang. Hier begin ons eers sewe-uur werk,” sê Estie as Herman klaar aangetrek, gewas en geskeer by die kombuis inkom.

      “Sewe-uur? Hoe kry julle jul werk klaar?” vra hy geskok.

      “Hier is baie werksmense, elkeen doen net een deel van die werk, jy hoef nie alles te doen nie.”

      Sy stoot ’n beker koffie oor die tafel en Herman vat dit dankbaar aan en gaan staan in die oop kombuisdeur.

      “Werk jy ook op die plaas?” vra hy fronsend.

      “Ja, ek help vir Oupa.” Sy roer die meel in die water om pap te maak en staan met haar rug na hom toe.

      Herman knik. “O, amper dink ek jy werk ook op die plaas soos ek.”

      Estie kyk laggend om. “Ek wérk op die plaas. Ek span darem nie draad en kap hout nie. Ek help vir Oupa met die diere en veral met die afrigting van die perde.”

      Herman staar haar ongelowig aan. “Wilde perde?” vra hy geskok.

      “Nee, man, dit is resiesperde wat hulle aanhou.”

      Sy sien die onbegrip op Herman se gesig. “Ken jy nie perderesies nie?” vra sy sag en daar is geen spot of terg in haar stem nie.

      “Ja … ons en die Joostes jaag gereeld resies, maar ons rig nie perde daarvoor af nie. Ons gebruik ons eie perde.”

      “Herman …” Sy kom staan by hom en kyk hom ernstig aan. “Jy weet so min van die werklike lewe. Daar waar jy vandaan kom, is alles nog so ongekunsteld en eenvoudig. Hier is dit baie anders … die mense … hulle manier van dinge doen … Ek … ek dink nie jy moet te lank hier bly nie, dalk … dalk smeer dit aan jou ook af … en … en dit sal jammer wees.” Haar oë is onnatuurlik blink en sy klink so volwasse.

      “Wat gaan ek op die plaas doen?” vra Herman fronsend.

      “Mevrou Vermeer sal jou vanoggend sien. Sy sal besluit.” Estie raak sommer doenig met


Скачать книгу